Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 2/1 bl. 22-27
  • “Jehovah van die leërskare” tree as Redder op!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Jehovah van die leërskare” tree as Redder op!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Losser en sy verbond
  • Jehovah se hand het nie te kort geword nie
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II
  • Wat die geboorte van die nasie vir die mensdom beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Bybelboek nommer 23—Jesaja
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Die universele geskil word vir goed besleg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 2/1 bl. 22-27

“Jehovah van die leërskare” tree as Redder op!

1. Wat sal eers gedoen moet word om blywende verligting aan die mensdom te verskaf aangesien daar teenstanders is?

’N WÊRELDRAMP is onvermydelik! Maar dan sal daar beslis genesing van die globale gevolge daarvan volg. Die “goeie nuus” hieroor is rondom die hele aarde verkondig deur toegewyde manne en vroue aan wie die heerlike boodskap van ewige verligting vir die mensdom toevertrou is. Hulle informasie is betroubaar, want dit kom van die Een wat meer besorgd is oor die mensdom se toestand as enigiemand anders in die ganse hemel en aarde. Gelukkig is hy volkome daartoe in staat om die nodige verligting aan die hele mensdom te verskaf. Trouens, hy is voornemens om dit te doen. Dit sal egter uitloop op ’n geveg met teenstanders van sy voorneme, die geveg der gevegte!

2. Wie is daardie seëvierende stryder volgens Jesaja 59:15b?

2 Die profeet maak onder inspirasie bekend wie daardie seëvierende stryder is wanneer hy sê: “Toe het [Jehovah] dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie.”—Jes. 59:15b.

3. Wat is hierdie aarde figuurlik gesproke vir Jehovah as Koning, en het hy nogtans belangstelling getoon in wat hier gebeur?

3 Mense oor die algemeen neem deesdae nie in ag dat die Skepper van die hemel en aarde mense-aangeleenthede fyn dophou nie. En waarom sou die Skepper dit nie doen nie? Een van die laaste dinge wat sy profeet Jesaja neergeskryf het, was hierdie verklaring: “So sê [Jehovah]: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete” (Jes. 66:1). Wel, behoort hierdie Koning, wat oor die hele skepping troon, dan nie in sy aardse voetbank en die gebeure daarop belang te stel nie? Hy het getoon dat hy belangstel. Hoe?

4. Hoe het Jehovah gedurende die dae van Godvresende Noag getoon dat hy belangstel in dinge wat op sy voetbank gebeur?

4 Die feit dat daar nie vandag ’n ontsaglike watergewelf hoog in die ruimte rondom ons aardbol hang wat regstreekse sonlig, maanlig en sterlig keer nie, is omdat Jehovah gesien het wat hier op sy aardse voetbank aan die gang was en opgetree het. Hy het daardie swewende waters vanuit die hemel op sy voetbank laat neerstort, nie om sy voete te baai nie, maar om die slegte toestande onder die mensdom uit te wis. Die geïnspireerde verslag hieroor sê: “Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het . . . die HERE [gesê]: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg . . . Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE” (Gen. 6:5-8). Ons is hierdie Godvresende Noag almal veel verskuldig, want hy en sy gesin, altesaam agt mensesiele, het op Jehovah se bevel ’n ark gebou en die globale vloed veilig daarin oorleef, sodat ons hulle afstammelinge kon wees.

5. (a) Van watter belangstelling aan Jehovah se kant getuig die vernietiging van Sodom en Gomorra? (b) Wat word deur daardie vernietiging en die Vloed toegelig?

5 Die latere geval van Sodom en Gomorra is wêreldberoemd. Die vernietiging van daardie onsedelike stede in die Midde-Ooste het van Jehovah se belangstelling in mense-aangeleenthede op sy voetbank getuig (Gen. 18:20, 21). Regverdige Lot en sy twee dogters is gered uit die vuurreën wat Sodom en Gomorra tot as verbrand het. Waarom? Omdat Lot, alhoewel hulle in Sodom gewoon het, “hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense” en “sy regverdige siel gepynig” het daaroor (2 Pet. 2:6-8). Die interessante feit hieromtrent is dat daar gesê is dat die gewelddadige einde van die huidige wêreldstelsel van dinge in sekere opsigte ooreen gaan kom met die vernietiging van Sodom en Gomorra deur vuur en die vernietiging van die ou wêreld deur die Vloed.—Luk. 17:26-37; Matt. 24:36-39.

6. Waarom moet die beweging van Jehovah se oë en waarnemingsvermoë nie as van weinig belang beskou word nie?

6 Hedendaagse Sodomiete, ja, alle ander klasse mense, verblind hulself wanneer hulle die volgende woorde van die Skrif as van weinig belang beskou: “Die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is.” Ook: “Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies” (2 Kron. 16:9; Spr. 15:3). Weens Israel se vermoë om tussen goed en kwaad te onderskei, kon daar vir hulle gesê word: “As [Jehovah] van die leërskare vir ons nie ’n nageslag oorgelaat het nie, soos Sodom sou ons geword het en aan Gomorra gelyk gewees het.”—Rom. 9:29; Jes. 1:9.

7. Watter onvermoë van enige mens vandag is verbasingwekkend, en waarom bied Jehovah se Getuies nie aan om dit te doen nie?

7 Wat omtrent die koninkryk van Juda met sy hoofstad te Jerusalem was in Jesaja se dag in Jehovah se oë verkeerd? Al die volgende dinge: “Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder. Toe het die HERE dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie. En Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie” (Jes. 59:15, 16a). Helaas, daar was “niemand” wat opgewasse was teen die eise van die tyd nie, geen mens wat tussenbei kon tree en ’n einde kon maak aan die leuens, die onbillikheid, die ongeregtigheid nie, nie eens “op die mark” waar hofsake verhoor is om sake reg te stel nie (Jes. 59:14). Selfs vandag is die minagting vir goddelike wet en die toenemende skending daarvan iets wat verbasing wek, veral aangesien die valse Christendom nou al meer as 1 650 jaar lank bestaan. Jehovah se Getuies het nie die opdrag ontvang om sake reg te stel nie. Hulle kon nie tussenbei tree en dit doen nie, selfs al wou hulle ook. Wat nou?

8. Wie is dus verplig om oorlog te voer met die oortreders op aarde, en watter gepaste titel het hy sedert die 12de eeu v.G.J.?

8 Dit: “Jehovah van die leërskare” het ’n oorlog om te voer. Hy moet veg vir wat reg is! Hy maak nie staat op die Wêreldhof nie, net soos hy nie so ’n menslike hof vir internasionale arbitrasie tot stand gebring het nie. In die komende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon sal dit nie die eerste keer wees dat hy ’n stryd met sy vyande op aarde aanknoop nie. Reeds in die 12de eeu v.G.J. is hy as “[Jehovah] van die leërskare” aanbid (1 Sam. 1:3, 11). Toe die profeet Jesaja ’n gesig van “Jehovah van die leërskare” in sy heilige tempel gehad het, het Hy op ’n hoë, verhewe troon gesit waaromheen serafs met ses vlerke elk gevlieg het en herhaaldelik gesê het: “Heilig, heilig, heilig is [Jehovah] van die leërskare” (Jes. 6:3, 5). Hy was daar nie geklee in oorlogsgewaad soos dié van ’n Opperbevelhebber wat deur sy leërs gevolg word nie.—Vergelyk Openbaring 4:1-3.

9. Waarvoor en waarmee rus Jehovah homself volgens Jesaja 59:16-19 toe as gevolg van wat hy in hierdie eeu gesien het?

9 In die lig van wêreldgebeure sedert die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 kan die Regter van die hele aarde nie anders as om homself as “Jehovah van die leërskare” te openbaar nie. As gevolg van wat hy gedurende hierdie twintigste eeu G.J. sien plaasvind het, rus hy homself toe vir oorlog. Jesaja beskryf hom waar hy besig is om dit te doen: “Daarom het sy arm Hom gehelp en sy geregtigheid het Hom ondersteun. En Hy het geregtigheid aangetrek soos ’n pantser, en die helm van heil was op sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as kleding en Hom gewikkel in die ywer soos in ’n mantel. Volgens die dade, daarmee ooreenkomstig sal Hy vergelde: grimmigheid aan sy teëstanders, vergelding aan sy vyande; aan die eilande sal Hy die loon vergelde. En hulle sal die Naam van die Here vrees van die westekant af, en sy heerlikheid van die opgang van die son af; want Hy sal kom soos ’n saamgeperste stroom wat die asem van die HERE aandrywe.”—Jes. 59:16b-19.

10. Jehovah se komende stryd sal die klimaks wees van wie se stryd hier op aarde, en waaruit bestaan hulle wapenrusting?

10 Die komende stryd van Jehovah van die leërskare sal die klimaks wees van die voortdurende stryd wat Jehovah se Getuies moet voer en waarvoor hulle beveel is om hulself te bewapen. Hulle wapenrusting is geestelik en sluit die gordel van waarheid, “die borswapen van die geregtigheid”, die skoeisel van “die bereidheid vir die evangelie van vrede”, “die skild van die geloof”, “die helm van verlossing” en “die swaard van die Gees—dit is die woord van God”—in.—Ef. 6:11-17.

11, 12. (a) Wat word aangedui deur die feit dat Jehovah die “helm van heil” dra? (b) Wat word aangedui deur die feit dat hy die “pantser” van geregtigheid dra, en wat beloof dit?

11 Vir die komende universele oorlog sit Jehovah “die helm van heil” op. Maar in plaas van ’n “borswapen van die geregtigheid”, trek hy “’n pantser” van geregtigheid aan. Hy het natuurlik nie sulke beskermende wapenrusting nodig nie aangesien hy almagtig is en onsterflik, onverganklik is. Daar word dus hier bloot van beeldspraak gebruik gemaak om iets toe te lig. Die feit dat hy “die helm van heil” opsit, toon dat hy die heil van sy saak, in die besonder die belange van sy Messiaanse koninkryk, in gedagte het. Niks wat die vyand tydens hulle aanval op sy saak kan doen, sal sy voorneme van heil uit sy hoof stamp of hom slaan totdat hy sy bewussyn verloor het en dit glad nie kan onthou nie. En die feit dat hy die buigsame “pantser” van geregtigheid om sy bolyf het, toon dat sy liefde vir geregtigheid ongeskonde is. Geen aanval op sy teokratiese saak kan sy hartgrondige toewyding aan wat reg is, laat sterf nie.

12 Soos geskrywe is: “Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy” (Deut. 32:4). “Volgens sy belofte” sal hy veg totdat “nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid [sal] woon” tot stand gebring is.—2 Pet. 3:13.

13. (a) Wat toon die feit dat Jehovah “die klere van wraak” aantrek? (b) Wat word aangedui deur die feit dat hy hom toewikkel in “die ywer soos in ’n mantel”?

13 Jehovah sal veg as die Wreker. Dit is waarom daar uitgebeeld word dat hy “die klere van wraak” aangetrek het. Sy getuies op aarde het die opdrag gekry om “uit te roep . . . ’n dag van die wraak van onse God” (Jes. 61:1, 2). Die feit dat hy homself toegewikkel het in “die ywer soos in ’n mantel”, dui aan dat sy ywer hom sal aandryf, nie dol of waansinnig nie, maar met waardigheid soos die wat ’n eertydse “mantel” aan die draer daarvan verleen het. Hy sal sy teenstanders en vyande behandel op die wyse wat hulle diegene behandel het wat hulle standpunt onwrikbaar vir sy teokratiese saak ingeneem het. Selfs klein, afgesonderde organisasies soos “eilande” sal hulle verdiende loon ontvang.

14. (a) Watter uitwerking sal Jehovah se glorieryke oorwinning op die aarde se bewoners hê? (b) Waarom sal niks Jehovah se opmars na oorwinning te Armageddon stuit nie?

14 Weens die glorieryke oorlog wat hy gaan voer, sal die aarde se bewoners van die ooste tot die weste, van sonsondergang tot sonsopgang, hom moet vrees. Niks sal sy opmars na oorwinning kan stuit nie. “Want Hy sal kom soos ’n saamgeperste stroom wat die asem van die HERE aandrywe” (Jes. 59:19). Dit sal wees soos in die dae van rigter Barak en Debora, toe Jehovah die “spruit Kison” met ’n tierende fratsvloed oorstroom het wat die aanvalsmagte onder koning Jabin se veldmaarskalk Sisera weggespoel het (Rigt. 4:7, 13; 5:21). Tydens die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon sal hy sy heersende Seun Jesus Christus as veldmaarskalk gebruik, soos Openbaring 19:11-21 toon. Gedurende daardie oorlog sal Jehovah se aandrywende gees sterker wees as al die atoom- of kernbomme wat mense dan op aarde laat ontplof of opgegaar het.

Die Losser en sy verbond

15. Vir wie kondig Jehovah van die leërskare homself herhaaldelik deur Jesaja as die Losser aan?

15 “Jehovah van die leërskare” noem homself herhaaldelik die Losser of Go·el’ van sy uitverkore volk, waaraan Jesaja self behoort het. Hy het Jesaja gebruik om aan hierdie tipiese volk te sê: “Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ék help jou, spreek die HERE, en jou Losser is die Heilige van Israel.” En weer: “So sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; . . . Júlle is my getuies, spreek die HERE, en my kneg wat Ek uitverkies het, . . . So sê die HERE, jou Losser, die Heilige van Israel: Om julle ontwil het Ek na Babel gestuur, en Ek sal hulle almal as vlugtelinge laat afdaal.”—Jes. 41:14; 43:1, 10-14; 44:6, 24; 48:17; 49:26; 54:5, 8; 60:16; 63:16.

16. Waar haal Paulus dele van Jesaja 59:20, 21 aan, en waarmee verbind hy die volledige vervulling van die profesie?

16 Omtrent 23 jaar na die dood, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus het die apostel Paulus dele van Jesaja 59:20, 21 aangehaal as iets wat ’n vervulling in Christelike tye het. Hy sê: “Soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem” (Rom. 11:26, 27, in ooreenstemming met die Griekse Septuaginta). Die apostel Paulus plaas die voltooiing van die profesie se vervulling in die toekoms wanneer die Koninkryksklas onder Jesus Christus voltallig is, naamlik 144 000 lede het. Hulle is antitipiese Israeliete, geestelike Israeliete, wat in ’n nuwe verbond met Jehovah God is. Hulle is soos ’n vasgestelde aantal takke in ’n simboliese olyfboom (Rom. 11:17-26). God se tyd vir hierdie finale vervulling het aangebreek!

17. Wanneer het die oorblyfsel geestelike Israeliete hulle in slawerny verkoop, en waarheen het die Losser gekom om hulle te bevry?

17 Net soos die Israeliete van Jesaja se dag het die geestelike Israeliete hulself deur verkeerde gebruike verkoop en in slawerny aan die wêreldryk van valse godsdiens, dit wil sê, aan Babilon die Grote en aan haar wêreldlike minnaars, beland (2 Kon. 17:17; 1 Kon. 21:20, 25). ’n Besondere voorbeeld hiervan het plaasgevind tydens die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918. Indien die gevange geestelike Israeliete hulle vryheid wou terugkry om die ware God sonder bedwang of vrees te dien, moes ’n Losser vir hulle opstaan. Hy het, en dit was Jehovah self. Deur sy tydige optrede as Losser het hy hulle vir sy diens bevry. Net soos Sion in Jesaja se dag die vernaamste berg was waarop Jerusalem as die koninkryk se hoofstad gestaan het, is dit na die teenbeeldige Sion dat Jehovah moes kom om die Koninkryksklas te verlos (Openb. 14:1; Jes. 24:23; 52:7). Toe het die bevryde oorblyfsel geestelike Israeliete hulle afgewend van hulle oortredings teen Jehovah en vry gebly van alle bande met Babilon die Grote.—Openb. 18:4.

18. Wie gebruik Jehovah in hierdie verband as sy verteenwoordiger, en in watter stryd word daar gesê dat hierdie een gaan veg?

18 Jehovah het sy Seun Jesus Christus as sy verteenwoordiger of “Engel van die verbond” gebruik (Mal. 3:1). As ’n Grotere Kores het Jesus Christus eers die oorblyfsel geestelike Israeliete en toe hulle metgeselle uit Babilon die Grote bevry (Jes. 44:28-45:7). In Openbaring 19:11-21 word hy afgebeeld as die een wat regstreeks in die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon veg.

19. Wat is die bepalings van die “verbond” wat Jehovah met die Grotere Jesaja, Jesus Christus, ten behoewe van die bevryde oorblyfsel geestelike Israeliete sluit?

19 As ’n Grotere Jesaja is Jesus Christus die Profeet met wie Jehovah die verbond ten behoewe van die bevryde oorblyfsel geestelike Israeliete sluit. Hierdie verbond kom ooreen met die belofte in Jesaja 59:21: “My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie.”—Vergelyk Handelinge 3:22, 23.

20. Tot watter mate was Jehovah se gees op die Grotere Jesaja, en wat toon vandag dat Jehovah se woorde nie verwyder is uit die mond van die “kroos” wat God aan Jesus Christus gegee het nie?

20 Die profeet Jesaja en sy natuurlike “kroos” het lankal van die aardse toneel af verdwyn. Maar die Grotere Jesaja, Jesus Christus, lewe voort as ’n onsterflike aan God se regterhand in die hemele. Jehovah se gees is kragtig op hom (Jes. 61:1-3; Luk. 4:16-21). En Jehovah se “woorde” is in sy mond gelê sodat hy dit veral oor die hele aarde kan laat hoor. Te dien einde het hy daardie woorde in die mond van die geestelike “kroos” wat Jehovah aan hom gegee het, gelê. Dit het meegebring dat die goeie nuus oor God se opgerigte koninkryk oor die hele wêreld verkondig word.—Matt. 24:14.

21. (a) Wie het sedert 1935 begin om die hedendaagse boodskap te verkondig? (b) Wanneer sal “Jehovah van die leërskare” as Redder moet optree, en homself aldus as wat regverdig?

21 Sedert 1935 het ’n “groot menigte” die metgeselle van die oorblyfsel geestelike Israeliete geword. Hulle het begin om die Koninkryksboodskap te verkondig en hulle monde het dit uitgebasuin, tesame met die waarskuwing oor goddelike wraak op God se vyande (Openb. 7:9-17). Sulke vyande probeer steeds om die verkondiger van die Koninkryksboodskap die swye op te lê. Wanneer hulle hierin faal, sal die woedende vyande hulle laaste aanval op al die lojale aanhangers van God se koninkryk in die hande van Christus doen. Dan sal “Jehovah van die leërskare” beslis soos nog nooit tevore nie as hulle Redder moet optree. Hy sal dit doen deur middel van sy veldmaarskalk, Jesus Christus die “Koning van die konings”. Kom dan, o “Jehovah van die leërskare”, en mag u glorieryke oorwinning deur Christus op die onuitwisbare annale van die hele hemel en aarde bly tot u ewige verheerliking as onbetwisbare Soewerein van die ganse heelal!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel