WAT HET VAN GELOOF GEWORD?
DIE beroemde Britse joernalis en redakteur Malcolm Muggeridge het onlangs gesê:
“Dit word vir my al hoe duideliker dat die krisis wat die westerse beskawing beleef hoofsaaklik te wyte is aan ’n gebrek aan geloof. . . . Die humanistiese gedagte dat daar geen God is nie, dat mense se lot in hulle eie hande is, vind al hoe meer byval.”
In die verlede sou die meerderheid erken het dat hulle aan God glo en sy wil wil doen. Maar die situasie het drasties verander. Baie persone meen nou dat die vordering op die gebied van die wetenskap in ons eeu geloof in God verouderd of onrealisties gemaak het. Ander sien hoedat goddeloosheid gedy en het tot die gevolgtrekking gekom dat God òf nie omgee nie òf nie bestaan nie. Hulle glo, soos Muggeridge gesê het, dat hulle op hulself moet staatmaak, hulle eie weg in die lewe moet baan sonder geloof in God of in sy weë.
Maar dit ontbreek sulke mense miskien nie net aan geloof nie. Hoe so? Wel, as ons kan bewys dat geloof vandag prakties is, ontvang hulle ook nie die praktiese voordele wat geloof meebring nie.
WAT IS SULKE GELOOF?
Die woord “geloof” word vandag op verskillende maniere gebruik. Jy sal iemand byvoorbeeld hoor sê: ‘Ek glo dat my motor sal vat al is dit so koud.’ Maar wanneer ons die vraag ‘Is geloof vandag prakties?’ bespreek, verwys ons na geloof in God en in die waarde van sy leiding.
Party mense wat beweer dat hulle sulke geloof het, verwar dit met ’n taamlik kalm sentimentaliteit, ’n soort ‘geloof in geloof’. Hulle meen dat dit goed is om in iets te glo, en dus het hulle die gevoelentheid dat God bestaan. Sulke flou geloof het min uitwerking op hulle lewe en verdwyn gou wanneer ’n ware toets kom. Ons kan dus sien waarom sulke geloof onprakties is.
Maar die geloof in God wat deur die Bybel voorgestaan word, is heeltemal anders. Dit is “’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”.—Hebr. 11:1.
Die Griekse woord wat hier weergegee word as “vaste vertroue”, bevat die gedagte van iets wat dit wat verwag word, verseker of waarborg. Hierdie Bybelse geloof is dus nie net ’n vae gevoel of ’n ongegronde hoop nie; daar is ware versekering. Die Griekse woord wat weergegee word as “bewys” bevat die gedagte van die aanvoering van bewyse, veral bewyse wat iets aandui wat verskil van hoe sake op die oog af lyk. Selfs al sê baie mense dat daar geen God is nie, staan die geloof in hom wat ons hier bespreek gevolglik regstreeks in verband met onomstootlike bewyse.
Wat is jou siening hieromtrent? Het jy die versekering, gerugsteun deur oortuigende bewyse, dat God bestaan? Kom ons voer die saak ’n stap verder: Is dit werklik prakties om sulke geloof te hê en om jou lewe dienooreenkomstig te rig? Is geloof vandag prakties?