Die Laaste dae—Wanneer?
“ONS verwag dat die Aarde, oor bietjie meer as ’n miljard jaar, ’n verskroeide, kaal, dorre woestyn sal word. Dit is moeilik om jou in te dink dat veelsellige lewensvorme sal kan bly lewe”, sê ’n onlangse nommer van die tydskrif Sky & Telescope. Waarom? “’n Son wat al hoe helderder word, sal die seë laat kook en die kontinente verskroei”, sê die tydskrif Astronomy, en voeg by: “Hierdie apokaliptiese scenario is meer as net ’n lastige waarheid—dit is ons onvermydelike lot.”
Die Bybel sê egter: “[God] het die aarde op sy vaste plekke gegrondves; tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid sal niks dit laat wankel nie” (Psalm 104:5). As die Skepper van die aarde kan hy sekerlik ook toesien dat dit voortbestaan. Trouens, hy het dit “gevorm . . . om bewoon te word” (Jesaja 45:18). Maar nie deur ’n goddelose, sterwende menseras nie. God het ’n tyd vasgestel wanneer sy heerskappy herstel sal word deur middel van die Koninkryk waarvan Daniël 2:44 praat.
Jesus het oor die Koninkryk van God gepreek. Hy het van ’n tyd gepraat wanneer die nasies en volke geoordeel sal word. Hy het gewaarsku oor ’n verdrukking wat groter sal wees as enigiets wat nog plaasgevind het. En hy het ’n saamgestelde teken gegee om aan te dui wanneer die einde van die wêreld soos ons dit ken, op hande sou wees.—Matteus 9:35; Markus 13:19; Lukas 21:7-11; Johannes 12:31.
Die feit dat so ’n belangrike persoon soos Jesus van hierdie dinge gepraat het, het die verbeelding van baie mense aangegryp. Wanneer sou daardie gebeure plaasvind? Deur Bybelprofesieë en -chronologie te bestudeer, het party probeer vasstel presies wanneer die einde sou kom. Iemand wat navorsing gedoen het oor hierdie onderwerp was die 17de-eeuse wiskundige sir Isaac Newton, die ontdekker van die wet van universele swaartekrag en die uitvinder van calculus.
Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is nie vir julle om kennis te verkry van die tye of tydperke wat die Vader onder sy eie regsmag geplaas het nie” (Handelinge 1:7). En toe hy “die teken van [sy] teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge” gegee het, het Jesus gesê: “Van daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader” (Matteus 24:3, 36). Toe, nadat Jesus ’n vergelyking getref het tussen die vernietiging van die goddelose mensewêreld in Noag se dag en die vernietiging wat gedurende “die teenwoordigheid van die Seun van die mens” sou plaasvind, het hy gesê: “Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie.”—Matteus 24:39, 42.
Hoewel die presiese tyd van die komende einde van hierdie “stelsel van dinge” dus nie aan ons geopenbaar is nie, sou “die teken” wat Jesus gegee het, vir ons ’n aanduiding wees dat ons in die tydperk is wat bekend staan as “die laaste dae” (2 Timoteus 3:1). Dit sou ’n tyd wees om ‘wakker te bly’ sodat ons “daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur”.—Lukas 21:36.
Voordat Jesus die teken gegee het, het hy gewaarsku: “Pas op dat julle nie mislei word nie; want baie sal onder my naam kom en sê: ‘Dit is ek’, en: ‘Die bestemde tyd het naby gekom.’ Moenie agter hulle aan gaan nie. En wanneer julle van oorloë en oproere hoor, moet julle nie verskrik word nie. Want hierdie dinge moet eers plaasvind, maar die einde kom nie onmiddellik nie.”—Lukas 21:8, 9.
Wat is die teken?
Jesus vertel vir ons wat die laaste dae sal kenmerk en sê: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk; en daar sal groot aardbewings wees, en op die een plek na die ander pessiektes en voedseltekorte; en daar sal vreesaanjaende gesigte wees, en groot tekens van die hemel af” (Lukas 21:10, 11). Jesus het ook gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Die gebeure wat Jesus gemeld het—oorloë, aardbewings, pessiektes voedseltekorte—sou op sigself niks nuuts wees nie. Dit vind al van vroeg in die mens se geskiedenis plaas. Die verskil sou wees dat al hierdie dinge binne een tydperk sou gebeur.
Vra jou af: ‘Wanneer het al die dinge wat in die Evangelies gemeld is, in dieselfde tydperk plaasgevind?’ Sedert die jaar 1914 was die mensdom ooggetuies van verwoestende wêreldoorloë; groot aardbewings met tragiese gevolge, soos tsoenami’s; wydverspreide dodelike siektes soos malaria, griep en vigs; miljoene wat wegkwyn weens ’n gebrek aan voedsel; ’n aardwye klimaat van vrees weens die bedreigings wat terrorisme en wapens van massavernietiging inhou; en die verkondiging van die goeie nuus van God se hemelse Koninkryk wat wêreldwyd deur Jehovah se Getuies gedoen word. Hierdie gebeure het plaasgevind net soos Jesus voorspel het.
Hou ook in gedagte wat die apostel Paulus geskryf het: “Weet dít, dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën” (2 Timoteus 3:1-5). Ja, “kritieke tye” wat gekenmerk word deur wydverspreide wetteloosheid, ongelowigheid, wreedheid en selfsugtige gewelddadigheid sou regoor die aarde duidelik gesien kan word.a
Maar kan “die laaste dae” wat die einde voorafgaan, nog in die toekoms wees? Is daar ander bewyse wat aandui wanneer dit sou begin?
Wanneer sou “die tyd van die einde” aanbreek?
Nadat die profeet Daniël ’n voorskou ontvang het van gebeure wat ver in die toekoms sou plaasvind, is daar vir hom gesê: “Gedurende daardie tyd [“die tyd van die einde” wat in Daniël 11:40 gemeld word] sal Migael [Jesus Christus] opstaan, die groot vors wat ten behoewe van die kinders van jou volk staan” (Daniël 12:1). Wat sou Migael doen?
Die boek Openbaring praat van die tyd wanneer Migael as Koning sou optree. Dit sê: “Oorlog het in die hemel uitgebreek: Migael en sy engele het teen die draak geveg, en die draak en sy engele het geveg, maar hy het nie geseëvier nie, en ook is daar vir hulle geen plek meer in die hemel gevind nie. Toe is die groot draak neergeslinger, die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei; hy is na die aarde neergeslinger, en sy engele is saam met hom neergeslinger. Daarom, wees bly, o hemele en julle wat daarin woon! Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het.”—Openbaring 12:7-9, 12.
Bybelchronologie toon dat hierdie oorlog, wat die hemele van Satan en sy demone sou reinig, groot wee vir die aarde sou veroorsaak, weens die Duiwel se toorn omdat hy weet dat hy min tyd oorhet om oor die aarde te heers. Sy toorn sou gedurende die laaste dae toeneem totdat hy by die oorlog van Armageddon heeltemal verslaan word.—Openbaring 16:14, 16; 19:11, 15; 20:1-3.
Nadat die apostel Johannes die uitslag van daardie hemelse oorlog genoem het, het hy gesê: “Ek het ’n harde stem in die hemel hoor sê: ‘Nou het die redding en die krag en die koninkryk van ons God en die gesag van sy Christus gekom, want die beskuldiger van ons broers, wat hulle dag en nag voor ons God beskuldig, is neergeslinger!’” (Openbaring 12:10). Het jy gelet op die aankondiging dat die Koninkryk onder Christus tot stand gebring is? Ja, daardie hemelse Koninkryk is in 1914 opgerig.b Maar soos Psalm 110:2 toon, sou Jesus “te midde van [sy] vyande” regeer tot die tyd dat die Koninkryk oor die aarde sou heers, soos dit in die hemel heers.—Matteus 6:10.
Dit is interessant dat die engel wat vir die profeet Daniël van toekomstige gebeure vertel het, ook gesê het: “Jy, o Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek, tot die tyd van die einde toe. Baie sal rondswerf, en die ware kennis sal oorvloedig word” (Daniël 12:4). Dit voorsien verdere bewys dat ons nou in “die tyd van die einde” is. Die betekenis van hierdie profesieë is reeds duidelik gemaak, en dit word nou wêreldwyd bekend gemaak.c
Wanneer sal “die laaste dae” eindig?
Die Bybel sê nie presies hoe lank die laaste dae sal wees nie. Maar in die laaste dae sal die situasie op aarde beslis vererger namate Satan se tyd korter word. Die apostel Paulus het gewaarsku dat “goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, terwyl hulle mislei en mislei word” (2 Timoteus 3:13). En oor dinge wat nog sou plaasvind, het Jesus gesê: “Daardie dae sal dae van ’n verdrukking wees soos daar sedert die begin van die skepping wat God geskep het tot op daardie tyd nie plaasgevind het nie en nie weer sal plaasvind nie. Trouens, as Jehovah die dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie. Maar weens die uitverkorenes wat hy uitverkies het, het hy die dae verkort.”—Markus 13:19, 20.
Van die gebeure wat nog voorlê, is die “groot verdrukking”, wat die oorlog van Armageddon insluit, en die inperking van Satan en sy demone sodat hulle geen invloed oor die aarde kan uitoefen nie (Matteus 24:21). “God, wat nie kan lieg nie”, het ons verseker dat hierdie dinge sal gebeur (Titus 1:2). Wanneer Armageddon plaasvind en Satan in die afgrond gewerp word, sal dit die gevolg van goddelike ingryping wees.
Die apostel Paulus is geïnspireer om ons te vertel presies waardeur die komende vernietiging wat God gaan bring, voorafgegaan sal word. Wat “die tye en die tydperke” betref, het hy gesê: “Jehovah se dag [kom] net soos ’n dief in die nag . . . Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan sal skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom net soos die barenswee oor ’n swanger vrou; en hulle sal hoegenaamd nie ontkom nie” (1 Tessalonisense 5:1-3). Presies wat daardie valse uitroep van “vrede en veiligheid” veroorsaak, word nie gesê nie, en slegs die tyd sal leer; maar dit sal nie die koms van Jehovah se oordeelsdag keer nie.d
As ons oortuig is van die waaragtigheid van hierdie profesieë, behoort kennis van die feite ons tot optrede aan te spoor. Hoe? Petrus antwoord: “Aangesien al hierdie dinge so tot niet gemaak gaan word, watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou!” (2 Petrus 3:11, 12). Maar jy wonder dalk: ‘Hoe vind ek hierby baat?’ Die volgende artikel sal hierdie vraag beantwoord.
[Voetnote]
a Vir verdere bewyse van “die laaste dae”, sien die Ontwaak! van April 2007, bladsye 8-10, sowel as Die Wagtoring van 15 September 2006, bladsye 4-7, en van 1 Oktober 2005, bladsye 4-7, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b Vir besonderhede aangaande Bybelchronologie, sien bladsye 215-18 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
c Sien die boek Gee ag op Daniël se profesie! en die Jaarboek van Jehovah se Getuies vir 2008, bladsye 31-9, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
d Sien die boek Openbaring—Sy groot klimaks is op hande! (druk van 2006), bladsye 250-1, paragrawe 13 en 14.
[Lokteks op bladsy 5]
Jesus het gesê dat slegs God “daardie dag en uur” weet
[Prent op bladsy 4]
Sir Isaac Newton
[Erkenning]
© A. H. C./age fotostock
[Prente op bladsy 7]
Die teken wat Jesus gegee het, word al sedert 1914 gesien
[Erkennings]
© Heidi Bradner/Panos Pictures
© Paul Smith/Panos Pictures