’n Probleemvrye paradys—binnekort ’n werklikheid
“JY SAL saam met my in die Paradys wees.” Hoe het daardie woorde tog nie die man met ’n kriminele rekord gerusgestel nie! Nee, nie omdat hy gemeen het dat hy ’n brandende hel sou vryspring en hemel toe sou gaan wanneer hy sterf nie. Die dief langs Jesus het eerder vertroosting geput uit die hoop dat hy weer tot lewe opgewek sou word wanneer die Paradys op die planeet herstel sou wees. Let asseblief op wie so ’n treffende stelling oor die Paradys gemaak het—God se eie Seun, Jesus Christus.—Lukas 23:43.
Wat het aanleiding gegee tot Christus se belofte van die Paradys? Die dief het die beroep gedoen: “Jesus, dink aan my wanneer u in u koninkryk kom” (Lukas 23:42). Wat is hierdie Koninkryk, en watter verband is daar tussen die Koninkryk en ’n aardse paradys? Hoe waarborg dit dat die Paradys probleemvry gaan wees?
Die krag agter die Paradys
Jy sal saamstem dat ’n ware paradys net op aarde kan kom wanneer alle hedendaagse probleme uit die weg geruim is. Mensepogings om dit te verwyder, het tot dusver misluk, iets waarvan die geskiedenis voldoende bewys lewer. Die Hebreeuse profeet Jeremia het erken: ‘Ek weet, o HERE, dat dit nie aan ’n man toebehoort om te loop en sy voetstappe te rig nie’ (Jeremia 10:23). Wie kan dan alle hedendaagse probleme verwyder?
Uiterste weerstoestande en besoedeling. Toe ’n hewige windstorm oor die See van Galilea golwe meegebring het wat groot genoeg was dat ’n boot skipbreuk kon ly, het die matrose hulle slapende reisgenoot wakker gemaak. Hy het toe eenvoudig vir die see gesê: “Bedaar! Wees stil!” Markus se Evangelieverslag sê wat gebeur het: “Die wind het gaan lê, en ’n groot kalmte het ingetree” (Markus 4:39). Daardie reisgenoot was niemand anders as Jesus nie. Hy het die mag gehad om die weer te beheer.
Dit was hierdie selfde Jesus wat deur die apostel Johannes voorspel het dat die tyd sal kom wanneer God “die verderwers van die aarde [sal] verderf” (Openbaring 1:1; 11:18). Dit is beslis nie onmoontlik vir die Een wat ’n hele wêreld van goddelose mense in die Vloed van Noag se dag verwyder het nie.—2 Petrus 3:5, 6.
Misdaad en geweld. Die Bybel belowe: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede” (Psalm 37:9, 11). Weer eens is dit God, Jehovah, wat belowe om alle misdaad en geweld te verwyder en die Paradys slegs vir die ootmoediges te gee.
Armoede en hongersnood. Hedendaagse ongeregtigheid laat regerings in een deel van die wêreld toe om “berge” oortollige kos te stoor terwyl arm lande terselfdertyd in armoede voortsukkel. Noodlenigingsinstansies, wat deur besorgde mense regoor die wêreld gesteun word, probeer die noodsaaklikhede voorsien, maar misluk dikwels wanneer verspreidingskemas weens ’n gebrek aan wet en orde verydel word. Vergelyk dit met wat die profeet Jesaja opgeteken het: “Die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn” (Jesaja 25:6). Klink dit nie asof hongersnood nie meer sal bestaan nie? Beslis.
Oorlog. Pogings om hierdie wêreld deur middel van ’n supranasionale owerheid te regeer, was onsuksesvol. Die Volkebond, wat in 1920 gestig is, kon nie keer dat die Tweede Wêreldoorlog uitbreek nie en het ineengestort. Die Verenigde Nasies, wat so dikwels as die beste hoop op vrede bestempel word, sukkel om strydende partye in konflikgebiede van mekaar af weg te hou. Ten spyte van sy vredespogings waaraan daar baie publisiteit gegee word, kom daar nog baie oorloë voor, hetsy dit burgerlike, etniese of gemeenskapsoorloë is. God se Koninkryksregering belowe om hedendaagse strydende faksies te verwyder en sy onderdane in die weë van vrede te onderrig.—Jesaja 2:2-4; Daniël 2:44.
Gesinsverbrokkeling en sedelike verval. Gesinsverbrokkeling is aan die orde van die dag. Jeugmisdadigheid is baie algemeen. Onsedelikheid dring tot alle vlakke van die mensegemeenskap deur. Tog het God se standaarde van die begin af onveranderd gebly. Jesus het getuig dat “’n man sy vader en sy moeder [sal] verlaat en sy vrou [sal] aankleef, en die twee sal een vlees wees . . . Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matteus 19:5, 6). Jehovah God het verder beveel: “Eer jou vader en jou moeder . . . sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly” (Efesiërs 6:2, 3). Sulke standaarde sal onder God se Koninkryk op die aarde heers.
Siekte en dood. “Die HERE . . . sal ons verlos”, het die profeet Jesaja belowe, “en geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:22, 24). “Die loon wat die sonde betaal, is die dood”, het die Christenapostel Paulus erken, “maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus.”—Romeine 6:23.
Jehovah God sal al hierdie probleme verwyder deur middel van sy hemelse regering in die hande van sy Seun, Christus Jesus. Maar jy sê dalk: ‘Dit klink soos ’n Utopiese droom. Dit sou beslis wonderlik wees as dit sou waar word, maar sal dit?’
’n Hedendaagse werklikheid
Vir baie klink die moontlikheid om reg hier op die aarde in ’n probleemvrye paradys te lewe onrealisties optimisties. As dit is hoe jy voel, kan jy gerus die bewyse ondersoek dat dit werklik sal plaasvind.
Jehovah se Getuies is ’n hedendaagse internasionale gemeenskap van meer as vyfmiljoen mense wat reeds ’n relatief probleemvrye milieu in hulle 82 000 gemeentes geniet wat in 233 lande versprei is. Jy kan enige van hulle vergaderinge, groot of klein, bywoon, en wat sal jy vind?
(1) ’n Aangename, skoon atmosfeer. Die bestuurder van ’n voetbalstadion het oor een byeenkoms van Jehovah se Getuies in Norwich, Engeland, kommentaar gelewer en gesê: “Die vreedsame atmosfeer gedurende die vier dae . . . is aansteeklik. Jy ondervind ’n persoonlike kalmte wat heeltemal in teenstelling is met dié van enige ander vier dae in die gespanne sakewêreld en daaglikse lewe om ons. Daar is iets omtrent die Getuies wat werklik anders is en dit is moeilik verklaarbaar.”
’n Opleidingsraadgewer in die boubedryf wat die kantore van Jehovah se Getuies in Londen besoek het, het gesê: “Ek was baie beïndruk deur wat ek gesien en gehoor het en was nogal oorweldig deur die atmosfeer van algehele vrede en kalmte wat nie net in julle geboue nie, maar ook onder die [mans en vrouens] bestaan. Ek dink dat julle lewenswyse en geluk die res van hierdie veelbewoë wêreld baie kan leer.”
(2) Veiligheid en vrede. ’n Rubriekskrywer vir die Journal de Montréal in Kanada het geskryf: “Ek is nie ’n Getuie nie. Maar ek kan getuig van die feit dat die Getuies bewys lewer van bekwaamheid en behoorlike gedrag. . . . As hulle die enigste mense in die wêreld was, sou ons nie snags ons deure hoef te sluit en die diefalarm hoef aan te sit nie.”
(3) Lojaliteit aan God se Koninkryksregering is ’n kenmerk van die Getuies. Hulle neutrale standpunt ontstel party, hoewel dit nie so hoef te wees nie. Die feit dat hulle nie betrokke raak by hedendaagse politieke skemas wat bloot tydelike oplossings bied nie, is nie omdat hulle onverskillig staan teenoor die verbetering van die gemeenskap nie. Hulle probeer hulle eerder op ’n manier gedra wat die een behaag wat deur middel van ’n hemelse regering heers, naamlik die aarde se Skepper, Jehovah God.
Die Getuies se geloof, wat geheel en al op God se Woord, die Bybel, gebaseer is, verhinder dat hulle in die slagyster trap om ’n sekte of ’n kultus te word. Hulle stel liefdevol in alle ander mense belang, ongeag hulle godsdiensoortuiging. Nee, hulle probeer nie hierdie mense dwing om van standpunt te verander nie. Hulle streef daarna om hulle Leier, Christus Jesus, na te volg deur skriftuurlike bewys te lewer van die probleemvrye Paradys wat binnekort op die aarde tot stand gebring gaan word.—Matteus 28:19, 20; 1 Petrus 2:21.
(4) Geestelike gesondheid en geluk. Jehovah se Getuies is realisties en beweer nie dat hulle in hierdie tyd heeltemal sonder probleme is nie. Dit is onmoontlik onder mense wat die stempel dra van sonde wat van Adam oorgeërf is. Maar met die hulp van God se heilige gees streef hulle daarna om persoonlike eienskappe te ontwikkel soos “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22, 23). Dit is hulle aanbidding van Jehovah deur Christus Jesus wat hulle verenig en hulle hoop lewendig hou.
Ons vertrou dat jou besoek aan die Getuies se plaaslike vergaderplek jou sal oortuig dat God die aarde in ’n letterlike paradys gaan omskep.
Die hedendaagse probleme sal nie meer bestaan nie. Selfs onvolmaaktheid wat ons al so lank teister, sal geleidelik verdwyn namate die voordele van Christus se losprysofferande ten behoewe van die gehoorsame mensdom aangewend word. Ja, jy kan volmaakte gesondheid en geluk geniet.
Eenvoudige voorbereiding sal jou help om so ’n vooruitsig te geniet. Vra die Getuies vir jou eie eksemplaar van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei.a Hiermee kan jy in ’n kort tydjie leer wat God van jou vereis sodat jy ook vir ewig die lewe in ’n probleemvrye paradys kan geniet.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Lokteks op bladsy 10]
Die Getuies se geloof, wat geheel en al op die Bybel gebaseer is, verhinder dat hulle ’n sekte of ’n kultus word
[Prente op bladsy 8, 9]
Die grondslag word nou gelê vir ’n probleemvrye paradys
Binnekort sal ’n fisiese paradys aardwyd bestaan