Die tragedie van oorlog
BY DIE Imperiale Oorlogsmuseum in Londen, Engeland, word besoekers gefassineer deur ’n unieke horlosie en syferteller. Hierdie horlosie dui nie die tyd aan nie. Die doel daarvan is om mense te help besef wat die omvang van ’n vername kenmerk van hierdie eeu is—oorlog. Terwyl die horlosiewyser voortbeweeg, voeg die teller elke 3,31 sekondes nog ’n syfer by sy totaal. Elke syfer verteenwoordig ’n man, vrou of kind wat gedurende die 20ste eeu as gevolg van oorlog gesterf het.
Die teller het in Junie 1989 begin tel. Om middernag op 31 Desember 1999 sal die tellery ophou. Die getal op die teller sal dan eenhonderdmiljoen wees, ’n matige raming van die aantal mense wat gedurende die afgelope 100 jaar in oorloë gesterf het.
Dink net—eenhonderdmiljoen mense! Dit is meer as dubbel die bevolking van Engeland. Maar hierdie syfer verraai niks oor die angs en pyn van die slagoffers nie. Dit beskryf ook nie die lyding van die oorledenes se naasbestaandes nie—die miljoene der miljoene moeders en vaders, susters en broers, weduwees en wese. Wat die syfer wel toon, is dit: Ons eeu was verreweg die vernietigendste in die ganse mensegeskiedenis; die wreedheid daarvan is ongeëwenaard.
Die geskiedenis van die 20ste eeu toon ook hoe bedrewe die mens daarin geraak het om ander dood te maak. Deur die geskiedenis heen is nuwe wapens geleidelik ontwikkel, tot in die 20ste eeu toe daar skielik ’n geweldige hoeveelheid wapens vervaardig is. Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, het die leërs van Europa perderuiters, gewapen met lanse, ingesluit. Vandag kan missiele, deur middel van satellietsensors en gerekenariseerde geleidingstelsels, met verbasende akkuraatheid enige plek op aarde die dood saai. Sedertdien is vuurwapens, tenks, duikbote, oorlogsvliegtuie, biologiese en chemiese wapens en natuurlik “die bom” ontwikkel en vervolmaak.
Dit is ironies dat die mensdom so bedrewe in oorlogvoering geraak het dat oorlog nou ’n spel is wat die mens nie meer kan bekostig om te speel nie. Soos in die storie van Frankenstein, waarin ’n monster sy maker vernietig, dreig oorlog om diegene te vernietig wat soveel mag daaraan gegee het. Kan hierdie monster beheer of vernietig word? Die volgende artikels sal hierdie vraag ondersoek.
[Foto-erkennings op bladsy 3]
U.S. National Archives photo
U.S. Coast Guard photo
Met vergunning van: Imperial War Museum