Globale handel—Hoe dit jou raak
TOE Peter ná 20 jaar se diens sy werk by die multinasionale maatskappy verloor het, het die afdankingsbrief die skuld vierkantig op “die globalisasie van die ekonomie” gepak. Toe Thailand se geldeenheid, die baht, meer as die helfte van sy waarde verloor het, het daardie land se Minister van Finansies op TV verskyn en hom sterk uitgespreek teen “globalisasie”. Toe die prys van rys in ’n land in Suidoos-Asië met 60 persent gestyg het, het koerantopskrifte by ’n koerantstalletjie gelui: “Dit is die globalisasie!”
Presies wat is die globalisasie van die ekonomie? Hoe en waarom raak dit die land waarin jy woon sowel as die geld in jou sak? Wat sit agter hierdie neiging?
Wat is globalisasie?
Globalisasie as ’n ekonomiese verskynsel is ’n verskuiwing van afsonderlike nasionale ekonomieë na ’n globale ekonomie. In die “globale dorp” van vandag is die vervaardiging van goedere geïnternasionaliseer, en geld vloei vryelik en vinnig oor grense. Dit is prakties gesproke handel sonder grense. In hierdie stelsel oefen multinasionale maatskappye ontsaglike mag uit, terwyl anonieme beleggers materiële voorspoed kan bevorder of vernietigende depressie kan veroorsaak in enige deel van die wêreld.
Globalisasie is ’n oorsaak sowel as ’n gevolg van die moderne inligtingsrevolusie. Dit word aangedryf deur dramatiese verbeterings in die telekommunikasiewese, ongelooflike vooruitgang in die rekenaarbedryf en die ontwikkeling van inligtingsnetwerke, soos die Internet. Hierdie tegnologie help om die hindernis van fisiese afstand te oorkom. Met watter gevolge?
’n Halwe seën?
Volgens die voorstanders daarvan kan globalisasie ’n vinnige opbloei in die handel en belegging meebring wat ekonomieë opbou en ontwikkeling in selfs die armste lande van die wêreld aanmoedig. Gedurende die negentigerjare alleen het buitelandse beleggers byvoorbeeld sesbiljoen rand in die ekonomieë van ontwikkelende lande gestort. Hierdie fenomenale groei in internasionale beleggings het dit vir armer lande moontlik gemaak om paaie, lughawens en fabrieke te bou. Globalisasie is inderdaad ’n krag wat die lewenstandaard van sommige regoor die wêreld verbeter het. Peter Sutherland, voorsitter van die Buitelandse Ontwikkelingsraad, sê dat “dit tot onlangs nog ten minste twee geslagte geneem het vir die lewenstandaard om te verdubbel, maar in China verdubbel die lewenstandaard nou elke 10 jaar”. Globalisasie word beskou as iets wat ongeëwenaarde geleenthede aan miljarde mense gee. Die ongelooflike uitbreiding van die wêreldhandel het ’n golf van produktiwiteit en doeltreffendheid tot gevolg gehad en het nuwe werksgeleenthede geskep.
Dié wat teen globalisasie gekant is, sê egter dat dit ook oornag tot die ineenstorting van ekonomieë kan lei. ’n Nasionale geldeenheid kan met die druk van ’n paar knoppies op ’n rekenaar blitsvinnig gedevalueer word en sodoende ’n leeftyd se spaargeld van miljoene broodwinners amper waardeloos maak. Kommerwekkende woorde van ’n invloedryke Wall Street-analis kan ’n klomp paniekbevange beleggers in ’n oogwink hulle aandele in Asië laat verkoop, wat ’n ontsaglike kapitaaltekort kan skep en uiteindelik miljoene mense in armoede laat verval. ’n Direksie kan besluit om ’n fabriek in Mexiko toe te maak en eerder een in Thailand te open—sodoende word werk in Asië geskep terwyl honderde gesinne in Latyns-Amerika tot ’n lewe van armoede gedoem word.
Baie wys daarop dat globalisasie die lewe vir groot dele van die mensegemeenskap moeiliker gemaak het en dat dit dreig om ’n deel van die wêreld agter te laat. “Dit is glad nie toevallig nie dat die teleurstellende ekonomiese prestasie van baie lande in Afrika suid van die Sahara toegeskryf kan word aan hulle onvermoë om met die wêreldekonomie te integreer, en gevolglik suksesvol handel te dryf en beleggings te lok”, het Sutherland gesê.
Aansteeklike gevolge wat jou ryk of arm kan maak
Hoe raak dit jou? Plaaslike, nasionale en streeksekonomieë het ineengestrengel en onderling afhanklik geword. Gevolglik kan siektesimptome in een land se ekonomie gou versprei en ander besmet—met inbegrip van jóú land s’n. Byvoorbeeld, die wêreldwye finansiële krisis wat Asië in 1997 lamgelê het, asook Rusland en Latyns-Amerika in 1998 en 1999, dreig nou om die welvaart van die Verenigde State, lande in Europa en talle ander finansieel stabiele lande aansienlike skade te berokken. Ekonomieë wat die een oomblik nog gesond gelyk het, het die volgende oomblik ernstig siek geword—blykbaar nie weens enige nuwe verwikkelinge binne hulle eie grense nie, maar weens ’n skok van die buiteland af. Ekonome noem hierdie verskynsel “finansiële aansteeklikheid”. Lionel Barber van die Financial Times sê: “Die finansiële skokke kom gelyktydig voor en in baie gevalle versterk die een die ander. Aansteeklikheid is nie meer net ’n risiko nie; dit is ’n werklikheid.”
Regoor die wêreld het globalisasie dus mense se lewens al hoe meer in ’n enkele ekonomiese lappieskombers saamgestik. Ongeag waar jy woon, sulke aansteeklikheid raak jou op verskeie maniere. Kyk na die volgende voorbeelde. Toe Brasilië in Januarie 1999 sy geldeenheid laat sweef het, was Argentynse pluimveeboere geskok om uit te vind dat Brasiliane hoenders goedkoper as hulle aan winkels in Buenos Aires verkoop het. Daarbenewens het die internasionale ekonomiese insinking alreeds die pryse van Argentynse hout, soja, vrugtesap, beesvleis en kaas drasties laat daal. Lae pryse en ’n kleiner aanvraag het daartoe gelei dat melkerye toegemaak het, en honderde is werkloos gelaat.
Intussen het varkboere in Illinois, VSA, wat in die verlede baie varkvleis na florerende Asiatiese lande uitgevoer het, gevind dat hulle hulle pryse moes verlaag, aangesien die aanvraag klein en die kompetisie sterk was. “Ons het nog nooit so ’n groot verlies in die varkbedryf gely nie, nie eens in die Depressie nie”, het een boer gesê. In dieselfde land is staalwerkers afgedank, aangesien groot hoeveelhede staal ingevoer is uit China, Japan, Rusland, Indonesië en ander lande—almal met swak geldeenhede wat hulle uitvoergoedere baie goedkoop gemaak het. Omdat daar nie Asiatiese kopers was nie, het onverkoopte graan in die Verenigde State opgehoop, tot die ontsteltenis van boere in daardie land.
Die gevolge van globalisasie word verder vererger deur die feit dat banke en pensioenfondse in ryk lande baie geld aan “opkomende markte”—’n eufemisme vir sommige ekonomieë in die ontwikkelende wêreld—geleen het of daarin belê het. Toe sulke ekonomieë dus tydens die finansiële krisis van 1997-99 ineengestort het, het dit ’n direkte uitwerking op gewone burgers gehad wat pensioenarisse was of wat spaargeld in banke gehad het wat verliese gely het. Byna almal het, direk of indirek, verliese gely.
Die rykes word ryker en die armes armer
’n Nadere ondersoek van die globalisasieproses toon dat dit in arm lande groeiende eilande van rykdom en in ryk lande groeiende seë van armoede geskep het. Hoe so? David Korten beantwoord hierdie vraag gedeeltelik in sy boek When Corporations Rule the World: “Vinnige ekonomiese groei in lae-inkomstelande bring moderne lughawens, televisie, snelweë en lugversorgde winkelsentrums met gesofistikeerde elektroniese ware en ontwerpersklere vir die bevoorregtes. Dit verbeter selde die lewensomstandighede van die massas. Hierdie soort groei vereis dat die ekonomie op uitvoer konsentreer om die buitelandse valuta te bekom om die goedere te koop wat die rykes wil hê. Gevolglik word daar beslag gelê op die armes se landerye om uitvoergewasse te verbou. Die voormalige bewerkers van hierdie landerye voer uiteindelik ’n sukkelbestaan in stedelike krotbuurte op die karige lone wat betaal word deur hongerfabrieke wat uitvoergoedere vervaardig. Gesinne word opgebreek, die fondamente van die gemeenskap word tot breekpunt toe beproef en geweld vier hoogty. Diegene wat deur die groei bevoordeel is, het dan nog meer buitelandse valuta nodig om wapens in te voer om hulle teen die wrewel van die minder bevoorregtes te beskerm.”
Globalisasie het die werkersklas oor die algemeen onder groot druk geplaas namate regerings lone en arbeidstandaarde verlaag in ’n poging om buitelandse beleggings met die belofte van lae koste te lok. Hoewel sommige nuwe nywerheidslande by groter uitvoer as gevolg van vryer globale handel baat gevind het, is armer lande oor die algemeen nie na hierdie fees genooi nie.
Hoe ernstig het wêreldwye ongelykheid geword? Kyk na net een statistiek wat Korten aanhaal: “Daar is nou [in 1998] 477 miljardêrs in die wêreld, teenoor net 274 in 1991. Hulle gesamentlike bates is min of meer gelyk aan die gesamentlike jaarlikse inkomste van die armste helfte van die mensdom—2,8 miljard mense.” Die skuldige? “Dit is ’n direkte gevolg van ’n ongekontroleerde globale ekonomie.”
Aangedryf deur hebsug—’n Gesonde neiging?
Wat is die fundamentele gebrek van globalisasie? Die redakteur Jim Hoagland het in ’n kommentaar oor die finansiële krisis van 1997-98 gesê dat toekomstige geskiedkundiges “’n lang spoor van verspeelde kanse, swak internasionale samewerking en menslike hebsug sal vind”. Party mense vra: ‘Is wêreldvrede en -vooruitgang moontlik met ’n ekonomiese stelsel waarin ’n ryk minderheid en ’n brandarm meerderheid in ’n stryd op lewe en dood met mekaar gewikkel is? Is dit eties vir ’n klein aantal wenners om oordadige rykdom te geniet terwyl ’n baie groter aantal verloorders noodgedwonge in vernederende armoede moet lewe?’
Onversadigbare hebsug en sedelike gebreke het voorwaar ’n wêreld van geweldige finansiële ongelykheid geskep. Wat ’n regsgeleerde 2 000 jaar gelede gesê het, is nog steeds waar: “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge” (1 Timoteus 6:10). Kan menseregerings sulke inherente gebreke in die mens se onvolmaakte karakter met welslae die hoof bied? Fernando Cardoso, Brasilië se president, het sy kommer uitgespreek: “Die taak om in hierdie era van Globalisasie ’n menslike dimensie aan ontwikkeling te verleen, het ’n groot uitdaging geword, aangesien almal van ons geraak word . . . deur die etiese leemte wat weens die verafgoding van die handel ontstaan het.”
“Verbete stryd van mag en waardes”
In ’n lesing op die 22ste Wêreldkonferensie van die Vereniging vir Internasionale Ontwikkeling het Korten sy twyfel oor sommige van die voordelige gevolge van die globale ekonomie uitgespreek. Hy het gesê dat daar “bykans oral tussen mense en die instellings van die globale ekonomie ’n verbete stryd van mag en waardes gevoer word. Die uitkoms van hierdie stryd sal waarskynlik bepaal of ons spesie in die 21ste eeu sal verval tot ’n toestand van onbeheerste hebsug, geweld, armoede en omgewingsvernietiging wat heel moontlik tot ons eie vernietiging sal lei. En of dit florerende, lewensgesentreerde beskaafde gemeenskappe sal voortbring waarin alle mense sonder ’n tekort aan enigiets in vrede met mekaar en in harmonie met die planeet kan lewe.”
[Venster/Prent op bladsy 22]
“DIE WÊRELD WORD AL HOE KLEINER”
Hierdie uitdrukking is gebruik in ’n hoofartikel in die tydskrif Asiaweek van 26 Februarie 1999, wat gesê het: “Die wêreld word al hoe kleiner, danksy die vrye handel en kapitaalbeweging, asook die vrye uitwisseling van inligting en tegnologie. . . . Die sleutel tot sukses is insluiting: hoe meer streke en lande deel van die globale ekonomie is, hoe groter is die mark vir al die wêreld se produsente.”
Dit het ook gesê: “Die ineenstortings wat Oos-Asië, Rusland en Brasilië [in die laaste jare] getref het, het getoon dat dit in hierdie ekonomies en tegnologies inmekaargeweefde wêreld kortsigtig is om een streek op te bou terwyl ander te gronde gaan.”
Dieselfde artikel het daarteen gewaarsku om Asië “in ekonomiese en politieke sin op die agtergrond” te skuif, en dit het lesers daaraan herinner dat “Japan en China nog steeds die wêreld se tweede en derde grootste ekonomieë is”. Verder het dit gesê: “Asië se blote bevolkingsdigtheid sal beslis ’n mag word om mee rekening te hou.” Asië se miljarde kan nie geïgnoreer word nie. Ons lewe waarlik in ’n globale ekonomie, en die handelsgrense is uitgewis.
[Prente op bladsy 23]
Globalisasie is al daarvoor blameer dat dit die kloof tussen ryk en arm vergroot het