Vloeibare goud van die Mediterreense streek
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE
“Eers was ek groen en toe swart, toe het hulle my versigtig fyngedruk, en uiteindelik het hulle my in suiwer goud verander.” —’n Ou Spaanse raaisel.
WANNEER ’n olyf aan die boom ryp word, word die groen vruggie blinkswart. Maar onder sy donker skil is daar “goud” wat lê en wag om uitgepers te word. Wanneer ryp olywe gepers word, word ’n goue vloeistof verkry, wat al duisende jare op die tafels van Mediterreense huishoudings gevind word. Hierdie vloeibare goud—olyfolie—is ’n kosbare produk van die olyfboom, waarmee die heuwels van Portugal tot by Sirië oordek is.
Die olie van hierdie geharde bome is smaaklik en dra by tot goeie gesondheid. Vir mense in Mediterreense gebiede het “olie” nog altyd “olyfolie” beteken. Trouens, die Spaanse woord vir “olie”, aceite, kom van die Arabiese woord azzáit, wat letterlik “sap van die olyf” beteken. En dit is presies wat olyfolie is—die suiwer vrugtesap van geperste olywe. Aangesien olie sonder die gebruik van bymiddels of enige chemiese proses uit die olywe vloei, bly al die natuurlike eienskappe van die olie, asook die smaak en aroma, behoue.
’n Goue vloeistof sonder gelyke
Die geskiedskrywer Erla Zwingle verduidelik dat daar “deur die eeue heen groot waarde [aan olyfolie] geheg is as voedsel, brandstof, salf en vir godsdienstige gebruik”. Vandag “is die vloeibare goud van die olyf nog steeds sonder gelyke”, voeg sy by. Die eenvoudige proses om olyfolie te verkry, het duisende jare lank onveranderd gebly. Eerstens slaan die oeswerkers die bome se takke met stokke sodat die olywe op die grond val, waar dit bymekaargemaak word. Dan word die heel olywe, insluitende die pitte, in ’n meul gemaal. Daarna word die pulp verwyder. Laastens word die olie in ’n besinktenk van die water geskei en is dit gereed vir gebruik.a
Maar anders as in die geval van goud is daar byna net so ’n groot verskeidenheid olyfolies as wyne. Wêreldwyd word daar ’n miljard olyfbome vir hulle olywe gekweek.b En tuinboukundiges het al meer as 680 verskillende olyfvariëteite geklassifiseer. Buiten die verskil in variëteit beïnvloed faktore soos die soort grond, die weer, die oestyd (wat van November tot Februarie strek) en die onttrekkingsproses die olie se unieke smaak, kleur en aroma. Onafhanklike spanne professionele proeërs beskryf die smake van verskillende olies as soet, skerp, vrugtig of gebalanseerd. Die proeërs maak seker dat die finale produk van ’n hoë gehalte is.
Die Mediterreense klimaat is ideaal vir die kweek van olyfbome, en daarom kom ongeveer 95 persent van die wêreld se olyfolie van die Mediterreense streek. In Griekeland, Italië, Marokko, Portugal, Spanje, Sirië, Tunisië en Turkye sal reisigers heuwels sien wat oordek is met olyfboorde. Die ryk oorvloed van die olyf kan waarlik as die “vloeibare goud van die Mediterreense streek” beskryf word.
’n Gesonde bestanddeel van die Mediterreense dieet
Die Mediterreense kookkuns maak al eeue lank staat op olyfolie om talle tipiese disse smaakliker te maak. Dit kan gebruik word wanneer kos gebraai, gemarineer of gegeur word. “’n Produk wat al 4 000 jaar lank geniet word, moet goed wees”, het die meestersjef José García Marín gesê, toe hy die belangrikheid van olyfolie in die Spaanse kookkuns beskryf het. “En in onlangse jare het die gehalte van hierdie ‘nektar’ danksy noukeurige produksietegnieke verbeter”, het hy bygevoeg.
Navorsers is al lank bewus van die feit dat mense wat ’n tradisionele Mediterreense dieet volg, noemenswaardige gesondheidsvoordele geniet.c Dieetkundiges het onlangs ’n Internasionale Konferensie oor die Gesondheidsvoordele van Suiwer Olyfolie gereël. Hulle het tot die slotsom gekom dat die Mediterreense dieet, wat suiwer olyfolie insluit, tot ’n gesonder, langer lewe bydra. ’n Dieet wat ryk is aan suiwer olyfolie kan die risiko van hartsiekte en kanker help verlaag. “In alle lande waar die bevolking ’n tipiese Mediterreense dieet volg . . . waarin suiwer olyfolie die vernaamste bron van vet is”, het die kenners gesê, “is die voorkomssyfer van kanker laer as in Noord-Europese lande.”
Daar is moontlik baie redes vir hierdie gesondheidsvoordele. Een daarvan is die hoë vlakke van oliesuur (tot 80 persent) in olyfolie, wat ’n positiewe uitwerking op die bloedsomloopstelsel het. Verder beteken die afwesigheid van chemiese prosesse en preserveermiddels dat olyfolie die vitamiene, mono-onversadigde vette en ander natuurlike bestanddele van die ryp vrug behou.
Omdat die kleiner komponente van olyfolie, soos vitamien E en polifenole (aromatiese verbindings), anti-oksidante is, beskerm dit ook die vel en maak dit dit fermer. Daarom word dit algemeen gebruik in skoonheidsmiddels, rome, sjampoes en seep. Die antieke Grieke en Romeine het olyfolie wat met kruie gemeng is, gebruik om die vel te reinig en te bevog. Later, in die sesde eeu, het Franse vakmanne seep van olyfolie begin maak deur die olie met die as van seeplante te meng.
Olyfolie in Bybeltye
In Bybeltye is olyfolie op groot skaal gebruik as voedsel, skoonheidsmiddel, brandstof, medisyne sowel as vir ander doeleindes. Die Bybel verwys meer as 250 keer na olyfolie, hetsy na die olie self of as die basiese bestanddeel van geparfumeerde olies.
Die Skrif toon duidelik die belangrike rol wat olyfolie in die lewe van ’n tipiese Israelitiese gesin gespeel het. Dit was ’n belangrike deel van hulle dieet, en ’n oorvloed daarvan was ’n teken van voorspoed (Joël 2:24). Mans sowel as vroue het olyfolie as ’n velmiddel gebruik. Voordat Rut vir Boas ontmoet het, het ‘sy haar met olie ingevryf’ (Rut 3:3). Nadat koning Dawid sewe dae lank gevas het, het hy “van die grond af opgestaan en hom gewas en hom met olie ingevryf en ander mantels aangetrek en na die huis van Jehovah gegaan”.—2 Samuel 12:20.
Antieke lampe het ’n betroubare voorraad olyfolie nodig gehad (Matteus 25:1-12). “Suiwer, uitgestampte olyfolie” is gebruik om die tabernakel in die wildernis te verlig (Levitikus 24:2). Teen die tyd van koning Salomo het olyfolie ’n belangrike kommoditeit in internasionale handel geword (1 Konings 5:10, 11). Profete het konings met olie gesalf (1 Samuel 10:1). Goeie gashere het gasvryheid aan gaste betoon deur hulle kop met olie te salf (Lukas 7:44-46). Die barmhartige Samaritaan in Jesus se illustrasie het die wonde van ’n beseerde man met olie en wyn behandel.—Lukas 10:33, 34.
In die Skrif word strelende raad en vertroosting met olie vergelyk, aangesien dit dikwels as geneesmiddel gebruik is. Die Christendissipel Jakobus het geskryf: “Is iemand onder julle siek? Laat hom die ouer manne van die gemeente na hom toe roep, en laat hulle oor hom bid en hom in die naam van Jehovah met olie salf. En die gebed van geloof sal die een wat ongesteld is, gesond maak, en Jehovah sal hom oprig.”—Jakobus 5:14, 15.
Die ryk oes van die olyfboom is nie kortstondig nie. Een olyfboom kan sy eienaars eeue lank van drie tot vier liter olie per jaar voorsien! Dit ly geen twyfel nie: Hierdie vloeibare goud kan ons gesondheid verbeter, ons vel streel en ons kos smaakliker maak.
[Voetnote]
a Slegs ekstra suiwer olyfolie en suiwer olyfolie word regstreeks uit die vrug verkry. Geraffineerde, of gewone, olyfolie en olyfmoesolie word chemies behandel om sterk smake te neutraliseer.
b Hierdie bome produseer elke jaar ongeveer 1,7 miljard liter olyfolie.
c Vrugte en groente is ook algemene bestanddele van hierdie dieet.
[Venster op bladsy 19]
Olyfolie Wat jy daarvan moet weet
◼ Die olie behou sy eienskappe tot 18 maande lank.
◼ Lig breek die komponente van olie af, en daarom moet dit in ’n koel, donker plek gebêre word.
◼ Olyfolie verloor sy anti-oksidante as jy meer as een keer daarmee braai.
◼ Dieetkundiges stel voor dat mense olyfolie lewenslank gebruik om ten volle by die gesondheidsvoordele daarvan baat te vind.
◼ Die gesondheidsvoordele van olyfolie word vergroot wanneer dit gebruik word as ’n basiese bestanddeel van ’n Mediterreense dieet, wat ryk is aan vis, groente, peulgroente en vrugte.
[Prente op bladsy 16, 17]
Olyfolie Die tradisionele proses om dit te verkry
Werkers slaan die takke om die oes in te samel
Meulstene maal die heel olywe
Hierdie masjien skei die olie van die pulp
Olyfolie kom uit die skeier
[Erkenning]
Meulstene en masjien: Museo del Olivar y el Aceite de Baena
[Prent op bladsy 18]
Bo: Eeue oue olyfboord
[Prent op bladsy 18]
Regs: Antieke olyfolielamp
[Erkenning]
Lamp: Museo del Olivar y el Aceite de Baena
[Prent op bladsy 18]
Heel regs: ’n Afbeelding van Jesus se gelykenis van die tien maagde met olielampe