Van ons lesers
Godsdiens en oorlog Ek skryf om my waardering uit te spreek vir die leersame artikels oor godsdiens in oorlog (22 April 1997). Die eerste artikel, “Bloedvergieting in die naam van God”, het my belangstelling gewek. Dit was kort en saaklik, veral waar dit verduidelik waarom Jehovah God dit goedgekeur het dat die eertydse Israeliete die Kanaäniete uitwis.
S. J., Verenigde State
Ginger Klauss se verhaal Laat ek julle vertel hoe ek bemoedig is deur Ginger Klauss se ondervinding “Nou is ek bly dat ek lewe!” (22 April 1997). Net soos sy het ek alle selfvertroue verloor en niks werd en ongeliefd gevoel. Omdat ek nie hierdie gevoelens kon verwerk nie, het ek elke dag onder trane vir God gesê dat ek wou sterf. Ek het die dood as ’n welkome verligting beskou. Maar eendag het ek gebid: “As dit u wil is, gee my asseblief die aansporing om te lewe.” Net nadat ek só gebid het, het ek hierdie nommer van die Ontwaak! ontvang. Toe ek hierdie artikel sien, het ek besef dat God my gebed verhoor het. Ek het by Ginger geleer dat dit my kan help om ’n positiewe gesindheid te behou as ek my sin vir humor behou en myself nie te ernstig opneem nie. Ek kan beslis sê dat hierdie tydskrif my die wil gegee het om te lewe.
M. K., Japan
Ek het so pas die artikel vir die sesde keer gelees, en dit sal beslis nie die laaste keer wees nie! Ek is 21 jaar oud en ’n voltydse evangeliedienaar. Ek het groot bewondering vir Ginger Klauss weens die ywer wat sy vir die predikingswerk openbaar ten spyte van die feit dat sy aan ’n rolstoel gekluister is. Haar ondervinding het my beweeg om alles in my vermoë te doen om Jehovah te dien.
S. Z., Italië
Baie dankie vir die hartroerende ondervinding. Weens spierdistrofie moet ek ’n groot deel van elke dag in die bed deurbring, en ek vind dit baie moeilik om die predikingswerk in ’n rolstoel te doen. Ginger se ondervinding het my baie aangemoedig en my gehelp om dié tye wanneer ek as gevolg van my siekte ’n bietjie depressief voel te verwerk.
M. R., Italië
Waarom so siek? Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Waarom moet ek so siek wees?” (22 April 1997). Ek is 21 jaar oud en het sekelselanemie. Ek kan die gevoelens van die jongmense in hierdie artikel goed verstaan. Ek wonder dikwels of iemand my sal liefhê en met my sal trou ten spyte van my gesondheidsprobleem. Maar julle artikel het my gehelp, want nou weet ek dat ek nie die enigste een is wat so voel nie.
D. R., Verenigde State
Onafskeidbare vriende Dankie vir die ondervinding van Anne-Marie Evaldsson (22 April 1997). Ek is met bewondering vervul vir die manier waarop hierdie suster steeds geestelik vooruitgaan ten spyte van haar gebrek. Die verhaal het my laat nadink. Baie van ons waardeer nie wat aan ons gegee is om in Jehovah se diens te gebruik nie. Ek wil graag die suster en haar lojale vriend prys. Wat ’n goeie voorbeeld!
R. A., Ecuador
Dit is baie bemoedigend om te weet dat iemand wat blind is ook werk, aan die huis-tot-huis-bediening deelneem, Bybelstudies hou en elke week Christelike vergaderinge bywoon. Dit het my laat voel dat dit die moeite werd is om my bes te doen in die bediening, om dit altyd eerste te stel. Die waarde van geestelike gesigsvermoë is werklik ongeëwenaard. Ek sal Anne-Marie Evaldsson met innige liefde en waardering onthou.
J. O., Nigerië