Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 9/15 bl. 17-22
  • Die God van liefde haat egskeiding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die God van liefde haat egskeiding
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOE JEHOVAH EGSKEIDING BESKOU
  • WAAROM HAAT JEHOVAH EGSKEIDING?
  • REDES EN HULPMIDDELE
  • Watter soort egskeiding haat God?
    Ontwaak!—1994
  • Respekteer “wat God . . . onder een juk saamgevoeg het”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Egbreuk
    Ontwaak!—2015
  • Die opsie om te skei
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 9/15 bl. 17-22

Die God van liefde haat egskeiding

“Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie. Want Ek [Jehovah] haat egskeiding.”—Mal. 2:15, 16.

1, 2. (a) Watter laakbare weg het ’n voormalige ouere man onlangs ingeslaan? (b) Hierdie artikel is geskryf om watter neiging teen te werk?

’N MAN wat baie jare lank ’n ouere man in ’n Christengemeente was, het huweliksprobleme begin ondervind. Hy het owerspel met ’n wêreldse vrou gepleeg en gedink dat sy vrou dan van hom sou skei sodat hy vry sou wees om met ’n medegelowige te trou. Tot sy verbasing was sy vrou bereid om hom te vergewe en versoen te raak. Maar omdat hy vasbeslote was om vry te wees, het hy ’n wettige egskeiding verkry en toe met ’n ander vrou getrou nadat die egskeiding van krag geword het. Toe hy dit doen, is hy egter uit die Christengemeente gesit.

2 Hoe wens ons tog dat ons kon sê dat so ’n skokkende handelwyse uniek is onder diegene wat beweer dat hulle aan Jehovah toegewy is! Maar ongelukkig is dit nie die geval nie. Trouens, dit lyk of party al hoe meer selfsugtige genot of die maklike uitweg uit ’n ongelukkige huwelik kies in plaas daarvan om by Bybelbeginsels te bly en hulle in gebed tot Jehovah God te wend, sy Woord te raadpleeg en die hulp van die opsieners in die gemeente in te roep. Ons hoop dat hierdie artikel alle toegewyde Christene vasbeslote sal maak om te doen wat reg is en enigiemand wat dit oorweeg om so ’n selfsugtige weg in te slaan sake in heroorweging sal laat neem.

3. Wat is die gesindheid van die wêreld oor die algemeen teenoor egskeiding?

3 Hoewel hierdie neiging betreurenswaardig is, behoort dit ons, in die lig van alles wat ons vandag in die wêreld sien, in werklikheid nie te verbaas nie. Dit ly geen twyfel dat meer egpare skei nie. In lande soos die Verenigde State en Rusland eindig een huwelik uit drie in ’n egskeiding, en in party lande is die verhouding amper een uit elke twee. Party state het “geen fout” -egskeidings, wat ongetwyfeld daartoe bydra dat egskeidings toeneem. Die aantal egskeidings sou inderdaad baie groter gewees het as dit nie was vir die feit dat al hoe meer mans en vroue saamwoon sonder om te trou nie. Verslae toon byvoorbeeld dat daar net in Brasilië meer as viermiljoen egpare is wat so saamleef.

HOE JEHOVAH EGSKEIDING BESKOU

4, 5. (a) Hoe beskou Jehovah God verraderlike egskeiding? (b) Hoe het Jesus hom oor egskeiding uitgespreek?

4 Hoe beskou Jehovah God egskeiding? Sien hy dit deur die vingers soos so baie geestelikes van die Christendom doen? Glad nie! Ons lees in Maleagi 2:15, 16: “Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie. Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel . . . Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie.” Jesus Christus het ’n soortgelyke mening gelug. Toe die godsdiensleiers van sy dag hom uitgevra het oor die wettigheid van egskeiding, het Jesus geantwoord: “Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”—Matt. 19:4-6.

5 Toe hulle hierdie antwoord kry, het daardie Fariseërs geantwoord: “Waarom het Moses dan beveel om ’n skeibrief te gee en van haar te skei?” Jesus het geantwoord: “Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk” (Matt. 19:7-9). Wat sê hierdie tekste vir ons? Dat Jehovah God sowel as sy Seun Jesus Christus die skending van God se wette oor die huwelik en egskeiding in ’n baie ernstige lig beskou. Egskeiding skeur iets uitmekaar wat Jehovah God saamgevoeg het. Hy beskou die huwelik as ’n lewenslange band.

6. Wat het die wet van Moses oor egbreuk gesê?

6 Dit is waarom die sewende van die Tien Gebooie gesê het: “Jy mag nie egbreek nie” (Ex. 20:14). Daarbenewens het die wet van Moses vereis dat die Israeliete enige man wat egbreuk met ’n ander man se vrou gepleeg het, sowel as die egbreekster, stenig (Lev. 20:10). Heel gepas waarsku die apostel Paulus in Hebreërs 13:4 dat Jehovah God egbrekers en hoereerders sal oordeel.

7. Waarom is egbreuk laakbaarder as hoerery?

7 Egbreuk of owerspel is streng gesproke baie ernstiger as hoerery, wat deur party woordeboekskrywers gedefinieer word as geslagsomgang tussen persone wat nie getroud is nie. Maar egbreuk of owerspel gaan nog verder en is ’n skending, ’n verbreking of vervalsing van die huweliksband. Die Afrikaanse woord vir owerspel is dus egbreuk, wat letterlik ’n verbreking van die egband is.

WAAROM HAAT JEHOVAH EGSKEIDING?

8, 9. (a) Wat is een rede waarom God verraderlike egskeiding haat? (b) Verstrek nog ’n rede.

8 Jehovah God haat egskeiding op grond van onskriftuurlike redes omdat dit bowenal ’n sonde teen hom is. Hy het ’n gevestigde belang in die huweliks-instelling en enigiemand wat op daardie gebied strydig met sy wil handel, sondig dus inderdaad teen God. Dat owerspel ’n sonde teen God is, blyk uit wat Josef vir Potifar se vrou gesê het toe sy probeer het om hom te verlei om owerspel te pleeg: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” (Gen. 39:9). En wat het koning Dawid vir Jehovah gesê toe hy sy berou uitgespreek het oor sy sonde van owerspel met Uria se vrou? “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë.”—Ps. 51:6.a

9 Nog ’n rede waarom Jehovah God egskeiding haat, is sy belangstelling in reg en geregtigheid. In Jakobus 5:1-6 bevat sy Woord byvoorbeeld ’n sterk veroordeling van daardie ryk manne wat hulle werknemers verdruk. Egskeiding (as dit nie op Skriftuurlike redes gebaseer is nie) beteken amper sonder uitsondering dat ’n mens jou huweliksmaat ontrou of verraderlik behandel, net soos God deur sy profeet Maleagi gesê het. Dit skaad die onskuldige party. Net soos Jehovah God herhaaldelik in die Mosaïese wet gesê het dat hy die saak van die verdrukte wese en weduwees verdedig, en diegene wat hulle uitgebuit het, sou straf, so sal Jehovah God ook diegene veroordeel wat van wetlike skuiwergate gebruik maak om van hulle huweliksmaats ontslae te raak sodat hulle met ander kan trou.—Deut. 10:17, 18; 27:19.

10. Waarom kan ons sê dat ’n egbreker ’n hedonis is?

10 Daar kan in werklikheid gesê word dat die owerspeler ’n hedonis word. ’n Hedonis? Ja, ’n hedonis is iemand wat net vir plesier en selfsugtige bevrediging lewe. Iemand wat tabak rook terwyl hy goed weet hoe skadelik dit is, kan as ’n hedonis bestempel word (Luk. 8:14; Tit. 3:3, Kingdom Interlinear Translation). Daar kan dus gesê word dat diegene wat die genot wat ’n egskeiding en ’n huwelik met iemand anders kan bring belangriker ag as die verpligting om Jehovah God te behaag hedoniste is. Hulle is waarlik meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God.—2 Tim. 3:1, 2, 4.

11. Teen wie sondig die egbreker wat skei, benewens teen God en sy huweliksmaat?

11 Die egbreker wat skei, sondig nie alleen teen Jehovah God en teen sy huweliksmaat nie, maar hy sondig ook teen die gemeente waaraan hy verbonde is, want sy handelwyse beklad die goeie naam daarvan. Hy sondig ook teen die indiwidue in die gemeente deur sy slegte voor beeld. In een gemeente in die stad New York het ’n taamlik vooraanstaande vrou hierdie verkeerde weg ingeslaan en kort daarna het twee jonger vroue hulle verstout om haar voorbeeld te volg. Die apostel Paulus waarsku ons dus met goeie rede om ander nie te laat struikel nie.—Filip. 1:9, 10.

12. Watter indringende vrae moet elke getroude Christen homself afvra?

12 Die Bybel toon duidelik wat Jehovah God en Jesus Christus van egskeiding dink. Hulle haat dit! Maar wat dink jy daarvan? Wat is jou beskouing van daar die heilige instelling, die huwelik? Beskou jy dit soos God dit beskou, of het jy toegelaat dat jy, net soos die wêreld oor die algemeen, beïnvloed word deur daardie bose huweliksverbreker, Satan die Duiwel? Is jy geneig om die gedrag van diegene wat God se wette in verband met die huwelik, owerspel en egskeiding geskend het te verskoon? Is jy een van diegene wat met geslagsonsedelikheid speel deur met persone van die ander geslag te flankeer? (Matt. 5:28; 15:19). Bewaak jy jou hart op hierdie gebied, of is jy geneig om aangename, ongeoorloofde fantasieë te koes ter?—Spr. 4:23.

13. Wat toon dat bedrog en egbreuk amper altyd hand aan hand gaan?

13 Egskeiding en egbreuk gaan amper altyd hand aan hand. Veral wanneer ’n wettige egskeiding verkry word sonder egbreuk of owerspel deur een van die huweliksmaats, is die versoeking groot vir die onskuldige om ‘egbreuk te pleeg’ (Matt. 5:32). En dit ly geen twyfel dat owerspel deur enige van die twee daardie persoon nie met ’n skoon gewete voor Jehovah God sal laat nie. Hoe kan dit anders, daar dit in bedrog ontkiem het, soos ons dan ook lees: “Die oog van die owerspeler neem die skemeraand waar en sê: Geen oog kan my sien nie; en hy sit ’n sluier voor sy gesig” (Job 24:15). Die ondervinding aan die begin van hierdie artikel toon hoe bedrieglik owerspel ’n mens kan maak.

14. In watter opsig is die woorde van Psalm 36:2-5 ’n goeie beskrywing van die egbreker wat skei?

14 Die woorde van Dawid in Psalm 36:2-5 help ons om egskeiding weens owerspel in die regte lig te beskou: “In die binneste van my hart sê die oortreding aangaande die goddelose: Daar is geen vrees van God voor sy oë nie. Want dit vlei hom in sy oë in verband met die uitvind en haat van sy skuld. Die woorde van sy mond is onreg en bedrog; hy laat ná om verstandig te wees, om goed te doen. Hy bedink onreg op sy bed; hy gaan staan op ’n weg wat nie goed is nie; wat sleg is, verfoei hy nie.” Hoe goed pas daardie beskrywing tog die egbreker wat skei!

15. Oor watter Skriftuurlike beginsels moet diegene wat owerspel pleeg, skei en weer trou ernstig nadink?

15 Keer op keer het diegene wat owerspel gepleeg het van hulle huweliks maats geskei en weer getrou, waarna hulle uit die gemeente gesit is, slegs om ’n jaar of wat later herstel te word. Die ouere manne wat sulke sake hanteer het, het klaarblyklik hulle besluit gebaseer op wat God se Woord oor die betoning van genade sê. Jehovah God is weliswaar genadig en ouere manne moet ook wees. Maar aan enige man en vrou wat sulke dade listig beplan het om weer te kan trou, kan ons net sê dat dit geensins die einde van die saak is nie, selfs al het die ouere manne hulle herstel. Ouere manne kan hulle besluit slegs op die oënskynlike berou baseer, maar hulle kan nie die hart ten volle lees nie. Omdat hulle nie die beweegredes kan beoordeel nie, herstel hulle miskien die nuwe egpaar. Maar daardie egpaar moet nooit Paulus se woorde vergeet dat ‘God hoereerders en egbrekers sal oordeel’ nie (Hebr. 13:4). Die finale oordeel in al sulke gevalle berus by Jehovah God, wat al die omstandighede ken. Hy kan harte lees, soos Jeremia 17:9, 10 sê. Hy ken die beweegrede en is bewus van enige bedrog of kwaadwillige knoeiery aan die kant van persone wat sy wet oor die huwelik skend. Ja, “alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het”. Sulke tekste behoort ons beslis tot nadenke te stem.—Hebr. 4:13.

16. Waarom kan ’n onskuldige huweliksmaat verkies om nie van die skuldige te skei nie?

16 In hierdie verband moet daar net gemeld word dat God se wet nie van ’n onskuldige huweliksmaat vereis om te skei nie. Omstandighede kan dit ’n goeie ding maak vir die onskuldige huweliksmaat om die skuldige te vergewe, veral as laas genoemde nederig en opreg berouvol is. Ontrouheid deur ’n mens se huweliksmaat kan weliswaar ’n baie vernederende ondervinding wees—dat jou huweliksmaat elders na genot en bevrediging gaan soek het. Maar menige liefdevolle vrou en moeder het ’n selfsugtige of selfs ’n ontroue man ter wille van haar kinders verdra.

REDES EN HULPMIDDELE

17. Wat kan een rede wees waarom party hulle aangematig het om owerspel te pleeg en dan te skei en weer te trou?

17 Waarom faal party in die toets van onkreukbaarheid deur nie aan hulle huweliksverbond getrou te bly nie? Daar is ongetwyfeld verskeie redes. Is een rede dalk dat Christengetuies van Jehovah nie ewige foltering vrees nie omdat hulle weet dat daar nie ’n plek soos ’n brandende hel is nie? ’n Lutherse pastoor het eenkeer vir ’n jong Getuie gesê dat indien hy nie aan ’n brandende hel geglo het nie, hy allerhande slegte dinge sou doen. Baie mense in die valse Christendom huldig ongetwyfeld dieselfde beskouing. As ware Christene is ons vry van die vrees vir ewige foltering, maar ons wil nie ons “vryheid as ’n aanleiding vir die vlees” gebruik nie, of hoe?—Gal. 5:13.

18. Watter toestande maak dit nodig om voortdurend te waak oor ’n mens se gedagtes en dade in verband met seks?

18 Die wêreld is vandag seksbehep. Promiskuïteit is aan die orde van die dag. Dit ly geen twyfel dat daar ’n vermeerdering van ongeregtigheid is nie (Matt. 24:12). ’n Christen word by sy of haar werkplek in die versoeking gestel daar hy of sy omring is van persone wat hulle nie deur Bybel beginsels laat lei nie en wat fisies aantreklik is. ’n Mens moet dus voortdurend op jou hoede wees, selfbeheersing beoefen en kontak met lede van die ander geslag, met die uitsondering van jou huweliksmaat, baie saaklik hou. Nog iets waarteen ons op ons hoede moet wees, is die media—koerante, tydskrifte, die beeldradio en rolprente. Moenie, deur middel van TV, hoereerders, owerspelers en soortgelyke indiwidue as ’t ware in jou huis innooi nie. Ons moet ook nie die feit oor die hoof sien dat ’n Christen, en veral ’n broer, se geslagsdrange makliker geprikkel kan word as hy te veel ryk kos geëet of sterk drank gedrink het nie. Beoefen selfbeheersing in alle aspekte van die lewe! “Haat die kwaad!” “Verafsku wat sleg is.”—Ps. 97:10; Rom. 12:9.

19. Hoe moet diegene wie se huwelik veel te wense oorlaat sake beskou?

19 Dit is ook moontlik dat party huweliksmaats nie goeie oordeel aan die dag gelê het toe hulle mekaar gekies het nie. Hulle vind dalk dat hulle nie so goed by mekaar pas as wat hulle graag sou wou nie, of hulle is moontlik teleurgesteld in die intiemer aspekte van die huwelik. In daardie geval moet jy jou daarmee versoen en aldus Jehovah se reëling eer en verdedig. Die Bybel praat met goedkeuring van die persoon wat ‘tot sy skade gesweer het en nie verander nie’ (Ps. 15:4). Kortom, ’n mens moet die suur saam met die soet aanvaar. Dit herinner ons aan ’n ouere man wat alombekend en baie bemind onder sy broers en susters was. Hy is getroud voor dat hy ’n Getuie geword het, en sy ongelowige vrou het haar bes gedoen om die lewe vir hom onaangenaam te maak. Toe hy eenkeer daaromtrent uitgevra is, het hy geantwoord: “Sy het ’n man van my gemaak.” Om haar te verdra, moes hy leer om lankmoedig te wees en groot selfbeheersing aan die dag te lê. En hy het die genoegdoening gehad wat die wete verskaf dat hy ag geslaan het op die apostel Paulus se raad.—1 Kor. 7:12-16.

20. Wat is party van die omstandighede wat daartoe kan bydra dat iemand owerspel pleeg en van sy huweliksmaat skei?

20 Maar dit blyk dat ’n egskeiding op grond van owerspel soms vermy kon gewees het as die “onskuldige” huweliksmaat meer empatie, wysheid, liefde en begrip betoon het. ’n Vrou kan geleidelik al hoe minder aandag daaraan skenk om haar man fisies, verstandelik, emosioneel, geestelik en met haar voorkoms te behaag, sodat hy elders na bevrediging op een of meer van hierdie gebiede begin soek. Sy vrou se teësinnigheid om haar huweliksplig teenoor hom na te kom, het veroorsaak dat een voltydse prediker hom tot haar suster gewend het vir bevrediging. Maar ongeag hoe nalatig ’n vrou in hierdie opsig is, daar is natuurlik hoe genaamd geen regverdiging vir die man om owerspel te pleeg nie.

21. (a) Waarom is dit verkeerd om op verraderlike wyse van ’n mens se huweliksmaat te skei? (b) Wat kan van Jehovah se Getuies oor die algemeen gesê word ten opsigte van verraderlike egskeiding?

21 Dit is voorwaar met goeie rede dat die God van liefde egskeiding haat. Verraderlike egskeiding is sonde teen God, teen ’n mens se huweliksmaat, teen die Christen gemeente waaraan jy verbonde is en teen die indiwidue daarin, aangesien hierdie optrede party kan laat struikel. Maar hoe goed is dit tog dat Jehovah se Getuies oor die algemeen nie mense is wat geneig is om te skei nie! Hulle staan bekend as ’n volk wat opreg daarna strewe om God se raad oor die huwelik toe te pas. Dit maak hulle gelukkiger. En hulle sterk, gelukkige huwelike val ander dikwels op, sodat party na die waarheid toe aangetrek word.

[Voetnoot]

a Dawid het ook teen Uria gesondig, maar sy sonde teen God was so groot dat sy sonde teen Uria in vergelyking daarmee onbeduidend gelyk het.

[Prent op bladsy 20]

’n Onskriftuurlike egskeiding is sonde teen ander

Jehovah

Huweliksmaat

Indiwidue

Gemeente

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel