Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 10/22 bl. 25-27
  • Wat kan ek doen om nie meer in my ouers se skaduwee te lewe nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat kan ek doen om nie meer in my ouers se skaduwee te lewe nie?
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die lewe in hulle skaduwee
  • Opstandigheid nie ’n goeie keuse nie
  • ’n Beter weg
  • Waarom moet ek my ouers gehoorsaam?
    Ontwaak!—1994
  • Jongmense—Julle raak julle ouers se hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Ouers—Lei julle kinders op met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Waarom moet ek sonder my ouers leef?
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 10/22 bl. 25-27

Jongmense vra . . . 

Wat kan ek doen om nie meer in my ouers se skaduwee te lewe nie?

“My pa is ’n bekende ouer man in ’n gemeente van Jehovah se Getuies. Ek respekteer hom, maar soms grief dit my om oral waar ek kom as Bill se seun bekend te staan.”—Larry.a

“Ek het gevoel dat almal hoë verwagtinge van my het omdat my pa ’n prominente ouer man is, en dit was baie moeilik om net myself te wees.”—Alexander.

NAMATE jy ouer word, is dit net natuurlik dat jy ’n mate van onafhanklikheid wil hê—om in staat te wees om jou eie reputasie op te bou. Met jou geboorte het jou ouers vir jou ’n naam gekies waarvan hulle gehou het. Nou wil jy, namate jy as ’n adolessent ontwikkel, ’n kans hê om jou eie “naam” te kies—dit wil sê ’n reputasie vir jouself op te bou.

Koning Salomo het geskryf: “’n [Goeie] naam is verkiesliker as oorvloedige rykdom; guns is beter as selfs silwer en goud” (Spreuke 22:1). Selfs terwyl jy jonk is, sal jy waarskynlik wil begin om jou eie identiteit te bevestig.

Die lewe in hulle skaduwee

Soos Larry en Alexander voel party jongmense dat hulle in die skaduwee van hulle ouers se naam of prestasies lewe. Miskien is hulle ouers baie bekend in die gemeenskap weens hulle werk of opvoeding. Of miskien is hulle welbekend in die Christengemeente. As een van die bogenoemde waar is van jou ouers, voel jy dalk soms dat jy onder ’n vergrootglas lewe en dat alles wat jy doen, die hele tyd fyn dopgehou word. Jy voel dalk gekrenk oor die druk wat op jou geplaas word om op sekere maniere op te tree bloot as gevolg van wie jou ouers is.

Ivan se pa dien byvoorbeeld as ’n ouer man in ’n plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies. Ivan sê: “Omdat my pa so bekend is en gerespekteer word, het ek altyd gevoel dat ek ’n voorbeeld by die skool en by die huis moes wees. Dit het gevoel asof ander ouers my as ’n maatstaf gebruik van hoe hulle verwag het hulle kinders hulle moet gedra. Hoewel dit vleiend was, het dit my onder groot druk geplaas om altyd voorbeeldig voor ander te wees. Gevolglik was ek nie altyd beskeie nie en het ek nie my eie persoonlikheidsgebreke raakgesien nie.” Alexander sê: “Dit het gevoel asof ek die hele tyd dopgehou word en dat mense reg was om ’n vinger na my te wys as ek ’n fout sou begaan.”

Larry, wat in die inleiding aangehaal is, het probeer om op die agtergrond te bly deur nie vir mense te sê wat sy van is nie. Hy sê: “Wanneer ek nuwe mense by gesellighede ontmoet het, het ek gesê: ‘Hello, ek is Larry’ en net daar opgehou—sonder om my van te noem. Wanneer ek kon, het ek net my voornaam gebruik as ek vorms geteken het. Ek was bang dat mense my anders sou behandel as hulle geweet het wie my pa is. Ek wou net hê dat my portuurs my as een van hulle moes beskou.”

Dit is natuurlik te verstane dat ander hoë verwagtinge van jou sal hê as jou pa as ’n Christen- ouer man of bedieningskneg dien. Manne wat in sulke posisies aangestel is, moet immers “aan kinders en hulle eie huisgesinne goeie leiding gee” (1 Timoteus 3:5, 12). Dit is dus geen wonder dat mense van jou verwag om ’n voorbeeld te wees nie! Maar is dit noodwendig ’n slegte ding? Nie as jy daaraan dink dat die Christenjeugdige Timoteus, terwyl hy moontlik nog ’n tiener was, deur Paulus gekies is om saam met hom te reis en aan noodsaaklike bedieningswerk deel te neem nie (1 Tessalonisense 3:1-3). Jy moet dus daarna streef om ’n voorbeeld te wees, of jou pa nou ’n aangestelde ouer man is of nie.

Opstandigheid nie ’n goeie keuse nie

Party jongmense probeer nogtans om uit hulle ouers se skaduwee te kom deur opstandig te wees. Ivan sê: “Daar was tye wanneer dit my geïrriteer het dat ek ’n voorbeeld moes wees. Ek het opstandig geraak deur te kyk hoe lank ek my hare kon laat groei voordat iemand iets sou sê.”

Absalom, een van koning Dawid se seuns, het ’n opstandige weg gevolg. Sy pa was bekend vir sy toegewydheid aan Jehovah en baie mense in die nasie Israel was lief vir hom. Daar is ook baie van Absalom verwag as Dawid se seun. Maar in plaas daarvan dat hy aan die redelike verwagtinge voldoen het, het Absalom gekies om ’n naam vir homself te maak deur teen sy vader in opstand te kom. Aangesien Dawid Jehovah se gesalfde verteenwoordiger was, het Absalom in werklikheid teen Jehovah in opstand gekom. Sy dade het sy familie in die skande gesteek en onheil oor homself gebring.—2 Samuel 15:1-15; 16:20-22; 18:9-15.

Opstandigheid kan soortgelyke tragiese gevolge vir jou inhou. Dink oor wat die Bybel ons van Nehemia vertel. Sommige van sy vyande het hom op ’n skelm manier probeer kry om goddeloos op te tree. Waarom? “Sodat hulle my reputasie kon vernietig en my kon verneder”, het Nehemia gesê (Nehemia 6:13, Today’s English Version). As jy opstandig is, kan dit jou ’n slegte naam gee—een wat mense dalk nie maklik sal vergeet nie.

Wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is die uitwerking wat opstandige gedrag op ander kan hê. Jy sal beslis vir jou ouers onnodige hartseer veroorsaak (Spreuke 10:1). En jou dade kan ook ’n slegte uitwerking op ander jongmense hê. Ivan erken: “My gedrag het ’n slegte uitwerking op my broer gehad. Hy het ’n ruk lank die Christengemeente verlaat en al die dinge nagejaag wat hy geweet het teenstrydig met Bybelbeginsels is. Ons is so bly dat hy tot besinning gekom het, Jehovah nou weer dien en gelukkig is.”

’n Beter weg

Absalom se halfbroer Salomo het ’n ander weg ingeslaan. Hy was nederig en was bereid om by sy vader, Dawid, te leer (1 Konings 2:1-4). Salomo het daarna gestreef om ’n goeie naam by God te maak eerder as om homself te bevorder. Solank hy dit gedoen het, het hy sy familie geëer en ’n goeie reputasie opgebou as een van Israel se grootste konings.—1 Konings 3:4-14.

Salomo se goeie voorbeeld beklemtoon twee belangrike feite: Eerstens, jy bevestig jou eie identiteit, nie deur jou van jou familie te distansieer nie, maar deur uit jou familie se sterk punte te leer. Die tydskrif Adolescence sê: “Adolessensie moet beslis nie ’n tyd wees waarin jongmense hulle van hulle ouers distansieer om ’n sterk identiteitsin op te bou nie.” Jou vermoë om jou eie identiteit op te bou, “word nie deur die ondersteuning van jou ouers belemmer nie”, sê die tydskrif verder, “maar [dit] word eerder [daardeur] gevoed”.

Dit is interessant dat Salomo self gemaan het: “Luister na jou vader wat jou geboorte veroorsaak het, en moenie jou moeder verag bloot omdat sy oud geword het nie” (Spreuke 23:22). Salomo het blykbaar nie vir jong kinders geskryf nie, want teen die tyd dat ouers “oud geword” het, is die kind waarskynlik al ’n volwassene. Wat toon dit? Selfs wanneer jy ouer is en jou eie gesin het, kan jy nog by jou ouers se wysheid baat vind. Ivan het dit self besef. Hy sê: “Namate ek ouer word, probeer ek om my ouers se sterk punte na te volg terwyl ek probeer om hulle foute te vermy.”

’n Tweede punt om in ag te neem, is dat dit Salomo se prioriteit was om Jehovah te behaag en nie om sy “identiteit” te bevestig nie. Daar is weliswaar baie van hom verwag as Dawid se seun. Maar Salomo se vertroue op Jehovah het hom in staat gestel om sy verantwoordelikhede na te kom. Alexander het ’n soortgelyke beskouing aangeneem. Hy sê: “Ek aanvaar nou die feit dat daar oor die algemeen meer van ouer manne se kinders verwag word. Ek het besluit om dit op ’n positiewe wyse te gebruik, en dit het as ’n beskerming vir my gedien. Ek het besef dat Jehovah se beskouing van my die belangrikste is. Hy weet wie ék is en nie net wie se kind ek is nie.”

Daryn, wie se pa aan die Wagtoring-Bybelskool Gileadb—’n skool wat sendelinge oplei—gegradueer het, het ook geleer hoe om die feit dat hy bekende ouers het, te hanteer. Hy sê: “Toe ek gedoop is, het ek my aan Jehovah toegewy en aan niemand anders nie. Deur my toewyding na die beste van my vermoë na te leef, het ek innerlike vrede wat spruit uit die wete dat ek Jehovah behaag, selfs al kan ek nie alles bereik wat my ouers bereik het nie.”

Koning Salomo het hierdie opmerking gemaak: “Deur sy handelinge laat ’n seun hom tog ken, of sy optrede suiwer en reg is” (Spreuke 20:11). Op die ou end sal mense jou onthou vir wat jý gesê en gedoen het. Wees ’n voorbeeld “in woord, in gedrag, in liefde, in geloof [en] in kuisheid”. As jy dit doen, sal mense jou liefhê en respekteer vir wie jý is!—1 Timoteus 4:12.

Maar vir ander jongmense is dit ’n uitdaging om uit die skaduwee te kom van ’n broer of suster wat goed presteer. ’n Toekomstige artikel sal bespreek hoe jy hierdie uitdaging te bowe kan kom.

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b Gileadskool word deur Jehovah se Getuies georganiseer en bestuur.

[Lokteks op bladsy 26]

Opstandigheid sal net jou ouers hartseer maak en jou reputasie skend

[Prent op bladsy 26]

Jou goeie voorbeeld kan ander tot voordeel strek

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel