Die gesondheid wat die mensdom kon geniet het
1. Waarom is ’n wêreldgeneesheer nodig, en watter reël wat Christus aangehaal het, geld vir die mediese professie en gesondheidsagentskappe?
DIE mensdom se gesondheidstoestand is haglik! Die behoefte aan ’n wêreldgeneesheer is groter as ooit tevore, want nuwe kwale word ontdek en eis slagoffers. Die mediese professie sowel as gesondheidsagentskappe het almal tesame gefaal om ’n wêreldgeneesheer te wees wat al die aarde se kwale kan genees. Dit is presies wat ons kan verwag, want die reël “Geneesheer, genees uself!” geld hier. Wie het dit aangehaal? ’n Man wat allerhande kwale genees het en selfs ’n man op die vierde dag na sy dood opgewek het. Die man met so ’n mediese reputasie was Jesus Christus (Luk. 4:23; Mark. 6:4-6). Toe hy in 33 G.J. gesterf het, was dit nie weens natuurlike oorsake nie. Dit was die toedoen van moordenaars (Hand. 7:52). Wat kon die mensdom se gesondheid vandag gewees het indien hulle hom destyds aanvaar het?
2, 3. (a) Watter vraag stel ons oor Jehovah as ’n Geneser? (b) Waarmee het Jehovah eertydse Egipte getref om sy volk te bevry, en waarteen het hy die Israeliete gewaarsku indien hulle nie na sy stem sou luister nie?
2 Ons kan die vraag selfs verder terugvoer en vra: Wat sou die geval gewees het indien mense die dienste aanvaar het van die Een wat vir sy uitverkore volk in die dae van die profeet Moses gesê het: “Ek is die HERE wat jou gesond maak”?—Ex. 15:26.
3 Ten einde sy uitverkore volk uit slawerny in eertydse Egipte te verlos, het Jehovah daardie land met wonderdadige plae geteister. Later het hy die eerste nege plae beëindig. Hy het ’n nasionale verbond met sy bevryde volk gesluit wat hulle fisiese, verstandelike en geestelike welsyn in die hand sou werk. Hy het Moses gebruik om daardie Israeliete te waarsku teen die gevolge indien hulle die wet van daardie verbond voortdurend sou verbreek: “Ook allerhande siektes en allerhande plae wat in die boek van hierdie wet nie geskrywe is nie, dié sal die HERE teen jou laat opkom totdat jy verdelg is. En julle sal met min mense oorbly, in plaas dat julle gewees het soos die sterre van die hemel in menigte, omdat jy nie geluister het na die stem van die HERE jou God nie.”—Deut. 28:61, 62.
4, 5. (a) Watter vraag kan ons oor Israel se hedendaagse teenbeeld stel aangesien die oorlewende Jode vandag so sleg vaar? (b) Wat sou volgens Jesaja 58:9-11 die geval gewees het indien hulle ’n beter weg ingeslaan het?
4 Vandag ly nie alleen die miljoene oorlewende Jode aan liggaamlike kwale, om nie eens van verstandelike, godsdienstige, maatskaplike en ekonomiese kwale te praat nie, maar die hele mensdom ly ook daaraan. Op hierdie gebiede het nie eens die valse Christendom enige voordeel bo die natuurlike Jode nie. Trouens, die valse Christendom het ’n groter verantwoordelikheid voor God. Indien eertydse Israel so sleg gevaar het omdat hulle nie ’n beter weg ingeslaan het soos Jehovah hulle deur Jesaja beveel het nie, hoe kan ons dan verwag dat die valse Christendom op die ou end sal vaar, en dit sommer binnekort? Die profeet Jesaja beskryf soos volg wat die toestand kon gewees het:
5 “Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger [in veragting of in veroordeling] en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig, dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag. En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos ’n tuin wat goed besproei is en soos ’n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie. En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak.”—Jes. 58:9-12.
6. Watter vraag word ons genoop om te stel oor die moontlikhede in die geval van Israel se hedendaagse teenbeeld, in die lig van die moontlikhede wat aan Israel van Jesaja se dag voorgehou is?
6 Ag, wat kon tog die nasionale toestand van eertydse Israel gewees het indien hulle ag geslaan het op die raad wat Jehovah so duidelik gegee het! Omdat hy almagtig is, kon hy maklik die toestande voortgebring het wat hy gesê het sou volg indien Israel die aanstootlike dinge wat hulle sowel as hulle verbondsverhouding met God benadeel het, gestaak het. Omdat Israel dit nie gedoen het nie, het hulle van kwaad tot erger gegaan. Die tugtiging wat Israel beleef het in die eeu nadat Jesaja geprofeteer het, was ’n verskriklike. In die lig van al daardie dinge wat ’n voorbeeld was, word ons genoop om te vra: Wat van Israel se hedendaagse teenbeeld, die valse Christendom? Wat kon haar maatskaplike, ekonomiese, morele en godsdienstige gesondheid gewees het indien sy haar medisyne van die Goddelike Geneser, Jehovah, gedrink het en die Koninkryksboodskap aanvaar het wat nou al meer as ’n eeu lank deur sy Christengetuies verkondig word?
7. Watter lewende voorbeeld het ons vandag van wat die geval met die valse Christendom kon gewees het?
7 Ons het ’n voorbeeld van wat die geval met die valse Christendom kon gewees het. Waar? In die dinge wat vandag gebeur met diegene wat afgebeeld is deur die seuns van Jesaja, die “kinders” wat Jehovah hom gegee het en wat Jehovah gebruik het om die geesgesalfde dissipels van Jesus Christus af te beeld (Jes. 8:18; Hebr. 2:13). Meer as 65 jaar lank kondig hulle al vir die wêreld aan dat Jehovah se Messiaanse koninkryk nou rus op die skouer van die gekroonde Seun van God, Jesus Christus, die Vredevors (Jes. 9:5, 6). Hulle het dus vir honderdduisende wanhopige persone die sombere duisternis wat die hele wêreld bedek, verdryf. Deur middel van die Koninkryksnuus wat Jesus in Mattheüs 24:14 voorspel het, voed hulle die geestelik honger mense met iets wat meer krag het om lewe te onderhou as stoflike voedsel. Hierdie persone het geestelike genesing ondervind.
8. Op watter verdere woorde van Jehovah oor die Sabbat slaan die geestelik geneesdes nou ag, met die oog op watter beloftes?
8 Al die geestelik geneesdes slaan nou ag op Jehovah se verdere woorde van leiding waarop eertydse Israel nie ag geslaan het nie: “As jy jou voet terughou van die sabbat—om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ’n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek.”—Jes. 58:13, 14.
9. Moet toegewyde, gedoopte Christene nou ’n weeklikse Sabbat hou, en watter Sabbatstyd nader hulle nou vinnig?
9 Toegewyde, gedoopte Christene, soos Jehovah se Getuies van vandag is, hoef nie ’n weeklikse Sabbat te hou wat met sonsondergang op Vrydag begin en met sonsondergang op Saterdag eindig nie, want hulle is nie onder die stel wette wat deur Moses as middelaar gegee is nie (Ex. 20:1-11). En Jesus Christus, die Middelaar van die nuwe verbond, het ook nie sy dissipels beveel om Sondag as ’n Sabbatdag te hou nie. Hulle weet dat hulle lewe in die sewende dag van die skeppingsweek van Jehovah God, waartydens hy rus van regstreekse skeppingswerk ten opsigte van ons aarde (Gen. 1:1-2:4). Wêreldgebeure sowel as Bybelchronologie toon dat ons nou vinnig die tyd nader wanneer die duisendjarige bewind van Jesus Christus gaan begin. Sy bewind van ’n duisend jaar tot seën van die hele mensdom val saam met die laaste duisend jaar van Jehovah se rusdag of Sabbatdag van seweduisend jaar. Christus se bewind sal ’n Sabbatdag wees waarin die hele mensdom hulle kan verlustig.
10. Is die valse Christendom se weeklikse “sabbat” Bybels, en waarvoor word dit vandag hoofsaaklik gebruik?
10 Die valse Christendom hou al meer as 1 500 jaar lank formeel Sondag as ’n soort Christensabbat. Maar Sondag is nie Christelik of Joods nie. Soos die naam aandui, is dit in werklikheid ’n heidense feesdag ter ere van die songod. Die valse Christendom gedenk beslis nie vandag sy Sondag as ’n rusdag ter ere van Jehovah en vir die welsyn van die menslike liggaam nie. Hulle benut dit grotendeels as ’n dag vir sport, pieknieks, bioskoop en ander nie-godsdienstige bedrywighede en selfsugtige genietinge, om nie eens te praat van dobbelary en allerhande onsedelike bedrywighede nie.
11. Hoe hou die Christengetuies van Jehovah ’n ware “sabbat” in navolging van sy voorbeeld?
11 Die Christengetuies van Jehovah gedenk ’n voortdurende “sabbat” vir Jehovah God. Hoe? Deur te rus of hulle te weerhou van hulle eie werke in ’n poging om hulself voor God te regverdig en dus hulle ewige redding te verdien. Deur geloof rus hulle in die verdienste of verlossingswaarde van Christus se losprysoffer as grondslag vir hulle ewige redding. Aldus skik hulle hulle na die groot sewende “dag” van Jehovah se Skeppingsweek, ’n figuurlike “dag” waartydens hy self rus.
12. Wat is die huidige “sabbatsrus” wat vir God se volk ‘oorbly’, en hoe gebruik Jehovah se Getuies dus die Joodse sabbat en die valse Christendom se Sondag?
12 Oor die wyse waarop die Christen deur geloof op Jehovah se “sabbat” van sewe millenniums rus, lees ons: “Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; . . . Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne” (Hebr. 4:4-10). Jehovah se Getuies rus deur geloof in Christus se offerande as God se voorsiening vir die mens se redding. Hulle kan dus gewetensgetrou die Joodse sabbatdag en die valse Christendom se Sondag gebruik om die goeie nuus van God se koninkryk van huis tot huis te verkondig.
’n Skeidsmuur tussen die valse Christendom en die Geneser wat die mens nodig het
13. Watter soort gedrag deur God se voorgewende volk het volgens Jesaja 59:1-4 ’n skeidsmuur tussen hom en hulle laat ontstaan?
13 Die toestand waarin die valse Christendom kon gewees het eerder as die toestand waarin hulle vandag verkeer, bestaan nie weens ’n gebrek aan vermoë by die almagtige God nie. Waarom is eertydse Israel dan nie gered nie en waarom is die valse Christendom of die res van die wêreld eweneens nie gered nie? Die rede word met hierdie woorde verstrek: “Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie. Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg. Daar is niemand wat aanklaag in geregtigheid en niemand wat ’n regstryd voer in waarheid nie; hulle vertrou op nietigheid en spreek valsheid, met moeite [moeilikheid, NW] gaan hulle swanger en baar onheil.”—Jes. 59:1-4.
14. Waarom kon die 20ste-eeuse valse Christendom, net soos Israel van Jesaja se dag, haar nie in die goddelike geregshof van blaam suiwer nie?
14 Daardie kykie na wat Israel in Jesaja se dag gedoen het, openbaar ’n klomp besonderhede. Hoe kon Jehovah na aan die lede van so ’n nasie bly of hulle seën? Die nasie was die een wat die kloof tussen hom en hulle geskep het. Dieselfde geld van die kloof tussen hom en sy verklaarde volk, die valse Christendom. Hande, vingers, lippe en tong doen almal kwaad, tot nadeel van die valse Christendom self. Na twee wêreldoorloë is haar hande nie alleen reeds vol mensebloed nie, maar beplan sy om mensebloed op ’n selfs groter skaal te vergiet, waarskynlik volgende keer met atoom- en kernbomme, benewens ander duiwelse metodes om tallose mense ’n pynlike dood te laat sterf. Wanneer sy internasionale probleme na die Verenigde Volke of na die Wêreldhof in Den Haag, Nederland, neem, is dit beslis nie dieselfde as om sake voor die hele hemel en aarde “in geregtigheid” na die goddelike geregshof te neem nie. In so ’n goddelike hof sal die valse Christendom haarself nooit van blaam kon suiwer nie!
15, 16. Wat moet vanselfsprekend gebaar word in die lig van wat op internasionale vlak verwek word, en wat is al die diplomatieke gepraat?
15 In die Verenigde Volke oortref die nie-Christelike nasies reeds die nasies van die Christendom in getal. Nogtans wend haar geestelikes en godsdiensleiers hulle na daardie plaasvervanger vir God se koninkryk as “die enigste hoop van die wêreld” en tree hulle op en gaan hulle voort asof dit wel die geval is. As dit nie ’n geval van vertroue “op nietigheid” is nie, wat is dan? En is al die openbare en private gepraat oor vertroue op die Verenigde Volke en ander mensgemaakte agentskappe vir wêreldvrede en -veiligheid nie ’n geval van waar ‘valsheid gespreek’ word, veral deur die valse Christendom nie? Wat is al hierdie palawer dan anders?
16 Aangesien slegs “moeilikheid”, nie vreedsame verhoudinge met Jehovah God nie, op internasionale vlak verwek word, kan ’n mens net verwag dat slegs “onheil” gebaar sal word. Wat ’n “probleemkind” gaan dit tog wees! Uit Jehovah se standpunt was al die diplomatieke gepraat tussen nasies, Christelike sowel as nie-Christelike nasies, slegs die ‘spreek van leuens’ en die ‘fluistering van onreg’.
17. As ’t ware waardeur word God se verklaarde volk vergiftig, en waarom is die weg wat hulle ingeslaan het nie ’n veilige pad vir reisigers nie?
17 Mense binne sowel as buitekant die valse Christendom word vandag vergiftig, nie alleen chemies nie, maar ook geestelik. Volgens Jesaja 59:5-8 kan klaers voor God, die Regter van almal, sê: “Basilisk-eiers broei hulle uit, en spinnerakke weef hulle; hy wat van hulle eiers eet, moet sterwe; en as dit stukkend gedruk word, bars daar ’n adder uit. Hulle weefsels deug nie vir klere nie, en met hulle voortbrengsels kan niemand hom toemaak nie; hulle werke is onheilswerke, en die daad van geweld is in hulle hande. Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldige bloed te vergiet; hulle gedagtes is onheilsgedagtes, verwoesting en verbreking is in hulle paaie. Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie.”
18. Watter soort voorbeeld stel die valse Christendom waar dit kom by die handhawing van vrede?
18 Hoe kan ons verwag dat die res van die wêreld interne vrede moet bewaar as die valse Christendom dit nie kan doen nie? Sy is ’n slegte voorbeeld en gee heeltemal ’n wanvoorstelling van die ware Christelike godsdiens. Sy doen luidrugtig beroepe om vrede en veiligheid, maar die wyse waarop sy haarself swaar vir oorlog bewapen omdat sy haar wêreldlike bure met agterdog bejeën, is nie die manier om die weg na vrede te baan nie.
19. Wat was die gevolge van die huigelary in eertydse Israel ten opsigte van die reg en die vermoë om die regte weg te onderskei?
19 “Daarom is die reg ver van ons”, het Jehovah se profeet Jesaja voorts gesê, “en bereik die geregtigheid ons nie; ons wag op lig, maar kyk, daar is duisternis; op ’n helder skynsel, maar ons wandel in dikke donkerheid. Ons tas rond langs die muur soos blindes, en soos die wat geen oë het nie, tas ons rond; ons struikel op die middag soos in die skemeraand; ons is onder die gesondes soos dooie mense.
20. (a) Was Israel se oortredinge, afval en sondes opvallend? (b) Hoe het reg en geregtigheid en waarheid dus onder die omstandighede gevaar?
20 “Ons brom almal soos bere, en soos duiwe kir ons aanhoudend; ons wag op reg, maar dit is nie daar nie; op heil—dit bly ver van ons. Want ons oortredinge is baie voor U, en ons sondes getuig teen ons; want ons oortredinge staan voor ons, en ons ongeregtighede—ons ken hulle: die afval en verloëning van die HERE en afwyking van agter onse God; die uitspreek van verdrukking en oortreding, die opneem en uitstoot van leuentaal uit die hart. So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie. Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder.”—Jes. 59:9-15; Rom. 3:15-18.
21. Watter hedendaagse toestand pas baie goed by daardie beskrywing van Israel in Jesaja se dag, en hoe kon die mensdom ’n beter vooruitsig gehad het?
21 Hoe goed pas daardie antieke beskrywing tog die toestand wat vandag in die valse Christendom heers! Sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 het Jehovah se Getuies ’n baie prominente plek op die wêreldtoneel ingeneem ondanks hewige vervolging. Gestel die mense het gunstig gereageer op die boodskap van Jehovah se koninkryk in die hande van die verheerlikte Christus in plaas daarvan om dit teë te staan met ongeregtigheid en deur Jehovah se Getuies oor die hele wêreld te vervolg. Hoeveel beter sou die mensdom se gesondheid, en veral dié van die valse Christendom, dan tog nie nou in alle opsigte gewees het nie! Wat ’n rooskleuriger vooruitsig sou die mensdom dan tog nie gehad het nie!