Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 5/22 bl. 21-24
  • ’n Nuwe wapen in die stryd teen tuberkulose

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Nuwe wapen in die stryd teen tuberkulose
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nou die goeie nuus
  • Hoe goed werk dit?
  • Daar is wel vooruitgang
  • Oorwinning en tragedie
    Ontwaak!—1997
  • ’n Dodelike bondgenootskap
    Ontwaak!—1998
  • Tering neem weer toe!
    Ontwaak!—1996
  • ’n Wêreldwye oplossing—is dit moontlik?
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 5/22 bl. 21-24

’n Nuwe wapen in die stryd teen tuberkulose

TUBERKULOSE (TB) is die oudste aansteeklike siekte wat die mens teister, en dit is nog steeds so ’n ernstige gesondheidsgevaar dat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) dit met ’n tydbom vergelyk. “Ons is in ’n wedloop teen tyd”, waarsku ’n WGO-verslag oor TB. As die mens nie daarin slaag om hierdie bom onskadelik te maak nie, sal hy dalk eendag te kampe hê met ’n siekte wat teen geneesmiddels bestand is en wat “deur die lug versprei, maar feitlik so ongeneeslik soos vigs is”. Die tyd het gekom, waarsku die WGO, om TB se vernietigende potensiaal onder die oë te sien. “Almal wat lug inasem, van Wall Street tot die Groot Chinese Muur, moet oor hierdie gevaar besorg wees.”

Is dit ’n oordrywing? Hoegenaamd nie. Dink net hoe die wêreld sou reageer as ’n siekte gedreig het om buite beheer te raak en byvoorbeeld die hele bevolking van Kanada in tien jaar uit te wis! Hoewel dit onmoontlik klink, is dit ’n werklike gevaar. Wêreldwyd sterf meer mense aan TB as aan vigs, malaria en tropiese siektes saam: 8 000 mense elke dag. Sowat 20 miljoen mense ly nou aan aktiewe TB, en sowat 30 miljoen kan in die volgende tien jaar daaraan sterf—meer as die bevolking van Kanada.—Sien die venster “TB se wêreldwye greep”, op bladsy 22.

Nou die goeie nuus

Vandag is daar egter hoop. Ná tien jaar se toetse het navorsers met ’n strategie vorendag gekom wat TB in so ’n mate kan beheer dat dit nie meer soos ’n moordenaar op vrye voet is nie, maar meer soos ’n misdadiger wat vasgekeer is. Dr. Hirosji Nakadjima, voormalige direkteur-generaal van die WGO, het hierdie nuwe strategie “een van die belangrikste deurbrake in openbare gesondheid in hierdie dekade” genoem. En dr. Arata Kochi, direkteur van die WGO se Wêreldwye TB-program, sê dat dit die heel eerste geleentheid bied om “die TB-epidemie te beëindig”. Wat is die rede vir al hierdie opgewondenheid? ’n Metode wat DOTS genoem word.

DOTS is ’n akroniem vir behandeling deur regstreekse waarneming, kortkursus (directly observed treatment, short-course). Dit is ’n stelsel van gesondheidsorg wat die meeste TB-pasiënte in ses tot agt maande kan genees sonder dat hulle ’n enkele dag in die hospitaal deurbring. DOTS is van vyf elemente afhanklik vir sukses. As enige van hierdie elemente ontbreek, sê die WGO, sal die vermoë om TB-slagoffers te genees “deur ons vingers glip”. Wat is hierdie elemente?

● 1. Regstreeks (Directly): Die gevaarlikste TB-geval is die ongediagnoseerde geval. Die WGO beklemtoon dus dat gesondheidswerkers in die eerste plek regstreekse pogings moet aanwend om mense in hulle gemeenskap te identifiseer wat aansteeklike TB het.

● 2. Waargeneem (Observed): Die tweede element van DOTS maak die gesondheidstelsel—nie die pasiënt nie—verantwoordelik vir genesing. Gesondheidswerkers of opgeleide vrywilligers, soos winkeliers, onderwysers of voormalige TB-pasiënte, moet waarneem hoe pasiënte elke dosis TB-medisyne neem. “Pasiëntwaarnemers” is noodsaaklik vir sukses, want pasiënte hou te gou op om hulle medisyne te neem, wat ’n hoofrede is waarom TB vandag nog ’n probleem is. (Sien die venster “Waarom neem TB weer toe?” op bladsy 22.) Ná net ’n paar weke van behandeling begin hulle beter voel en hou hulle op om hulle pille te neem. Maar die medisyne moet ses tot agt maande lank geneem word om van al die TB-basille in die liggaam ontslae te raak.

● 3. Behandeling (Treatment): Gedurende hierdie ses tot agt maande monitor gesondheidswerkers die resultate van die behandeling en hou hulle rekord van die pasiënt se vordering. Sodoende maak hulle seker dat pasiënte heeltemal genees is en nie die infeksie aan ander kan oordra nie.

● 4. Kortkursus (Short-Course): Die vierde element van die DOTS-strategie is om die regte kombinasie en regte hoeveelheid TB-medisyne, wat as kortkursus-chemoterapie bekend staan, oor die regte tydsperiode te gebruik. Hierdie kombinasie van medisyne is die uitklophou wat die TB-basille doodmaak.a Die medisyne moet altyd beskikbaar wees sodat behandeling nooit onderbreek word nie.

● 5. !: Die WGO druk hierdie vyfde element van die DOTS-strategie uit deur middel van ’n uitroepteken aan die einde van DOTS! Dit verteenwoordig finansiële steun en verstandige beleidmaatreëls. Die WGO spoor gesondheidsinstellings aan om geldelike hulp van regerings en ander organisasies te verkry en om TB-behandeling deel van die land se bestaande gesondheidstelsel te maak.

Wat finansiële steun betref, het die DOTS-metode ingang gevind by beleidvormers wat die besteding van geld beheer. Die Wêreldbank het gesê dat DOTS “een van die goedkoopste beskikbare wapens is in die stryd teen . . . siekte”. In arm lande, het die WGO bereken, kos die strategie altesaam ongeveer R600 per pasiënt. “Dit is selde meer as 60 sent per persoon in ontwikkelende lande, wat selfs onder die moeilikste ekonomiese omstandighede bekostigbaar is.” Lae koste beteken egter nie dat dit nie groot voordele inhou nie.

Hoe goed werk dit?

WGO-verteenwoordigers het in Maart 1997 aangekondig dat die beperkte gebruik van die DOTS-strategie, “daartoe gelei het dat die wêreldwye TB-epidemie vir die eerste keer in dekades nie toeneem nie”. “Waar DOTS gebruik word, het die aantal mense wat genees is byna verdubbel.” Proefprojekte met DOTS in gebiede waar TB algemeen is, toon reeds dat die strategie werk. Beskou ’n paar voorbeelde hiervan wat die WGO aangee.

In Indië is “DOTS toegepas in demonstrasiegebiede waarin meer as 12 miljoen mense woon. . . . Tuberkulose word nou in 4 uit elke 5 pasiënte genees.” In ’n proefprogram onder eenmiljoen mense in Bangladesj “is 87 persent [van die TB-pasiënte] genees”. Op ’n eiland in Indonesië genees ’n DOTS-projek “9 uit 10 besmette pasiënte”. In China was proefprojekte “’n reusesukses”, met ’n genesingsyfer van 94 persent. In een Suid-Afrikaanse stad “word meer as 80 persent [van die TB-pasiënte] suksesvol behandel”. Onlangs is DOTS ook in die stad New York met indrukwekkende resultate gebruik.

Na aanleiding van bevindinge van veldtoetse in etlike lande, meen dr. Kochi dat die strategie “oral gebruik kan word en genesingsyfers van 85 persent en meer kan behaal”.

Daar is wel vooruitgang

Aangesien die DOTS-strategie ’n behandeling is wat een van die mens se dodelikste aansteeklike siektes maklik en goedkoop kan uitroei, sou jy verwag dat dit algemeen in gebruik sou wees. “Maar daar is verbasend min lande”, sê ’n WGO-amptenaar, “wat die WGO se beproefde en goedkoop TB-beheerstrategie toepas.” Trouens, aan die begin van 1996 het net 34 lande die strategie landwyd geïmplementeer.

Daar is nogtans vooruitgang. Voor 1993, toe die WGO ’n wêreldwye TB-noodtoestand aangekondig het, het net 1 uit elke 50 TB-pasiënte DOTS ontvang. Vandag is daardie verhouding 1 uit elke 10. Na berig het sowat 96 lande die DOTS-strategie in 1998 gebruik. As meer lande DOTS ondersteun, sal die aantal TB-gevalle per jaar ‘in net ’n dekade met die helfte verminder word’. Dr. Kochi sê: “Ons het ’n beproefde gesondheidsorgplan wat net meer gebruik moet word.”

Aangesien die mens die kennis en die middele het om TB te oorwin, is die enigste ding wat kortkom die ‘mense wat sal toesien dat hierdie medisyne regoor die wêreld gebruik word’. Dit is geen wonder nie dat die WGO, in ’n publikasie vir geneeshere en ander gesondheidswerkers regoor die wêreld, vra: “Waarvoor wag ons nog?”

[Voetnoot]

a Die medisyne sluit isoniasied, rifampien, pirasienamied, streptomisien en etambutol in.

[Lokteks op bladsy 21]

Elke sekonde word iemand op die aarde met tuberkulose besmet

[Lokteks op bladsy 21]

‘Medisyne wat lewens kan red, sit op die rak terwyl miljoene sterf.’—Dr. Arata Kochi

[Lokteks op bladsy 23]

“Die DOTS-strategie sal die belangrikste deurbraak in openbare gesondheid in hierdie dekade verteen- woordig.”—WGO-persverklaring

[Venster op bladsy 22]

Waarom neem—TB WEER toe?

’n Geneesmiddel vir tuberkulose (TB) is meer as vier dekades gelede gevind. Sedertdien het meer as 120 miljoen mense aan TB gesterf, en bykans 3 miljoen mense sal hierdie jaar sterf. Waarom sterf daar nog soveel mense aan TB wanneer daar ’n geneesmiddel is? Weens drie hoofredes: versuim, HIV/VIGS en TB wat teen verskeie geneesmiddels bestand is.

Versuim. Die aandag van die wêreld is op aansteeklike siektes soos vigs en Ebola gerig. In 1995 was daar vir elke Ebola-sterfgeval 12 000 TB-sterfgevalle. Trouens, TB is so algemeen in ontwikkelende lande dat mense daar die siekte as deel van die lewe beskou. In ryker lande weer word TB toegelaat om te versprei terwyl doeltreffende geneesmiddels op die rak sit. Hierdie wêreldwye versuim is ’n rampspoedige fout. Terwyl die wêreld hom minder oor TB bekommer het, het die TB-basille sterker geword. Vandag teister hulle meer mense in meer lande as ooit tevore in die mensegeskiedenis.

HIV/VIGS. TB gaan hand aan hand met HIV en vigs. Wanneer mense met HIV besmet raak—wat hulle immuniteit verswak—is die kanse 30 keer groter dat hulle TB sal kry. Dit is geen wonder dat die huidige wêreldwye HIV-epidemie ook tot ’n toename in die aantal TB-pasiënte gelei het nie! Daar word geskat dat 266 000 HIV-positiewe mense in 1997 aan TB gesterf het. “Hulle is die mans en vroue”, sê Peter Piot, direkteur van die Verenigde Nasies se Gesamentlike HIV/VIGS-program, “wat nie by die goedkoop TB-medisyne baat gevind het wat nodig was om hulle tuberkulose te genees nie.”

TB wat teen verskeie geneesmiddels bestand is. “Superbakterieë”, wat immuun is teen die mens se antibiotiese arsenaal, is die maaksel van wetenskaps­fiksie, maar in die geval van TB word dit vinnig ’n werklikheid. Meer as 50 miljoen mense is dalk reeds met die soort TB besmet wat teen verskeie geneesmiddels bestand is. Pasiënte wat ná ’n paar weke ophou om hulle medisyne te gebruik omdat hulle beter voel, omdat die medisyne opraak of omdat die siekte ’n sosiale stigma dra, vernietig nie al die TB-basille in hulle liggaam nie. In een Asiatiese land hou 2 uit elke 3 TB-pasiënte byvoorbeeld te vroeg op met hulle behandeling. Wanneer hulle weer siek word, sal dit dalk moeiliker wees om die siekte te behandel omdat die bakterieë wat nog lewe, terugveg en teen elke beskikbare TB-medisyne bestand is. Gevolglik kry die pasiënte ’n soort TB wat ongeneeslik is—vir hulle en wie hulle ook al aansteek. En wanneer hierdie dodelike TB-basille begin versprei, word ons met die skrikwekkende vraag gelaat: Sal die mens in staat wees om ’n geneesmiddel te vind?

[Venster op bladsy 22]

TB se wêreldwye greep

Die tuberkulose-epidemie (TB) word elke jaar groter, duurder en dodeliker. Verslae wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie versamel word, volg die spoor van hierdie stille doder. Hier is ’n paar voorbeelde: “Pakistan is besig om die stryd teen tuberkulose te verloor.” “Tuberkulose is met mening terug in Thailand.” “Vandag is tuberkulose een van die vernaamste oorsake van siekte en die dood in Brasilië.” “Tuberkulose het steeds ’n hardnekkige greep op Mexiko se mense.” In Rusland is daar ’n “skerp toename in die aantal TB-gevalle”. In Etiopië “woed tuberkulose dwarsdeur die land”. “Suid-Afrika het een van die hoogste voorkomssyfers van TB in die wêreld.”

Hoewel 95 uit elke 100 TB-pasiënte in die wêreld se armer lande woon, is TB ook besig om sy greep op ryk lande te verstewig. Die Verenigde State het gedurende die vroeë negentigerjare ’n skerp toename gehad in die aantal TB-gevalle wat aangemeld is. Die Amerikaanse joernalis Valery Gartseff sê dat TB “weer eens teruggekeer het om Amerikaners te teister”. Dr. Jaap Broekmans, direkteur van die Koninklike Nederlandse TB-vereniging, het onlangs gesê dat die TB-epidemie “in Oos-Europa en dele van Wes-Europa erger begin word het”. Dit is geen wonder dat die tydskrif Science, van 22 Augustus 1997, sê dat “tuberkulose steeds ’n groot gesondheidsrisiko is” nie.

[Venster op bladsy 24]

TB-bloudruk ontdek

Navorsers het onlangs daarin geslaag om die hele genetiese bloudruk van die tuberkulosebakterie (TB) te dokumenteer. Hierdie prestasie is die begin van “’n nuwe fase in die stryd teen een van die mens se suksesvolste vyande”, sê dr. Douglas Young, van die Imperial College se Mediese Fakulteit in Londen. Die Wêreldgesondheidsorganisasie berig dat hierdie ontdekking “van onskatbare waarde kan wees vir toekomstige navorsing oor TB-geneesmiddels en -entstowwe”.—The TB Treatment Observer, 15 September 1998.

[Prente op bladsy 23]

Hierdie kombinasie van medisyne kan die TB-basille doodmaak

[Erkennings]

Foto voorsien deur WHO, Geneva

Foto: WHO/Thierry Falise

[Prente op bladsy 24]

Dit kos net R600 om ’n pasiënt te genees

[Erkennings]

Foto: WHO/Thierry Falise

Foto voorsien deur WHO, Geneva

[Foto-erkennings op bladsy 21]

Foto: WHO/Thierry Falise

Foto voorsien deur WHO, Geneva

Foto: WHO/Thierry Falise

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel