Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 10/8 bl. 4-7
  • Die soeke na ’n probleemvrye paradys

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die soeke na ’n probleemvrye paradys
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is afsondering die antwoord?
  • Vry van misdaad?
  • Wat van oordeelsdagsektes?
  • ’n Probleemvrye paradys
  • “Sien julle in die Paradys!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Paradys op aarde—’n Droom of ’n werklikheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
  • ’n Probleemvrye paradys—binnekort ’n werklikheid
    Ontwaak!—1997
  • Beloof die Bybel ’n aardse paradys?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 10/8 bl. 4-7

Die soeke na ’n probleemvrye paradys

“AL WAT ons wil doen, is om ’n veilige en miskien outydse lewenstyl te skep waar mense vir mekaar omgee”, het een Britse egpaar verduidelik. Hulle het besluit om ’n tropiese eilandparadys te vind en daar ’n gemeenskap te vestig wat in vrede sou saamwoon. Jy kan ongetwyfeld hulle gevoelens verstaan. Wie sou nie die geleentheid aangryp om in ’n probleemvrye paradys te woon nie?

Is afsondering die antwoord?

Die idee om op ’n eiland te woon, is vir baie paradyssoekers aanloklik, want die afsondering bied ’n mate van sekuriteit. Party trek na eilande naby die Pasifiese kus van Panama of na eilande in die Karibiese See, soos dié naby Belize. Ander vestig hulle aandag op idilliese plekke in die Indiese Oseaan—die Seychelle byvoorbeeld.

Die logistiek daaraan verbonde om ’n afgesonderde gemeenskap te vestig, gaan die verstand te bowe. Selfs al is genoeg geld beskikbaar, kan bestaande regeringswetgewing dit moeilik maak om vinnig grond te koop. Maar sou jy daar gelukkig wees indien die ideale tropiese eiland verkry kon word? Sou jou paradys probleemvry wees?

Die afgesonderde eilande om die kus van Brittanje is tans die tuiste van ’n groeiende bevolking. Hulle nuwe inwoners is hoofsaaklik mense wat afsondering en ’n rustige lewe soek. Een man wat alleen woon op die eiland Eorsa van 100 hektaar, naby die weskus van Skotland, beweer dat hy nooit eensaam voel nie omdat sy kudde van eenhonderd skape hom so besig hou. Ander wat die afsondering van ’n eiland opgesoek het, voel gou eensaam. Party het na bewering selfmoord probeer pleeg en moes gered word.

Baie mense glo dat ’n idilliese tropiese eiland ’n paradys sou wees. Om in ’n gematigde klimaat te lewe waar uiterste weerstoestande selde voorkom, is vir hulle aanloklik. Maar besorgdheid oor moontlike aardverwarming en ’n gevolglike styging in die seevlak het onrus onder baie eilandbewoners veroorsaak. Die bewoners van die laagliggende ringeilande waaruit die gebied van Tokelau in die Westelike Stille Oseaan bestaan, sowel as dié van die verspreide eilande van die Maledive in die Indiese Oseaan wat met hooggety net 1,8 meter bo seevlak uitsteek, voel eweneens bedreig.

Nagenoeg 40 verskillende regerings het saamgespan in die Federasie van Ontwikkelende Kleineilandstate om steun te werf vir hulle benarde toestand. Hoewel die bewoners van klein eilande oor die algemeen ’n lang lewensverwagting het en daar min kindersterftes is, het hulle voortdurend met ernstige omgewingsprobleme te kampe. Oliekolle en vuil seë benadeel die ekonomie van sommige eilande. Ander word die stortterrein vir giftige afval waarvan groter lande ontslae wil raak.

Selfs die eilande se geskiktheid as toevlugsoorde vir paradyssoekers hou ’n bedreiging in. Hoe? Toeriste wat na die eilande se sonnige strande stroom, veroorsaak ernstige oorbevolking en uitputting van karige hulpbronne. Hierdie besoekers vererger ook die besoedelingsprobleem. Op die Karibiese Eilande word byvoorbeeld slegs een tiende van die rioolvullis van die 20 miljoen jaarlikse besoekers enigsins behandel.

Iets soortgelyks vind in ander eksotiese plekke plaas. Beskou die geval van Goa aan die westelike kus van Indië. “Massatoerisme ‘vergiftig ’n paradys’”, het die Independent on Sunday van Londen gesê. Amptelike skattings toon dat die aantal toeriste van 10 000 in 1972 tot meer as ’n miljoen in die vroeë negentigerjare toegeneem het. Een groep waarsku dat Goa se sensitiewe ekologie en unieke kultuur bedreig word deur die hebsug van hoteleienaars wat gretig is om munt te slaan uit die toestroming van toeriste. ’n Indiese regeringsverslag bevestig dat party hotelle onwettig op die strand opgerig is. Sand is uitgegrawe, bome is afgekap en duine is gelykgemaak. Rioolvullis word na die strand afgevoer of lek uit in nabygeleë ryslande, en sodoende word besmetting versprei.

Vry van misdaad?

Die feit dat misdaad geleidelik al hoe algemener word, skend die goeie reputasie van selfs die vreedsaamste gebiede. Van die klein Karibiese eilandjie Barbuda af kom ’n berig met die opskrif “Slagting in paradys”. Dit het vertel van die grusame moorde op vier mense aan boord van ’n luuksejag wat naby die eiland se kus geanker was. Sulke gebeure maak mense meer besorg oor die verspreiding van misdaad regdeur die gebied.

“Dwelms ontketen bende-oorloë in ‘paradys’” was die opskrif van ’n berig in The Sunday Times van Londen aangaande een Sentraal-Amerikaanse land. ’n Plaaslike redakteur het die feit betreur dat daar nie meer vrede is nie en gesê: “Nou is dit iets alledaags om in die oggend wakker te word en ’n 16-jarige kind in ’n bloedplas in die straat te sien lê.”

Diegene wat beoog om in ’n gemeenskapsparadys te lewe, hoop om mense te lok wat sal instem om ’n vreedsame lewe te lei. Maar wat is die werklikheid? Meningsverskille het gou ontstaan in die geval van die Britse egpaar wat aan die begin genoem is. Party wat aansoek gedoen het om by hulle aan te sluit, wou duidelik geld maak uit die projek. “Ons wil nie leiers hê nie”, het die organiseerder gesê. “Die idee is om ons middele bymekaar te sit om alles aan die gang te kry. Ek noem dit ’n Utopiese gemeenskap.” Dit is geensins die eerste projek van hierdie soort nie.—Sien die venster “Paradysgemeenskap-eksperimente.”

Party ander paradyssoekers glo dat hulle hulle doelwit sal bereik deur ’n lotery te wen. Maar finansiële gewin wat op hierdie manier bekom is, bring selde geluk mee. In Februarie 1995 het The Sunday Times berig dat die familie van Brittanje se grootste loterywenner tot op hede ’n bittere stryd onder mekaar gehad het; die feit dat hulle gewen het, het hulle net “wrewel, twis en ontnugtering” besorg. Dit is in sulke situasies nie iets ongewoons nie.

In ’n studie van die mens se soeke na Utopia lewer die joernalis Bernard Levin kommentaar oor die “droom van kitsrykdom” en maak hy die bewering: “Soos met soveel drome, is ’n nagmerrie nie ver weg nie. Daar is te veel ware verhale van kitsrykdom wat tot algehele rampspoed (waaronder selfmoorde) gelei het om dit as toeval te verwerp.”

Wat van oordeelsdagsektes?

Ander paradysprojekte het ’n meer onheilspellende inslag gehad. ’n Koerant wat in 1993 berig het oor die beleg van die Branch Davidians se kamp in Waco, Texas, deur geregsdienaars van die regering, het kommentaar gelewer oor die “ontplofbare kombinasie van vuurwapens, breinspoeling en ’n oordeelsdagprofeet” wat tot hierdie debakel gelei het. Ongelukkig is dit nie ’n uitsondering nie.

Die navolgers van wyle Bhagwan Sjree Rajneesj, ’n Indiese geestelike leier, het ’n gemeenskap in Oregon gestig, maar wat hulle gedoen het, het teen die sedelike waardes van hulle bure ingedruis. Hulle leier se rykdom en hulle seksuele proefnemings het hulle bewering weerspreek dat hulle “’n pragtige oase” geskep het.

Baie kultusse wat deur mense met paradysverwagtinge gelei word, vereis dat hulle volgelinge eienaardige gebruike beoefen, wat partykeer gewelddadige konfrontasies tot gevolg het. Die koerantrubriekskrywer Ian Brodie verduidelik: “Kultusse bied ’n toevlugsoord en ’n gestruktureerde gemeenskap vir diegene wat meen dat hulle in ’n vakuum lewe of wat nie die druk van die werklike wêreld kan verwerk nie.” Sy woorde bevestig nietemin die feit dat baie mense dit sou verwelkom om in ’n paradys te lewe.

’n Probleemvrye paradys

Die lys probleme lyk oneindig: besoedeling, misdaad, dwelmmisbruik, oorbevolking, etniese konflik, politieke omwenteling—om nie eens te praat van die probleme wat alle mense in gemeen het nie: siekte en die dood. Die gevolgtrekking moet wees dat daar nêrens op hierdie planeet ’n paradys is wat geheel en al probleemvry is nie. Dit is soos Bernard Levin erken: “Daar is ’n klad op die mensdom se rekord, en blykbaar is dit al byna so lank daar soos die mensdom self. Dit neem die vorm aan van ’n onvermoë om gelukkig, in noue kontak met meer as net ’n paar ander mense te lewe.”

Maar daar sal ’n aardwye paradys wees wat werklik probleemvry sal wees. Die voortbestaan daarvan word deur ’n bomenslike mag gewaarborg. Trouens, meer as vyfmiljoen mense streef nou reeds daarna, en hulle geniet reeds kosbare eenheid en ’n relatief probleemvrye milieu onder mekaar. Waar kan jy hulle vind? Hoe kan jy dieselfde hoop en voordele deel wat hulle nou geniet? En hoe lank sal daardie komende Paradys voortbestaan?

[Venster op bladsy 6]

Paradysgemeenskap-eksperimente

Vroeg in die 19de eeu het die Franse sosialis Étienne Cabet (1788-1856) en 280 metgeselle ’n kommunale nedersetting in Nauvoo, Illinois, gestig wat op sy ideale gebaseer was. Maar binne agt jaar het daar soveel onenigheid in die gemeenskap ontstaan dat dit weldra ontbind het, soos wat soortgelyke groepe in Iowa en Kalifornië gedoen het.

Nog ’n Fransman, Charles Fourier (1772-1837), het idees ontwikkel vir ’n samewerkende landbougemeenskap waarin al die lede wisselende rolle sou hê. Elkeen sou vergoeding ontvang na gelang van die welslae van die groep as geheel. Maar gemeenskappe in Frankryk sowel as die Verenigde State wat op hierdie beleide gebaseer is, het nie lank voortbestaan nie.

Op ongeveer dieselfde tyd het die Walliese maatskaplike hervormer Robert Owen (1771-1858) samewerkende dorpies voorgestel waar honderde mense sou saamwoon met gemeenskaplike kombuise en eetsale. Individuele gesinne sou in hulle eie woonstel woon en na hulle kinders omsien totdat hulle drie jaar oud was. Daarna sou die hele gemeenskap na die kinders omsien. Maar Owen se eksperimente het misluk, en hy het heelwat van sy persoonlike fortuin verloor. John Noyes (1811-1886) het die stigter geword van wat The New Encyclopædia Britannica “die suksesvolste van die utopiese sosialistiese gemeenskappe in die Verenigde State” noem. Toe sy navolgers monogame huwelike laat vaar het en geslagsomgang bloot deur onderlinge ooreenstemming onder almal toegelaat het, is Noyes vir egbreuk gearresteer. Die stad Laissez Faire, ’n soort “kapitalistiese Utopia” in Sentraal-Amerika, is ’n onlangse poging om so ’n Utopiese gemeenskap te skep, berig The Sunday Times van Londen. Die projek het beleggers nodig gehad. Paradyssoekers is gelok deur die vooruitsig om in “die wonderstad van die 21ste eeu” te woon en is genooi om R22 000 te stuur en aan ’n soort piramideverkope deel te neem deur eendersdenkende mense te soek wat weer op hulle beurt hulle geld daarin sou belê. Hierdie som geld word na bewering net gebruik om vir ’n vliegtuigkaartjie te betaal om die projek te besigtig “indien ’n land ooit oorreed sou word om bougrond te verskaf en ’n hotelletjie daar gebou word”, het die koerant gesê. Daar is geen realistiese hoop dat enige “paradys” daar geskep sal word nie.

[Prent op bladsy 7]

’n Eiland is vir baie paradyssoekers aanloklik. Maar vandag skend misdaad selfs die vreedsaamste gebiede

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel