Sydney—’n woelige hawestad
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
WAARAAN dink jy wanneer jy die woorde “Sydney, Australië”, hoor? Dink jy onmiddellik aan die unieke operagebou aan die waterkant, waarvan die dak soos die seile van ’n seiljag of soos enorme skulpe lyk? Na gelang van dit waarin jy belangstel, kan dít die beeld wees wat by jou opkom.
Sydney—die poort tot Australië—is volgens baie mense een van die mooiste stede in die wêreld. Dit is die hoofstad van Nieu-Suid-Wallis, die vasteland se digs bevolkte staat. Die nasionale hoofstad is egter Canberra, wat ongeveer halfpad tussen Sydney en Melbourne geleë is.
Die inwoners van Sydney is oor die algemeen vriendelik en sorgeloos. Sydney, wat dikwels in ballades “Sydneystad” genoem word, is bekend vir ten minste drie uitsonderlike landmerke: (1) ’n diep, natuurlike hawe, (2) ’n indrukwekkende hawebrug met ’n enkelspanwydte en (3) ’n unieke operagebou.
Die klimaat is gematig, met ’n gemiddelde temperatuur van 22°C in Februarie, die warmste maand, terwyl die koudste maand, Julie, se gemiddelde temperatuur 12°C is. Australië se reënval is geneig om wisselvallig en onvoorspelbaar te wees, maar die gemiddelde reënval in Sydney is 1 140 millimeter per jaar, waarvan die meeste gedurende die somermaande (Desember tot Maart) val.
Jy sal in die komende maande nog baie van Sydney hoor omdat dit gekies is as die gasheerstad vir die Olimpiese Spele in die jaar 2000.
Van strafkolonie tot florerende stad
In vergelyking met baie ander wêreldbekende stede is Sydney baie jonk, want sy geskiedenis gaan maar net oor die 200 jaar terug tot in 1770, die jaar toe die Britse ontdekkingsreisiger kaptein James Cook by Botany-baai aan land gegaan het. (Sydney se internasionale lughawe is nou aan die noordkus van Botany-baai geleë.) Hy het ’n paar kilometer noordwaarts gevaar en by ’n diep, natuurlike hawe verbygegaan wat hy Port Jackson genoem het. Gevolglik het hy nie tussen die twee landpunte aan die begin van die hawe ingevaar nie.
Toe, in 1788, het goewerneur Arthur Phillip uit Engeland daar aangekom met die Eerste Vloot en ’n vrag Britse gevangenes. Hy het aan wal gegaan om ’n nedersetting by Botany-baai te stig, maar hy het besluit dat dit nie geskik was nie. Gevolglik het hy drie oop bote geneem en noordwaarts gevaar om te sien of hy ’n beter terrein kon vind.
En sowaar, net ’n paar kilometer verder het hy die verbasende diep en uitgestrekte baai ontdek waarby Cook verbygegaan het. In ’n beroemde boodskap aan lord Sydney, Engeland se Minister van Binnelandse Sake, het Phillip sy indrukke van Port Jackson soos volg oorgedra: “Ons . . . het die bevrediging gehad om die beste hawe in die wêreld te vind, waarin ’n duisend linieskepe heel veilig kan vaar.” Ter ere van lord Sydney het Phillip die baai Sydney-baai genoem en die eerste nedersetting daar gevestig. Die naam Sydney het tot vandag toe behoue gebly.
Al die manlike gevangenes is aan wal gesit, en hulle het onmiddellik begin om die terrein skoon te maak en ruwe skuilings te bou. Die vloot het baie gevangenes gebring, sowel as ’n aantal vrouens en kinders, wat hulle almal so goed moontlik moes skik na hierdie gedwonge nuwe “tuiste” duisende kilometers van hulle vaderland af. Die nedersetting het die volgende 20 jaar bestaan uit tydelike tente en geboue—waarvan die meeste net hutte en krotte was—aangesien dit oorspronklik niks meer as ’n strafkolonie sou wees nie. Maar in 1810 het goewerneur Lachlan Macquarie in Sydney aangekom, en sy 11 jaar lange ampstermyn het vinnig veranderinge in die kolonie teweeggebring.
’n Stad begin vorm aanneem
Onder leiding van Macquarie het ’n argitek wat saam met hom van Engeland af gekom het met die hulp van ’n vrygelate gevangene, wat ook ’n argitek was, baie geboue in en om Sydney ontwerp. Dit het die strafkamp onmiddellik ’n atmosfeer van bestendigheid gegee. Dit was natuurlik nie ’n probleem om arbeiders te kry nie, want daar was meer as genoeg gevangenes. Daarbenewens was daar ’n oorvloedige voorraad sandsteen wat ideaal was om mee te bou.
Die skryfster Portia Robinson beskryf die vinnige verandering van die kolonie soos volg in haar boek The Women of Botany Bay: “Besoekers, vrye setlaars, amptenare, soldate, die gevangenes self wat in die laaste jare van die Macquarie-dekade [1810-21] in Nieu-Suid-Wallis aangekom het, wat verwag het om die losbandigheid, dranksug en wellustigheid te vind wat mense in Brittanje geglo het kenmerkend van die kolonie was, was verstom dat dit so ‘beskaafd’ was. Pleks van hutte en krotte het hulle herehuise gesien ‘wat goed op Hanover-plein sou inpas . . . , strate so lank soos Oxfordstraat’, pragtige kerke en openbare geboue, paaie en brûe, allerhande winkels en sakeondernemings, netjiese werkershuisies, mooi koetse vir die rykes . . . ‘alles het die feit weerspreek dat dit ’n strafkolonie was’.”
Gevolglik het Sydney in 1821, teen die tyd wat goewerneur Macquarie daar weg is, alreeds 59 sandsteengeboue, 221 baksteengeboue en 773 houthuise gehad, buiten die regeringshuise en openbare geboue. Vandag is die stad Sydney, met ’n bevolking van byna viermiljoen, ’n huldeblyk aan die vindingrykheid van die gevangenes en die vrye setlaars en hulle gesinne, asook aan die versiendheid van die kolonie se vroeë goewerneurs.
Sydney se ‘indrukwekkende en uitgestrekte hawe’
Hoewel die inwoners van Sydney in die omgangstaal na Port Jackson as Sydney-hawe verwys, bestaan die eintlike hawe in werklikheid uit drie gebiede—Middel-hawe, Noord-hawe en Sydney-hawe. Die Parramatta- en die Lane Cove-rivier strek van die hawe af tot diep in die voorstede.
Sydney-hawe, met sy ruwe sandsteenstrande wat oor 240 kilometer strek, is een van die wêreld se beste natuurlike hawens. Die direkte afstand van die hawe se ingang af tot waar dit in die Parramatta-rivier oorgaan, is 19 kilometer, en die totale wateroppervlakte is 54 vierkante kilometer. Die hawe se diepte is een van sy uitstaande kenmerke, en die diepste punt is op ongeveer 47 meter gemeet. Die merkwaardige ingang van die Stille Oseaan af is tussen twee steil landpunte deur—Noordpunt en Suidpunt. Die landpunte is net twee kilometer uit mekaar, en ’n mens besef nie hoe groot die hawe is voordat jy dit heeltemal binnegevaar het nie. Dit verklaar moontlik waarom kaptein Cook nie deegliker ondersoek ingestel het na dit wat hy gedink het net nog ’n baai is nie.
In 1788 het goewerneur Phillip glo van Sydney-hawe gesê: ‘Wat grootte en veiligheid betref, is dit beter as enige hawe wat ek al gesien het, en die meer ervare seevaarders wat by my was, het volkome saamgestem dat dit ’n indrukwekkende en uitgestrekte hawe is, diep genoeg vir die grootste vaartuie, en ruim genoeg sodat enige aantal skepe wat bymekaargebring kan word heeltemal veilig daarin kan lê.’
Sydneybrug—’n ingenieurswonder
Reeds in 1815 is die behoefte aan ’n brug oor die hawe van noord tot suid ernstig oorweeg, maar die eerste gedokumenteerde plan van ’n brug het eers in 1857 verskyn. Soos dit vandag daar staan, strek die brug van Dawes-punt aan die suidekant van die hawe tot by Milsons-punt aan die noordkus—presies waar dit aanvanklik voorgestel is! Dit is een van die langste brûe met ’n enkelspanwydte in die wêreld en het nege jaar geneem om te bou en byna 20 miljoen Australiese dollar gekos—’n enorme bedrag in die depressie van die vroeë dertigerjare. Dit is op 19 Maart 1932 amptelik vir verkeer oopgestel.
Die massiewe sentrale boog is 503 meter lank, met die bopunt 134 meter bokant die water. Die vryhoogte onder die brug is ongeveer 50 meter, en gevolglik kan die grootste passasierskepe veilig onderdeur vaar. Die rydek self is 49 meter wyd en het oorspronklik ’n dubbele spoorlyn, ’n dubbele tremspoor, ses bane vir padverkeer en twee voetpaaie gehad. In 1959 het Sydney sy trems met busse vervang, en die tremspoorlyne is in bane vir padverkeer verander. Nou is daar agt bane vir motors, busse en vragmotors. Die totale lengte van die brug, wat die oprylane aan albei kante insluit, is 1 149 meter.
Teen die tagtigerjare was padverkeer op die brug so oorlaai dat daar besluit is om nog ’n oorgang oor die hawe te bou. Hierdie keer was dit praktieser om onder die water deur te gaan. Gevolglik is ’n hawetonnel met vier bane in Augustus 1992 geopen.
Wanneer ’n mens oor die brug stap, het jy ’n panoramiese uitsig oor Sydney. Aan die noordekant van die hawe is die Taronga-dieretuin teen bosryke hange geleë. Aan die teenoorgestelde kant van die hawe en byna reg onder die brug, op Bennelong-punt, is Sydney se onmiskenbare operagebou.
Sydney se juweel langs die hawe
Die Sydney-operagebou, wat beskryf word as die “juweel van Bennelong-punt”, word aan drie kante deur die blou water van Sydney-hawe omring. In helder sonlig lyk dit beslis soos ’n juweel. In die nag skitter die Gotiese skulpe op hulle mooiste onder die ligte van die Operagebou.
Die voorwoord by die boek A Vision Takes Form beskryf die visuele trefkrag van die operagebou: “Die Sydney-operagebou het een van daardie geboue geword wat met elke klein verandering in perspektief of lig ’n definitiewe nuwe karakter aanneem. . . . ’n Vroeë oggendmis of die glans van ’n laat sonsondergang kan help om die skulpe te laat blink soos helms in ’n sage van legendariese reuse.”
Die Deense argitek Jørn Utzon het die operagebou ontwerp, en sy ontwerp is uiteindelik uit meer as 200 internasionale inskrywings in ’n ontwerpkompetisie gekies. Maar aspekte van sy ontwerp is as onprakties beskou en het aansienlike veranderinge vereis.
Die Londense Architects’ Journal het dit beskryf as “die grootse voorbeeld van romantiese beeldhoukuns”. Maar dit het groot ingenieursprobleme opgelewer om hierdie romantiese droom ’n werklikheid te maak. Twee van die ingenieurs, sir Ove Arup en Jack Zunz, het gesê: “[Die] Sydney-operagebou is . . . ’n bou-avontuur. . . . Omdat die omstandighede waaronder dit gebou word so ongewoon is, en omdat die probleme so moeilik is, het dit unieke geleenthede geskep . . . vir die ontwikkeling van nuwe tegnieke. Baie van hierdie tegnieke is sedertdien in konvensioneler brug- en bouwerke gebruik.”
Die koste van die operagebou is oorspronklik op 7 miljoen Australiese dollar geraam, maar teen die tyd dat dit in 1973 voltooi is, het die koste die hoogte ingeskiet tot ’n astronomiese 102 miljoen dollar!
’n Kykie binne die operagebou
Wanneer ons die voorportaal binnegaan, sien ons dat sonlig deur die twee lae glas in die keëlvormige openinge van die skulpe syfer. ’n Verstommende totaal van 6 225 vierkante meter spesiale glas wat in Frankryk gemaak is, omhul die gebou. Daarna gaan ons die konsertsaal binne. Terwyl ons agter in die saal staan en oor die 2 690 sitplekke na die verhoog kyk, is ons verstom oor die grootste meganiese speelaksie-orrel ter wêreld, met sy 10 500 pype, wat ons daar sien.a Die plafon is 25 meter hoog, en dit gee die saal ’n kubieke inhoud van 26 400 kubieke meter. Dit “lewer ’n naklanktyd van ongeveer twee sekondes wat simfoniemusiek vol en ryk laat klink”, sê ’n amptelike brosjure.
Die ander drie ouditoriums, wat ontwerp is vir opera, simfoniekonserte, ballet, rolprente, solo-optredes, drama, kamermusiek, uitstallings en byeenkomste, is net so indrukwekkend. Daar is altesaam 1 000 vertrekke in die operagebou, met inbegrip van restaurante, kleedkamers en ander geriewe.
Moenie die dieretuin vergeet nie!
As jy beplan om Sydney te besoek, moet jy beslis met ’n boot of veerboot om die hawe vaar. Jy sal nie spyt wees nie. Neem ’n veerboot na Taronga-dieretuin. Nie alle besoekers aan Australië het die tyd om die Australiese boswêreld en sy natuurlewe te sien nie. Daarom kan ’n dag in die dieretuin ’n gerieflike avontuur in die Australiese “platteland” wees. Australië se unieke natuurlewe is in die dieretuin te sien, van kangaroes tot koalas en eendbekdiere tot dingo’s. Die dieretuin, wat net ’n paar minute per haweveerboot van die veerbootterminus naby die operagebou af is, is byna in die hart van Sydney geleë. Dit word beskou as een van die beste dieretuine in die wêreld. Terwyl jy in die hawegebied is, kan jy die gratis vermaak geniet wat deur ’n wye verskeidenheid straatkunstenaars aangebied word—akrobate, Aborigines wat die didgeridoo (’n tipiese blaasinstrument van die Aborigines) bespeel of ’n jazz-ensemble.
Ons is seker dat jy jou besoek aan Sydney terdeë sal geniet—waarlik ’n woelige stad wat langs ’n indrukwekkende hawe in die blou water van die Stille Suidsee geleë is. En wie weet, ons sit dalk vir jou nog ’n garnaal op die kole!
[Voetnoot]
a Meganiese speelaksie is ’n meganiese stelsel wat lug na die pype toe deurlaat en die orrelis toelaat om met ’n sensitiewer aanslag te speel.
[Kaarte op bladsy 14]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Sydney
Manly-strand
Port Jackson
Sydney-brug
SYDNEY
Botany-baai
[Prent op bladsy 15]
Sydney se sentrale sakegebied
[Prent op bladsy 15]
Replika van die “Bounty”, in Botany-baai
[Prent op bladsy 15]
Lugtrein in Sydney se middestad
[Prent op bladsy 16, 17]
Sydney-operagebou en hawebrug
[Erkenning]
Met vergunning van: Sydney Opera House Trust (photograph by Tracy Schramm)
[Prent op bladsy 17]
Binnekant van die Operagebou, met sy orrel met 10 500 pype
[Erkenning]
Met vergunning van: Australian Archives, Canberra, A.C.T.
[Prent op bladsy 18]
Manly-strand, Sydney