Waar is die legendariese Vinland?
Deur Ontwaak!-medewerker in Kanada
DIE land het opslagkoring, strome vol salm, wilde “wynbessies” (rooibosbessies) en rypvrye winters gehad. Vir mense wat duisend jaar gelede gelewe het, was dit ’n paradys. Die verslag van 36 dapper manne wat daarheen gereis het, was die grondslag van ’n 20ste-eeuse ondersoek om die plek te vind waar Europeërs moontlik die eerste keer in Noord-Amerika voet aan wal gesit het.
Op die een of ander tyd tussen 990 en 1000 G.J. het die Viking Leif Eriksson en sy manne hulle 2 000 kilometer lange ontdekkingsreis begin. Eriksson het noordwaarts langs die weskus van Groenland geseil en het, toe hy wes draai, by twee landgebiede gekom, wat hy Helluland en Markland genoem het. Vandag staan dit as Baffin-eiland en Labrador bekend. Die ligging van die derde landingsplek het ’n raaisel geword—waar is die legendariese Vinland?
In 1959 het die argeoloë Helge Ingstad en sy vrou, Anne Stine Ingstad, daarna begin soek. Hulle het net die leidrade in die antieke verslae van die Noormanne gehad, wat die Yslandse sagas genoem word en ’n mengsel van waarheid en verdigsel bevat. Die egpaar se reise het hulle duisende kilometers oor see, oor land en per vliegtuig op en af teen die oostelike kusstrook van Noord-Amerika geneem. Uiteindelik is hulle beloon toe hulle die klein gemeenskap van L’Anse aux Meadows, op die noordelike skiereiland van Newfoundland-eiland, gevind het. Daar het ’n plaaslike inwoner, George Decker, hulle na ruïnes geneem wat soos die begroeide bouvalle van huise gelyk het.
Ná sewe jaar van argeologiese opgrawings is die geskiedenis van die terrein blykbaar bevestig, en dit het wêreldwyd aandag getrek. Dit is betekenisvol dat die Ingstads agt geboue met sooimure opgegrawe het, asook ’n brons speld wat gebruik is om ’n kledingstuk vas te steek. Dit alles dra die Viking-stempel. Een van die belangrikste ontdekkings was ’n klein smeltoond vir yster. Daar is vasgestel dat die oorblywende metaalskuim uit die tyd dateer toe Eriksson volgens die sagas in die Nuwe Wêreld aangekom het. Al die getuienis wat ingesamel is, het op die teenwoordigheid van Vikings in Noord-Amerika gedui.
Die plek wat ons nou L’Anse aux Meadows noem, pas nie werklik by die legendariese beskrywing van Vinland nie. Ons sal waarskynlik nooit die presiese ligging van daardie land met sekerheid kan vasstel nie. Dit lyk egter of die Vikings 500 jaar voor Columbus in Noord-Amerika aangekom het, al was hulle dalk nie die eerstes wat daar voet aan wal gesit het nie.
Vandag kan jy die terrein besoek en sien hoe die Vikings gelewe het. Rekonstruksies van sooihuise en ’n replika van ’n Viking-skip waarin Eriksson moontlik sy epiese reis onderneem het, kan besigtig word. Gidse wat in die drag van die tyd aangetrek is en geskiedkundige inligting voorsien, kan jou duisend jaar terugneem en jou help om jou voor te stel hoe dit moes voel om ’n Viking te wees.
[Kaart op bladsy 12]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
GROENLAND
BAFFIN-EILAND
LABRADOR
NEWFOUNDLAND
L’ANSE AUX MEADOWS
[Prent op bladsy 12]
Die “Snorri”, ’n 16 meter lange replika van ’n Viking-handelskip wat as ’n “knarr” bekend staan
[Erkenning]
Nordfoto/Carl D. Walsh
[Prent op bladsy 12, 13]
Rekonstruksies van sooihuise by L’Anse aux Meadows
[Erkenning]
L’Anse aux Meadows National Historic Site/UNESCO World Heritage Site
[Prent op bladsy 13]
Leif Eriksson