Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 11/8 bl. 26-27
  • God se uitoefening van mag—Is dit geregverdig?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God se uitoefening van mag—Is dit geregverdig?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die misbruik van mag
  • “Al sy weë is geregtigheid”
  • God het die gesag
  • God se oordele—Was dit wreed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Is God ’n onpersoonlike krag?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Waarom het God oorlog gevoer teen die Kanaäniete?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Wat is God se heilige gees?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 11/8 bl. 26-27

Die Bybel se beskouing

God se uitoefening van mag—Is dit geregverdig?

DIE dodelike uitoefening van mag was nog altyd ’n deel van die mensegeskiedenis. Volgens een skatting is 170 000 000 mense in die 20ste eeu vermoedelik deur hulle eie politieke regimes vermoor. Soos die Bybel baie duidelik toon, het die mens nog altyd oor ander geheers tot hulle ongeluk.—Prediker 8:9.

Met die oog op die mens se misbruik van gewelddadige mag bevraagteken party dalk God se uitoefening van mag om sy vyande te vernietig. Het die Jode nie, op die direkte bevel van God, die Kanaänitiese inwoners van die Beloofde Land aangeval en doodgemaak nie? (Deuteronomium 20:16, 17). En sê God dan nie self dat hy alle vyandige heerskappye sal verbrysel en ’n einde daaraan gaan maak nie? (Daniël 2:44). Party opregte mense het al gewonder of God se uitoefening van mag altyd geregverdig is.

Die misbruik van mag

Dit is noodsaaklik om te verstaan dat die uitoefening van mag ’n belangrike aspek van ’n regering is. ’n Regering wat nie sy wette kan afdwing nie, is in werklikheid magteloos. Hoeveel mense sal byvoorbeeld ondanks berigte oor misbruike deur die polisie bereid wees om afstand te doen van die beskerming wat deur ’n polisiemag voorsien word? En watter persoon met gesonde verstand sal redeneer dat ’n doeltreffende regstelsel onnodig is.

Mohandas Gandhi, wat bekend is vir sy afsku van geweld, het eenkeer gesê: “Veronderstel daar is ’n man wat soos ’n rasende te kere gaan en met ’n swaard in die hand rondgaan en almal doodmaak wat in sy pad kom, en niemand waag dit om hom lewend gevange te neem nie. Enigiemand wat hierdie waansinnige doodmaak, sal die dankbaarheid van die gemeenskap verdien en sal as ’n weldoener beskou word.” Ja, selfs Gandhi het gesien dat die uitoefening van mag onder sekere omstandighede nodig is.

Die uitoefening van mag is klaarblyklik ’n noodsaaklike aspek van enige stabiele gemeenskap. Wanneer mense die uitoefening van mag veroordeel, kritiseer hulle in werklikheid die misbruik van mag.—Prediker 4:1-3.

“Al sy weë is geregtigheid”

Daar is geen aanduiding in die geskiedenis dat God ooit sy mag misbruik het nie. Hy regeer nie deur sy mag op ’n arbitrêre wyse uit te oefen nie. Hy wil hê dat ons hom uit liefde moet aanbid (1 Johannes 4:18, 19). Trouens, God oefen nie sy mag uit as daar ’n regverdige manier is om dit te vermy nie (Jeremia 18:7, 8; 26:3, 13; Esegiël 18:32; 33:11). Wanneer hy besluit om sy mag uit te oefen, waarsku hy mense altyd lank voor die tyd sodat enigiemand wat regstellende stappe wil neem, dit kan doen (Amos 3:7; Matteus 24:14). Is dit die dade van ’n outokratiese, wrede God?

God se uitoefening van mag toon geen ooreenkoms met die onverskoonbare misbruik van mag deur mense nie. “Al sy weë is geregtigheid”, sê Moses aangaande Jehovah, “’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie” (Deuteronomium 32:4, NW). In teenstelling met die heerskappy van menslike onderdrukkers berus God se heerskappy nie op die feit dat hy die sterkste is nie. Nog elke keer wanneer hy sy mag uitgeoefen het, was dit in ooreenstemming met sy volmaakte liefde, wysheid en geregtigheid.—Psalm 111:2, 3, 7; Matteus 23:37.

Toe God byvoorbeeld die goddelose mense in die Vloed vernietig het, was dit nadat hulle baie jare lank gewaarsku is. Enigiemand kon van die voorsiening van die ark gebruik maak en bly lewe. Net agt mense het dit gedoen (1 Petrus 3:19, 20; 2 Petrus 2:5). In Josua se dag het Israel God se oordeel aan die verdorwe Kanaäniete voltrek, ’n oordeel wat meer as 400 jaar tevore uitgespreek is! (Genesis 15:13-21). Gedurende al daardie tyd was die Kanaäniete beslis nie onbewus van die kragtige bewyse dat die Israeliete God se uitverkore volk was nie (Josua 2:9-21; 9:24-27). Maar buiten die Gibeoniete het nie een van die Kanaänitiese nasies ’n goeie verhouding met hulle probeer aanknoop of van die geleentheid gebruik gemaak om vrede te maak nie. Die Kanaäniete het eerder hulle hart teenoor God verhard.—Josua 11:19, 20.

God het die gesag

Wanneer ons God se uitoefening van mag probeer verstaan, moet ons by ’n fundamentele waarheid omtrent ons posisie voor God begin. “Ons is die klei, en u is ons Pottebakker”, het die profeet Jesaja nederig erken (Jesaja 64:8, NW). As die Skepper van die heelal kan God natuurlik sy mag na willekeur uitoefen. Ter erkenning van God se gesag kan ons soos Salomo sê: “Die woord van die koning is magtig, en wie kan vir hom sê: Wat doen u?”—Prediker 8:4; Romeine 9:20, 21.

Weens God se posisie as die almagtige Skepper het hy die reg om aardse lewe te gee en om dit weg te neem. Mense het in werklikheid nie die perspektief en die nodige kennis om God se uitoefening van mag met goeie rede te bevraagteken nie. Die mens moet leer om sy denke by God s’n aan te pas. Jehovah het gevra: “Is júlle weë nie onreg nie?”—Esegiël 18:29; Jesaja 45:9.

Jehovah se sin vir geregtigheid en sy liefde vir sy volk sal hom beweeg om die aarde te reinig van diegene wat mag misbruik en die regte van ander op gewelddadige wyse vertrap. Hierdie magsdaad sal ideale toestande op die aarde tot stand bring vir alle vredeliewende mense wat dit wil hê (Psalm 37:10, 11; Nahum 1:9). God se regering sal dus vir ewig geregverdig wees.—Openbaring 22:12-15.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel