God se woord is lewend
Slegs in die krag van Jehovah
DIE Hebreeuse profete was nie manne met bomenslike krag nie, maar was persone “net soos ons” (Jak. 5:17). Hulle het egter dikwels ontsaglike teenstand van hulle eie volk ondervind. Sonder God se hulp sou hulle eenvoudig nie hulle opdrag kon uitvoer nie. Maar hulle het in die krag van Jehovah geseëvier. Dit word dramaties toegelig in die geval van die profeet Jeremia.
Ten aanskoue van die oudstes van sy volk en die oudstes uit die priesters het Jeremia ’n pottebakkerskruik stukkend gegooi. Toe hy die betekenis van hierdie daad verduidelik, het hy gesê: “So spreek die HERE van die leërskare: Net so sal Ek hierdie volk en hierdie stad verbreek, soos ’n mens ’n erdepot breek, wat nie meer heelgemaak kan word nie; en hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees om te begrawe nie” (Jer. 19:1-11). Toe het Jeremia Tofet in die dal van die seun van Hinnom verlaat en na die voorhof van die tempel gegaan en Jehovah se boodskap van ondergang verkondig aan almal wat daar byeen was.—Jer. 19:14, 15.
Die hoofopsigter van die tempel, Pashur, het dadelik teen Jeremia opgetree. Hy het die profeet in die openbaar verneder, deur hom te slaan en hom toe in die blok by die Poort van Benjamin gesit. Toe Jeremia die volgende dag uit die blok vrygelaat word, het hy Jehovah se oordeel teen Pashur verkondig.—Jer. 20:1-6.
Watter uitwerking het sulke ervarings op Jeremia gehad? Hy was baie mismoedig daar hy gesmaad is omdat hy God se boodskap verkondig het. Hy was lus om op te hou. Maar hy kon nie. Onder die dryfkrag van God se gees moes hy eenvoudig spreek. Die woord van Jehovah was ‘soos ’n brandende vuur wat in sy gebeente opgesluit was’. Jeremia het beset dat hy nooit uit sy eie krag sou kon aanhou om die boodskap wat vir hom soveel persoonlike moeilikheid veroorsaak het te verkondig nie. Hy het gesê: “HERE, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin” (Jer. 20:7-9). Die profeet is oorgehaal in die sin dat hy in staat was om te doen wat hy nooit op sy eie kon doen nie. Die Allerhoogste was sterker as Jeremia se swakheid.
Hoe kan dit ons tog vandag bemoedig! Ons het ook te kampe met teenstand en spot wanneer ons God se boodskap, wat in die Skrif aangetref word, verkondig. Maar met God se hulp kan ons die opdrag uitvoer wat Jesus Christus aan sy dissipels gegee het (Matt. 28:19, 20). Ons situasie kan wees soos dié van die apostel Paulus wat gesê het: “As ek swak is, dan is ek sterk.”—2 Kor. 12:10.