Bybelonderrig in die wêreld se kleinste republiek
IN NOORDELIKE Italië, naby die Adriatiese See, lê die wêreld se kleinste republiek. Dit beslaan slegs 61 vierkante kilometer. Ons verwys na San Marino, ’n onafhanklike republiek wat aan alle kante deur die Republiek van Italië ingesluit word.
Wanneer besoekers die hoofstad, San Marino, binnegaan, word hulle gou beïndruk deur die Middeleeuse styl van die geboue. Volgens tradisie het ’n klipwerker met die naam Marinus van Dalmasië (’n kusgebied van wat nou Joego-Slawië is) die republiek in die vierde eeu G.J. gestig. Hy het soontoe gevlug om te ontkom aan die vervolging van Christene deur die Romeinse keiser Diocletianus.
Jehovah se Getuies het omtrent 20 jaar gelede in San Marino begin preek. Teen die einde van die vyftigerjare het ’n bejaarde Italiaanse verpleër begin om Bybelwaarhede aan die inwoners van die republiek te verkondig. Sy werk het nie sonder teenstand geskied nie. Die plaaslike polisie, aangehits deur Katolieke priesters, het hom etlike kere na die grens vergesel en hom beveel om nooit weer terug te keer nie. In navolging van die moedige Christene wat in die Bybel gemeld word, was hierdie verpleër vasbeslote om ‘aan God meer gehoorsaam te wees as aan die mense’ (Hand. 5:29). Hy het voortgegaan om met die mense in San Marino oor Bybelwaarhede te gesels.
Sy werk was nie tevergeefs nie. ’n Bejaarde dame het aandagtig na sy Skriftuurlike boodskap geluister. Mettertyd het sy die dinge wat sy geleer het as die waarheid aanvaar en is sy gedoop. Later het ’n paar lede van haar familie, wat aanvanklik teen Jehovah se Getuies gekant was, dit ook gedoen. Teen Augustus 1968 het die groepie Getuies in San Marino tot nege toegeneem. Vir die eerste keer het ’n reisende verteenwoordiger van die Wagtoringgenootskap hulle besoek, en 31 het na sy toespraak kom luister. Die Koninkryksaal was destyds op Italiaanse grondgebied geleë, net oorkant die westelike grens van San Marino.
Mettertyd het party burgers van San Marino Jehovah se Getuies geword. Dit het ’n vaste grondslag vir toekomstige vermeerdering gelê. Die plaaslike Getuies kon vryelik in die gebied preek. Die polisie het hulle aanvanklik gekeer. Maar nadat hulle gehoor het dat hulle burgers van San Marino is, het die polisie nie langer hulle pogings om in die openbaar van huis tot huis te preek, teëgestaan nie.
Teen 1971 het die aantal getuies van Jehovah in San Marino tot 17 toegeneem. In daardie jaar het die Italiaanse tak van die Wagtoringgenootskap aanbeveel dat die groep tot ’n gemeente georganiseer word. In 1972 het dit moontlik geword om die Koninkryksaal na San Marino te verskuif. Die owerheid het hulle destyds toegelaat om ’n regeringsgebou, die Kursaal, vir die eerste kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies in San Marino te gebruik. Hoe bly was die plaaslike Getuies tog om ’n opkoms van 1 749 by daardie byeenkoms te hê, en 35 is gedoop! Die gemeente in San Marino het nou tot 70 toegeneem. Tydens die herdenking van Christus se dood in 1980 was daar 134 aanwesig, naamlik een uit elke 151 inwoners van die republiek. Op die oomblik is daar een Getuie vir elke 257 inwoners van San Marino.
Hoewel Katolieke geestelikes in hierdie republiek nou en dan die Bybelopvoedkundige werk van Jehovah se Getuies van die kansel af aanval, reageer die mense van San Marino dikwels gunstig daarop. Diegene wat die boodskap van die Woord van God ernstig opneem, vind dat dit ’n wonderlike uitwerking op hulle lewens het.
Terwyl die Getuies ’n ruk gelede van huis tot huis gepreek het, het hulle ’n vrou teëgekom wat opreg belang gestel het. Gereelde Bybelbesprekings is met haar gevoer en sy is eindelik gedoop. Haar skoonmoeder het ook ’n Getuie geword. Omdat die res van haar gesin baie by sekulêre bedrywighede betrokke was, het hulle aanvanklik onverskillig gestaan. Maar twee ouere manne van die plaaslike gemeente het vriendskaplike besoeke by hulle afgelê en mettertyd gereelde Bybelbesprekings met hulle gevoer. Gevolglik het agt persone van daardie gesin die begeerte uitgespreek om hulle lewens na Bybelbeginsels te skik.
Een lid van hierdie familie het teenstand ondervind in haar pogings om die geïnspireerde Woord van God te verstaan. Trouens, ’n Katolieke priester het druk op haar uitgeoefen sodat sy ’n verklaring onderteken het waarin sy afsien van verdere Bybelstudies saam met Jehovah se Getuies. Daarna het hierdie vrou getrou en oorsee gegaan. Maar na haar terugkeer na San Marino het sy dadelik begin om weer die Heilige Skrif te ondersoek. “’n Mens kan nie die waarheid vergeet nie”, het sy gesê. Hierdie vrou se man het haar aanvanklik teëgestaan. Maar toe het hy besluit om self die Woord van God te ondersoek en is hy oortuig dat dit die waarheid is. Danksy die Bybel se krag om mense se lewens ten goede te verander, is hierdie gesin nou heg verenig in die aanbidding van die ware God, Jehovah.
Van die vernaamste werk wat ware Christene sou verrig, het Jesus gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” (Matt. 24:14). En dit word in die wêreld se kleinste republiek gedoen.