Die goue jare?
DIT is 06:30 op ’n ysige wintersoggend in Soweto. Evelyn moet opstaan.a In haar koue huisie is dit loutere pyniging.
Sy skuif haar knieë, wat pyn van die artritis, stadig oor die rand van die bed. Dan sit sy en wag. Geleidelik neem die pyn in haar bene af. Evelyn staal haar en staan op. Sy kreun van die pyn. Met haar hande op haar heupe, net soos ’n ‘sprinkaan hom voortsleep’, loop Evelyn sukkel-sukkel badkamer toe.—Prediker 12:5.b
‘Wat ’n prestasie!’ sê Evelyn by haarself. Behalwe dat sy nog lewe, het sy boonop haar seer liggaam aan die gang gekry.
Daar is egter iets anders wat haar bekommer. “Ek is bang dat my verstand my in die steek sal laat”, sê Evelyn. Sy verloor af en toe haar sleutels, maar haar verstand is nog helder. “Ek bid net”, sê Evelyn, “dat ek nie soos party ou mense my verstand sal verloor nie.”
Toe Evelyn nog jonk was, het sy nooit aan bejaardheid gedink nie. Skielik voel dit asof die jare verbygevlieg het, en nou laat haar liggaam haar nooit vergeet dat sy 74 jaar oud is nie.
Party wie se situasie beter as Evelyn s’n is en wat redelik gesond en sonder stres is, het nog rede om hulle latere lewe as goue jare te beskou. Soos die aartsvader Abraham het hulle dalk “’’n goeie ouderdom [bereik], oud en tevrede” (Genesis 25:8). Ander ondervind ‘droewige dae en jare’ en kan net sê: “Ek geniet nie die lewe nie” (Prediker 12:1, Today’s English Version). In een opname was soveel mense pessimisties oor aftrede dat die tydskrif Newsweek voorgestel het dat die goue jare eerder die “donker jare” genoem moet word.
Hoe beskou jy bejaardheid? Wat is van die uitdagings waarmee bejaardes te kampe het? Is verstandelike agteruitgang onvermydelik? Wat kan gedoen word om gemoedsrus tydens die goue jare te bevorder?
[Voetnote]
a Van die name in hierdie reeks is verander.
b Hierdie vers in die antieke Bybelboek Prediker word al lank beskou as ’n insigryke digterlike beskrywing van die probleme wat met veroudering gepaardgaan.