Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 4/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n “Neiging tot wantroue”
  • Nooit te laat om op te hou nie
  • Die huwelik kan geluk meebring
  • Besmette bloed?
  • Kanker word dikwels verkeerd gediagnoseer
  • Hardnekkige parasiet
  • Waarskuwingstekens van beroerte
  • Kettingbriewe word verbrand
  • Olifantregte
  • Op pad na ’n universele taal?
  • Beroerte—die oorsaak daarvan
    Ontwaak!—1998
  • Wat dit verg om ’n olifantdrywer te wees
    Ontwaak!—2009
  • Hoe om die gevolge daarvan die hoof te bied
    Ontwaak!—1998
  • Sigarette—Wys jy dit van die hand?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 4/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

’n “Neiging tot wantroue”

“’n Krisis in die hart van die Wêreldraad van Kerke het aan die lig gekom”, sê die Franse koerant Le Monde. Die raad, wat verlede Augustus sy 50ste bestaansjaar gevier het, is gevorm om Christelike denominasies regoor die wêreld te help verenig. Maar in die laaste jare het ’n “neiging tot wantroue” ontwikkel wat Ortodokse godsdienste in die organisasie se “deelname bedreig”. Een van die besware wat deur Ortodokse kerke geopper is, was dat sommige Oosterse lande “slagoffers van proselitisme” geword het vanweë die werk van Katolieke en Protestantse sendelinge. Een kerk, die Ortodokse Kerk van Georgië, het alreeds aan die raad met sy 330 lede onttrek. Gevolglik “is Ortodokse Kerke se onttrekking aan die Wêreldraad van Kerke in Genève nie meer ’n belaglike hipotese nie”, sê die koerant.

Nooit te laat om op te hou nie

’n Studie wat oor 40 jaar gedoen is, het getoon dat mense wat opgehou rook het, selfs op 60-jarige ouderdom, hulle risiko om kanker te kry grootliks verminder het, berig Brittanje se Daily Telegraph. Professor Julian Peto, van die Kankernavorsingsinstituut in Sutton, Engeland, sê: “Ons het maar eers verlede jaar besef presies watter aaklige gevolge rook het, dat dit die helfte van alle rokers se dood veroorsaak in plaas van ’n kwart soos ons gedink het, maar ook hoe baie voordele dit inhou om op te hou [rook], selfs as ’n mens al oud is.” Kinders word gereeld teen die gevare van rook gewaarsku. Maar ouer mense moet ook weet dat hulle die risiko om longkanker te kry grootliks verminder as hulle ophou rook, sê Peto.

Die huwelik kan geluk meebring

Party sê dat die huwelik onderdrukkend is, en TV-sitkoms wys dikwels dat dit hopeloos uit die mode is. Maar wat toon die feite? Is ongetroude mense noodwendig gelukkiger? Nie volgens ’n sosioloog wat in die Philadelphia Inquirer aangehaal is nie. Sy sê dat getroude mense “oor die algemeen gelukkiger, gesonder en ryker” is. Diegene wat trou, sal as ’n groep ook minder spanning ervaar, heel waarskynlik nie misdade pleeg of onwettige dwelms gebruik nie en heel moontlik nie staatshulp nodig hê nie. Dit is geen wonder dat deskundiges sê dat getroude mense ook langer leef nie.

Besmette bloed?

Nege dagblaaie in die omgewing van New York-stad het onlangs ’n advertensie gepubliseer met die opskrif “Aan almal wat tussen Januarie 1991 en Desember 1996 in ’n hospitaal in New York/New Jersey bloed ontvang het”. Alhoewel die borg van die advertensie, die New York-bloedbank, sê dat die advertensie bedoel was om enigeen wat gedurende die vroeë negentigerjare ’n bloedoortapping ontvang het te verseker dat die bloedvoorraad veilig was, het dit moontlik presies die teenoorgestelde uitwerking gehad. Waarom? Die waarskuwing in die advertensie was ongetwyfeld een rede tot kommer: “Ontvangers van geskenkte bloedprodukte gedurende daardie tydperk loop moontlik die gevaar om oortappingsoordraagbare infeksies, soos HIV en hepatitis, te kry.”

Kanker word dikwels verkeerd gediagnoseer

“Amptelike statistiek oor doodsoorsake onderskat die tol wat kanker eis”, berig die tydskrif New Scientist. Dr. Elizabeth Burton, van die Mediese Sentrum van Louisiana in New Orleans, het die verslae ondersoek van 1 105 pasiënte op wie daar tussen 1986 en 1995 lykskouings gedoen is om die kliniese diagnoses van kanker met die diagnoses van die lykskouings te vergelyk. Volgens Burton is die kanker in 44 persent van die pasiënte nie gediagnoseer nie of die soort kanker is verkeerd gediagnoseer. Met lykskouings wat tans net op 10 persent van pasiënte gedoen word—in vergelyking met ongeveer 50 persent in die sestigerjare—“word baie foute dalk nooit gevind nie”, sê die tydskrif.

Hardnekkige parasiet

Taenia solium, ’n parasiet wat die siekte blaaswurmbesmetting in mense veroorsaak, is nog steeds ’n probleem in sommige onderontwikkelde lande. Die siekte word gewoonlik opgedoen wanneer besmette varkvleis geëet word wat nie heeltemal gaar is nie of kos geëet word wat met die larwes van die parasiet besmet is. Volgens die koerant Excélsior van Mexikostad is dit ‘moeilik om die parasiet op te spoor’, en gevolglik “kan [dit] jare lank in die menslike liggaam ontwikkel sonder dat die draer daarvan bewus is”. Simptome kan koors, hoofpyn, stuipe en visuele probleme insluit. Die koerant sê dat navorsers by die Nasionale Outonome Universiteit van Mexiko ’n entstof vir varke probeer ontwikkel ten einde die parasiet uit te roei.

Waarskuwingstekens van beroerte

“Baie mense kan nie eens een simptoom van beroerte noem nie”, berig die FDA Consumer. Die tydskrif voeg by: “Net ’n bietjie meer as die helfte van dié wat aan die opname deelgeneem het, kon ten minste een simptoom van beroerte noem, en net 68 persent kon een risikofaktor van beroerte noem.” Dít ten spyte van die feit dat beroertes ’n vername doodsoorsaak en die hoofoorsaak van ongeskiktheid in die Westerse nywerheidswêreld is. Om die skade wat ’n beroerte kan veroorsaak tot die minimum te beperk, is dit belangrik dat jy met die eerste waarskuwingsteken onmiddellik mediese hulp kry. Die algemeenste simptome van ’n beroerte is skielike swakheid, ’n dooie gevoel of verlamming van die gesig, arm of been; skielike dowwe sig of gesigsverlies, veral in een oog; probleme om te praat of om te verstaan wat ander sê en onverklaarde duiseligheid of balansverlies, veral wanneer dit met ander waarskuwingstekens gepaardgaan.

Kettingbriewe word verbrand

Sedert 1992 word daar elke jaar ’n Boeddhistiese seremonie in die stad Nagoja, Japan, gehou waartydens kettingbriewe verbrand word om daarvan ontslae te raak. Die poswese het houers beskikbaar gestel waarin die ongewenste briewe in poskantore regdeur die stad bymekaargemaak kan word, en hulle het ’n Boeddhistiese tempel gevra om ’n seremonie te hou om dit te verbrand. Asahi Evening News het verduidelik dat hierdie diens voorsien is “vir die bygelowiger ontvangers wat bang is om die brief te ignoreer of dit self te vernietig”. Waarom was hulle bang? Die briewe belowe nie net voordele aan diegene wat die instruksies nakom nie. Hulle dreig ook dat enigeen wat die ketting verbreek teenspoed sal optel. Een brief het byvoorbeeld gewaarsku dat iemand wat die ketting in Tokio verbreek het, vermoor is.

Olifantregte

In baie dele van Indië maak olifante ’n belangrike deel van die werkkrag uit. Die tydskrif The Week berig dat olifante in die Noord-Indiese staat Uttar Pradesj as volwaardige werknemers op die regering se betaalstate genoem word. ’n Olifant begin op ongeveer 10-jarige ouderdom werk en dien sy werkgewers tot 50 jaar lank. Met sy aftrede ontvang ’n olifant ’n pensioen net soos ander staatsamptenare, en ’n mahout, olifantafrigter en -leier, word aangestel om toe te sien dat die olifant behoorlike sorg en kos ontvang. Van die voordele gedurende die werkslewe van ’n olifantkoei is ’n jaar lange kraamverlof in die gemak van ’n dieretuin voordat sy weer terugkeer na die belangrike werk om timmerhout te vervoer, wilde olifante aan te keer en op te lei, asook nasionale parke en beskermde woudgebiede te patrolleer.

Op pad na ’n universele taal?

“In ’n land in Sentraal-Asië waar Westerse tale selde gepraat word”, sê ’n agtjarige vir sy vader dat hy Engels moet leer. Die vader vra waarom. “Omdat die rekenaar Engels praat, Pa.” Hierdie verhaal, sê Asiaweek, “lig dít toe wat baie as ’n verraderlike newe-effek van die inligtingsnelweg beskou . . . , die potensiaal om die reeds vinnige verandering na ’n oorheersende wêreldtaal—Engels—verder te versnel”. Die tydskrif sê voorts: “Dit is geensins die gevolg van pogings om universele broederskap te bevorder nie. Dit is bloot prakties. As ons op elektroniese wyse oor die Internet met mekaar wil kommunikeer en handel dryf, is ’n gemeenskaplike middel nodig om kommunikasie te vergemaklik.” Waarom Engels? Omdat “die PR-bedryf, asook die Internet, in die VSA ontstaan het. Vandag is sowat 80% van die netwerkinhoud Engels.” Die gebruik van ander tale word in sommige gevalle vertraag weens die probleem om hulle by die Engelse toetsbord aan te pas. “Dit sal ’n tol eis”, sê Asiaweek. “Taalkundiges voorspel dat die helfte van die sowat 6 000 tale wat vandag gepraat word teen die einde van die volgende eeu, en moontlik binne die volgende 20 jaar, in onbruik sal verval.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel