“Maak net jou oë oop en kyk”
WAT sien jou kinders? Oorlog? Misdaad? Besoedeling? Armoede? Siekte? Hierdie dinge is weliswaar werklikhede wat altyd teenwoordig is. Maar het jy hulle geleer om verder as hierdie dinge te kyk na die wonderlike toekoms wat in die Bybel belowe word? Die ouers van die negejarige Joel Pierson het dit gedoen. Wat was die resultaat?
Kyk wat Joel oor die onderwerp “Maak net jou oë oop en kyk” geskryf het. Kinders in ’n skooldistrik in Virginië, VSA, moes ’n opstel oor hierdie onderwerp skryf. Let op hoe Joel se opstel, wat in die koerant The Central Virginian van 22 Augustus 1996 gepubliseer is, toon dat sy hoop gegrond is op wat hy uit God se Woord geleer het. Hy het geskryf:
“Maak net jou oë oop en kyk—al die skoonheid wat daar veronderstel is om te wees.
“Sal dit nie wonderlik wees om een oggend op te staan en te hoor dat daar nie meer besoedeling is nie? In plaas van moord en misdaad in die nuus is daar vrede en geluk in mense se lewe.
“Bure werk saam om ’n vriend sy huis te help bou. Daar naby sien ons hoe ander ’n tuin aanlê. Maar dit is nie al nie—hulle bedoelings is ook goed. Almal werk saam om mekaar te help. Daar sal geen arm mense meer wees nie, en daar sal genoeg kos vir almal wees. Daar sal regoor die aarde eenheid en vrede wees. Niemand sal ooit weer honger ly of siek wees nie. Almal kan die lieflike natuurskoon geniet, en kyk, ’n kind ry op ’n tier! Dit is nie net die tier nie, maar al die diere lewe in vrede met die mense.
“Ek sal graag in so ’n plek wil woon. Sal jy saam met my daar wil woon?”
Belowe God werklik seëninge soos wat die jong Joel hier beskryf? Hy belowe dit beslis! Maak asseblief jou Bybel oop en lees van hierdie beloftes, soos gevind word in Psalm 46:9, 10; 67:7; 72:16; Jesaja 2:3, 4; 11:6-9; 33:24; 65:17-25; Matteus 6:9, 10; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4.