Die Bybel se beskouing
Wat verwag God van jou?
ONS besige lewens stel baie eise aan ons. Soms kan dit vir ons ’n stryd wees om al ons verpligtinge na te kom. Ons moet egter in gedagte hou dat die lewe self ’n gawe is wat ons van God ontvang het (Psalm 36:9). Hoeveel van ons tyd en energie verwag God moet ons aan hom wy? Die Bybel se redelike antwoord is bemoedigend.
Jesus het beter as enigiemand anders geweet wat sy Vader van mense verwag (Matteus 11:27). Toe hy gevra is wat die grootste gebod is, het Jesus gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag” (Markus 12:30). Wat beteken dit? Is dit te veel gevra?
Wat heelhartige liefde vir God behels
Ons liefde vir God kan groei namate ons oor sy eindelose goedheid nadink. As ons God heelhartig liefhet, sal dit ons beweeg om hom die beste te gee van wat ons ook al het. Ons sal voel soos die Bybelskrywer wat gevra het: “Wat sal ek Jehovah vergoed vir al sy weldade aan my?” (Psalm 116:12). Hoe beïnvloed sulke liefde vir God die manier waarop ons ons tyd gebruik?
Die Bybel skryf nie ’n bepaalde aantal ure voor wat ons elke week vir aanbidding moet opsysit nie. Maar dit identifiseer wel watter bedrywighede voorkeur in ons lewe moet geniet en waarom. Jesus het byvoorbeeld geleer dat dit ’n noodsaaklike stap tot die “ewige lewe” is om kennis van God in te neem (Johannes 17:3). Hy het ook gesê dat sy volgelinge diegene wat God nie ken nie, moet help om die lewe te verkry deur die kennis van God aan hulle oor te dra (Matteus 28:19, 20). Die Bybel beveel ons om gereeld saam met medegelowiges te vergader om geestelik versterk te word en mekaar aan te moedig (Hebreërs 10:24, 25). Al hierdie bedrywighede verg tyd.
Verwag God dat ons fanaties moet wees—dat ons lewe uit niks anders as aanbidding moet bestaan nie? Glad nie! Alledaagse praktiese dinge het ook aandag nodig. Die Bybel beveel gesinshoofde om in die behoeftes van hulle gesinne te voorsien en sê: “Ja, as iemand vir sy eie mense, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, . . . is hy erger as ’n ongelowige.”—1 Timoteus 5:8.
God het die mens geskep met die vermoë om die lewe te geniet. Dit is dus net reg dat ons tyd saam met ons familie en vriende deurbring en goeie kos en heilsame ontspanning geniet. Koning Salomo het geskryf: “Ek het te wete gekom dat daar vir hulle niks beters is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe; en ook dat elke mens eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk. Dit is die gawe van God.”—Prediker 3:12, 13.
Jehovah God verstaan menslike beperkings en is “gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:14). Die Bybel erken ook dat ons genoeg rus nodig het. Ná ’n besige tyd het Jesus sy dissipels genooi om ‘alleen na ’n eensame plek te gaan en ’n bietjie te rus’.—Markus 6:31.
’n Lewe wat God behaag, is dus gebalanseerd en kan ’n verskeidenheid bedrywighede insluit. Maar alles wat ons doen—of dit nou regstreeks met aanbidding te doen het of nie—moet ons heelhartige liefde vir God weerspieël. Die Bybel se raad is: “Hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot heerlikheid van God.”—1 Korintiërs 10:31.
Behaal sukses wanneer jy prioriteite stel
Voel dit vir jou asof dit onrealisties of bo jou vermoë is om die aanbidding van God eerste in jou lewe te stel? Om aan God te gee wat hy verwag, kan weliswaar veranderinge—selfs opofferinge—verg wat ons gebruik van tyd betref. Maar ons liefdevolle Skepper vra ons tog sekerlik nie om die onmoontlike te doen nie. Trouens, hy gee ons oorvloedige hulp om sy wil te doen. Ons kan sukses behaal as ons vertrou op “die krag wat God verskaf”.—1 Petrus 4:11.
Wanneer jy jou rooster aanpas om geestelike bedrywighede in te sluit, sal jy moontlik ’n mate van spanning ervaar. Sit gereeld tyd opsy om met Jehovah God, die “Hoorder van die gebed” te praat (Psalm 65:2). In gebed kan jy Jehovah vertel van enige angstigheid wat jy moontlik ondervind, met die wete dat ‘hy vir jou sorg’ (1 Petrus 5:7). Koning Dawid het gebid: “Leer my om u wil te doen, want u is my God” (Psalm 143:10). Net so kan jy God vra om jou te help om die nodige aanpassings in jou lewe te maak.
Die Bybel bevat die hartlike uitnodiging: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Wanneer jy aan bedrywighede begin deelneem wat God behaag, soos om die Bybel te bestudeer en Christelike vergaderinge by te woon, sal jy nader aan God kom. Op sy beurt sal hy jou versterk sodat jy verdere vooruitgang kan maak.
Jelena, wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer, sê aangaande haar pogings om haar prioriteite in orde te kry: “Dit was nie vir my maklik nie.” Maar sy voeg by: “Toe ek Christelike vergaderinge begin bywoon het, het ek die krag ontvang om toe te pas wat die Bybel sê. Die volgehoue ondersteuning van ander het my ook gehelp.” Wanneer ’n mens die voordele geniet wat uit diens aan God voortspruit, bied dit verdere motivering (Efesiërs 6:10). Jelena sê: “Ek het my verhouding met my man verbeter, asook die manier waarop ek my kinders dissiplineer.”
Jehovah se kragtige heilige gees kan jou versterk en motiveer om jou prioriteite in die lewe te hersien en ‘die tyd uit te koop’ om God te dien ondanks die druk van die moderne lewe (Efesiërs 3:16; 5:15-17). Jesus het gesê: “Die dinge wat onmoontlik is by mense, is moontlik by God.”—Lukas 18:27.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Waarom moet jy die uitvoering van God se wil eerste in jou lewe stel?—Psalm 116:12; Markus 12:30.
◼ Aan watter bedrywighede verwag God moet jy deelneem?—Matteus 28:19, 20; Johannes 17:3; Hebreërs 10:24, 25.
◼ Hoe kan jy jou prioriteite suksesvol aanpas om God te behaag?—Efesiërs 5:15-17; Jakobus 4:8.
[Prent op bladsy 20]
Dit verg balans om God te behaag