Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 5/22 bl. 25-27
  • Die Brakwaterkrokodil—koning van die reptiele

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Brakwaterkrokodil—koning van die reptiele
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kake!
  • Meesterlik ontwerp
  • Koninklike afmetings
  • Keerpunt
  • “’n Oorlog teen die spesie”
  • Pasop vir die ‘oë van die rivier’!
    Ontwaak!—1996
  • Glimlag—Vir ’n krokodil?
    Ontwaak!—2005
  • Krokodille van naderby beskou
    Ontwaak!—1995
  • Die krokodil se kake
    Ontwaak!—2015
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 5/22 bl. 25-27

Die Brakwaterkrokodil—koning van die reptiele

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN PALAU

HEERSKAPPY oor die Palau-eilandgroep, in die Stille Oseaan, is al dikwels betwis. Spanje was die eerste koloniale mag wat oor hierdie tropiese eilande, 890 kilometer oos van die Filippyne, geheers het. Spanje is mettertyd deur Duitsland vervang, en Duitsland deur Japan. Ná Japan het die Verenigde State oorgeneem en tot in 1994 oor die streek geheers toe die Republiek van Palau ’n onafhanklike staat geword het.

Maar gedurende al hierdie geskille is ’n ander soort heerskappy op die eiland nooit betwis nie. Wat was dit? Die heerskappy van die brakwaterkrokodil—die onbetwiste koning van Palau se reptiele. Vandag is die troon van die krokodille egter wankelrig. Trouens, navorsers sê dat “die brakwaterkrokodil binnekort sal uitsterf in die natuur in Palau tensy dringende en streng maatreëls getref word om die spesie te beskerm”.

Waarom is Palau se krokodille in gevaar? En waarom is hulle in die eerste plek die titel koning van die reptiele gegee?

Kake!

Die brakwaterkrokodil se wetenskaplike naam is Crocodylus porosus, wat “’n krokodil vol eelte” beteken.a Hierdie naam verwys na die skubagtige knoppe op die bokant van sy snoet. Hulle vorm twee riwwe wat van die oë tot by die neusgate strek. Die snoet is driehoekig en maak ongeveer ’n sewende van die totale lengte van die liggaam uit. Een krokodil, wat in die Palau-museum ten toon gestel word, se reusagtige kop is 40 sentimeter breed!

Wanneer die krokodil sy onderkaak laat sak, sien jy vlymskerp tande in kake wat met dodelike krag kan toeklap. Die enigste swak plek van die kake is die spiere wat hulle laat oopgaan. Een bron sê dat ’n rek gewoonlik genoeg is om die bek van ’n twee meter lange krokodil toe te hou.

Meesterlik ontwerp

Die krokodil se kop is nie net enorm nie, maar ook meesterlik ontwerp vir lewe in die water. As jy hom van nader bekyk (’n opgestopte krokodil, natuurlik!), sal jy sien dat sy ore, oë en neusgate op die hoogste dele van sy kop sit. Hulle steek net-net bo die wateroppervlak uit wanneer die krokodil dryf. Interessant genoeg, selfs wanneer die krokodil sy mond toemaak, kan hy nie die water uithou nie, want hy het nie lippe wat sy kakebeen bedek nie. Maar water wat in sy mond instroom, kan nie in sy keel invloei nie omdat ’n klep die keel afsluit. En aangesien lug deur die neusgate ingeasem word en sy liggaam ágter hierdie klep binnevloei, kan die krokodil asemhaal terwyl sy mond vol water is.

En wat van sy vermoë om onder water te sien? Dit is glad nie ’n probleem nie. Terwyl hy onder water is, trek die krokodil ’n deursigtige vlies, oftewel derde ooglid, oor sy oë. Hierdie vlies beskerm die oë sonder enige gesigsverlies.

Koninklike afmetings

Die brakwaterkrokodil is die grootste reptiel in die wêreld. Wanneer mannetjies 3,2 meter lank is, is hulle volwasse, maar hulle hou nog jare lank aan met groei. Mark Carwardine, die skrywer van The Guinness Book of Animal Records, sê dat daar ’n brakwaterkrokodilmannetjie in ’n natuurreservaat in Indië is wat sewe meter lank is!

Die krokodil se habitat het ook koninklike afmetings. Dieselfde bron sê dat die brakwaterkrokodil se gebied groter is as dié van al die ander krokodilsoorte. Brakwaterkrokodille kom oral in die tropiese streke van Asië en die Stille Oseaan voor, ’n gebied wat strek van Indië af tot by Australië en die Palau-eilandgroep.

Keerpunt

Die wortelboommoerasse op die Palau-eilande voorsien die krokodille van skaduwee, beskerming en volop kos. Dit is dus geen wonder dat hierdie reptiele die Palau-eilandgroep as hulle broei- en blyplek gekies het nie. Trouens, volgens skatting was daar gedurende die sestigerjare tussen 1 500 en 5 000 krokodille op hierdie eilande.

Maar Desember 1965 was ’n keerpunt vir die krokodille op Palau. Daardie maand het ’n brakwaterkrokodil ’n Palauaanse visserman aangeval en doodgemaak. ’n Paar weke later is die dier gevang en in die openbaar ten toon gestel. Die publiek het so woedend geraak vir die gevange dier dat hy doodgemaak is.

“’n Oorlog teen die spesie”

Kort hierna, verduidelik krokodilkenners Harry Messel en F. Wayne King, het die owerheid “’n veldtog op tou gesit om al die krokodille in Palau uit te wis, ongeag waar hulle voorgekom het. Dit was in werklikheid ’n oorlog teen die spesie.” Belonings is aangebied, strikke is gestel en jagbote is gebruik om die diere te soek. Van 1979 tot 1981 het jagters tussen 500 en 1 000 krokodille geskiet. Hulle het die diere afgeslag en hulle velle verkoop.

Aangesien volwasse krokodille groot velle het, het veral húlle ’n teiken geword. Maar elke keer wat die jagters ’n volwasse wyfie doodgemaak het, het hulle ook voorkom dat die sowat 1 000 kleintjies uitbroei wat die wyfie gedurende haar leeftyd sou kon voortbring. Gevolglik het die krokodilgetalle al hoe kleiner geraak. In die vroeë negentigerjare het Messel en King bevind dat daar “minder as 150 krokodille in die natuur in Palau oor is”.

Die mens het wel goeie rede om versigtig te wees vir brakwaterkrokodille, want hulle kan ’n mens doodmaak. Die skrywer Carwardine sê nogtans: “Die skade wat hulle ons aandoen, is onbeduidend wanneer dit vergelyk word met die verwoesting wat ons onder hulle gesaai het.”

In 1997 is die Ngardok-natuurreservaat gestig. Alhoewel hierdie reservaat nie hoofsaaklik vir die beskerming van brakwaterkrokodille gestig is nie, vind hulle wel baat by die reservaat. Die moerasse rondom die Ngardok-meer bied die krokodille skuiling en plek om te broei.

Die brakwaterkrokodil is dalk nie jou idee van ’n intieme vriend nie, maar stem jy nie saam dat hy ’n indrukwekkende koning is nie?

[Voetnoot]

a Porosus kom van die Griekse woord porosis, wat “’n eelt” beteken, en die Latynse agtervoegsel -osus, wat “vol” beteken.

[Venster op bladsy 27]

KROKODILTRANE

As ’n mens sê dat iemand krokodiltrane huil, beteken dit dat sy hartseer of meegevoel nie opreg is nie. Maar waarom word krokodille as huigelaars voorgestel? Volgens The International Wildlife Encyclopedia is een moontlike rede vir hierdie gesegde dalk die feit dat krokodille hulle oë klam hou. Gevolglik “loop trane, of water wat onder hulle ooglede vasgevang is, soms uit hulle ooghoeke. Dit, tesame met die permanente grynslag van hulle kake, kon tot hulle legendariese reputasie as huigelaars gelei het.”

[Venster/Prente op bladsy 27]

’N KROKODIL OF ’N ALLIGATOR?

Wat is die verskil tussen ’n krokodil en ’n alligator? Die opvallendste verskil is hulle tande. Kortom, wanneer ’n krokodil se kake toe is, kan jy die vergrote vierde tand van die onderkaak sien. Maar die alligator se bokaak bedek hierdie tand.

[Prente]

Krokodil

Alligator

[Erkenning]

F. W. King photo

[Prente op bladsy 26]

Kyk net daardie tande!

[Erkenning]

Met vergunning van: Koorana Crocodile Farm, Rockhampton, Queensland, Australia

© Adam Britton, http://crocodilian.com

[Foto-erkenning op bladsy 25]

Met vergunning van: Australian International Public Relations

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel