Hoofstuk 20
’n Gelukkige mensegesin onder ’n nuwe vaderskap
1. Waarom is die onderwerp van ’n nuwe vaderskap sulke goeie nuus vir die mensegesin?
NA ARMAGEDDON wag daar ’n tweede vaderskap op die ganse mensdom. Dit is voorwaar goeie nuus! Die nuwe vaderskap maak die ewige lewe in menslike volmaaktheid in ’n aardwye paradys moontlik, want die nuwe Vader van die mensegesin is self onsterflik. Hy het die mag om volmaakte lewe te gee aan almal wat hy as sy kinders op aarde aanneem.
2. Waarom het ons ’n nuwe vaderskap nodig?
2 ’n Nuwe vaderskap is inderdaad nodig omdat die mensdom sy oorspronklike vaderskap, die vaderskap van die mens se Skepper, verloor het. Die stamboom wat van Jesus terugloop na die eerste man, Adam, eindig soos volg: “Kenan, die seun van Enos, die seun van Set, die seun van Adam, die seun van God.”—Lukas 3:37, 38.
3. Hoe tragies was die verlies van Jehovah God se vaderskap vir die ganse mensdom?
3 Die verlies van Jehovah God se vaderskap was vir die ganse mensdom tragies. Adam se afstammelinge het die doodvonnis geërf. Die saak word duidelik in Romeine 5:12 (NAV) gestel: “Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het.” Daardie “een mens” was Adam, en weens sy opsetlike sonde het hy die vaderskap van sy Skepper, Jehovah, verloor.
4. Onder wie se vaderskap het Adam en die mensdom hulle toe bevind?
4 Onder wie se vaderskap het Adam hom toe bevind? Onder wie se vaderskap het hy die wêreld van die mensdom gebring? Dit sou die vaderskap wees van die een wat hom oorreed het om die gesin van alle gehoorsame seuns van God in die hemel en op aarde te verlaat. Dit was die vaderskap van die een wat die eerste leuen vertel het, Satan die Duiwel. Hoe het daardie teenstander van Jehovah dit bewerkstellig?
5. (a) Watter werktuig het Satan die Duiwel gebruik om Adam se vrou te verlei om aan God ongehoorsaam te wees? (b) Waarom en hoe het Adam ten volle verantwoordelik geword vir sy handelwyse?
5 In 2 Korinthiërs 11:3 vlek die apostel Paulus die saak oop deur te skryf: “Die slang [het] Eva deur sy listigheid bedrieg.” Satan het listig ’n slang in Eden gebruik om die eerste leuen aan niksvermoedende Eva oor te dra deur Jehovah God valslik van leuens te beskuldig (Genesis 3:1-7; Johannes 8:44). Adam het sy vrou nie tereggewys nie. Hy het nie geweier om saam met haar te eet en die situasie gered nie. Sy moedswillige wandaad het die Slang se planne bevorder. Eerste Timotheüs 2:14 sit die blaam waar dit hoort wanneer dit sê: “Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.”
Die Een wat vaderskap waardig is
6, 7. Met watter vaderskap het Jesus getoon dat hy toevertrou kan word, en hoe het Bybelprofesie dit gespesifiseer?
6 Deur te weier om “die god van hierdie wêreld” te aanbid, het Jesus bewys dat hy die Een is aan wie die tweede vaderskap van die mensegesin toevertrou kon word (2 Korinthiërs 4:4; Mattheüs 4:1-11; Lukas 4:1-13). Sedert sy geboorte as mens in 2 v.G.J. was hy die Een op wie die profesie van Jesaja 9:5 van toepassing is:
7 “’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.” Die “Vredevors” het dus nog ’n lewensbelangrike rol om teenoor die mensdom te vervul—dié om hulle “Ewige Vader” te wees.
8. Waarom is Jesus in staat gestel om stappe te doen om die “Ewige Vader” van die mensdom te word, en hoe is dit deur die apostel Paulus bevestig?
8 Die Seun van God gaan die “Ewige Vader” word vir hierdie mensegesin waarvoor hy sy volmaakte menselewe as offer afgelê het. Dit is net soos die apostel Paulus skryf: “As deur die misdaad van die één baie gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword. . . . Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe.”—Romeine 5:15, 18.
9. Hoe het Jesus ’n tweede Adam vir die mensdom geword, maar uit watter ryk tree hy as die mensdom se Vader op?
9 Hierdie lewensbelangrike sake weeg dus volmaak teen mekaar op. Die een wat die “een misdaad” gepleeg het, was die eerste man op aarde, Adam. Die “een daad van geregtigheid” is deur die enigste ander volmaakte man, Jesus, verrig. Dit het hom in staat gestel om die “Ewige Vader” te word van die afstammelinge van oortredende Adam. So word hy ’n tweede Adam vir die mensegesin. Die opoffering van sy volmaakte menselewe en die aanbieding van daardie reg op menselewe aan die Groot Regter in die hemel het dit vir hom onmoontlik gemaak om hier op aarde ’n ewige vader vir die mensdom te wees. Toe hy uit die dood opgewek is, is hy na die geesteryk teruggeneem en tot aan sy Opwekker se regterhand verhoog. Daarom word daar gesê: “So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees” (1 Korinthiërs 15:45). Die mensdom se nuwe Pleegvader sal hulle die beste begin moontlik in die lewe gee.
Die eerste mense wat verwek word
10. Wie is die eerste mense wat deur hierdie Pleegvader verwek gaan word?
10 Die “Ewige Vader”, Jesus Christus die Koning, sal toon wie die eerste persone is wat deur hom verwek word. Hoe? Deur die toegewyde lewens van miljoene wat nou lewe deur “die groot verdrukking” te bewaar. Dit is die “groot menigte” “ander skape”.—Openbaring 7:9, 14.
11. Watter aardse geleentheid wag op die “skape” wat “die groot verdrukking” gaan oorlewe?
11 Die aardse geleentheid wat ná “die groot verdrukking” aan die “groot menigte” uitgehou word, het geen gelyke nie. Die figuurlike bokke van Jesus se gelykenis, wat beskryf is as deel van “die teken” van hierdie “voleinding van die wêreld”, sal van die lewe op hierdie aarde afgesny word, iets wat vir hulle ewige vernietiging sal beteken. Maar dit is nie die geval met die “groot menigte” “skape” wat liefdevol en lojaal goed gedoen het aan die oorblyfsel van Christus se geestelike “broeders” wat nog op aarde is nie (Mattheüs 25:31-46). Die feit dat sulke “skape” reg deur “die groot verdrukking” bewaar word tot in die Duisendjarige Heerskappy van die voorspelde “Vredevors” sal dit vir hierdie oorlewendes moontlik maak om die seëninge van die Koninkryk te geniet. Hulle sal die aardse onderdane van die “Vredevors” wees.
12. Watter woorde van Jesus oor die opstanding dui aan dat die ewige lewe voorgehou word aan diegene wat die Koninkryk se aardse ryk binnegaan?
12 Dan sal die woorde wat Jesus geuiter het voordat hy Lasarus uit die dood opgewek het, vervul word vir diegene wat die Koninkryk se aardse ryk binnegaan. Hy het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie” (Johannes 11:25, 26). Weens hulle gehoorsaamheid aan hom sal hulle volmaakte menselewe in die Koning se aardse ryk verkry. Selfs die simpatieke kwaaddoener wat op Kalvarie langs Jesus gesterf het, sal begunstig word met die geleentheid om die Paradys binne te gaan (Lukas 23:43, NW). Jesus sal alles wat sy naam “Ewige Vader” impliseer gestand doen.
Die gelukkige vooruitsig vir die dode
13. Watter beroemde persone van die ou tyd sal danksy die opstanding van die mensedode in die aardse ryk van die Koninkryk gesien word?
13 Jesus, die vernaamste afstammeling van Abraham, het gesê dat hierdie voorvader, sy seun Isak en sy kleinseun Jakob in die aardse ryk van God se Koninkryk gesien sal word (Mattheüs 22:31, 32). Dit sal deur die opstanding moontlik gemaak word. Al die mensedode in die gedenkgrafte sal, soos Jesus gesê het, die stem van die Seun van God hoor en uitkom. Hulle toekoms daarna sal afhang van die weg wat hulle inslaan.—Johannes 5:28, 29; Openbaring 20:12-15.
14. Wat sal vooraf gedoen moet word ten behoewe van diegene op wie daar ’n aardse opstanding wag, en wie sal aanvanklik hierdie voorbereidings tref?
14 Geweldige voorbereidings sal getref moet word vir die lede van die mensdom wat uit die graf gebring gaan word om onder die Koninkryk van die “Ewige Vader” op aarde te lewe. Hierdie voorbereidings sal aanvanklik getref word deur die oorlewendes van “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon (Openbaring 16:14, 16). Ons weet nie op die oomblik uit hoeveel lede die “groot menigte” “ander skape” van die “Vredevors” dan sal bestaan nie, maar daar sal genoeg vir die taak wees.
15. In watter besondere hoedanigheid sal baie onder die Pleegvader van die mensdom dien?
15 Psalm 45 is gerig tot hierdie “Vredevors” as Koning, en aangesien hy die “Ewige Vader” vir die mensdom gaan wees, sê hierdie psalm vir hom: “In die plek van u vaders sal u seuns wees; U sal hulle aanstel as vorste in die hele land” (Psalm 45:17). Maar selfs voor die opstanding van daardie getroue ‘voorvaders’ sal manlike lede van die “groot menigte” Armageddon-oorlewendes reeds in sulke vorstelike ampte aangestel gewees het. Duisende van hierdie aanstaande oorlewendes van Armageddon dien reeds as ouere manne in die meer as 49 000 gemeentes van Jehovah se Getuies en hou toesig oor die geestelike belange van hulle onderskeie gemeentes.
16. (a) Aan watter werk sal die Armageddon-oorlewendes onder vorstelike toesig deelneem? (b) Watter vrae ontstaan oor die orde waarin die dode gaan terugkeer?
16 Onder vorstelike toesig sal die Armageddon-oorlewendes met ywerige samewerking dien. Watter instruksies die “vorste in die hele land” van die hemelse “Vredevors” presies gaan ontvang, moet ons maar wag en sien, en dit sal vir al hulle mede-oorlewendes van Armageddon ’n aangrypende ondervinding wees. Dink aan al die klere wat gemaak sal moet word om die terugkerende dooies van geskikte klere te voorsien! Dink aan al die voedselvoorrade wat voorsien of opgegaar sal moet word! Woonplekke sal ook gereedgemaak moet word. Watter opwindende tyd sal dit tog nie wees vir almal wat aan hierdie voorbereidingswerk deelneem nie! Wie sal eerste terugkeer? Sal hulle terugkeer in die omgekeerde volgorde waarin hulle na die gedenkgrafte gegaan het? Sal die martelaar Abel en Henog, wat deur God weggeneem is, asook Noag, Abraham, Isak, Jakob en al die getroue profete op besondere wyse beloon word deur eerste opgewek te word?
17. Wie sal die orde bepaal waarin die dode na lewe op aarde terugkeer, en watter titel wat vir hom voorspel is, toon dat hy die vermoë het om sy verantwoordelikhede na te kom?
17 Die “Vredevors” weet en sal dit bepaal. En hy sal ten volle bevoeg wees om sy verantwoordelikhede as die nuwe Vader van die vrygekoopte mensdom na te kom. Een van sy ander voorspelde titels was “Sterke God”. Dit dui aan dat hy ’n magtige Sterke sou wees. Hy sal sy godheid op ’n magtige wyse openbaar deur al die vrygekoopte dode op te wek en hulle name en persoonlikhede te onthou (Johannes 5:28, 29; Handelinge 10:42). Hy is volkome in staat om al die skade wat Satan die Duiwel die afgelope 6 000 jaar van mensegeskiedenis aangerig het, ongedaan te maak.
18. (a) Waarom was dit nie nodig dat Jesus Christus ’n afstammeling van Adam moes wees nie? (b) Hoe is Jesus in staat gestel om ’n tweede vader vir Adam se afstammelinge te word?
18 Die eerste Adam het ’n doodvonnis aan al sy afstammelinge nagelaat. Het Adam die voorvader van die man Jesus Christus geword? Nee, Jesus het nie ’n mensevader gehad nie, maar is gebore uit ’n maagd wat swanger gemaak is deur God se lewenskrag wat Hy uit die geesteryk oorgeplaas het. Die sondaar Adam het gevolglik nie ’n voorvader van daardie aardse Seun van God geword nie. Die tweede Adam het egter ’n lewendmakende gees geword. In hierdie hoedanigheid kan hy Jesaja se profesie vervul en die “Ewige Vader” word van die eerste Adam se afstammelinge, wat hy vrykoop en aanneem ten einde volmaakte menselewe op ’n paradysaarde aan hulle te gee.
19. Watter nuwe verwantskap sal Jehovah God met die mensdom verkry, en watter plan van Satan die Duiwel sal hy sodoende verydel?
19 So sal die hemelse Vader van Jesus Christus die hemelse Grootvader van die herstelde mensegesin word. Daarom sal die mensegesin ’n nuwe verwantskap met die Skepper van hemel en aarde betree. Daar het nog nooit die geringste moontlikheid bestaan dat Jehovah se oorspronklike voorneme sou faal nie. Jehovah sal gevolglik die wrede, goddelose plan van Satan die Duiwel verydel het. Die hele vrygekoopte mensegesin sal van hierdie feit verwittig word. Watter wonderlike dag sal dit tog nie wees wanneer Jesus Christus die vaderskap van die mensegesin oorneem om die mensdom groot te maak in die Paradys wat op aarde herstel is nie!
[Prent op bladsy 164, 165]
In koninklike mag word Christus die “Ewige Vader” van almal wat hy aanneem