47 MARIA, LASARUS SE SUSTER
“Sy het gedoen wat sy kon”
MARIA was diep geraak deur Jesus Christus se goedhartigheid. Hy het so baie vir haar, haar suster, Marta en hulle geliefde broer, Lasarus gedoen. Jesus het al ’n paar keer by hulle huis in Betanië gebly en hulle baie oor Jehovah en homself geleer. Hulle het baie dierbaar vir hom geword. En toe Lasarus doodgegaan het, het Jesus hom opgewek!
Maria wou iets baie spesiaals vir haar Here Jesus doen. Sy het besluit om vir hom ’n baie kosbare geskenk te gee. Dit was lekkerruik-olie wat “’n pond” geweeg het, “egte nardus” wat “baie duur” was, en dit was in ’n albasterfles. In daardie dae sou dit ’n werker amper ’n jaar vat om genoeg geld te verdien om daardie klein fles olie te koop. Die Bybel sê nie wanneer en hoe Maria hierdie skat gekry het nie, maar dit was heel moontlik die duurste ding wat sy besit het.
Sy wou baie graag vir Jesus ’n kosbare geskenk gee, alhoewel dit haar baie sou kos
Toe Jesus by ’n ete in Betanië was, het Maria besluit dat die tyd aangebreek het. Sy het na Jesus toe gegaan, haar fles oopgebreek en die kosbare olie versigtig op sy kop en voete uitgegooi. Soos die olie afgedrup het, het sy haar doek afgehaal en haar hare gebruik om sy voete af te droog. In haar kultuur het party dalk gedink dat dit nie gepas van haar sou wees om haar doek af te haal nie, maar in hierdie oomblik was dit vir Maria belangriker om haar Here te eer. Sy was bereid om iets vernederends te doen om hom die hoogste eer te gee.
Die lekker reuk het vinnig die huis begin vul. Maar nie almal was gelukkig nie. Judas Iskariot was kwaad, en dit lyk asof hy ’n paar ander apostels gekry het om saam met hom hierdie geskenk te kritiseer. Judas het gevra: “Hoekom is hierdie olie nie vir 300 denarii verkoop en die geld vir die armes gegee nie?” Dink net hoe Maria moes gevoel het. Sy het haar hele hart in hierdie liefdevolle geskenk gesit. En hier was hierdie gerespekteerde manne, Jesus se eie apostels, besig om haar uit te skel! Ons kan net dink hoe vernederd sy moes gevoel het. Maar toe verdedig Jesus haar.
Hy het gesê: “Los haar.” Ná daardie woorde was daar sekerlik ’n stilte. Hy het gesê: “Sy het iets goeds vir my gedoen.” Jesus het verduidelik dat Maria iets liefdevols vir hom gedoen het. Sy het dit nie geweet nie, maar sy begrafnis was vinnig op pad en daardie lekkerruik-olie het hom vir daardie hartseer geleentheid voorberei. Die Here het dit wat sy gedoen het met hierdie eenvoudige en onvergeetlike woorde opgesom: “Sy het gedoen wat sy kon.” Toe het hy gesê: “Ek verseker julle: Oral waar die goeie nuus in die wêreld verkondig word, sal wat hierdie vrou gedoen het, ook vertel word, en sy sal hiervoor onthou word.” Jesus het die moed en liefde gesien in dit wat Maria gedoen het. So ’n vrygewige gesindheid verdien eer en nie kritiek nie.
Daarna het niemand gewaag om weer iets hieroor te sê nie. Judas het weggegaan, vasbeslote om sy meester te verraai. Maar Jesus se woorde het Maria diep geraak! Net ’n paar dae later, het wat Jesus oor sy dood gesê het, meer vir haar beteken. Jesus, haar geliefde Here, was gearresteer, valslik beskuldig, skuldig bevind, doodgemaak en toe uiteindelik begrawe – net soos hy voorspel het. Ons kan net dink hoe hartseer hierdie liefdevolle en genadige vrou was. In daardie donker ure het sy sekerlik vertroosting gevind uit wat Jesus vir haar gesê het.
Op die derde dag ná Jesus se dood, het die wonderlikste ding gebeur: Die Here Jesus was opgewek! Nie lank daarna nie, het hy aan ’n groep van meer as 500 van sy volgelinge verskyn. Dit was moontlik gedurende hierdie tyd dat hy hulle beveel het om die goeie nuus aan “mense van al die nasies” te verkondig (Matt. 28:19, 20). Hy het gesê dat waar ook al “die goeie nuus” verkondig word, mense ook sal leer van Maria se nederige en liefdevolle geskenk! Maria was sekerlik nooit spyt dat sy die moed bymekaargeskraap het om haar beste vir haar Here te gee nie. Sy het sekerlik tot die einde van haar lewe onthou dat Jesus haar geprys het vir haar geloof en moed met die woorde: “Sy het gedoen wat sy kon.”
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Lasarus se suster Maria gewys dat sy moedig is?
Soek dieper
1. Wat sê die Bybel oor Maria en haar suster, Marta se persoonlikhede? (Luk. 10:39, 40; Joh. 11:20; ia 173 ¶5-6; 176 ¶17) A
Prent A
2. Wat staan uit oor die feit dat Jesus gewillig was om Maria en ander vrouens te leer? (w99 9/1 30 ¶1-4)
3. Wat het die olie wat Maria op Jesus uitgegooi het, so waardevol gemaak? (“duur lekkerruik-olie”-studienota vir Matt. 26:7 in die Engelse Studiebybel-wcgr) B
Indian nard: © Haijie Lu, licensed under CC BY-NC 4.0. Source; dried jatamansi: wasanajai/stock.adobe.com; alabaster jar: © The Trustees of the British Museum. Licensed under CC BY-NC-SA 4.0. Source
Prent B: Die blom en wortels van die plant Nardostachys jatamansi, waarvan die olie wat Maria oor Jesus uitgegooi het, moontlik gekom het, en ’n albasterfles
4. Wat het dit in Bybeltye beteken wanneer iemand olie op ’n persoon se kop en voete uitgegooi het? (w10 11/1 6 ¶4, vtn.)
Dink aan die lesse
Jesus het gesê dat Maria “die goeie deel gekies” het omdat sy geestelike dinge eerste gestel het (Luk. 10:42). Hoe kan ons haar vandag navolg? C
Prent C
Jesus het Maria geprys omdat ‘sy gedoen het wat sy kon’. Wat leer dit ons oor wat vir Jehovah belangrik is? (Mark. 12:29, 30; 14:8)
Hoe kan jy Maria se moed in jou lewe navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Hoekom is jy dankbaar dat Lasarus se suster Maria moontlik gekies was om saam met Christus in die hemel te regeer?
Leer meer
Wat kan kinders by Maria, Marta en Jesus leer oor wie hulle as vriende moet kies?
Kyk hoe Jesus duur geskenke soos Maria s’n en ook klein geskenke soos die weduwee se twee muntstukkies waardeer het.