’n Besoek aan slawerny se afskuwelike verlede
BAIE naby die kus van die Afrikaland Senegal, naby die stad Dakar, lê Île de Gorée. Hierdie eiland was 312 jaar lank, tot in 1848, ’n sentrum vir ’n florerende handel in mense. Geskiedenisverslae uit die Franse hawestad Nantes toon dat daar tussen 1763 en 1775 alleen meer as 103 000 slawe van Gorée af deur die hawe van Nantes verhandel is.
Vandag besoek gemiddeld 200 besoekers per dag die Maison des Esclaves, die Slawehuismuseum. Die toergids Joseph Ndiaye het vertel van sommige van die afgryslikhede wat die hulpelose slagoffers moes verduur: “Ons voorvaders is weggevoer, hulle gesinne is van mekaar geskei, hulle velle is gebrandmerk, asof hulle beeste was.” Hele gesinne het in kettings hier aangekom. “Die moeder het dalk na Amerika gegaan, die vader na Brasilië, die kinders na die Antille”, het die gids vertel.
“Nadat hulle geweeg is”, het Ndiaye verduidelik, “is die mans se waarde volgens hulle ouderdom en herkoms bepaal, en sekere etniese groepe was gesog weens hulle taaiheid of omdat daar kwansuis goed met hulle geteel kon word. Die Joroebas was byvoorbeeld gesog as ‘teelhingste’.”
Gevangenes wat ondergewig was, is soos ganse vet gevoer voordat hulle opgeveil is. Slawehandelaars het jong vroue gekies wat hulle snags vir hulle seksuele genot gebruik het. Opstandige slawe is nie aan hulle nek opgehang nie, maar met die tou om hulle borskas, sodat hulle langer sou ly.
Pous Johannes-Paulus II het Gorée in 1992 besoek. The New York Times het berig dat “hy om verskoning gevra het vir die slawehandel en om vergifnis gevra het namens almal wat daaraan deelgeneem het, met inbegrip van die Katolieke sendelinge wat die knegskap van Afrikane as normaal aanvaar het”.
Maar nie almal is bereid om te erken wat gebeur het nie. Twee en ’n half jaar gelede, voordat die Nantes-verslae opgegrawe is, het ’n Franse Jesuïet aangevoer dat net 200 tot 500 slawe per jaar op Gorée verkoop is. Tot vandag toe “het die wêreld nog nooit aanvaar hoe afskuwelik hierdie euwel was nie”, het mnr. Ndiaye gesê.
[Foto-erkennings op bladsy 31]
Gianni Dagli Orti/Corbis
Yann Arthus-Bertrand/Corbis
Weergegee uit DESPOTISM—A Pictorial History of Tyranny