Respekteer Jehovah se reëling nederig net soos die engele
DIE Assiriese leër, wat uit meer as 185 000 manne bestaan het, was gestasioneer in die laagland by Libna aan die oorkant van die Judese plato, meer as 40 kilometer ver. Dit het ’n string verwoeste stede en verminkte lyke agtergelaat. Die eintlike teiken was Jerusalem.
Judese koning Hiskia het geweet dat verlossing deur menslike middele buite die kwessie was. Die Assiriese woordvoerder het aangedring op oorgawe en toe na die Assiriese kamp te Libna teruggekeer. Maar Hiskia het vurig gebid: “Verlos ons dan nou tog uit sy hand. HERE onse God, dat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, HERE, alleen God is” (2 Kon. 19:19). Hiskia se gebed is gou verhoor, sommer nog daardie selfde nag.
Mettertyd het Hiskia berig ontvang dat Jehovah se engel die vorige nag 185 000 stryders in die Assiriese kamp te Libna om die lewe gebring het (2 Kon. 19:35). Koning Sanherib het gevolglik reguit na Assirië teruggekeer. Wat ’n ontsagwekkende magsvertoning het hy tog aanskou!
Nederige knegte
Dapper mensekrygers het al oor baie kleiner prestasies gespog. Maar wat is die gesindheid van die engele? Hierdie gees-“seuns van God” is besondere voorbeelde van nederigheid (2 Pet. 2:11; Job 38:7). Beskou die geval van die engeleboodskapper wat in ’n gesig aan die apostel Johannes verskyn het. Toe Johannes hom wou aanbid, het die engel gewaarsku: “Moenie! Ek is ’n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het” (Openb. 19:10; 22:8, 9). Die engel het dus nederig erken dat hy bloot ’n dienskneg van die Allerhoogste was. Alhoewel hy baie bevoorreg was om ’n goddelike openbaring oor te dra, het hy besef dat dit verkeerd sou wees indien hy vereer sou word omdat hy sy deel as ’n dienskneg van God gedoen het.
Jesus Christus het gesê dat die engele hulle baie verbly wanneer een sondaar tot bekering kom (Luk. 15:7, 10). Dit is voorwaar merkwaardig, aangesien so ’n persoon in aanmerking kan kom vir heerskappy in die hemelse koninkryk. In plaas daarvan om jaloers te wees oor die onverdiende guns wat aan voormalige sondaars bewys word, besef die engele dat God regverdig is wanneer hy mense gebruik wat, as gevolg van wat hulle op aarde ervaar het, toegerus is om simpatieke konings en priesters te wees. (Vergelyk Hebreërs 4:15; 5:8, 9.) Omdat engele die voorreg om Jehovah in enige hoedanigheid te dien hoog op prys stel, dien hulle toekomstige Koninkrykserfgename nederig (Hebr. 1:14). Trouens, hulle rig evangeliedienaars selfs om diegene te vind wat na God soek.—Vergelyk Handelinge 8:26-38.
Engele besef dat daar geen plek vir selfverheerliking in God se gesin is nie, hetsy in die hemel of op aarde. Spoor dit ons nie aan om ’n kragtige poging aan te wend om niks ‘uit selfsug of uit ydele eer te doen nie, maar om ander in nederigheid hoër te ag as onsself’ nie? (Filip. 2:3). Aanvaar ons Jehovah se reëling in die Christengemeente nederig en respekteer ons die onvolmaakte manne wat as opsieners dien? (Hebr. 13:17). En wat van ons gesindheid teenoor medegelowiges? Is ons eerbiedig en vriendelik teenoor hulle, ongeag hulle gebreke? Toe Jehovah se engeleverteenwoordiger Abraham aangespreek het, het hy “asseblief” gesê (Gen. 13:14, NW). Bejeën ons kinders, vrouens en medegelowiges met net soveel eerbied? Engele het hulle geen vryhede veroorloof in hulle handelinge met onvolmaakte mense nie. Ons moet ook nie.
Ons vind nog ’n geval van nederige onderworpenheid in verband met Moses se begrafnis. Daar was ’n konfrontasie tussen die Duiwel en die aartsengel Migael wat daarop aanspraak gemaak het dat die liggaam Jehovah se eiendom is. Hoe het Migael die saak behartig? Het hy smalend uiting gegee aan sy afkeur van hierdie teenstander wat verantwoordelik is vir die mensdom se weë? (Gen. 3:1-5). Nee, “hy [het] geen oordeel van lastering [teen die Duiwel] durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou!” (Jud. 9). Die aartsengel het Jehovah se reëling vir oordeel gerespekteer en vermetelheid vermy.—Vergelyk Johannes 5:19, 30.
In navolging van Migael se voorbeeld moet Christeneggenote en -vaders nie hardvogtig of veeleisend wees in die wyse waarop hulle gesinsgeskille besleg nie, en moet gemeentelike ouere manne oppas dat hulle nie hulle gesag misbruik deur oortreders onvriendelik te behandel nie (1 Pet. 3:7; 5:1-3). Diegene wat lewegewende waarhede uit God se Woord verkondig, sal beslis nie lasterlike dinge wil sê van persone wat nie gunstig gehoor gee nie, maar sal die oordeel oorlaat aan Jehovah wat ‘die hart aansien’.—1 Pet. 3:8-12; 1 Sam. 16:7.
Getroue volharding
Nederige eerbied vir Jehovah se reëling het engele in staat gestel om getrou in hulle dienstoewysings te volhard. Op pad na die profeet Daniël met ’n spesiale boodskap van God af, het een engel kwaai teenstand ondervind. “Die vors van die koninkryk van die Perse het een-en-twintig dae lank teenoor my gestaan”, het die engel later vir Daniël vertel. Omdat hy besef het hoe belangrik dit was om God se aardse kneg met die boodskap te bereik, het hy hom 21 dae lank teen die teenstand van die onsigbare demonheerser van Persië verset totdat die aartsengel Migael hom te hulp gekom het.—Dan. 10:12-14.
Net soos daardie engel het ons ’n “worstelstryd . . . nie teen vlees en bloed nie, maar . . . teen die bose geeste in die lug” (Ef. 6:12). Kragtige inspanning is nodig om demonmagte teë te staan wat daarop uit is om ons vriendskap met Jehovah te vernietig en ’n einde te maak aan die verkondiging van God se koninkryk. Respek en waardering vir Jehovah se heerskappy sal ons help om die oorwinning met behulp van die heilige gees te behaal.—Openb. 12:17.
Ons raak soms mismoedig weens die negatiewe gesindhede van metgeselle of familielede. Engele was ook onderwerp aan druk deur ontevredenes. Voor die groot vloed van Noag se dag het party engele geswig voor verkeerde begeertes. Hulle het “hul eie woning” in die hemele verlaat, menslike liggame aangeneem en onnatuurlike verhoudinge met vroue aangeknoop (Jud. 6). Die meeste van God se geesseuns het egter geweier om beïnvloed te word deur die ontroue handelwyse van hierdie opstandige lede van Jehovah se gesin. Meer as 2 000 jaar later het Daniël ’n gesig gehad van die hemelse howe. Hoeveel getroue engele het hy gesien? “Duisend maal duisende het Hom gedien, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan” (Dan. 7:10). Net soos die regverdige engele moet jy weier om beïnvloed te word deur die gesindhede van indiwidue wat hulleself behaag. Put bemoediging uit sulke getroue voorbeelde.—1 Thess. 1:7.
Waardeer God se liefde
Jehovah het engele sowel as mense geskep met die vermoë om liefde vir hom as hulle Vader en Soewerein te verkry. God se groot teenstander was een engel wat die voordele van Jehovah se liefde geniet het; hy het egter versuim om op sy beurt waardering te verkry. ’n Gebrek aan nederigheid het gelei tot ’n begeerte na vernaamheid en eindelik tot opstand.—1 Tim. 3:6.
Behoort dit nie vir ons ’n waarskuwing sowel as bemoediging te wees nie? Indien engele wat nie met waardering oor Jehovah se liefde vir hulle gepeins het nie voor verkeerde begeerte geswig het, wat dan van ons? Gaan ons, net soos die menigte getroue engele in Daniël se gesig, wakker wees vir redes waarom ons Jehovah dankbaar moet wees weens die gunste wat hy ons daagliks bewys? Laat ons ons geleenthede om na aan God te kom, koester.
“Wie is soos die HERE onder die hemelinge [die engele, Targoem]”? vra die psalmis. “’n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is” (Ps. 89:7, 8). Hoe ontwikkel sulke ontsagwekkende eerbied in die harte van engele en mense? Deur daagliks te peins oor die wonderlike eienskappe van die Universele Soewerein soos geopenbaar in sy skeppingswerke en sy goedertierenheid.
Getuies van Jehovah is vandag nie ’n onbenullige minderheid in hulle aanbidding van die ware God nie. “Die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is”, verseker die Bybel ons (2 Kon. 6:16). In ons pogings om Jehovah te behaag, is ons in die geselskap van menigtes engele wat dieselfde God aanbid. Sulke magtige skepsele toon ’n vriendelike belangstelling in ons en is altyd gereed om ons te help om vas te staan vir Jehovah (Ps. 34:8). Word dus bemoedig deur die voorbeeld van hierdie seuns van God wat Jehovah se reëling nederig respekteer. Laat ons voortgaan om ons saam met hulle te onderwerp aan die wil van ons vrygewige hemelse Vader.