Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 4/22 bl. 16-19
  • Die berg Sinai—’n juweel in die woestyn

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die berg Sinai—’n juweel in die woestyn
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons verken die berg
  • Ons klim nabygeleë Ras Safsafa
  • Binne-in die klooster
  • ’n Somber afskeid
  • Die Codex Sinaiticus word gered
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Sinai—berg van Moses en genade
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Herwinning van ’n Bybelse skat
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Patmos—die eiland van die Apokalips
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 4/22 bl. 16-19

Die berg Sinai—’n juweel in die woestyn

EK SAL nooit vergeet hoe opgewonde ek was toe ek die tradisionele berg Sinai die eerste keer gesien het nie. Terwyl ons deur die warm, stowwerige terrein van die Sinai-skiereiland in Egipte gery het, het ons taxi skielik by die uitgestrekte, oop vlakte er-Raha aangekom. Die ontsagwekkende rotswand van die berg Sinai het skerp uit die vlakte verrys. Dit het soos ’n juweel gelyk wat in die woestyn geset is. Dit is ongelooflik om te dink dat dit moontlik die einste berg is waar Moses die Wet van God ontvang het!

Hoewel daar nog oor die presiese ligging van die Bybelse berg Sinai gedebatteer word, kom pelgrims al baie eeue hierheen omdat hulle glo dat dít die beroemde berg is. Reeds in die derde eeu G.J. het askete hier aangekom met die doel om hulle af te sonder en hulle in godsdienstige denke te verdiep. In die sesde eeu het die Bisantynse keiser Justinianus I beveel dat ’n kloostervesting hier gebou word om hierdie askete te beskerm, asook om die teenwoordigheid van die Romeine in die gebied te verseker. Daardie klooster, wat naby aan die voet van die tradisionele berg Sinai geleë is, staan nou as St. Katherina bekend. Kom gerus saam met my op my reis na die berg Sinai.

Ons verken die berg

Ná ons deur die dorre vallei gereis het, laai ons Bedoeïene-taxibestuurder my en my metgesel net onderkant die klooster af. Die toneel word oorheers deur kaal rotswande, en die bome langs die kloostermuur sowel as die groen tuin is ’n lus vir die oë. Maar ons stap aan, aangesien ons heel eerste die suidelike spits wil klim en die nag daar wil kamp. Hierdie spits, Gebel Musa, wat “Berg van Moses” beteken, word tradisioneel as die berg Sinai geïdentifiseer.

Nadat ons twee uur geklim het, kom ons by die so genoemde Elia-bekken, ’n klein vallei wat die drie kilometer lange rif van die berg Sinai in twee verdeel. Volgens oorlewering was dit in ’n grot in hierdie omgewing wat Elia die stem van God gehoor het (1 Konings 19:8-13). Ons rus ’n bietjie onder ’n sipresboom wat 500 jaar oud is. Daar is ook ’n baie ou put hier. Hoe lekker is die helder, koel water tog wat ’n vriendelike Bedoeïen ons gee om te drink!

Ons volg die normale toeristeroete, en ons sukkel nog 20 minute voort teen die 750 kliptrappe uit tot op die spits. Daar kom ons op ’n klein kerkie af. Die monnike beweer dat dit op presies dieselfde plek gebou is as waar Moses die Wet ontvang het. Reg langs die kerk is ’n rotsskeur waarin hulle beweer Moses hom verberg het terwyl God verbygegaan het (Exodus 33:21-23). Maar die waarheid is dat niemand weet waar hierdie plekke presies was nie. Wat ook al die geval is, die uitsig van bo af is skouspelagtig! Ons kyk uit oor ’n rotsbesaaide vlakte onder ons met rye en rye rooi granietberge op die agtergrond. Aan die suidwestelike kant verrys Gebel Katherina, of berg Katherina—met ’n hoogte van 2 637 meter is dit die hoogste spits in die gebied.

Ons klim nabygeleë Ras Safsafa

Nog ’n dag bied ons die geleentheid om Ras Safsafa te klim, die spits op dieselfde drie kilometer lange rif as Gebel Musa. Ras Safsafa is die noordelike spits, en dit is effens laer as Gebel Musa. Ras Safsafa verrys skerp uit die vlakte van er-Raha, waar die Israeliete moontlik laer opgeslaan het toe Moses opgegaan het om die Wet van Jehovah te ontvang.

Terwyl ons deur ’n landskap van kleiner pieke en valleie na Ras Safsafa loop, gaan ons verby verlate kapelle, tuine en fonteine—oorblyfsels van ’n tyd toe meer as honderd monnike en kluisenaars hier in grotte en klipholtes gewoon het. Nou is daar net een monnik oor.

Ons loop hierdie eensame monnik in ’n tuin raak wat deur ’n hoë doringdraadheining omring word. Hy laat ons in en verduidelik dat hy al vyf jaar in hierdie tuin werk en net een keer per week na die klooster afgaan. Die monnik beduie vir ons die pad na Ras Safsafa, en ons volg die kronkelpaadjie na bo totdat ons uiteindelik hoog bo die omliggende pieke staan. Ons kan die uitgestrekte vlakte van er-Raha onder ons sien. Veral van hierdie uitkykpunt af kan ek my voorstel dat dit die plek is waar Moses van die Israelitiese laer af teen die berg uitgeklim het om in die teenwoordigheid van God te staan. Ek sien in my verbeelding driemiljoen Israeliete wat op hierdie uitgestrekte vlakte “teenoor die berg” vergader is. Ek stel my voor hoe Moses in ’n aangrensende kloof afklim en in sy arms die twee tafels dra waarop die Tien Gebooie geskryf is.—Exodus 19:2; 20:18; 32:15.

Terwyl ons na ons tent terugloop en die son ondergaan, voel ons tevrede dat ons veeleisende klimtog die moeite werd was. In die lig van ’n klein vuurtjie lees ons die dele van Exodus wat Moses se ondervindinge hier beskryf, en daarna gaan slaap ons. Laat die volgende oggend klop ons aan die deur van die St. Katherina-klooster.

Binne-in die klooster

St. Katherina word beskou as een van die belangrikste monumente in die Christendom. Grieks-Ortodokse monnike dien daar, en dit is nie alleen beroemd vir sy ligging nie, maar ook vir sy ikone en sy biblioteek. Tydens die grootste deel van St. Katherina se geskiedenis was dit so afgesonder dat die aankoms van besoekers ’n seldsame en welkome gebeurtenis was. Die monnike het hulle gaste omhels, hulle hartlik gesoen en selfs hulle voete gewas. Die gaste kon vryelik rondloop in die talle geboue agter die klooster se 14 meter hoë mure. ‘Bly ’n week, ’n maand, so lank julle wil’ was die monnike se vriendelike uitnodiging. Maar deesdae vind die 12 oorblywende monnike dit moeilik om aan almal gasvryheid te betoon. Nou kom tot 50 000 besoekers elke jaar om die klooster te sien.

As gevolg van hierdie massas mense word besoektyd tot drie uur per dag, vyf dae per week beperk. Toeriste kan net ’n klein deel van die klooster besoek—’n binneplaas met die Put van Moses (waar Moses volgens oorlewering sy vrou ontmoet het), die Kerk van die Verheerliking (na bewering die wêreld se oudste werkende kerk) en ’n boekwinkel. Toeriste word ook die Kapel van die Brandende Bos gewys—die einste plek, sê die monnike vir toeriste, waar Moses God se teenwoordigheid die eerste keer gesien het. Aangesien die monnike hierdie plek as die heiligste plek op die aarde beskou, word besoekers hier gevra om hulle skoene uit te trek, soos God Moses beveel het om te doen.—Exodus 3:5.

Ons is teleurgesteld omdat ons nie toegelaat word om die klooster se bekende biblioteek te sien nie, die hoofrede waarom ons hier is. Toe ons vra of ’n uitsondering gemaak kan word, roep die gids uit: “Onmoontlik! Die klooster sluit binne ’n paar minute.” Oomblikke later, toe ons weg van die toergroep af is, fluister die gids egter vir ons: “Kom hiernatoe!” Ons gaan onderdeur toue, met trappe op en verby ’n Franse monnik wat verbaas lyk om ons daar te sien, en dan bevind ons ons in een van die wêreld se oudste en beroemdste biblioteke! Dit bevat meer as 4 500 werke in Grieks, Arabies, Siries en Egipties. Vroeër was die kosbare Codex Sinaiticus ook hier bewaar.—Sien venster op bladsy 18.

’n Somber afskeid

Ons toer eindig buite die kloostermure met ’n besoek aan die dodehuis. Daar is die beendere van geslagte van monnike en kluisenaars hoog opmekaargestapel, verdeel in hope vir bene, arms, skedels, ensovoorts. Die skedels is amper tot teenaan die dak gestapel. Is so ’n grusame plek werklik nodig? Die monnike het net ’n klein begraafplaas. Wanneer iemand dus sterf, is dit hulle gebruik om die beendere uit die oudste graf te verwyder om ’n graf beskikbaar te maak. Elke monnik verwag dat sy beendere eendag by die van sy geloofsgenote in die dodehuis gevoeg sal word.

Ons besoek eindig dus op ’n ietwat somber noot. Maar dit was beslis alles die moeite werd. Ons het dit geniet om die ontsagwekkende uitsigte en die beroemde klooster te sien. Maar terwyl ons vertrek, word ons die diepste getref deur die gedagte dat ons moontlik op dieselfde paadjies geloop het as dié waarop Moses en die nasie Israel meer as 3 500 jaar gelede geloop het hier op die berg Sinai—’n juweel in die woestyn.—Bygedra.

[Venster op bladsy 18]

’n Belangrike ontdekking

Gedurende die vorige eeu het die Duitse Bybelgeleerde Konstantin von Tischendorf ’n vierde-eeuse Griekse Bybelmanuskrip, wat nou die Codex Sinaiticus genoem word, in die St. Katherina-klooster ontdek. Dit bevat groot dele van die Hebreeuse Geskrifte, van die Griekse Septuagint-vertaling, asook die hele Griekse Geskrifte. Die manuskrip is een van die oudste volledige kopieë van die Griekse Geskrifte.

Tischendorf wou die inhoud publiseer van hierdie “weergalose juweel”, soos hy dit genoem het. Volgens Tischendorf het hy aan die monnike voorgestel dat die manuskrip aan die Russiese tsaar gegee moes word—wat, as beskermheer van die Grieks-Ortodokse Kerk, sy invloed tot voordeel van die klooster kon gebruik.

Op die kloostermuur word ’n vertaling uitgestal van ’n brief wat Tischendorf agtergelaat het, waarin hy beloof om ‘op hulle eerste versoek die manuskrip, onbeskadig en in ’n goeie toestand, na die Heilige Broederskap van die berg Sinai terug te bring’. Tischendorf het egter gemeen dat die monnike nie die belangrikheid van die manuskrip of die behoefte om dit te publiseer, besef het nie. Dit is nie na St. Katherina teruggebring nie. Hoewel die monnike uiteindelik 7 000 roebel van die Russiese regering vir die manuskrip aanvaar het, is hulle tot vandag toe baie agterdogtig teenoor geleerdes wat hulle skatte probeer onthul. Die Codex Sinaiticus het uiteindelik in die Britse Museum beland, waar dit vandag gesien kan word.

Dit is betekenisvol dat 47 kratte vol ikone en perkamente in 1975 onder St. Katherina se noordelike muur ontdek is. Hierdie ontdekking het meer as ’n dosyn ontbrekende bladsye van die Codex Sinaiticus ingesluit. Tot dusver kon net ’n baie klein groepie geleerdes toegang tot hierdie bladsye kry.

[Kaarte op bladsy 17]

Berg Sinai

[Erkennings]

NASA photo

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 16, 17]

Vlakte van er-Raha en Ras Safsafa

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Prente op bladsy 18]

Gebel Musa en St. Katherina-klooster

[Erkennings]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

Foto geneem met vergunning van die British Museum

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel