Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 2/1 bl. 8-13
  • ‘Bly in my woord’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Bly in my woord’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle ‘hoor die woord’
  • Hartstoestand en betekenisvolle bepeinsing
  • “Langs die pad”—mense wat te besig is
  • “Op die rots”—vreesagtige mense
  • “Tussen die dorings”—mense met verdeelde harte
  • Dit is “God wat dit laat groei”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Saai die Koninkryksaad
    Sing lofliedere voor Jehovah
  • Die voordele van ’n liefde vir God se Woord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Vind baat by Jesus se illustrasies
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 2/1 bl. 8-13

‘Bly in my woord’

“As julle in my woord bly, is julle werklik my dissipels.”—JOHANNES 8:31.

1. (a) Wat het Jesus op die aarde agtergelaat toe hy na die hemel teruggekeer het? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

TOE Jesus Christus, die Stigter van die Christelike geloof, na die hemel teruggekeer het, het hy nie op hierdie aarde boeke agtergelaat wat hy geskryf het, monumente wat hy gebou het of rykdom wat hy vergader het nie. Maar hy het wel dissipels asook spesifieke vereistes vir dissipelskap agtergelaat. Trouens, in die Evangelie van Johannes vind ons dat Jesus drie vername vereistes genoem het waaraan elkeen wat sy volgeling wil wees, moet voldoen. Wat is hierdie vereistes? Hoe kan ons daaraan voldoen? En hoe kan ons vandag seker maak dat ons persoonlik as Christus se dissipels kwalifiseer?a

2. Wat is ’n vername vereiste vir dissipelskap, soos in die Evangelie van Johannes opgeteken is?

2 Omtrent ses maande voor sy dood het Jesus na Jerusalem opgegaan en vir die skares getuig wat daar byeen was om die week lange Huttefees te vier. Die gevolg was dat “baie van die skare geloof in hom gestel” het teen die tyd dat die fees halfpad verby was. Jesus het aanhou getuig, en op die laaste dag van die fees was daar weer eens “baie [wat] geloof in hom gestel” het (Johannes 7:10, 14, 31, 37; 8:30). Op hierdie tydstip het Jesus sy aandag op die nuwe gelowiges gevestig en ’n vername vereiste vir dissipelskap genoem, soos opgeteken deur die apostel Johannes: “As julle in my woord bly, is julle werklik my dissipels.”—Johannes 8:31.

3. Watter eienskap is nodig vir iemand om ‘in Jesus se woord te bly’?

3 Met daardie woorde het Jesus nie bedoel dat die nuwe gelowiges ’n gebrek aan geloof het nie. Hy het eerder daarop gewys dat hulle die geleentheid gehad het om sy ware dissipels te word—mits hulle in sy woord bly, mits hulle volhard. Hulle het sy woord aangeneem, maar nou moes hulle daarin bly (Johannes 4:34; Hebreërs 3:14). Ja, Jesus het volharding as so ’n belangrike eienskap vir sy volgelinge beskou, dat hy in sy laaste gesprek met sy apostels wat in die Evangelie van Johannes opgeteken is, twee keer gemaan het: “Hou aan om my te volg” (Johannes 21:19, 22). Talle vroeë Christene het juis dit gedoen (2 Johannes 4). Wat het hulle gehelp om te volhard?

4. Wat het die vroeë Christene in staat gestel om te volhard?

4 Die apostel Johannes, wat ongeveer sewe dekades lank ’n getroue dissipel van Christus gebly het, het op ’n belangrike faktor gewys. Hy het getroue Christene geprys en gesê: ‘Julle is sterk en die woord van God bly in julle en julle het die bose oorwin.’ Daardie dissipels van Christus het volhard, of in die woord van God gebly, omdat die woord van God in hulle gebly het. Hulle het hartgrondige waardering daarvoor gehad (1 Johannes 2:14, 24). As ons vandag eweneens ‘tot die einde toe wil volhard’, moet ons seker maak dat die woord van God in ons bly (Matteus 24:13). Hoe kan ons dit doen? ’n Illustrasie wat Jesus vertel het, gee die antwoord.

Hulle ‘hoor die woord’

5. (a) Watter verskillende soorte grond noem Jesus in een van sy illustrasies? (b) Wat stel die saad en die grond in Jesus se illustrasie voor?

5 Jesus het ’n illustrasie vertel van ’n saaier wat saad saai, en ons vind dit in die Evangelies van Matteus, Markus en Lukas (Matteus 13:1-9, 18-23; Markus 4:1-9, 14-20; Lukas 8:4-8, 11-15). Terwyl jy die verslae lees, sal jy opmerk dat die sleutelgedagte van die illustrasie is dat dieselfde soort saad op verskillende soorte grond val, met verskillende resultate. Die eerste soort grond is hard, die tweede is vlak en die derde is oortrek met dorings. Die vierde soort is, in teenstelling met die ander drie, “goeie grond”. Volgens Jesus se eie verduideliking is die saad die Koninkryksboodskap wat in God se Woord gevind word, en die grond stel mense met verskillende hartstoestande voor. Hoewel die mense wat deur die verskillende soorte grond voorgestel word, party dinge in gemeen het, het diegene wat deur die goeie grond voorgestel word, ’n eienskap wat hulle anders maak as die res.

6. (a) Hoe verskil die vierde soort grond in Jesus se illustrasie van die ander drie, en wat beteken dit? (b) Wat is noodsaaklik as ons wil volhard as Christus se dissipels?

6 Die verslag in Lukas 8:12-15 toon dat mense in al vier gevalle ‘die woord hoor’. Maar diegene met “’n edel en goeie hart” doen meer as om net ‘die woord te hoor’. Hulle ‘hou daaraan vas en dra vrug met volharding’. Die goeie grond, wat sag en diep is, laat die saad diep wortelskiet sodat dit uitspruit en vrug dra (Lukas 8:8). So ook sal dié met ’n goeie hart die woord van God verstaan, waardeer en inneem (Romeine 10:10; 2 Timoteus 2:7). Die woord van God bly in hulle. Daarom dra hulle vrug met volharding. ’n Innige, hartgrondige waardering vir God se Woord is dus noodsaaklik as ons wil volhard as Christus se dissipels (1 Timoteus 4:15). Maar hoe kan ons so ’n hartgrondige waardering vir God se Woord ontwikkel?

Hartstoestand en betekenisvolle bepeinsing

7. Waarmee word ’n goeie hart verbind?

7 Let op waarmee die Bybel ’n goeie hart telkens verbind. “Die hart van die regverdige dink na sodat hy kan antwoord” (Spreuke 15:28). “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart aangenaam word voor u, o Jehovah” (Psalm 19:14). “Die bepeinsing van my hart sal oor verstandige dinge wees.”—Psalm 49:3.

8. (a) Wat moet ons vermy wanneer ons die Bybel lees, maar wat moet ons doen? (b) Watter voordele hou biddende bepeinsing oor God se Woord vir ons in? (Sluit die venster “Hulle ‘staan vas in die waarheid’” in.)

8 Soos hierdie Bybelskrywers moet ons ook met waardering en biddend oor God se Woord en sy dade peins. Wanneer ons die Bybel of Bybelpublikasies lees, moet ons nie soos haastige toeriste wees wat hulle van een besienswaardigheid na die volgende haas, terwyl hulle alles op film vaslê maar min sien nie. Wanneer ons die Bybel bestudeer, wil ons eerder die tyd neem om as ’t ware stil te staan en die toneel te geniet.b Terwyl ons stil nadink oor wat ons lees, raak die woord van God ons hart. Dit beïnvloed ons emosies en vorm ons denke. Dit beweeg ons ook om ons intieme gedagtes in gebed aan God te noem. Sodoende word ons verhouding met Jehovah sterker, en ons liefde vir God dring ons om voort te gaan om Jesus selfs onder moeilike omstandighede te volg (Matteus 10:22). Dit is duidelik dat bepeinsing oor wat God sê, noodsaaklik is as ons tot die einde toe getrou wil bly.—Lukas 21:19.

9. Hoe kan ons seker maak dat ons hart ontvanklik bly vir die woord van God?

9 Jesus se illustrasie toon ook dat daar dinge is wat kan verhinder dat die saad, die woord van God, groei. As ons derhalwe getroue dissipels wil bly, moet ons (1) die hindernisse identifiseer, soos voorgestel word deur die ongunstige toestand van die grond in die illustrasie en (2) stappe doen om dit reg te stel of te vermy. Sodoende sal ons seker maak dat ons hart ontvanklik bly vir die Koninkryksaad en aanhou vrug dra.

“Langs die pad”—mense wat te besig is

10. Beskryf die eerste soort grond in Jesus se illustrasie, en verduidelik wat dit beteken.

10 Die eerste soort grond waarop die saad val, is “langs die pad”, waar die saad “vertrap” word (Lukas 8:5). Grond langs ’n pad wat deur ’n graanland loop, is vasgetrap deur al die voetgangers (Markus 2:23). Net so sal mense wat toelaat dat al die bedrywighede van die wêreld te veel van hulle tyd en energie in beslag neem, dalk vind dat hulle te besig is om enige hartgrondige waardering vir die woord van God op te bou. Hulle hoor dit, maar hulle peins nie daaroor nie. Daarom bly hulle hart onontvanklik. Voordat hulle ’n liefde daarvoor aankweek, “kom die Duiwel en neem die woord uit hulle hart weg sodat hulle nie sal glo en gered word nie” (Lukas 8:12). Kan dit voorkom word?

11. Hoe kan ons voorkom dat ons hart soos harde grond word?

11 Baie kan gedoen word om te voorkom dat die hart soos onvrugbare grond langs ’n pad word. Vasgetrapte en harde grond kan sag en vrugbaar word as ’n mens dit omploeg en keer dat voetgangers daarop loop. So ook kan die hart soos goeie, vrugbare grond word as ’n mens tyd inruim om God se Woord te bestudeer en daaroor te peins. Die sleutel is om nie te behep te raak met die alledaagse dinge van die lewe nie (Lukas 12:13-15). Maak eerder seker dat daar genoeg tyd is om oor “die belangriker dinge” in die lewe na te dink.—Filippense 1:9-11.

“Op die rots”—vreesagtige mense

12. Wat is die werklike rede waarom die spruit verdor in die tweede soort grond wat in Jesus se illustrasie genoem word?

12 Wanneer die saad op die tweede soort grond val, bly dit nie net daar lê, soos in die eerste geval nie. Dit skiet wortel en spruit uit. Maar wanneer die son opkom, word die spruit deur die hitte van die son verskroei en verdor dit. Let egter op hierdie interessante besonderheid. Die werklike rede waarom die spruit verdor, is nie die hitte nie. Die plant wat in die goeie grond opkom, is immers ook aan die son blootgestel, maar dit verdor nie—trouens, dit floreer. Waarom die verskil? Hierdie spruit verdor, verduidelik Jesus, “omdat dit nie diep grond gehad het nie” en “omdat dit nie vogtigheid gehad het nie” (Matteus 13:5, 6; Lukas 8:6). ’n “Rots”, of rotslaag, wat reg onder ’n laag bogrond lê, voorkom dat die saad se wortels diep genoeg afgaan om water te vind en die plant te anker. Die spruit verdor omdat die grond vlak is.

13. Watter soort mense is soos vlak grond, en wat is ’n onderliggende rede vir hulle reaksie?

13 Hierdie deel van die illustrasie verwys na mense wat “die woord met vreugde ontvang” en Jesus “’n tyd lank” ywerig volg (Lukas 8:13). Wanneer hulle aan die verskroeiende son van “verdrukking of vervolging” blootgestel word, raak hulle so vreesagtig dat hulle hulle vreugde en krag verloor en ophou om Christus te volg (Matteus 13:21). Die onderliggende rede vir hulle vrees is egter nie teenstand nie. Miljoene van Christus se dissipels verduur immers verskeie vorme van verdrukking, en tog bly hulle getrou (2 Korintiërs 2:4; 7:5). Die werklike rede waarom party vreesagtig word en wegval, is omdat die rotsagtige toestand van hulle hart voorkom dat hulle diep genoeg oor positiewe en geestelike dinge peins. Gevolglik is die waardering wat hulle vir Jehovah en sy woord opbou, te oppervlakkig en swak om teenstand te weerstaan. Hoe kan ’n mens so ’n afloop vermy?

14. Watter stappe moet iemand neem om te voorkom dat sy hart soos vlak grond word?

14 ’n Mens moet seker maak dat geen rotsagtige hindernisse, soos diepgewortelde bitterheid, onderliggende selfsug of soortgelyke harde maar verborge gevoelens in jou hart vassit nie. As so ’n hindernis reeds bestaan, kan die krag wat God se woord uitoefen, dit verwyder (Jeremia 23:29; Efesiërs 4:22; Hebreërs 4:12). Daarna sal biddende bepeinsing help met die “inplanting van die woord” diep in die persoon se hart (Jakobus 1:21). Dit sal hom van die krag voorsien om tye van ontmoediging die hoof te bied en die moed gee om ondanks beproewinge getrou te bly.

“Tussen die dorings”—mense met verdeelde harte

15. (a) Waarom verdien die derde soort grond waarvan Jesus gepraat het, veral ons aandag? (b) Wat gebeur uiteindelik met die derde soort grond, en waarom?

15 Die derde soort grond, die een met dorings, verdien veral ons aandag omdat dit in sommige opsigte met die goeie grond ooreenstem. Soos met die goeie grond kan die saad in die doringagtige grond wortelskiet en uitspruit. Aanvanklik is daar geen verskil in hoe die nuwe plant in hierdie twee soorte grond groei nie. Maar met verloop van tyd gebeur daar iets wat die plant uiteindelik verstik. In teenstelling met die goeie grond is hierdie grond later oortrek met dorings. Terwyl die jong plant in hierdie grond opkom, moet dit meeding met ‘dorings wat daarmee saam groei’. ’n Tyd lank ding hierdie twee mee om voeding, lig en ruimte, maar uiteindelik kry die dorings die oorhand oor die plant en ‘verstik dit’.—Lukas 8:7.

16. (a) Watter mense kom ooreen met die doringagtige grond? (b) Wat stel die dorings volgens die drie Evangelieverslae voor?—Sien voetnoot.

16 Watter soort mense kom met die doringagtige grond ooreen? Jesus verduidelik: “Dit is hulle wat gehoor het, maar omdat hulle deur sorge en rykdom en genietinge van hierdie lewe meegesleep word, word hulle heeltemal verstik en bring hulle niks tot volmaaktheid nie” (Lukas 8:14). Net soos die saaier se saad en die dorings terselfdertyd in die grond groei, probeer party om die woord van God in te neem en terselfdertyd die “genietinge van hierdie lewe” te hê. Die waarheid van God se woord word in hulle hart gesaai, maar dit moet met ander strewes meeding om hulle aandag. Hulle figuurlike hart is verdeeld (Lukas 9:57-62). Dit voorkom dat hulle genoeg tyd afstaan aan biddende en betekenisvolle bepeinsing oor God se woord. Hulle neem God se woord nie ten volle in nie en het dus nie genoeg hartgrondige waardering om te volhard nie. Geleidelik word hulle geestelike belange deur niegeestelike strewes verdring totdat hulle “heeltemal verstik” word.c Wat ’n droewige uiteinde tog vir diegene wat Jehovah nie heelhartig liefhet nie!—Matteus 6:24; 22:37.

17. Watter keuses moet ons in die lewe maak sodat ons nie deur die figuurlike dorings in Jesus se illustrasie verstik word nie?

17 As ons geestelike sake die voorkeur gee bo materiële strewes, sal ons nie deur die probleme en genietinge van hierdie wêreld verstik word nie (Matteus 6:31-33; Lukas 21:34-36). Bybellees en bepeinsing oor wat ons lees, moet nooit verwaarloos word nie. Ons sal meer tyd vir indringende en biddende bepeinsing vind as ons ons lewe so eenvoudig moontlik maak (1 Timoteus 6:6-8). Knegte van God wat dit gedoen het—wat as ’t ware die dorings uit die grond getrek het om die vrugdraende plant meer voeding, lig en ruimte te gee—geniet Jehovah se seën. Sandra, wat 26 jaar oud is, sê: “Wanneer ek oor my seëninge in die waarheid peins, besef ek dat die wêreld niks in vergelyking daarmee kan aanbied nie!”—Psalm 84:11.

18. Hoe kan ons in die woord van God bly en as Christene volhard?

18 Dit is dus duidelik dat ons almal, jonk en oud, in die woord van God sal bly en as Christus se dissipels sal volhard, solank die woord van God in ons bly. Laat ons derhalwe seker maak dat die grond van ons figuurlike hart nooit hard, vlak of met dorings oortrek raak nie, maar sag en diep bly. So sal ons die woord van God ten volle kan inneem en “met volharding vrug [kan] dra”.—Lukas 8:15.

[Voetnote]

a In hierdie artikel sal ons die eerste van hierdie vereistes bespreek. Die ander twee sal in die volgende artikels bespreek word.

b As jy biddend wil peins oor ’n gedeelte in die Bybel wat jy gelees het, kan jy jou byvoorbeeld afvra: ‘Openbaar dit een of meer van Jehovah se eienskappe? Hoe hou dit verband met die Bybel se tema? Hoe kan ek dit in my lewe toepas of dit gebruik om ander te help?’

c Volgens die drie Evangelieverslae van Jesus se gelykenis word die saad verstik deur die probleme en genietinge van hierdie wêreld: “Die sorge van hierdie stelsel van dinge”, “die bedrieglike krag van rykdom”, “die begeertes na die res van die dinge” en die “genietinge van hierdie lewe”.—Markus 4:19; Matteus 13:22; Lukas 8:14; Jeremia 4:3, 4.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom moet ons ‘in Jesus se woord bly’?

• Hoe kan ons toelaat dat God se woord in ons hart bly?

• Watter soort mense word voorgestel deur die vier verskillende soorte grond waarvan Jesus gepraat het?

• Hoe kan jy tyd maak om oor God se woord te peins?

[Venster/Prent op bladsy 10]

HULLE ‘STAAN VAS IN DIE WAARHEID’

BAIE van dié wat al lank dissipels van Christus is, bewys jaar na jaar dat hulle “vasstaan in die waarheid” (2 Petrus 1:12). Wat help hulle om te volhard? Kyk na ’n paar van hulle kommentare.

“Elke aand lees ek ’n gedeelte uit die Bybel en bid ek. Dan dink ek na oor wat ek gelees het.”—Jean, gedoop in 1939.

“Wanneer ek nadink oor hoe Jehovah, wat so verhewe is, ons opreg liefhet, laat dit my veilig voel en versterk dit my om getrou te bly.”—Patricia, gedoop in 1946.

“Omdat ek getrou by goeie Bybelstudiegewoontes bly en peins oor ‘die diep dinge van God’, help dit my om te volhard.”—1 Korintiërs 2:10; Anna, gedoop in 1939.

“Ek lees die Bybel en ons Bybelpublikasies met die doel om my hart en beweegredes te ondersoek.”—Zelda, gedoop in 1943.

“Die tye wat ek die meeste geniet, is wanneer ek gaan stap om met Jehovah in gebed te praat en vir hom te sê hoe ek werklik voel.”—Ralph, gedoop in 1947.

“Ek begin die dag met die dagteks en lees ’n gedeelte uit die Bybel. Dit gee my iets nuuts om gedurende die dag oor te peins.”—Marie, gedoop in 1935.

“Vir my is ’n vers-vir-vers-bespreking van ’n Bybelboek baie verfrissend.”—Daniel, gedoop in 1946.

Watter tye het jy opsy gesit om biddend oor God se woord te peins?—Daniël 6:10b; Markus 1:35; Handelinge 10:9.

[Prent op bladsy 13]

As ons geestelike dinge eerste stel, kan ons “met volharding vrug dra”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel