Waar verrig die “groot menigte” heilige diens?
“Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel.”—Openb. 7:15.
1. Wat is die geval met menigtes oor die algemeen waar dit kom by die godsdienste van die wêreld?
GODSDIENS is aan die afneem. Bywoning by dienste in kerkgeboue, katedrale en tempels neem dienooreenkomstig af. Dit is veral waar in lande wat die sogenaamde Christendom uitmaak. Ongelowiges, skeptici, agnostici, ateïste en die anti-godsdienstiges neem toe. Geen pogings om ’n godsdiensherlewing te laat plaasvind, sal hulle terugbring nie. Dit is die geval met die menigtes oor die algemeen.
2. In watter “menigte” wat voorsien is in ’n gesig aan die bejaarde man wat deur die Romeinse regering na die eiland Patmos verban is, stel ons belang?
2 Ons stel egter belang in ’n besondere menigte, ’n “groot menigte” wat voorsien is deur ’n bejaarde man wat deur die regering van die Romeinse Ryk na die eiland Patmos verban is. Nadat hy ’n gesig gehad het van 144 000 geestelike Israeliete het hy geskryf: “Hierna het ek ’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. Hulle het hard uitgeroep: ‘Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!’”—Openb. 7:9, 10, NAB.
3. Waarom staan die lede van daardie “groot menigte” behoorlik geklee, en waarom word daar algemeen gedink dat hulle in die hemel is?
3 Watter geëerde posisie het hierdie “groot menigte” tog volgens die beskrywing, en hoe waardig is hulle voorkoms tog! Selfs vandag nog is dit behoorlik dat iemand staan wanneer hy in die teenwoordigheid is van ’n koning wat op sy troon sit. Maar hier word daar gesien hoe die lede van daardie “groot menigte” voor die troon van God self staan. Hulle het ook heel gepas vleklose wit klere aan. Word hulle gesien waar hulle in die een of ander buitemuurse vergadering staan? Nee, want Openbaring 7:15 sê hulle “dien Hom dag en nag in sy tempel [na·os’ in die Griekse grondteks]”. Wel, beteken dit dat diegene wat hierdie “groot menigte” uitmaak eindelik hemel toe gaan waar die God is aan wie hulle hulle “redding” toeskryf? Die antwoord wat gewoonlik gegee word, is Ja! Waarom? Omdat daar gesê word dat dit “in sy tempel” of “in sy heiligdom” (Rotherham) is dat hulle vir hom openbare diens of “goddelike diens” (Rotherham) verrig.
4. Watter oorspronklike Griekse woord is hier van belang, en in watter verband word dit in Johannes 2:19-21 gebruik?
4 Strook daardie beskouing egter met al die breedvoerige feite wat in die laaste boek van die Bybel, Openbaring, uiteengesit word? En verwag diegene wat meen dat hulle lede is van daardie “groot menigte” wat nou gevorm word, om hemel toe te gaan en geesskepsele soos engele te word? Wil hulle eens hemel toe gaan? Hulle sal vir jou Nee! sê en hulle beskou hulself nie as persone wat deur God se gees tot so ’n hemelse hoop verwek is nie. Die oorspronklike Griekse woord wat onder meer as “tent”, “tempel” en “heiligdom” vertaal is, is hier van belang. Byvoorbeeld, in die Bybelverslag waar Jesus Christus die geldwisselaars en handelaars uit Herodes se tempel verdryf het, is die oorspronklike Griekse woord wat gebruik is na·os’. Ons lees daar: “Jesus antwoord en sê vir hulle: Breek hierdie tempel [na·os’] af, en in drie dae sal Ek dit oprig. En die Jode sê: Ses-en-veertig jaar lank is aan hierdie tempel [na·os’] gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig? Maar Hy het oor die tempel [na·os’] van sy liggaam gespreek” (Joh. 2:19-21). Wat het daardie Jode met “tempel” bedoel?
5. (a) Watter gebou kon die Jode nie bedoel het toe hulle gesê het dat dit 46 jaar geduur het om dit te bou nie? (b) Waarna moet die woord na·os’ in die Griekse Septuaginta-vertaling van Jesaja 66:6 verwys?
5 Beslis nie die binneste heiligdom wat die voorportaal, die Heilige en die Allerheiligste bevat het nie. Hulle het die tempelkompleks as geheel bedoel, insluitende die voorhowe, onder meer die een waar die geldwisselaars en handelaars sake gedoen het. Herodes se tempel as geheel is in 70 G.J. deur die Romeine vernietig. Anders as in die geval van Salomo se vroeëre tempel wat in 607 v.G.J. vernietig is, is Herodes se tempel nooit herbou nie. Jesaja 66:6 het profeties van die tempel in Jerusalem gesê: “Hoor—’n rumoer uit die stad! Hoor—uit die tempel [na·os’ in die Griekse Septuaginta]! Hoor—dit is die HERE wat sy vyande hulle dade vergeld!” (Vergelyk The New English Bible; The Jewish Publication Society of America.) Dit is dus baie duidelik dat die tempel, heiligdom, of na·os’ nie net na die binneste heiligdom verwys nie, maar na die hele tempelgebied met al sy geboue.
6. Watter valse getuienis het Jode aangaande Jesus en die na·os’ van Jerusalem op Pasganag van 33 G.J. gelewer?
6 Op Pasganag, 14 Nisan 33 G.J., het sekere Jode getuienis afgelê voor die owerpriesters en die Sanhedrin. Maar indien hierdie getuies nog in die jaar 70 G.J. gelewe het, sou hulle bewys gehad het dat hulle getuienis teen Jesus Christus daardie noodlottige nag vals was. Hulle het getuig: “Ons het Hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel [na·os’] wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae ’n ander een opbou wat nie met hande gemaak is nie” (Mark. 14:58). Deur Jesus te laat doodmaak, het hulle nie verhoed dat hulle tempel heeltemal in 70 G.J. vernietig word nie.
7. (a) Hoe het die Jode met Jesus gespot toe hy op Kalvarie aan die paal gehang het? (b) Waar het Judas die verraaier eindelik die omkoopgeld neergegooi?
7 Later daardie selfde dag, toe die vyandige Jode gesien het hoedat Jesus buitekant Jerusalem aan die folterpaal genael word, het hulle dalk gemeen dat dit hom verhoed het om te doen wat hulle verkeerdelik gedink het hy gesê het. “Die verbygangers het Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud en sê: U wat die tempel [na·os’] afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis!” (Matt. 27:39, 40; Mark. 15:29, 30). Maar voor Jesus se teregstelling aan die paal het die dissipel wat hom vir 30 silwerstukke aan sy bloeddorstige vyande verraai het, probeer om homself van blaam te onthef. Dit was Judas Iskariot, een van die 12 apostels. Hy het probeer om die omkoopgeld terug te gee, maar die omkopers het geweier om dit terug te neem. Wat het die verraaier gedoen toe hy homself nie op hierdie wyse van blaam kon onthef nie? Mattheüs 27:5 berig: “Judas het die geld in die heiligdom [na·os’] neergegooi en hulle verlaat; toe het hy weggegaan en homself opgehang” (Good News Bible; The Jerusalem Bible; Young se Literal Translation of the Holy Bible). Waarom vertaal ander hedendaagse Bybelvertalings na·os’ met “tempel”?
8. Waarom het baie Bybelvertalers klaarblyklik hier die woord “tempel” in plaas van “heiligdom” gebruik?
8 Klaarblyklik omdat hulle besef het dat die Griekse woord hier nie verwys na die binneste heiligdom met sy portaal, Heilige en Allerheiligste, waarin die hoëpriester die bloed van die offerandes op die jaarlikse Versoendag gebring het nie. Dit het die tempel met al sy voorhowe beteken.
9. (a) Moet die “groot menigte” dus in die hemel wees om God in sy na·os’ te dien? (b) Kan na·os’ volgens Openbaring 3:12 ’n beperkte betekenis hê?
9 Daar kan dus gesê word dat die “groot menigte” in God se “tempel” of na·os’ is en tog nie as geesskepsele saam met die 144 000 geestelike Israeliete wat die “klein kuddetjie” van God uitmaak, in die hemel is nie (Openb. 7:1-9, 15; Luk. 12:32). Na·os’ kan ook ’n beperkte betekenis hê, want Jesus Christus het die eerste-eeuse gemeente in Filadelfia, Klein-Asië, aangespreek en gesê: “Wie oorwin, Ek sal hom ’n pilaar in die tempel [na·os’] van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.”—Openb. 3:12.
10. Hoe toon Openbaring 7:9-17 dat die “groot menigte” nie in die gemeente in daardie beperkte na·os’ is nie?
10 So ’n inskripsie op die lede van die “groot menigte” word nie eens in Openbaring 7:9-17 gemeld nie, en daar word ook nie gesê dat hulle ‘pilare’ in God se tempel gemaak word nie. Dit is die 144 000 geestelike Israeliete wat uit 12 stamme bestaan wat simboliese ‘pilare’ gemaak word.
11, 12. (a) Hoe verskil die getelde groep geestelike Israeliete van die “groot menigte” waar dit by name kom? (b) Hoe pas die naam van die stad wat van God af neerdaal die 144 000 volgens Openbaring 14:1-5?
11 Anders as die ontelbare “groot menigte” het hierdie getelde groep geestelike Israeliete die naam van Jesus en die naam van sy Vader op hulle geskryf. Die naam van die stad van God, die Nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van God af neerdaal, is ook op hulle geskrywe. En soos die berg Sion met eertydse Jerusalem geassosieer is, word ’n geestelike berg Sion met hierdie hemelse Nuwe Jerusalem geassosieer. Ooreenkomstig hiermee het die apostel Johannes ’n tweede gesig van die 144 000 geestelike Israeliete gehad, en toe hy dit aanteken, het hy geskryf:
12 “Kyk, die Lam [Jesus Christus] staan op die berg Sion, en saam met hom honderd-vier-en-veertigduisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe. . . . En hulle het ’n nuwe lied gesing voor die troon . . . en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd-vier-en-veertigduisend wat van die aarde vrygekoop is. . . . dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam.”—Openb. 14:1-5.
13. (a) Staan die “groot menigte” net soos die 144 000 op die hemelse berg Sion? (b) Is hulle ‘as eerstelinge vir God en die Lam uit die mense gekoop’?
13 Pas daardie beskrywing ook die internasionale “groot menigte” van Openbaring 7:9-17? Nee, want daar word nêrens gesê dat hulle op die hemelse berg Sion staan nie (Hebr. 12:22). Hulle word nie ingereken onder die oorspronklike singers van die “nuwe lied” nie. Daar word nie gesê dat hulle “van die aarde vrygekoop is” en dat hulle “gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam” nie. Gevolglik verwag die lede van die “groot menigte” om vir ewig op aarde te bly en om te help om dit in ’n Paradys te omskep. Hulle behoort nie aan die groep wat uit 144 000 ‘gekooptes’ bestaan en wat op Pinksterdag van 33 G.J., die dag waarop die Joodse hoëpriester die “eerstelinge” van die koringoes by die tempel in Jerusalem aangebied het, begin vorm aanneem het nie. Op daardie dag het die Grotere Hoëpriester, Jesus Christus, die losprys aan God in die hemel betaal deur middel van sy vergote bloed, en God het hom gebruik as die kanaal deur wie hy die heilige gees daardie selfde dag uitgegiet het op die 120 wagtende dissipels en later op ongeveer 3 000 Jode en Joodse proseliete wat berou gehad het en daardie dag gedoop is.—Handelinge hoofstuk 2; Joël 2:28, 29; Hebr. 4:15, 16.
DIE “SEËL VAN DIE LEWENDE GOD” VORM ’N ONDERSKEID
14. Hoe vorm ’n seël ’n onderskeid tussen die 144 000 en die “groot menigte”, al verkeer albei groepe in ’n geredde toestand?
14 Een opmerklike ding wat ’n onderskeid tussen die 144 000 ‘gekooptes’ en die “groot menigte” in wit klere vorm, word die “seël van die lewende God” genoem. Openbaring, hoofstuk 7, wat handel oor die 144 000 geestelike Israeliete sowel as die “groot menigte”, toon dat slegs die 144 000 as “diensknegte van onse God” met daardie “seël” “op hulle voorhoofde” verseël word. Dit dui aan dat daar ook ’n verskil is in hulle aangewese posisies in God se finale reëlings wat die hemel en aarde betref. Dit bly waar alhoewel almal in ’n geredde toestand verkeer, want die lede van die “groot menigte” sowel as die 144 000 aanvaar Jesus Christus as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1:29, 36; 1 Joh. 2:1, 2). Dit is só dat die lede van die “groot menigte . . . hul klere gewas en hul klere wit gemaak [het] in die bloed van die Lam” (Openb. 7:9, 14). Dit gee hulle die reg om Jehovah te aanbid in sy geestelike tempel wat afgeskadu is deur die hele tempelkompleks in eertydse Jerusalem.—Joh. 4:21-24.
15. Die tyd vir watter uitroep om beskerming kom nader, en watter skadelike windstorm word nog teruggehou, en waarom?
15 Die tyd kom nader wanneer mense oor die algemeen as’t ware vir die langverskanste, verhewe organisasies van die aardse samelewing sal sê: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openb. 6:16, 17). ’n Storm gaan binnekort losbars. Dit word getoon deur die volgende woorde van die gesig: “En ná hierdie dinge het ek [die apostel Johannes] vier engele op die vier hoeke van die aarde sien staan, en hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat geen wind sou waai op die aarde of op die see of teen enige boom nie. En ek het ’n ander engel [’n vyfde] sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met ’n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.”—Openb. 7:1-4.
16. Waarom word die “groot menigte” nie beskadig deur die windstorm wat as ’n blyk van die toom van die Lam losgelaat word nie, al is hulle nie verseël nie?
16 Daar word nie gesê dat enigeen van die “groot menigte” met daardie “seël van die lewende God” verseël is nie, slegs die 144 000 “diensknegte van onse God”. Waarom word nie een lid van die “groot menigte” dan beskadig deur daardie geweldige dwarrelstorm wat ontstaan wanneer die “vier winde” op die vier hoeke van die aarde losgelaat word nie? En hoekom ondervind die onverseëlde “groot menigte” nie die “toorn van die Lam” nadat die 144 000 almal verseël is nie? Dit is omdat hulle “hul klere gewas en hul klere wit gemaak [het] in die bloed van die Lam” (Openb. 7:14). Hulle aanvaar nou die voordele van sy losprysoffer en probeer om van hulle sondes gereinig te word deur in sy versoeningsbloed te was. Vir hulle beskerming wend hulle hulle nie na diepgewortelde, indrukwekkende instellings van nietige mense nie, maar na Jehovah God en sy Lam-agtige Seun, Jesus Christus. Hulle roep dus dankbaar uit: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”—Openb. 7:9, 10, NAB.
17. Aan wie is die “groot menigte” lojaal waar dit kom by die geskil oor Universele Heerskappy, en waar verrig hulle heilige diens, en vir wie?
17 Reg totdat die allerbelangrikste geskil van Universele Heerskappy besleg is, bly hulle lojaal aan Jehovah se koninkryk in die hande van Christus die Lam. “Daarom is hulle voor die troon van God, en hulle verrig dag en nag heilige diens [la-treu’ein, Griekse werkwoord] vir hom in sy tempel [na·os’]” (Openb. 7:15, NW). Daar assosieer hulle met die oorblyfsel van die 144 000 verseëlde “diensknegte van onse God”.
“UIT DIE GROOT VERDRUKKING”
18. Waaruit kom die “groot menigte” volgens die verslag, en watter vrae ontstaan daaromtrent?
18 Die “redding” wat die “groot menigte” ondervind, sluit hulle oorlewing in van dit wat in Openbaring 7:14 voorspel is: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.” Die Griekse grondteks lui woord vir woord: “Uit die verdrukking die groot” (Kingdom Interlinear Translation). Wat is dus hierdie “groot verdrukking”? In plaas van die woord “verdrukking” lui ander Bybelvertalings: “ellende”,a “benoudheid”,b “vervolging”,c “onderdrukking”,d en “beproewing”.e Maar baie ander vertalings lui “verdrukking”.
19, 20. (a) Wat was die betekenis van die Latynse woord waaraan die Engelse woord “tribulation” ontleen is? (b) Wat sê Robertson se kommentaar oor hierdie woord in Openbaring 7:14, en hoe gebruik Jesus se profesie die woord?
19 Die Griekse woord wat met hierdie woorde vertaal word, is thlip’sis. Dit slaan op ’n slegte ervaring. Die Engelse woord “tribulation” kom van die Latynse tribulum, wat beteken “dorsplank (-slee)”.
20 Van die uitdrukking “die groot verdrukking” soos dit in Openbaring 7:14 gebruik word, sê Robertson se Word Pictures in the New Testament (Deel VI, bladsye 352, 353): “Die een of ander groot krisis word klaarblyklik verwag (Matt. 13:19 e.v.; 24:21; Mark. 13:19), hoewel die hele reeks dalk bedoel word en dus finale oordeel voorafgaan.” Mattheüs 24:21 verwys eerstens na eertydse Jerusalem se vernietiging in 70 G.J. en lui: “Want dan sal daar groot verdrukking [thlip’sis] wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.” Markus 13:19 lui: “Want daardie dae sal daar ’n verdrukking [thlip’sis] wees soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe, en ook nooit sal wees nie.” Hierdie verdrukking sou deel uitmaak van die “teken wanneer al hierdie dinge volbring word” (Mark. 13:4). “Al hierdie dinge” sal die voltooiing van die verseëling van die 144 000 geestelike Israeliete insluit.—Openb. 7:1-8.
21. Watter belangrike Griekse woord word in die Septuaginta se weergawe van Daniël 12:1 gebruik, en wie is Migael?
21 Die Griekse Septuaginta-vertaling van die Hebreeuse Skrifte gebruik die woord thlip’sis wanneer dit in Daniël 12:1 na dieselfde gebeurtenis verwys en sê: “En in dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ’n tyd van benoudheid [thlip’sis] wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op die tyd nie.” (Vergelyk The Septuagint Bible, deur Charles Thomson; The Septuagint Version, uitgegee deur Samuel Bagster en Seuns Beperk.) Volgens Openbaring 12:7, is Migael die verheerlikte Jesus Christus.
22. Is die “verdrukking” ’n blyk van God se misnoeë met die “groot menigte”, en wat beteken die feit dat hulle daaruit kom?
22 Uit al die voorgaande is dit duidelik dat die “groot verdrukking” nie ’n blyk van God se toorn of misnoeë teen die “groot menigte” is om hulle te dissiplineer en hulle te louter van hulle bande met hierdie goddelose stelsel van dinge nie. Die voorspelde “groot verdrukking” is die wêreldbenoudheid, die finale “verdrukking” op hierdie gedoemde wêreld. Dit is die simboliese windstorm wat teruggehou is deur die vier engele op die vier hoeke van die aarde totdat die laaste lede van die 144 000 geestelike Israeliete verseël is as die ‘gekoopte’ eiendom van Jehovah God, en die onoordraagbare “diensknegte van onse God”. Die feit dat die “groot menigte” uit daardie “groot verdrukking” kom, beteken dat hulle dit oorlewe.
23. Van watter nuwe ding sal die oorlewende “groot menigte” die begin wees, en watter vooruitsigte sal hulle hê?
23 Wat ’n aangename voorreg sal dit dan tog vir die geredde “groot menigte” wees om voort te gaan om ‘dag en nag vir God heilige diens te verrig in sy tempel’, in die aardse voorhowe van sy groot tempelreëling! Die “nuwe hemele” sal dan oor hulle opgerig wees, en hulle sal die begin wees van die “nuwe aarde” waarin geregtigheid vir ewig sal woon (2 Pet. 3:13). ’n Nuwe Paradys sal op die gereinigde aarde begin bloei, en dit sal geen Duiwel bevat wat hulle probeer verlok om hulle aan enige soort ongeregtigheid skuldig te maak nie. Wat ’n rooskleurige vooruitsig het die “groot menigte” wat die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon gaan oorlewe tog!—Openb. 16:13-16.
[Voetnote]
a The Emphatic Diaglott.
b The Bible In Living English; The New Testament in Modern Speech.
c Die Lewende Nuwe Testament; An American Translation; Good News Bible; The Jerusalem Bible.
d Phillips se The New Testament in Modern English.
e The New English Bible.
[Venster op bladsy 15]
Die Griekse woord na·os’ verwys dikwels na die binneste heiligdom wat die hemel self voorstel
• MAAR dit was die hele tempel (na·os’) waaraan daar 46 jaar gebou is
• Dit was die hele tempel (na·os’) wat vernietig is weens ’n oordeel van God
• Dit was uit die voorhowe van die buitenste tempel (na·os’) dat Jesus die geldwisselaars verdryf het
• Dit was in die buitenste tempel (na·os’) dat Judas die 30 silwerstukke neergegooi het
• GEVOLGLIK is dit logies dat die “groot menigte” God in die aardse voorhof van die geestelike tempel dien
[Venster op bladsy 18]
Slegs die gesalfde 144 000—
• word pilare in die tempel van God gemaak
• is ’n “klein kuddetjie” met ’n bepaalde getal
• kry die naam van die Vader, die Lam en Nuwe Jerusalem op hulle
• staan op die hemelse berg Sion
• is “van die aarde vrygekoop . . . uit die mense”
• is “eerstelinge vir God en die Lam”
• is verseël met die “seël van die lewende God”
[Venster op bladsy 19]
Die “groot menigte” het die voorreg om—
• uit die gedoemde organisasies van die aardse samelewing te vlug
• redding deur die Lam se losprys te vind
• goedgekeurd voor die troon van God te staan
• vir God heilige diens in sy geestelike tempel te verrig
• die finale “verdrukking” oor hierdie gedoemde wêreld te oorleef
• die fondament van ’n rein “nuwe aarde”-gemeenskap te word
• vir ewig in die Paradysaarde te woon
[Prent op bladsy 17]
Jehovah se tempel-reëling
BINNESTE HEILIGDOM
“GROOT MENIGTE” MET PALMTAKKE
ALTAAR WAAR PRIESTERS DIEN