Die uitsonderlike yoeroemi
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ARGENTINIË
IN DIE donkerte van hulle ondergrondse skuilplek skarrel ’n gemeenskap chaoties rond omdat hulle aangeval word. Soldate haas hulle na die gevaargebied gereed vir aksie, hoewel hulle heeltemal magteloos is teen die aanslag. Skielik stort ’n groot deel van die buitenste muur ineen, en baie inwoners word onder die puin begrawe. Deur die opening in hulle verdediging en in verblindende lig kom die invaller binne.
Is dit ’n beskrywing van ’n aanval op ’n stad in Romeinse tye? Of ’n toneel uit ’n aksierolprent? Glad nie! Dit is eerder ’n aanval deur die yoeroemi—soos dit deur ’n insek gesien sou word. Maar vir die yoeroemi, of die reusemiervreter, is dit net nog ’n miershoop op sy daaglikse roete.
Kom ontmoet ’n yoeroemi
Hoewel daar verskeie soorte miervreters is, gaan ons spesifiek die reusemiervreter bespreek. In party tale word hy ’n “mierbeer” genoem, moontlik weens sy ongemaklike manier van loop en omdat hy dikwels regop staan wanneer hy hom moet verdedig. En net soos ’n beer “omhels” hy ook ’n vyand met sy voorpote.
In die noordoostelike deel van Argentinië en in aangrensende lande word die reusemiervreter na aanleiding van sy Guarani-naam yoeroemi genoem, wat “klein mond” beteken. Dit is ’n gepaste naam, aangesien sy mondopening baie klein is, al is sy kakebeen so lank soos sy kop. Die yoeroemi se verlengde buisvormige mond is een van die eerste dinge wat ’n mens raaksien. Hy het ook ’n lang, harige stert, wat hy soms regop hou. Sy dik pels word lank en pluimvormig waar sy stert begin, wat hom baie groter laat lyk as wat hy werklik is. Ondanks sy opvallende voorkoms is die yoeroemi net omtrent so groot soos ’n Duitse herdershond. ’n Volgroeide yoeroemi kan tot 25 kilogram weeg. Maar hy kan van sy mond tot by die punt van sy stert 1,8 meter of langer word.
Die yoeroemi is ’n alleenloper en ’n swerwer wat meestal in die moerasagtige savannes van Suid-Amerika voorkom. Wanneer jy aan hierdie vasteland dink, sien jy dalk digte reënwoude en welige plantegroei. Maar dit het ook uitgestrekte, dorre grasvlaktes, besaai met palmbome en doringbosse. Die grond in sulke gebiede is ryk aan verrotte plantmateriaal en is ideaal vir termiete. Hier bou die insekte hulle toringhoë wonings van grond en speeksel—’n mengsel wat dit baie sterk maak. Hierdie monolitiese strukture kan tot oor die 1,8 meter hoog wees.
In hierdie gebied met al sy insekte vind ons die yoeroemi—wat ’n insekvreter van formaat is. Sy wetenskaplike naam Myrmecophaga tridactyla vestig dus eerstens die aandag op sy eetgewoontes (miervreter) en tweedens op die feit dat drie van sy vier tone aan elke voorpoot gevaarlike kloue het. Die Enciclopedia Salvat de la fauna sê: “Hy gebruik sy kloue om kos te kry sowel as om hom te verdedig: Wanneer die miervreter aangeval word, gebruik hy dit soos vlymskerp dolke terwyl hy so behendig op sy agterpote staan dat hy sy aanvaller ernstig kan beseer en selfs jaguars op die vlug kan laat slaan.”
Hoe eet die yoeroemi?
Die yoeroemi het nie tande nie. Dit is egter nie vir hom ’n probleem nie, want hy het ’n uitsonderlike manier om sy kos te kry. Eerstens het hy ’n skerp reuksin—40 keer sensitiewer as ’n mens s’n—waarmee hy kos opspoor. Die yoeroemi gebruik dan sy voorpote, met kloue wat tot tien sentimeter lank is, om miershope oop te breek op soek na insekte, larwes of eiers. Daarna steek hy sy dun 45 sentimeter lange tong in die insekte se versteekte gange.
Die yoeroemi se buitengewone groot speekselkliere skei ’n klewerige speeksel af om sy tong klam en klewerig te hou. Miere of termiete sit aan sy tong vas en word so gevang. Maar dit is nie genoeg om hierdie insekte net in te sluk nie. Hy moet hulle ook verteer. Interessant genoeg, hy het sterk maagspiere wat die insekte fynmaal.
Wat hou die toekoms in vir die yoeroemi?
Hoewel yoeroemi’s oor ’n groot gebied in Sentraal- en Suid-Amerika voorkom, was hulle nog nooit volop nie. Miskien het hulle nooit vinnig aangeteel nie. Yoeroemi-wyfies gee geboorte aan net een kleintjie ná ’n dratyd van ongeveer 190 dae. Die ma dra haar kleintjie gedurende sy eerste jaar op haar rug. ’n Argentynse natuurkenner beskryf ’n interessante aspek hiervan: “Ek het ’n ma en haar kleintjie, wat net ’n paar dae oud was, gesien. Dit was maklik om die klein diertjie op sy ma se rug mis te kyk, en ek het dit interessant gevind dat hy so op sy ma se rug gelê het dat die swart streep op sy rug in lyn was met sy ma s’n, wat hom heeltemal gekamoefleer het. Roofvoëls kon hom dus nie maklik raaksien nie.”
Die yoeroemi het ’n belangrike uitwerking op die ekologie van sy habitat. Een yoeroemi verorber elke dag tienduisende miere of termiete. Sal hierdie insekte sonder die yoeroemi se voortdurende druk op die insekbevolking dalk so toeneem dat hulle ’n plaag word? Hoe dit ook al sy, hierdie natuurlike balans is aan die verander. Waarom?
Ongelukkig is die yoeroemi weens die mens se toedoen geleidelik besig om te verdwyn. Party jag hulle as ’n sport; ander maak hulle dood omdat hulle die yoeroemi as ’n slegte voorbode beskou. Nog ander vang en verkoop hulle dan aan versamelaars van seldsame diere, en hierdie miervreters beland in hokke of in museums—opgestop. Sal die yoeroemi saam met ander bedreigde diere uitgewis word? Net die tyd sal leer. Pogings word aangewend om hierdie juweel van biologiese diversiteit te beskerm.
[Prent op bladsy 15]
Op soek na termiete, waarvoor hy ’n voorliefde het
[Prent op bladsy 15]
’n “Yoeroemi”-kleintjie op sy ma se rug
[Prent op bladsy 14, 15]
Die “yoeroemi” se indrukwekkende 45 sentimeter lange tong
[Erkenning]
Kenneth W. Fink/Bruce Coleman Inc.