Waarom baie wanhopig is
Regoor die wêreld veroorsaak verontrustende tendense vrees vir die toekoms. In ’n toenemende aantal stede word burgers deur waarnemingskameras dopgehou. Weens vrees vir terroriste het talle besige lughawens feitlik militêre kampe geword. Al hoe meer diewe en pedofiele gebruik die Internet om op niksvermoedende slagoffers jag te maak. Wat die omgewing betref, bedreig besoedeling, ontbossing, uitsterwing en aardverwarming die voortbestaan van lewe op ons planeet.
HIERDIE probleme, wat twee of drie geslagte gelede ondenkbaar was, kom vandag wêreldwyd voor. Baie mense wonder met goeie rede wat besig is om met die wêreld te gebeur en watter soort lewe daar op hulle en hulle kinders wag. Sal die tyd kom wanneer mense te bang is om op ’n bus, ’n trein of ’n vliegtuig te klim? Sal toekomstige geslagte goeie mediese sorg, gehaltekos en genoeg brandstof kan bekostig, aangesien pryse styg en daar al hoe meer druk op die aarde se hulpbronne geplaas word?
“Die toekoms lyk uiters angswekkend”, het ’n Kanadese minister van gesondheid gesê in verband met stygende gesondheidskoste. Voedsel en brandstof is nog ’n bron van groot kommer. Waarom? Om minder afhanklik te wees van fossielbrandstof, belê sommige lande op groot skaal in biobrandstof, soos etanol, wat van plante verkry word. Om dié rede moet die beskikbare land se opbrengs vir die eerste keer in die geskiedenis voedsel sowel as brandstof voorsien. Die gevolglike styging in voedselpryse word reeds gesien.
Intussen word die gaping tussen rykes en armes al hoe groter, wat maatskaplike spanning vererger. “In hierdie eerste dekade van die 21ste eeu kom fantastiese vooruitgang in menslike welvaart saam met uiterste armoede voor”, sê ’n verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie. “Die lewensverwagting in sommige van die armste lande het so skerp gedaal dat dit die helfte is van dié van die rykste lande.” Die oorsake is hoofsaaklik siekte sowel as maatskaplike en ekonomiese chaos in lande waar die politieke stelsel misluk het.
Wanneer ’n mens die bedreiging van aardverwarming hierby insluit, wat toenemende woestynvorming en groter klimaatuiterstes kan veroorsaak, is dit glad nie verbasend dat talle ingeligte mense skrikkerig is oor die toekoms nie. Die Bulletin of the Atomic Scientists, wat die sogenaamde Oordeelsdaghorlosie stel, het vrese van ’n droewige toekoms uitgespreek “terwyl wetenskaplikes steeds die verreikende gevolge [van aardverwarming] op die aarde se komplekse ekosisteme waarneem”.
Is ons vooruitsigte so droewig soos dit lyk? Hang ons enigste hoop vir ’n goeie toekoms af van die leiers van die sakewêreld, die politiek, godsdiens en die wetenskap? ‘Watter ander keuse het ons?’ sê party. ‘Ons het onsself in hierdie verknorsing gekry; ons moet onsself hieruit kry.’ Ander meen dat dit eenvoudig nie vir mense moontlik is om ’n uitweg te vind nie en dat ons enigste hoop vir ’n veilige en sekere toekoms by God lê. Indien wel, watter versekering het ons dat God in ons belangstel, dat hy ons van onsself sal red? Die volgende artikels sal hierdie vrae bespreek.
[Lokteks op bladsy 3]
Hang ons enigste hoop vir ’n goeie toekoms af van die leiers van die sakewêreld, die politiek, godsdiens en die wetenskap?