Jongmense vra . . .
Portuurdruk—Is dit regtig so sterk?
“Ek dink nie ek word deur portuurdruk geraak nie.”—Pamela, ’n hoërskoolleerling.
“Ek dink nie portuurdruk het meer so ’n groot uitwerking op my nie. Die meeste van die druk wat ek ervaar, plaas ek op myself.”—Robbie, ’n jong volwassene.
HET jy al ooit so gevoel? Jy weet dalk wat die Bybel sê: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Nogtans wonder jy dalk: ‘Word daar nie te veel van portuurdruk gemaak nie—miskien is dit nie heeltemal so sterk soos my ouers en ander ouer mense sê dit is nie?’
As sulke vrae van tyd tot tyd by jou opkom, is jy nie die eerste jongmens wat daaroor wonder nie. Maar ons nooi jou om ’n moontlikheid te oorweeg. Het portuurdruk dalk ’n groter invloed op jou as wat jy dink? Baie jongmense was verbaas oor hoe sterk portuurdruk kan wees. Angie erken byvoorbeeld dat sy meer doen om in te pas as wat sy graag wil. Sy sê: “Soms is sosiale druk so sterk dat jy nie eers weet dat dit portuurdruk is nie. Jy begin glo dat dit druk is wat jy op jouself plaas.”
Robbie, wat hierbo aangehaal is, sê ook dat die druk wat hy ervaar, merendeels van homself kom. Nogtans erken hy dat dit moeilik is om naby ’n groot stad te woon. Waarom? Weens die portuurdruk wat in ’n materialistiese omgewing op ’n mens uitgeoefen word. Hy sê: “Alles gaan hier net om geld.” Dit is duidelik dat portuurdruk ’n invloed is waarmee rekening gehou moet word. Waarom dink soveel jongmense dan dat portuurdruk nie ’n uitwerking op hulle het nie?
Sterker as wat jy dink
Portuurdruk kan misleidend wees—trouens, ons merk dit dalk glad nie eers op nie. Ter toeligting: As ons by seevlak is, oefen die atmosfeer ’n konstante druk van ongeveer een kilogram per vierkante sentimeter op ons uit.a Daardie druk word dalk elke dag op jou uitgeoefen, maar jy is skaars bewus daarvan. Waarom? Jy is gewoond daaraan.
Lugdruk is weliswaar nie noodwendig skadelik nie. Maar wanneer mense subtiele druk op ons uitoefen, kan dit ons mettertyd laat verander. Die apostel Paulus het besef hoe sterk portuurdruk kan wees. Hy het Christene in Rome gewaarsku: “Moenie toelaat dat die wêreld rondom julle julle in sy vorm druk nie” (Romeine 12:2, The New Testament in Modern English). Maar hoe kan dit gebeur?
Hoe portuurdruk werk
Wil jy graag hê dat mense jou moet aanvaar en van jou moet hou? Die meeste van ons sal ja antwoord op hierdie vraag. Maar ons natuurlike begeerte om aanvaar te word, kan ’n tweesnydende swaard wees. Hoe ver sal ons gaan om aanvaar te word? Selfs al voel ons seker dat ons nie daardeur geraak word nie, wat van diegene om ons? Probeer hulle hoegenaamd om portuurdruk te weerstaan, of laat hulle toe dat hulle daardeur gevorm word?
Baie beskou byvoorbeeld vandag die Bybel se standaarde van sedelikheid as outyds of onrealisties in ons moderne wêreld. Baie meen dat dit nie so belangrik is om God te aanbid op die manier wat hy in sy Woord uiteensit nie (Johannes 4:24). Waarom voel hulle so? Portuurdruk is dalk deels daarvoor verantwoordelik. In Efesiërs 2:2 verwys Paulus na ’n “gees”, of oorheersende gesindheid, van die stelsel van dinge van die wêreld. Daardie gees oefen druk op mense uit om hulle denke aan te pas by ’n wêreld wat van Jehovah vervreemd is. Hoe kan ons daardeur geraak word?
In ons daaglikse bedrywighede, soos om skool toe te gaan, te studeer, gesinsverpligtinge na te kom en te werk, moet ons gewoonlik met mense omgaan wat nie ons Christelike waardes deel nie. By die skool is daar byvoorbeeld baie wat amper enigiets sal doen om gewild te wees, wat onsedelike geslagsomgang het of wat selfs dwelms en alkohol misbruik. Wat sal gebeur as ons goeie vriende maak met mense wat sulke dinge doen of dit as normaal, selfs prysenswaardig, beskou? Ons sal waarskynlik soortgelyke gesindhede begin aanneem, al gebeur dit miskien stadig aan die begin. Die wêreld se “gees” of “lug” sal druk op ons uitoefen en ons as ’t ware in sy vorm druk.
Dit is interessant dat hedendaagse sosioloë eksperimente gedoen het wat hierdie Bybelbeginsels staaf. Kyk byvoorbeeld na die insiggewende Asch-eksperiment. Iemand word gevra om by ’n groep mense te gaan sit. Dr. Asch wys vir die groep ’n groot kaart met ’n vertikale lyn, dan wys hy vir hulle nog ’n kaart met drie vertikale lyne waarvan die lengtes ooglopend van mekaar verskil. Daarna vra hy die persone in die groep om te sê watter van die drie lyne net so lank is soos die eerste een. Die antwoord is maklik. Die eerste paar keer stem almal saam. Maar die derde keer verander iets.
Net soos vroeër is dit maklik om te sien watter lyne ewe lank is. Maar die persoon wat getoets word, weet nie dat die lede van die groep betaal word om aan die eksperiment deel te neem nie. Hulle almal gee dieselfde verkeerde antwoord. Wat gebeur? Slegs 25 persent van die persone wat getoets word, bly by wat hulle weet reg is. Al die ander stem ten minste een keer met die groep saam—selfs al verskil dit van wat hulle met hulle eie oë sien!
Dit is duidelik dat mense wil inpas by diegene om hulle—in so ’n mate dat die meeste selfs sal ontken wat hulle weet waar is. Baie jongmense het hierdie druk al ondervind. Daniel, ’n 16-jarige, erken: “Portuurdruk kan jou laat verander. En hoe meer mense daar is, hoe groter word die druk. Jy begin dalk selfs dink dat wat hulle doen reg is.”
Angie, wat vroeër aangehaal is, noem ’n tipiese voorbeeld van sulke druk by die skool: “Op junior hoërskool was die klere wat jy gedra het, baie belangrik. Jy moes ontwerpersklere dra. Jy wou nie regtig R500 vir ’n hemp betaal nie—waarom sou enigiemand dit wou doen?” Soos Angie sê, kan dit moeilik wees om portuurdruk te identifiseer terwyl jy daardeur geraak word. Maar kan portuurdruk ’n uitwerking op ons hê wanneer dit by ernstiger sake kom?
Waarom portuurdruk gevaarlik kan wees
Stel jou voor dat jy in die see swem. Terwyl jy saam met die golwe swem, is ander sterk kragte ongesiens aan die werk. Die golwe stoot jou strand toe, maar daar is dalk ook ’n onderstroom. Jy beweeg stadig sywaarts. Wanneer jy weer na die strand kyk, kan jy nie meer jou gesin of vriende sien nie. Jy het nooit opgemerk hoe ver sywaarts die stroom jou gestoot het nie! Net so word daar elke dag ook voortdurend druk op ons gedagtes en gevoelens uitgeoefen. Voor ons ons kom kry, kan hierdie invloede ons heeltemal verwyder van die standaarde waarby ons gedink het ons altyd sou bly.
Die apostel Petrus was byvoorbeeld ’n moedige man. Die aand toe ’n vyandige skare Jesus in hegtenis kom neem het, het hy nie geskroom om sy swaard te gebruik nie (Markus 14:43-47; Johannes 18:10). Maar jare later het hy voor portuurdruk geswig en openlik partydigheid getoon. Hy het nie-Joodse Christene vermy—selfs al het hy vroeër ’n visioen van Christus ontvang om nie-Jode nie as onrein te beskou nie (Handelinge 10:10-15, 28, 29). Petrus het dit moontlik makliker gevind om sy lewe in gevaar te stel as om deur ander mense verag te word! (Galasiërs 2:11, 12). Portuurdruk kan inderdaad gevaarlik wees.
Noodsaaklik om te erken hoe sterk portuurdruk is
Petrus se voorbeeld kan ons ’n noodsaaklike les leer. Die feit dat ’n mens in sekere opsigte sterk is, beteken nie dat jy in alle opsigte sterk is nie. Petrus het, soos almal van ons, swak punte gehad. Dit maak nie saak wie ons is nie, ons moet bewus word van ons swakhede. Ons kan ons eerlik afvra: ‘Waar is ek kwesbaar? Wil ek graag ryk wees? Dink ek te veel van myself? Hoe ver is ek bereid om te gaan om lof, status en gewildheid te verwerf?’
Miskien sal ons ons nooit opsetlik in gevaar stel deur te assosieer met onsedelike dwelmgebruikers of met mense wat seksueel promisku is nie. Maar wat van swakhede wat ’n subtieler invloed op ons het? As ons goeie vriende is met mense wat ons swakhede in ons uitbring, stel ons ons in gevaar om deur portuurdruk beïnvloed te word—miskien tot ons blywende nadeel.
Maar die goeie nuus is dat nie alle portuurdruk sleg is nie. Kan ons portuurdruk onder beheer hou—selfs tot ons voordeel aanwend? En hoe kan ons negatiewe portuurdruk weerstaan? Hierdie vrae sal in ’n toekomstige “Jongmense vra . . . ”-artikel bespreek word.
[Voetnoot]
a ’n Eenvoudige eksperiment illustreer die uitwerking van lugdruk. Gestel jy neem ’n leë plastiekbottel na die top van ’n berg, vul dit met lug en draai dit styf toe; wat sal met die bottel gebeur terwyl jy ondertoe loop? Die lugdruk sal dit laat induik. Die lugdruk buite die bottel is baie groter as dié van die dunner lug binne-in die bottel.
[Prent op bladsy 12, 13]
’n Materialistiese omgewing kan sterk portuurdruk meebring