Van ons lesers
Veiligheid by troeteldiere In die artikel “Is kinders veilig by jou hond?” (8 Julie 1997) het julle voorgestel dat die hond se bed in die kombuis gesit moet word. In vorige artikels het julle egter gesê dat ons dit om higiëniese redes moet vermy om troeteldiere in kosvoorbereidingsgebiede te hê.
R. H., Spanje
Ons waardeer hierdie opmerking. Ons artikel het die aandag toegespits op die veiligheid van kinders, en higiëne is nie bespreek nie. Ons wil derhalwe voorstel dat lesers die artikel “Maak jou kos veilig” (22 Junie 1989) lees, wat gesê het: “Troeteldiere en ander diere moet van kosvoorbereidingsgebiede weggehou word.” ’n Hondehok buite die huis of ’n kamer buite die kombuis sal dalk ’n meer gepaste plek wees vir ’n hond om te slaap.—RED.
Australië Ek wil graag baie dankie sê vir die hartlike, en tog lewendige, artikel oor Australië, met die titel “Die lewe is anders in Australië” (8 Oktober 1997). Hoewel ek al baie oor hierdie fassinerende en kleurryke land gelees het, het julle artikel my gehelp om te sien hoe dankbaar ons teenoor Jehovah moet wees vir sy wonderlike skepping.
L. K., Duitsland
Probleemvrye paradys Ek is so dankbaar vir die reeks “’n Probleemvrye paradys—Wanneer?” (8 Oktober 1997). My ouma is oorlede voordat ek gebore is. Sy het aan kanker gesterf. Maar in die Paradys sal daar nie meer siekte wees nie. Hierdie artikel het my aangemoedig om getrou te bly sodat ek haar in die Paradys kan sien.
M. J., Trinidad
Diereslaap Ek wil my waardering uitspreek vir die artikel “Geheime van diereslaap” (8 Oktober 1997). Dit was grappig—en ek het ’n hele paar wonderlike dinge oor die skepping geleer.
J. G., Puerto Rico
Ek het ’n vis as troeteldier, en ek wou nog altyd weet of visse slaap. Ek was dus bly om uit te vind dat hy net rus wanneer hy glad nie beweeg nie.
A. P. L. M., Brasilië
Seer voete Dit het gelyk of julle artikel “Hulp vir seer voete” (8 Oktober 1997) hoofsaaklik met vroue in gedagte geskryf is. Maar ’n paar dae nadat ons die artikel gelees het, het my man gekla dat sy voete seer is—soos hy al die afgelope sewe jaar kla. Met die artikel in gedagte het ons na ’n skoenwinkel toe gegaan. Julle sal dit nie glo nie—hy het ’n 8 gedra terwyl hy eintlik ’n 9 moet dra! Hy het reeds verligting ondervind, danksy die Ontwaak!
S. J., Verenigde State
Ek staan byna heeldag by die werk, en ek het probleme begin ondervind omdat ek hoëhakskoene dra. Hierdie maand het ek hulppionierdiens (deeltydse evangelisasiewerk) gedoen, en danksy die artikel het ek drie pare gemaklike skoene gekoop. Dankie dat julle in ons gesondheid belangstel en ons ingelig hou.
C. L., Duitsland
Oorlog en kinders Baie, baie dankie vir die reeks “Wat oorlog aan kinders doen” (22 Oktober 1997). Dit help ons werklik om te besef dat ons Jehovah se Koninkryk dringend nodig het om ’n einde te bring aan die verwoestende gevolge van oorlog. Dit was waarlik ’n openbaring en het vir ons die wreedheid gewys waarvan baie van ons in ander lande nie bewus is nie.
Y. C., Engeland
Ek hou nie daarvan om oor die mishandeling van kinders te lees nie. Op die oomblik is ek baie na aan trane. Dit is vir my werklik weersinwekkend om te sien hoe die wêreld besig is om ’n verstandelose gemeenskap van ongevoelige mense te word. Ek wil julle prys vir die openhartige manier waarop julle hierdie insiggewende artikel aangebied het.
K. E., Verenigde State