Vlug na God se koninkryk!
1. Na watter dinge in verband met ontvlugting kan ons in Paulus se brief aan die Hebreërs oplet?
IN sy brief aan die Hebreërs het die apostel Paulus ’n paar belangrike dinge te sê in verband met ontvlugting. Hy bespreek twee aspekte: dinge wat gedoen moet word en dinge wat vermy moet word. Om sy argument te steun, haal hy dikwels aan uit die Hebreeuse Skrifte waarmee sy lesers van daardie tyd—Jode wat Christene geword het—goed vertroud was.
2. Hoe het Paulus God se Seun met die engele vergelyk, en tot watter gevolgtrekking het dit aanleiding gegee?
2 In die eerste hoofstuk van Hebreërs beklemtoon Paulus die voortreflike posisie van God se Seun ten opsigte van die engele. Dan sê die apostel: “Daarom moet ons [Christene] des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie. Want as die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was . . . hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid verontagsaam . . . nadat dit eers deur die Here [Jesus Christus] verkondig is . . . ?”—Hebr. 2:1-4.
3. (a) Die hoop op saligheid deur Christus Jesus is beter as watter ander hoop, en in watter opsigte? (b) Waarmee gaan hierdie “beter hoop” gepaard? (c) Watter nodigheid bestaan daar, ongeag of ons hemelse of aardse verwagtings het?
3 Die hoop op saligheid wat deur Jesus Christus gegee is, is baie beter en groter as dié wat voorgehou is deur die Wet wat by die berg Sinai “deur engele beskik” is (Gal. 3:19). Dit is beter omdat dit gebaseer is op ’n “beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is”, op ’n baie beter offerande (wat “een maal” gebring is en “’n beter hoop” gee) en op ’n voortrefliker priesterskap, soortgelyk aan die van Melgisedek (Hebr. 7:15-25; 8:6; 9:23-28). Maar hierdie “beter hoop” gaan gepaard met groter verantwoordelikheid. Dit is dus nodig om noukeurig ag te gee en om versigtig te wees sodat ons nie nalatig is en “miskien wegdrywe nie”. En hoewel daar hier na hemelse saligheid verwys word, rus soortgelyke verantwoordelikhede op diegene wat die hoop op aardse saligheid onder God se koninkryk het.
4. Wat beteken dit om te dryf, en hoe kan dit op Christene van toepassing wees?
4 Hoeveel inspanning is nodig om te begin dryf? Hoegenaamd geen inspanning nie. As ons op ’n rivier is, hetsy in ’n boot of in die water, dra die stroom ons eenvoudig stroom af. Net so ook in die ware lewe. Wanneer ons as Christene begin dryf, gaan ons saam met enige invloede wat na ons kant toe dryf, hetsy uiterlik of weens innerlike, oorgeërfde neigings. Ons begin om waardering vir geestelike waardes te verloor. Dit kan geleidelik gebeur en ons moet daarteen waak. Anders sal ons nie langer ’n stewige ‘greep op die werklike lewe’ hê nie en sal ons die gevaar loop om die lewe heeltemal te verloor (1 Tim. 6:19, vgl. NW). Hoe kan ons, soos Paulus gewys het, dan die finale rampspoedige gevolge ontvlug indien hierdie nalatige gesindheid en handelwyse nie gestuit word nie?
5. Teen watter gevaarlike harttoestand word ons deur Paulus se verdere woorde aan Hebreeuse Christene gewaarsku?
5 Deur die apostel se verdere woorde aan Hebreeuse Christene word ons gewaarsku teen ’n selfs gevaarliker handelwyse. Hy het geskryf: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy [hom] van die lewende God [terugtrek] nie. Maar vermaan mekaar elke dag solank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.”—Hebr. 3:12, 13, vgl. NW.
6. (a) Wat word bedoel met “terugtrek”? (b) Wat veroorsaak dat mense hulle “van die lewende God terugtrek”, en hoe kan dit vermy word?
6 Dit verg geen inspanning om te begin wegdryf nie; maar om jou van iemand te begin “terugtrek”, verg bepaalde optrede. Al is ons nog na ’n persoon gekeer in ’n poging om sy guns te behou, kan ons begin om van hom af terug te wyk of terug te trek deur agteruit te loop. Waarom sou enigiemand begin om hom ‘van die lewende God terug te trek’? Die antwoord is: Weens ’n gebrek aan geloof. Soos die verband toon, praat Paulus nie van ’n swak geloof as gevolg van onvoldoende kennis of ’n verkeerde begrip nie. Hy haal eerder die waarskuwing aan: “Verhard julle harte nie.” Dit is wat die vleeslike Israeliete in die woestyn gedoen het, al het hulle Jehovah se “werke veertig jaar lank [daar] gesien” deurdat hulle voortdurend sy wonderdadige voorsienings en beskerming geniet het (Hebr. 3:7-11). Alle ware Christene moet mekaar dus voortdurend help en bemoedig om nie terug te val omdat hulle deur “die sonde verhard” is nie. Ons moet mekaar vermaan om ons geloof lewend te hou. Hoe? Deur werke van geloof. Onthou, tydens ’n kwaai beproewing het Abraham gehoorsaam in geloof opgetree en gevolglik is hy “’n vriend van God genoem”. As getuies van Jehovah sal ons vandag slegs seëvier “as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het”.—Hebr. 3:13, 14, NAB; Jak. 2:21-26.
7. Hoe toon Paulus teen die einde van sy brief aan die Hebreërs dat die verantwoordelikheid wat op Christene rus groter is as dié wat op vleeslike Israeliete gerus het?
7 Teen die einde van sy brief aan die Hebreërs gebruik Paulus dieselfde argument as wat hy in Hebreërs 2:1-4 gebruik het. Hy toon die groter verantwoordelikheid wat daar op Christene rus, vergeleke met die eerstydse, vleeslike Israeliete. Hy gebruik egter ’n selfs sterker uitdrukking en sê: “As hulle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ’n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder ons wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek.”—Hebr. 12:25.
8, 9. (a) Wat behels dit wanneer ’n mens jou van iemand afkeer, en waartoe kan dit in geestelike sake lei? (b) Hoe en waarom moet ons hierdie waarskuwings ter harte neem? (c) Wat sal gebeur indien ons goddelike tugtiging aanvaar?
8 Wanneer ons ons van iemand afkeer, beteken dit dat ons hom opsetlik die rug toekeer en dui dikwels verwerping aan. Dit was die gesindheid en handelwyse van die vleeslike Israeliete as ’n nasie reg tot Maleagi se tyd, toe Jehovah vir hulle gesê het: “Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie” (Mal. 3:7). En wat sal die gevolg wees indien ’n gesalfde Christen, ’n geestelike Israeliet, hierdie stappe wat algaande slegter word, doen? Daar bestaan groot gevaar dat hy in die klas sal beland waaroor Paulus geskryf het: “Dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het . . . en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe” (Hebr. 6:4-6). Dit is natuurlik slegs Jehovah God en Jesus Christus wat kan bepaal of ’n persoon die punt bereik het waar dit vir hom onmoontlik is om tot bekering vernuwe te word.
9 Ons moet hierdie waarskuwings ter harte neem. Ons kan geloof begin verloor wanneer ons onsself toelaat om dinge as vanselfsprekend aan te neem, ’n gees van onverskilligheid aan die dag lê en amper onmerkbaar wegdryf. Een verkeerde stap of gesindheid lei maklik tot ’n ander totdat ons te ver gegaan het en so afvallig geword het dat ons nie kan herstel nie. Voordat dit gebeur, sal Jehovah ons ongetwyfeld tugtig, iets waaroor Paulus in dieselfde brief praat, en ons sal verstandig wees as ons sy raad aanvaar. Paulus het aan daardie Hebreeuse Christene geskryf: “Julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. . . . Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”—Hebr. 12:5-11.
10. Waarom moet ons nooit ’n negatiewe of pessimistiese beskouing van ons geestelike broers of selfs van onsself hê nie?
10 Ons moet nie uit die voorgaande die gevolgtrekking maak dat Paulus ’n negatiewe of pessimistiese beskouing van sy geestelike broers gehad het nie. Ons moet vandag ook nie onsself of ander in die gemeente so beskou nie. Selfs nadat die apostel vir daardie Hebreeuse Christene gesê het dat hulle ‘traag geword het om te hoor’ en ‘’n behoefte aan melk het en nie aan vaste spys nie’—en nadat hy die waarskuwing gerig het oor diegene wat so afvallig sou word dat hulle hulle nie kon bekeer nie—sê hy: “Maar, geliefdes, ons is aangaande julle van beter dinge oortuig, dinge wat saamhang met die saligheid, al spreek ons ook so.” Paulus spoor hulle dan aan om “navolgers [te wees] van hulle wat deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is”.—Hebr. 5:11, 12; 6:4-6, 9-12.
VLUG UIT BABILON
11. In watter profesie is Daniël geïnspireer om redding vir God se volk te voorspel?
11 ’n Belangrike faktor in enige ontvlugting is om uit ’n bedreigde plek of situasie te vlug en dit inderhaas te doen. Bestaan daar vandag ’n behoefte aan sulke optrede? Beslis. Die volgende woorde wat die profeet Daniël geïnspireer is om neer te skryf, het regstreeks betrekking op die kritieke situasie waarin Christene hulle nou bevind: “In dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan” (Dan. 12:1). Ja, Daniël se volk—in werklikheid God se volk—sou gered word. Wat ’n wonderlike versekering!
12. (a) Wanneer het Jesus op daardie profesie van Daniël gesinspeel? (b) Wanneer en ten behoewe van wie het Migael opgestaan en sy krag getoon?
12 Met verwysing na ’n wonderlike en groot vervulling in ons dag, “die tyd van die einde”, het Jesus op daardie woorde gesinspeel toe hy sy groot profesie gegee het wat in Mattheüs hoofstuk 24 opgeteken is. Hy het gesê: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Dan. 12:4; Matt. 24:21). Sedert 1914 G.J. is Jesus Christus die hemelse vors, Migael, wat opgestaan het en sy krag ten behoewe van God se hedendaagse volk toon. En wie is dit? Nie vleeslike Israeliete nie, maar die oorblyfsel geestelike Israeliete wie se “besnydenis . . . dié van die hart, in die gees, [is, en] nie na die letter nie”.—Rom. 2:29.
13. Van wanneer af word daar op die oorblyfsel geestelike Israeliete ’n beroep gedoen om uit Babilon die Grote te vlug, en wat was hulle toestand voor daardie tyd?
13 Dit is veral sedert 1919 G.J. dat hierdie getroue en gereinigde oorblyfsel gehoor gegee het aan die oproep: “Vlug uit die Noordland . . . Op, O Sion, red jouself, jy wat woon by die dogter van Babel!” (Sag. 2:6, 7; Jer. 51:45). Voor daardie jaar en gedurende die Eerste Wêreldoorlog was hierdie oorblyfsel in slawerny aan Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens.
14. (a) Wie is diegene “wat in die boek opgeskrywe staan”? (b) Ontkom ander aan vernietiging, en indien wel, wie?
14 Soos daar vir Daniël gesê is, is elkeen van hierdie oorblyfsel “in die boek opgeskrywe”. Hulle is deel van “die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is”. (Hebr. 12:23; kyk ook Maleagi 3:16.) Benewens hierdie persone wat aan die vernietiging van die goddelose ontkom, is daar ’n “groot menigte” wat nie geestelike Israeliete is nie, maar wat vergelykenderwyse “uitlanders” is. Maar hulle het ook “die Naam van die HERE lief en het sy lojale knegte geword. Met watter vooruitsigte? Jehovah antwoord deur te sê: “Hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed.” Hierdie lede van die “groot menigte” verrig vir God heilige diens in sy tempel. Hulle oorleef die “groot verdrukking” en word gelei na “lewende waterfonteine”.—Jes. 56:6, 7; Openb. 7:9-17.
15. Watter finale waarskuwing om uit Babilon die Grote te vlug, word gegee?
15 Ter bevestiging van die voorgaande profesieë lees ons verder in die laaste profetiese boek van die Bybel, wat gerig is tot God se volk van vandag. Dit rig ’n laaste waarskuwing in verband met Babilon die Grote, daardie valse godsdiensryk, met hierdie woorde: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou. . . . daarom sal haar plae op een dag kom . . . en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.”—Openb. 18:4-8.
16. (a) Waarom kan daar gesê word dat daar nog tyd is om aan vernietiging saam met Babilon die Grote te ontkom? (b) Hoe kan jy ingereken word onder diegene wat God “my volk” noem?
16 Daar is nog tyd om te vlug! Die waarskuwing om te vlug word hard en duidelik uitgebasuin. Dit is ’n dringende boodskap wat deur Jehovah se Getuies verkondig word. Hierdie keer is dit nie net ’n huis wat aan die brand is nie. ’n Hele “stad” gaan eerder aan die brand gesteek word. Wanneer daardie vuur eers aangesteek is, sal dit te laat wees om te vlug. Diegene wat in hulle harte Babiloniërs is, reageer nie op die waarskuwing nie en sal ook nie daarop reageer nie. Maar daar is nog geleentheid vir ander om te toon dat hulle die begeerte in hulle harte het om Jehovah God te dien met lojaliteit aan sy koninkryk in die hande van Christus Jesus. Hulle het dus nog tyd om te toon dat hulle gepas ingereken kan word onder diegene wat God “my volk” noem. Hulle word genooi om “ander skape” te word wat deel uitmaak van die “een kudde, [onder] een herder” (Joh. 10:16). Gelukkig kan jy ook, weens jou hartgrondige diens aan Jehovah en lojaliteit aan sy koninkryk, ingereken word onder God se volk.
VLUG NA GOD SE STAD—SION
17. Watter voorsiening het Jehovah gemaak vir diegene wat vlug?
17 Soos vroeër gemeld is, is dit nie bloot ’n saak om uit ’n baie gevaarlike plek of situasie te vlug nie. Daar is ook die kwessie om ’n veilige hawe te vind en soontoe gehelp te word. Het die groot “redder” hierna omgesien? Het hy sy volk gewaarsku om te vlug uit die “stad” wat deur vuur vernietig gaan word, net om hulle in ’n wildernis te laat ronddwaal? Let op die antwoord wat in sy Woord gegee word: “Elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep.”—Joel 2:32.
18. Hoe het die eertydse hoofstad van Israel ’n hedendaagse teenbeeld?
18 Die Bybel vertel dus van twee stede—die een waaruit mense moet vlug en die een waarin ons saam met baie ander skuiling kan vind. Die eertydse hoofstad van Israel, wat dikwels Sion of Jerusalem genoem is, beeld die “hemelse Jerusalem” af. Dit is God se hemelse koninkryk wat op aarde verteenwoordig word deur die oorblyfsel van die “getroue en verstandige dienskneg”-klas waarvan Jesus in Mattheüs 24:45-47 gepraat het (Hebr. 12:22). Jehovah het talle van sy getroue knegte van die ou tyd geïnspireer om almal aan te spoor en leiding te gee om na sy koninkryk te vlug.
19, 20. Watter leiding en aansporing is deur Jesaja gegee (a) in Jesaja 2:2-4. en (b) in Jesaja 26:1-4?
19 Jesaja is een van hierdie getroue knegte, en hy het ’n heuglike tyd met hierdie woorde voorspel: “Baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE . . . dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.” Onder daardie wet en woord sal hulle leer hoe om in vrede te lewe en “nie meer leer om oorlog te voer nie”.—Jes. 2:2-4; kyk ook Sefanja 2:3.
20 Later in sy profesie is Jesaja geïnspireer om meer besonderhede te verstrek oor hoe dit gedoen sou word: “In dié dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: ’n Sterk stad het ons; God stel heil tot mure en skanse. Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar! U sal ’n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U. Vertrou op die HERE vir ewig, want in die HERE HERE is ’n ewige rots.”—Jes. 26:1-4.
21. Hoe word ’n geestelike paradys op aanloklike wyse in Jesaja 61:4-11 beskryf?
21 Nadat Jesaja sy gesig uitgebrei het om die hele land wat aan Sion behoort het in te sluit, het hy teen die einde van sy profesie die herstelde geestelike paradys waarin al die vrygeraaktes dit sou geniet om ‘die ou puinhope te herbou’ geesdriftig beskryf. Dit is nie net die geestelike Israeliete wat die leiding hierin sou gee nie, maar daar is ook gesê dat “vreemdelinge sal staan en julle kleinvee oppas, en uitlanders sal julle landbouers en wynboere wees”. Sulke profesieë spreek duidelik, nie van ’n ‘noue ontkoming’ nie, maar van volkome verlossing en bevryding. Ons kan dus almal ons stemme vreugdevol verhef saam met die oorblyfsel van Jehovah se getroue, gesalfde “dienskneg” in hierdie lofbetuiging: “Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God.”—Jes. 61:4-11.
22. (a) Watter voorsiening vir ontvlugting is op ’n persoonlike vlak gemaak? (b) Wat moet ons doen om hierby baat te vind?
22 Hoewel jy sal saamstem dat wat ons tot dusver bespreek het, waar is van God se volk as geheel, wonder jy dalk hoe dit jou persoonlik raak. Het jy ontkoming aan een of meer persoonlike probleme nodig? Wie het nie? Die ou gesegde is waar dat, menslik gesproke, die lewe maar ’n kort reis tussen die wiegie en die graf is. Is daar geen ontkoming aan slawerny aan sonde en die dood nie? Dit is interessant dat sonde sowel as die dood konings genoem word, en albei sal verslaan word (Rom. 5:14, NW; 6:12, NW). In sy geskrifte aan mede-Christene het die apostel Paulus verduidelik hoe die weg tot ontkoming geopen is, naamlik “deur die verlossing wat in Christus Jesus is”. Want “Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof” (Rom. 3:24, 25). Ja, deur in daardie soenoffer te glo, kan ons God se guns verkry. Ons is nou wel steeds onvolmaak en moet daagliks om vergifnis van ons sondes vra. Maar ons sondige neigings hoef nie en behoort nie vrye teuels in ons lewens te hê nie. Paulus het geskryf: “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers . . . nie . . . Want die sonde sal oor julle nie heers nie.” Om ons op hierdie gebied te help, het God hulp deur sy Woord en sy getroue knegte, asook deur sy heilige gees voorsien.—Rom. 6:12-14; 8:11; Jak. 5:14, 15.
23. Watter wonderlike vooruitsig het ons, en onder wie se koningskap?
23 En watter glorieryke vooruitsig het ons tog vir die tyd na hierdie “swaar tye” en wanneer Satan se “wêreld” heeltemal vernietig is! (2 Tim. 3:1; 2 Kor. 4:4). Dan sal sonde en die dood nie meer as konings heers nie. Daar sal eerder volkome ontvlugting tot volle en blywende vryheid wees. Wanneer Christus se mede-erfgename hulle hemelse beloning ontvang het, sal “ook die skepping self [die mensdom] vrygemaak . . . word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God”. Christus Jesus “moet as koning heers totdat [God] al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.” Watter vreugde wag daar op alle lojale vrygeraaktes—vir diegene wat na God se koninkryk vlug! Alle lof kom Jehovah, die grootse “redder”, toe!—Rom. 8:19-21; 1 Kor. 15:25, 26.
“Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.—Ps. 91:1, 2.