DIE ‘GETROUE DIENSKNEG’ GEE “VOEDSEL OP TYD”
NA DIE eerste wêreldoorlog (van 1914-1918) het die kerke van die Christendom hulle steun aan die volkebond gegee en naamchristene aangespoor om dit te ondersteun. In teenstelling hiermee het die Bybelstudente nooit in gebreke gebly om die aandag op die Koninkryk te vestig as die mensdom se enigste hoop en om die Volkebond aan die kaak te stel as ’n mensgemaakte hulpmiddel wat tot mislukking gedoem is nie.
Die kerke van die Christendom is tot vandag toe besmet deur die gees van hierdie wêreld, en deur sy materialisme, ewolusionêre denke, hoër kritiek en filosofieë wat Bybelwaarheid loën. Die meeste het die wêreld se onsedelikheid, hoerery, owerspel en homoseksualiteit aanvaar en dit het gelei tot ’n verbrokkeling van huweliks- en gesinslewe, jeugmisdadigheid en misdade deur volwassenes, die verspreiding van veneriese siektes en die toename van geweld. Die kerke is betrokke by hierdie wêreld, hulle steun diktatorskappe in sekere lande en gee hulle daadwerklike ondersteuning aan terrorisme en wettelose bedrywighede in ander.
GETUIENIS DAT WARE GEESTELIKE VOEDSEL INGENEEM WORD
In teenstelling hiermee het die wêreldwye gemeente van Jehovah se Getuies getrou gebly aan die Bybelleer. Hulle bly trou aan rein, kuise morele standaarde wat in ooreenstemming is met die wysheid van bo. Die Getuies toon ’n hoë agting vir die huwelik en gesinslewe, kweek die vrugte van die gees aan en behou ’n intieme verhouding met God (Gal. 5:22-26: Jak. 3:17, 18). Met behulp van hierdie tydskrif en soortgelyke Bybelstudiemateriaal gaan hulle voort om hulle geloof te versterk en juiste kennis te verkry deur persoonlike Bybelstudie en deelname aan gemeentelike vergaderinge. Omdat hulle hulle volle vertroue in die koninkryk van God stel, handhaaf hulle strenge neutraliteit in die botsings van hierdie wêreld en is hulle onderdanig aan goewermentele “hoëre owerhede” en betaal hulle “aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom”.—Matt. 22:21; Hand. 5:29; Rom. 13:1-10, NW
WAAROM AANPASSINGS IN HULLE BESKOUING?
Party vra moontlik: ‘Waarom het Jehovah se Getuies se beskouing van sekere leerstellings dan van tyd tot tyd verander as hulle “voedsel op tyd” kry?’ Die Bybel antwoord: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe” (Spr. 4:18). Net soos die gemeente in die eerste eeu slegs gedeeltelike kennis gehad het, so is dit ook vandag met die “getroue en verstandige dienskneg” die geval. Kennis van baie geestelike sake sal volledig wees slegs wanneer God se voornemens heeltemal volbring is (1 Kor. 13:9-12). Die “dienskneg” is nie deur God geïnspireer nie, maar gaan voort om die Skrif te ondersoek en wêreldgebeure, sowel as die situasie van God se volk, noukeurig te bestudeer om die voortdurende vervulling van Bybelprofesie te verstaan. Weens menslike beperkings kan daar soms ’n onvolledige of verkeerde begrip van die een of ander saak wees wat later reggestel moet word.
Maar dit beteken nie dat die “dienskneg” geen moontlike verklaring moet publiseer voordat die finale, volledige begrip beskikbaar is nie. Christus se dissipels was aanvanklik nie daarvan bewus dat die koninkryk ’n hemelse sou wees nie. Maar Jesus het besef dat hulle kennis onder die invloed van die heilige gees sou toeneem en het dus nie geaarsel om hulle ’n opdrag te gee om sy getuies te wees nie (Hand. 1:6-8; Joh. 14:25, 26). Trouens, een van die kenmerke van die ‘getroue dienskneg’-klas is hulle geestelike waaksaamheid, wat gepaard gaan met groot eerbied vir God se Woord (Matt. 24:43, 44). Wanneer aanpassings aangebring moet word, is hierdie klas nederig en ontvanklik genoeg om dit te erken en so ’n verandering aan te bring as ’n blyk van hulle getrouheid aan Jehovah en sy Woord.
“OOR AL SY BESITTINGS”
Jesus het gesê dat indien hy bevind dat die “dienskneg” die “diensvolk” hulle “voedsel op tyd” gee, hy hom “oor al sy besittings [sou] aanstel” (Matt. 24:45-47). Hierdie bykomende verantwoordelikheid, wat meer insluit as om geestelike voedsel aan die gesalfde dissipels te gee, sou die verkondiging van God se oordele aan die nasies insluit asook diens as God se instrument om die “groot menigte” manne en vroue uit alle nasies te versamel sodat hulle met die gemeente kan omgaan. Die versameling van hierdie “ander skape” en die verskaffing van geestelike voedsel aan hulle, sou hulle hoop op ewige lewe op aarde versterk.—Jes. 2:1-4; Sag. 8:23; Matt. 25:31-46; Joh. 10:16; Openb. 7:9-17.
’N “SLEGTE DIENSKNEG”
In Mattheüs 24:48-51 word ’n “slegte dienskneg” gemeld. Dit beteken nie dat die ‘getroue dienskneg’ ontrou word sodat die “diensvolk” nie versorg word nie. Maar die moontlikheid bestaan dat party indiwidue in daardie “dienskneg”-klas hulle geloof in die Heer se wederkoms sou verloor. Deur in hulle harte te sê: “My Heer talm om te kom”, sou hulle ophou om waaksaam te wees en aldus die weg baan om die hele versameling Christelike waarhede te verlaat. Hierdie indiwidue kan selfs hulle eertydse “medediensknegte” begin slaan. Hoewel hulle nie as ’n georganiseerde liggaam saamwerk nie, maak sulke indiwidue wat afvallig word ’n klas ontroues uit.
VERBLY JOU SAAM MET JEHOVAH SE WELGEVOEDE KNEGTE
Terwyl die verskeie kerkgroepe van die Christendom steeds geestelike hongersnood ondervind, bly die wêreldwye gemeente van Jehovah se gesalfde getuies en hulle metgeselle, die “ander skape”, geestelik welgevoed en vreugdevol (Jes. 65:13-16). Die “dienskneg”-klas kan steeds uitgeken word aan hulle werk om geestelike voedsel te voorsien en deur die bestaan van ’n geestelik welgevoede, wêreldwye gemeente. Daarbenewens word die “dienskneg” uitgeken aan die feit dat hy dieselfde beskouings en gesindhede het as die wat Jehovah se getroue knegte in voorchristelike en vroeë Christelike tye gehad het.
Sulke beskouings en gesindhede sluit die volgende in: Volkome vertroue in Jehovah en afhanklikheid van hom (Spr. 3:5-7). Volle aanvaarding van die hele Bybel as die waarheid, as God se geïnspireerde rigsnoer vir die mens (Ps. 119:160; Rom. 15:4; 1 Thess. 2:13; 2 Tim. 3:16, 17; 2 Pet. 1:20, 21). Die nederige navolging van Jesus Christus, selfs tot die mate waar ’n mens jouself verloën en vreugdevol vervolging verduur (1 Pet. 2:21; Matt. 16:24). Bewustheid dat God se knegte ontvanklik moet wees en nie onafhanklik nie, en dat hulle moet aanhou soek (Ps. 25:9; Matt. 7:7). Hulle erken dat Jehovah se volk al hul kragte in sy diens moet inspan, moet preek en dissipels moet maak (Luk. 13:24; Matt. 24:14; 28:19, 20). Dat hulle die koninkryk van God en sy geregtigheid eerste moet soek.—Matt. 6:33, 34.
Dit is maar net ’n paar van die Skriftuurlike beskouings wat die een, ware gemeente van Jehovah se volk vandag kenmerk. Maar dit vorm ’n grondslag om al ons lesers aan te spoor om daadwerklik met ’n gemeente van Jehovah se Getuies om te gaan. Ons spoor jou ook aan om voort te gaan om die Bybel met behulp van hierdie tydskrif en ander beskikbare publikasies te bestudeer en om die dinge wat jy leer noukeurig met die Heilige Skrif te vergelyk (Hand. 17:11). Sodoende sal jy steeds geestelik welgevoed bly met “voedsel op tyd” en die geluk deel wat die “getroue en verstandige dienskneg” smaak omdat hy vir Jehovah aanneemlike heilige diens verrig.
OORGENOEG GELOOFSBRIEWE
Die “getroue en verstandige dienskneg” het oorvloedige geloofsbriewe. Hier volg ’n onvolledige lys Skriftuurlike en profetiese aanduidings wat veral sedert 1919 op die oorblyfsel van Jesus Christus se gesalfde volgelinge van toepassing is of in hulle verteenwoordig word:
(1) Noag se vrou, Gen. 7:7; (2) engele wat na Lot gestuur is, Gen. 19:15; (3) Rebekka. Gen. 24:64; (4) Josef en Benjamin, Gen. 45:14; (5) are wat agtergelaat is, Lev. 19:9; (6) twee verkenners na Ragab, Jos. 2:4; (7) Barak, Rigt. 4:14; (8) Jefta, Rigt. 11:34; (9) Naomi en Rut, Rut 2:2; (10) Dawid se Israelitiese manskappe, 2 Sam. 18:1; (11) Jehu, 2 Kon. 10:11, 15; (12) Mordegai en Ester, Ester 4:13; (13) Job, Job 42:10, 13; (14) die Koning se dogter, Ps. 45:14; (15) manne van goedertierenheid, Ps. 50:5; (16) intieme groep, Ps. 89:7, NW; (17) Sjear Ja-sjub, Jes. 7:3; (18) lig vir die nasies, Jes. 60:3; (19) terebinte van geregtigheid, Jes. 61:3; (20) dienaars van onse God, Jes. 61:6; (21) tros wat bewaar word, Jes. 65:8; (22) knegte wat by ’n ander naam genoem word, Jes. 65:15; (23) manne wat vir God se woord bewe, Jes. 66:5; (24) nuwe nasie wat gebore word, Jes. 66:8; (25) Jeremia, Jer. 1:10; (26) Jehovah se volk in die nuwe verbond, Jer. 31:33; (27) man met linne bekleed. Eseg. 9:2; (28) diegene wat op die middelpunt van die aarde woon, Eseg. 38:12; (29) bome by die stroom, Eseg. 47:7; (30) vissers, Eseg. 47:10; (31) die leër van die hemel, Dan. 8:10; (32) heiligdom wat herstel (gereinig) is, Dan. 8:14; (33) die verstandiges, Dan. 11:33; (34) die gelukkige wat bly verwag, Dan. 12:12; (35) alle vlees wat die gees ontvang, Joel 2:28; (36) Jona, Jona 3:1-3; (37) Jehovah se oogappel, Sag. 2:8; (38) Josua, die hoëpriester, Sag. 3:3, 4; (39) ’n Joodse man, Sag. 8:23; (40) die seuns van Levi, Mal. 3:3; (41) koring, Matt. 13:25; (42) die kinders van die koninkryk, Matt. 13:38; (43) arbeiders vir die wingerd, Matt. 20:1; (44) die genooides na die bruilof, Matt. 22:3-14; (45) uitverkorenes, Matt. 24:22; (46) aasvoëls, Matt. 24:28; (47) getroue en verstandige dienskneg, Matt. 24:45; (48) verstandige maagde, Matt. 25:2; (49) broeders van die koning, Matt. 25:40; (50) klein kuddetjie skape, Luk. 12:32; (51) ouer broer van die verlore seun, Luk. 15:25; (52) die bedelaar Lasarus, Luk. 16:20; (53) lote van die wynstok, Joh. 15:4; (54) koninklike paleis van Dawid, Hand. 15:16; (55) mede-erfgename van Christus, Rom. 8:17; (56) die oorblyfsel, Rom. 11:5; (57) takke van die olyfboom, Rom. 11:24; (58) die heiliges, 1 Kor. 6:2; Openb. 16:6; (59) tempel, 1 Kor. 6:19; (60) die nuwe skepping, 2 Kor. 5:17; (61) gesante om Christus wil, 2 Kor. 5:20; (62) die gemeente van God, Gal. 1:13; (63) deel van Abraham se saad of nageslag, Gal. 3:29; (64) Israel van God, Gal. 6:16; (65) liggaam van Christus, Ef. 1:22, 23; (66) krygsmanne van Jesus Christus, 2 Tim. 2:3; (67) huis wat deur Christus gebou is, Hebr. 3:6; (68) heilige priesterdom, 1 Pet. 2:5; (69) heilige volk, 1 Pet. 2:9; (70) broederskap, 1 Pet. 2:17; (71) sewe gemeentes, Openb. 1:20; (72) vier-en-twintig bejaardes, Openb. 4:4; (73) geestelike Israel, Openb. 7:4; (74) sprinkane, Openb. 9:3; (75) twee getuies, Openb. 11:3; (76) twee olyfbome, Openb. 11:4; (77) saad of nakomelinge van die vrou, Openb. 12:17; (78) bome van die lewe, Openb. 22:2; (79) die bruid van Christus, Openb. 22:17; 19:7; (80) Jehovah se getuies, Jes. 43:10, NW.