’n Probleemvrye paradys—Net ’n droom?
“DIS so vreedsaam!” Die uitsig van die dennewoud af bo Redfish-meer in die staat Idaho, VSA, was inderdaad rustig. “Dis presies hoe ek my die paradys voorstel”, het die reisiger gesê.
Die son het helder geskyn op die suidelike kus van die Mediterreense eiland Siprus. Golwe het saggies oor die strand gespoel. In ’n restaurant bo-op ’n krans wat oor hierdie toneel uitkyk, het ’n besoeker gesit en uitgeroep: “Dít is ’n paradys!”
Baie van ons het kosbare herinneringe aan sulke tonele. Maar inwoners besef dat ’n paradysagtige omgewing dikwels die harde werklikheid van die daaglikse lewe weerspreek: bosbrande op die beboste uitlopers van die Rotsgebergte, besoedeling van die see wat visse en uiteindelik mense raak—om nie eens te praat van lewensgevaarlike internasionale en interkommunale konflikte nie.
Paradys—Wat is dit?
Hoe stel jy jou die paradys voor? The New Shorter Oxford English Dictionary gee as sy eerste definisie: “Die tuin van Eden wat in Gen[esis] 2, 3 beskryf word.” Dit verwys na die beskrywing in die eerste boek van die Bybel van die gebied waar God die eerste mens, Adam, gevestig het. In daardie oorspronklike Paradys het bome, “begeerlik om te sien en goed om van te eet”, in oorvloed gegroei.—Genesis 2:9.
Die tweede definisie van daardie woordeboekinskrywing bring “paradys” in verband met “Hemel, in Christen- en Moslemteologie”, maar voeg dan by: “Nou hoofsaaklik poët[ies].” Vir ons reisiger en besoeker was paradys egter “’n gebied van weergalose skoonheid of genot”, die derde definisie van die woordeboek.
Die 16de-eeuse Britse staatsman sir Thomas More het ’n boek geskryf met die titel Utopia waarin hy ’n denkbeeldige land beskryf het waar wette, die regering en maatskaplike toestande volmaak was. Dit het so onwerklik geklink dat Webster’s New Collegiate Dictionary vandag een van “Utopia” se definisies aangee as “’n onpraktiese stelsel vir maatskaplike verbetering”.
Vir die navolgers van Jim Jones, die sekteleier van die People’s Temple, was Utopia ’n oopte in die oerwoud van Guyana. Ongelukkig het hierdie verwagte paradys in 1978 die toneel van dood vir meer as 900 van hulle geword—inderdaad ’n nagmerrie! Gevolglik verbind mense soms die idee van paradys met eienaardige sektes wie se gebruike mense skok en ontstel.
In ’n wêreld waar ons met misdaad en geweld gedreig word, waar siektes nie volwassenes of kinders ontsien nie en waar haat en godsdiensverskille gemeenskappe verdeel, is ’n pragtige omgewing dikwels niks meer as net ’n vernis nie. Geen wonder mense dink ’n paradys is niks meer as ’n droom nie! Maar dit het nie gekeer dat party mense probeer om ’n paradys te vind of selfs vir hulleself een te maak nie. Hoe suksesvol was hulle?