’n Besoek aan ’n eksotiese tuin
MY MA was baie lief vir rose. Sy het hulle gekweek. As kind het ek ure saam met haar in die tuin deurgebring en onkruid uitgetrek, die plante gesnoei en versorg. Sy het my geleer dat dit pret is om tuin te maak. Sy het saadjies van belangstelling in my gesaai wat my my hele lewe bygebly het.
My tuinmaakdae is kortgeknip toe ek die huis verlaat het om na die Universiteit van Kalifornië in Berkeley te gaan. Hoewel ek ingenieurswese gestudeer het, het ek die lieflike tuine op die kampus waardeer. Oorlog het in Viëtnam gewoed, en ’n groot verandering het in die onmiddellike toekoms vir my voorgelê.
Ek het besluit om by die vredeskorps aan te sluit, en ek is na die Universiteit van Washington gestuur vir opleiding. Die kampus daar was soos ’n paradys. Oral waar ek gekyk het, was daar mere, tuine, grasperke en sneeubedekte berge. Toe, in 1964, het ek na La Paz, Bolivia, vertrek aangesien ek aangestel is as ’n lektor by die Universiteit van San Andres. Wat ’n kontras! Ek het van seevlak tot 3 500 meter bo seevlak gegaan. Baie min plante het daar gegroei, en tuinmaak het net ’n herinnering geword.
Ná twee jaar in Bolivia het ek ’n onderwyspos in Hawaii, by die Wahiawa Sekondêre Skool, gekry. Ek het in ’n huisie by Sunset Point op die strand gebly en my hart op palms en ander tropiese plante verloor. Ek het gevoel of ek in ’n paradys was. Toe kry ek die idee om eendag in die toekoms ’n tuin met palms as die fokuspunt te skep.
Ek het teruggekeer na San Diego en toe die volgende 18 maande van Kalifornië af na Tierra del Fuego, Argentinië, geryloop. Gedurende hierdie tyd het ek die Bybel begin lees. Terwyl ek gereis het, het ek dikwels lang ure in oerwoude, tuine en parke deurgebring en nagedink oor wat ek in die Bybel gelees het. Uiteindelik het ek in 1972 teruggegaan San Diego toe en ’n lang en bevredigende loopbaan begin as wiskunde-onderwyser in Coronado, Kalifornië. My idee van ’n tuin vol tropiese plante in my eie agterplaas het begin vorm aanneem.
My eerste tuin
In Mei 1973 het ek ’n huisie naby die Stille Oseaan, in Ocean Beach, Kalifornië, gekoop. Daar was ek toe—bo-op ’n heuwel in my huisie, met ’n groot werf en ’n liefde vir tuinmaak. Alles was net reg vir wat sou volg, my unieke tuin.
Aanvanklik het ek nie baie doelgerig tuingemaak nie. Ek het na willekeur geëksperimenteer. As ek van ’n plant gehou het, het ek dit gekoop en geplant. Twaalf jaar lank het ek voortgegaan om enigiets te plant wat my aandag getrek het en waarvan ek gehou het. Ek het gesien hoe hulle groei—vrugtebome, dennebome, bladwisselende bome, immergroen bome, struike, bosse, blomme. Noem maar op, ek het dit geplant.
Baie van die plante was plante wat ek uit my kinderdae onthou het. Dit was rustig, prettig, terapeuties en bevredigend om die plante te versorg. Ek het oor die prag, ontwerp, ingewikkeldheid en doel van hierdie skeppingswerke gepeins.
Nie al die plante het my genot verskaf of by my planne ingepas nie; daarom het ek van baie ontslae geraak. Ek wou graag ’n spesiale effek met die voorkoms van my tuin bereik. Plante wat onnet gelyk en te welig gegroei het, was nie welkom nie. Hulle het te veel werk en versorging vereis! Ek wou boonop seldsame plante hê—nie die gewone soorte nie. Ek moes ’n tema kry. En toe gebeur dit!
My eerste palm
In 1974 het ek na die plaaslike kwekery toe gegaan en daar het ek gekry waarna ek gesoek het. Hy was pragtig, met sy sierlike kroon van geboë, blougroen, geveerde blare. Sy naam is Butia capitata en hy word deur baie as die mooiste palm in die wêreld beskou. Soms word hy die jelliepalm genoem weens die sade se soet vrugtegeur. Hy kom van Suid-Amerika, vereis nie baie werk nie en groei tot ’n hoogte van vyf meter. Uiteindelik het my tuin ’n fokuspunt, ’n tema, gehad—seldsame tropiese palms van regoor die wêreld! Ek het gekies om “die prinse van die planteryk” te kweek.
Kort voor lank het ek seldsame of eksotiese palms by verskillende kwekerye begin koop. Daar, reg voor my in die verste hoek van een kwekery was ’n ander sonderlinge palmboom—’n Mexikaanse blouwaaierpalm. Hy het stywe, blougroen, waaiervormige (handvormige) blare wat in ’n kroon van die punt van die stam af uitsprei. Die blomsaadare vorm pragtige liggeel boë. ’n Volwasse boom groei tot ’n hoogte van ongeveer 12 meter.
Teen dié tyd was ek heeltemal dol oor palms. Waar kon ek nog van hierdie seldsame plante kry? Ek het sonder veel sukses in die San Diego-omgewing begin rondvra. En toe kom ek op ’n goudmyn van inligting af—die Suid-Kaliforniese Tak van die Internasionale Palmvereniging. Hierdie vereniging het duisende lede in 81 lande. Hulle het ’n magdom inligting oor elke bekende palm—meer as 200 genera en sowat 3 000 soorte. Die Suid-Kaliforniese Tak gee The Palm Journal vir sy lede uit, wat ’n waardevolle bron van die jongste inligting is.
Hierdie kontak het my in staat gestel om meer as 150 verskillende soorte palms te koop en in my tuintjie te kweek. Ek sê tuintjie omdat dit net sowat 650 vierkante meter groot is. My palms verteenwoordig net ’n breukdeel van die soorte wat tot dusver ontdek is. Watter is my gunstelinge?
’n Paar van die mooistes in my tuin
Ek hou eintlik van al my plante, maar ’n paar is regtig opvallend. Party boei my veral omdat hulle so eksoties lyk of omdat hulle met dorings of stekels gepantser is; ander boei my weens hulle kleur of hulle grootte of selfs die uitdaging om hulle in die Mediterreense klimaat van suidelike Kalifornië te laat groei.
Een van my spesiale bome kom van Madagaskar, aan die ooskus van Afrika. Dit is die Bismarckia nobilis-palm. Waarom hou ek daarvan? Weens sy unieke persblou kleur, sy seldsaamheid en sy blaarstand. Elkeen van sy blare weeg ongeveer nege kilogram, wat hierdie palm een van die grootstes in die wêreld maak.
’n Ander gunsteling, die visstertpalm, kom van die bergagtige streke van noordelike Indië, Myanma en Sri Lanka. Myne groei goed hier in San Diego ten spyte van die betreklike koel winters. Trouens, ek hou van die uitdaging om palms hier te kweek. Dit is waarom ek so bly is om ’n boom uit Borneo in my tuin te hê—die Arenga undulatifolia. Hy het breë en kenmerkend golwende blare.
’n Onlangse toevoeging is die Burretiokentia hapala-palm van Nieu-Kaledonië, ’n Franse gebied in die Stille Suidsee. Tot dusver aard hy goed hier. Buiten hierdie bome kan ek nog ander opnoem wat vir my spesiaal is, soos die Pritchardia hildebrandii, of die loulu-palm van Hawaii, met sy geelgroen waaiervormige blare. Hy hou van die son en is beslis eksoties.
’n Intimiderende palm is die Trithrinax acanthacoma, oftewel die stekelrige veselpalm. Hy het naaldvormige stekels op sy stam, wat lyk of hy sê: “Bly weg!”
Ek het onlangs broodbome begin kweek. Alhoewel broodbome nie aan palms verwant is nie, lyk hulle soos palmbome, maar hulle is net baie kleiner. Een van my gunstelinge is die Encephalartos gratus, wat verbasende blare het wat lyk of dit in die lug in spring. Dit trek almal se aandag. Die saadpeule, of keëls, is buitengewoon groot en groei uit die kant van die plant. Hulle lyk soos ’n pynappel of a dennebol.
Trek my palmbome mense aan? Beslis! Mense kom gereeld hier aan om my plante te bewonder. Van die sypaadjie voor my huis af kan hulle ’n eksotiese tropiese tuin teen die hang van die heuwel sien. In Maart 1997 was my tuin een van drie wat deur die Suid-Kaliforniese Tak van die Internasionale Palmvereniging vir besoekers oopgestel is. Dit is beskryf as “’n onvergeetlike plek waar ’n mens kan leer van ’n uiteenlopende en sierlike versameling palms”. Hoe was hierdie tuin vir my en vir ander ’n seën?
My tuin gee ’n getuienis
Omdat ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, is ek in 1991 gedoop. Ek het uit die onderwys afgetree, maar ek bly heel besig as ’n Christen- ouer man en ’n pionierbedienaar. Ek hou daarvan om my tuin as ’n aanknopingspunt te gebruik om met mense oor die Skepper te praat wanneer ek die wonderlike ontwerp beskryf wat in my verskillende bome en plante te sien is. Soms roer ek ook die onderwerp aan deur te sê dat palmbome in die Bybel genoem word (Rigters 4:5; Psalm 92:13). Die tuin het my ongetwyfeld gehelp om nader aan God te kom en te verstaan dat dit sy wonderlike voorneme is dat die gehoorsame mensdom in ’n paradys moet lewe. Die oorspronklike Paradys van Eden was immers ’n pragtige tuin of park.—Genesis 2:8.
Volgens Bybelprofesieë sal daardie Paradystoestande herstel word wanneer Jehovah diegene verderf wat tans die aarde verderf (Openbaring 11:18; 16:14, 16). Dan sal ons almal ’n aandeel daaraan kan hê om die aarde in ’n wonderlike paradys te omskep. Intussen gaan my stukkie grond voort om die Skepper te loof.—Bygedra.
[Prent op bladsy 16]
Mexikaanse blouwaaierpalm
[Prent op bladsy 16]
Visstertpalm
[Prente op bladsy 16, 17]
Links na regs: rooipandanuspalm, floridapalm, reisigersboom (nie volgens skaal nie)
[Prent op bladsy 17]
Encephalartos ferox
[Prent op bladsy 17]
Blom van ’n skeerkwaspalm
[Prent op bladsy 18]
My tuingereedskap