Hoe kan jy jou gees beheers?
Ons het almal ’n genetiese samestelling wat ons van ons onvolmaakte ouers geërf het, en dit bepaal tot ’n mate ons gees. Ons milieu en agtergrond beïnvloed ook ons persoonlikheid tot ’n groot mate. Moet ons dan die saak ligtelik afmaak deur te sê: “Ek kan nie help dat ek so is nie”? Dit is beslis nie die weg wat die Bybel aanraai nie. Ons word eerder aangespoor om ‘ons gemoed te vernuwe’ en ‘om ons met die nuwe persoonlikheid te beklee’. Dit beteken dat ons met die “ou persoonlikheid” moet worstel en ontslae moet raak van die verkeerde neigings daarvan.—Ef. 4:20-24, NW; Rom. 12:2.
Ons sal soms faal, aangesien geen mens sy gees volmaak kan beheers nie. Maar deur oor God se Woord te peins en te vra dat sy gees ons moet lei, is daar baie wat ons kan doen om enige ongesonde “gees” wat ons het teë te werk en dit aldus te beheers (Luk. 11:13; Gal. 5:22, 25). Wat kan ons help om dit te doen?
HULPE OM DIT TE BEHEERS
Wat ook al die oorsaak van ons ontsteltenis, daar is verskeie dinge waaraan ons kan dink wat ons sal help om kalm te bly onder druk. Kom ons beskou drie wenke wat sommige nuttig gevind het.
Ondersoek jouself. Dit help werklik indien ons probeer om ons gevoelens te ontleed. Ons kan oor die probleem redeneer en onsself afvra waarom ons ontsteld is. Wanneer ons dit doen, vind ons dikwels dat ons “redes” taamlik kinderagtig is. Of ons ontdek in onsself ’n beweegrede waarvan ons nie bewus was nie.
Die voordeel van selfondersoek is dat ons dan konsentreer op ons eie aandeel in die probleem, waaraan ons iets kan doen, eerder as om gefrustreerd te raak omdat ons net konsentreer op die ander persoon se fout, waaraan ons min kan doen. ’n Paar van die vrae wat ons onsself kan afvra, is: Raak ek ontsteld oor die gewoontes of gebreke van ander? Indien wel, is dit omdat hulle gewoontes onskriftuurlik is? Of is dit omdat my agtergrond en opleiding van hulle s’n verskil? (In laasgenoemde geval lê die probleem dalk meer by ons as by die ander persoon.) Vererg ek my gou wanneer daar ’n neerhalende aanmerking oor my, my ras of my familie gemaak word? Of neem ek aanstoot wanneer ek raad kry? Indien wel, is dit dalk moontlik dat ek ’n hoë dunk van myself het en fyngevoelig is? Irriteer ’n bepaalde persoon my? Raak ek (indien ek ’n opsiener of ’n ouer is) gefrustreerd wanneer raad nie toegepas word nie?
Deur sulke selfondersoek kan ons ons eie swak plek vind. Dan is ons in ’n beter posisie om ‘ons liggaam te kasty’ en hard te veg om dit te beheer.—1 Kor. 9:27.
Beskou die ander persoon objektief. Wanneer iemand ons ontstel, is ons geneig om slegs sy swakhede raak te sien. Dit sal dus help indien ons hom beskou soos God hom beskou. Is hy of sy aan God toegewy en het God hom of haar lief? Toon die persoon oor die algemeen ’n goeie “gees” en skiet hy slegs op een of twee gebiede te kort? Sal dit dan nie help as ons op sy ‘regverdige’, ‘rein’ en ‘lieflike’ eienskappe konsentreer en dit bedink nie?—Filip. 4:8.
Sal dit billik of reg wees om ’n persoon op grond van een of twee “irriterende” karaktertrekke te beoordeel, asof ons opsetlik weier om iets goeds in hom te sien? Waarom wil ons ander oordeel, aangesien ons oordeel alte dikwels beïnvloed word deur ons persoonlike gevoelens op daardie oomblik? Jakobus stel sake baie reguit wanneer hy vra: “Wie is jy wat ’n ander oordeel?”—Jak. 4:12.
Probeer om die saak uit die ander persoon se oogpunt te sien. Dit is nie maklik nie, veral nie as dit lyk of sy oogpunt lynreg in stryd met ons s’n is nie. Maar net die poging wat ons aanwend om sake uit sy oogpunt te sien, sal dikwels ons eie gevoelens laat bedaar en ’n kalmerende uitwerking hê. Ons sal ten minste tot ’n mate begryp hoe hy voel of waarom hy so optree. Trouens, wanneer ons dit doen, pas ons die wyse raad toe wat die apostel Paulus aan die Filippense gegee het, naamlik dat “die een die ander hoër [moet] ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.”—Filip. 2:3, 4.
Dit help ons om die strik te vermy om te oordeel voordat ons werklik albei kante in ag geneem het (Spr. 18:13). Met die eerste oogopslag lyk dit dalk vir ons of ons volkome reg het en of ons broer heeltemal ongelyk het. Maar wanneer ons sake deegliker beskou, vind ons gewoonlik dat dit selde so eenvoudig is. Spreuke 18:17 sê wyslik: “Hy wat die eerste in sy regsaak is, het reg; maar sy naaste kom en ondersoek hom terdeë.”
LÊ JOU VOORTDUREND DAAROP TOE
Deur hierdie wenke toe te pas, lê ons ons in werklikheid daarop toe om ons probleem op te los. Ons is nie pessimisties en sê: “Ek kan dit nie verhelp nie.” Die blote feit dat ons ons daarop toelê om die probleem op te los, sal die kanse verminder dat ons ons selfbeheersing verloor. Dit hou ons ook bewus van die nodigheid om ons denke aan te pas, veral as ons voortdurend deur ander se gebreke geïrriteer word.
In ons pogings om ons gevoelens te beheers, is dit nodig om te alle tye die hulp van ons God, Jehovah, te vra. Een jong vrou in New Jersey (V.S.A.) het ’n ernstige probleem op hierdie gebied gehad. Sy het voortdurend haar humeur verloor en het maklik aanstoot geneem. Terwyl sy hard teen hierdie neigings geveg het, sê sy ook vir ons: “Ek het vurig tot Jehovah gebid om asseblief my twyfelgedagtes weg te neem. Ek het gevra dat hy my hart moet deurvors, selfs die diepste deel van my liggaam, en asseblief my slegte gedagtes moet wegneem.” Jehovah het klaarblyklik haar opregte gebed verhoor, want sy voeg by: “Dit is nou al maande lank dat ek geen lelike woorde geuiter het nie; ek is baie sagmoediger.”
Maar gestel nou dat ons, nadat ons hierdie wenke toegepas het en ’n mate van welslae behaal het, nou en dan vind dat ons ons bloedig vererg? Eerstens, ons moet nooit toelaat dat dit ons so neerslagtig maak dat ons wil tou opgooi nie. Ons moet eerder om Jehovah se vergifnis vra en hom vra om ons te help om die stryd voort te sit. Tweedens, wanneer ons ontsteld is, is dit goed om die raad van Psalm 4:5 (NAB) te onthou: “As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby!”
IS DIT DIE BESTE MANIER?
Maar party sal vra: ‘Is dit nie beter om “stoom af te blaas” wanneer jy jou vererg nie?’ Dit is wat baie dink. Maar een vrou wat dit een ontbyt gedoen het in ’n poging om haar man sover te kry om sy hoed op te hang, het die volgende erken nadat sy haar humeur verloor het: “Ek word natuurlik selde werklik woedend, maar wanneer dit gebeur, is ek daarna twee of drie dae lank siek. Om die waarheid te sê, ek het baie sleg gevoel na daardie ontbyt, en my man los jou waarlik nog steeds sy hoed meer op die tafel as wat hy dit wegsit.” Klink dit asof hierdie dame of haar man daarby baat gevind het toe sy lug gegee het aan haar ergernis?
Ander wat uit hulle humeur geraak het, het die volgende gevolge gemeld: “’n Deurmekaar maag.” “Ek bewe van kop tot tone en dinge word dof.” “Dit word werklik rooi voor my.” Is dit voordelige gevolge?
Maar dit is nie al nie. Benewens die fisiese skade is daar ook die skade wat verhoudinge met ander berokken word. Baie dinge wat tydens ’n opwelling van toorn gesê en gedoen word, maak diep seer en kan nie ongedaan gemaak word nie. Laastens, daar is die skuldgevoel omdat ’n mens weet dat dit Jehovah mishaag wanneer jy jou humeur verloor.
’n Persoon kan nie die waaragtigheid van die Bybel se verklarings ontken nie: “Wie kortgebonde is, begaan sotheid” “Die lankmoedige is groot van verstand.”—Spr. 14:17, 29.
En hoe lewenswaar is die spreuk tog: “’n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar”! (Spr. 15:18). Daar bestaan geen twyfel dat ’n man wat nie sy gees beheers nie ‘olie op die vuur gooi’ en aldus die probleem vererger, terwyl iemand wat sagmoedig is die geskil kan laat bedaar. “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.”—Spr. 15:1.
Ja, dit kan waarlik voordelig wees as ons ons gees beheers. So vermy ons nie alleen die slegte gevolge nie, maar ons leer om met ander klaar te kom. Ons leer ook om ons geestelike broers te vertrou. Is dit nie baie beter as om voortdurend oor hulle gebreke te kla nie? Dit verskaf vreugde wanneer ons na hulle goeie eienskappe soek en dié navolg. Ons sal waarskynlik vind dat die gevolg is dat ander nader aan ons kom en ons aan hulle. Dit het beslis ’n liefdevoller atmosfeer tot gevolg.
Wanneer ’n groep mense met ’n sekere doel vergader, toon hulle ’n sekere “gees” of heersende gesindheid (Fil. 25). Dit hang tot ’n groot mate van die indiwidue wat die groep uitmaak af of hierdie gees opbouend en bemoedigend of negatief en ontmoedigend is. In tienduisende gemeentes dwarsoor die wêreld toon Jehovah se Getuies oor die algemeen ’n heilsame gees wat ander aantrek.
Indien jy een van Jehovah se Getuies is, kan jy jou dit gerus ten doel stel om by te dra tot die gesonde gees van die gemeente waarmee jy assosieer. Jy kan dit doen deur jou eie gees te beheers en deur hartlik, vriendelik en opbouend te wees in jou omgang met ander. Sodoende sal jy ’n gelukkige gesinsgees onder jou geestelike broers en susters versprei. Wanneer jy mildelik op hierdie wyse gee, sal jy die bykomende voordeel maai in die vorm van hulp om jou gees te beheers. Dit is omdat ’n goeie gees aansteeklik is, en vrygewigheid wek vrygewigheid. Die wyse man het gesê: “Die siel wat seën, word versadig.”—Spr. 11:25.
[Prent op bladsy 5]
Raak ek ontsteld oor die gewoontes of gebreke van ander?