Juwele van die rivieroewer
Deur Ontwaak!-medewerker in Spanje
ELKE keer wanneer ek langs ’n rivier of ’n poel stap, soek ek sonder uitsondering na een van my geliefkoosde juwele—dit kan rooi, blou of groen wees. Soms sien ek een wat doodstil op ’n blaar sit; ek sien dalk ’n ander een wat bo die water hang of wat selfs voor my verbyflits. Die juweel waarna ek soek, is die naaldekoker—die glinsterende “helikopter” van die insekwêreld.
Hierdie vlieënde juwele het baie jare gelede die eerste keer my aandag getrek toe ek toevallig op ’n rustige stroompie in ’n bos afgekom het. Daar was verskeie naaldekokers wat heen en weer deur die sonlig geflits het—sommiges ’n helder metaalblou en ander ’n glansende groen-geel. Ek het ’n uur lank na hulle lugdanse gekyk, wat die opening in die bos in ’n miniatuurdanssaal verander het. Sedertdien fassineer hulle my.
Hoe meer ek oor naaldekokers geleer het, hoe meer het ek hulle skoonheid en hulle waarde begin waardeer. My eerste ontdekking was dat daar ’n verskil tussen naaldekokers en waterjuffers is. Die naaldekokers is sterk vlieërs en is gewoonlik groter, terwyl die waterjuffers—soos hulle naam aandui—fyner is en ook nie sulke sterk vlieërs is nie. ’n Vername verskil het te doen met die manier waarop hulle hulle vlerke hou. ’n Naaldekoker hou gewoonlik albei pare vlerke horisontaal wanneer hy sit, terwyl ’n waterjuffer hulle bo sy liggaam toevou.a
Ek het begin wonder hoe naaldekokers muskiete met sulke oënskynlike gemak in die lug kan vang. Persoonlik vind ek dit byna onmoontlik om ’n groot vlieg wat op die kombuismuur sit dood te slaan. ‘Wat’, het ek my afgevra, ‘het ’n naaldekoker wat ek nie het nie?’ Twee dinge: algehele meesterskap in die lug en oë wat ’n wag groen van jaloesie sal laat word.
Die vlug van die naaldekoker
Om ’n naaldekoker ’n helikopter te noem—’n algemene bynaam in Spanje—is in werklikheid ’n beledigende vergelyking. Hulle lugtoertjies is so vinnig dat dit soms onmoontlik is vir die oog om hulle te volg. Sommige spesies kan, oor kort afstande, ’n topsnelheid van ongeveer 96 kilometer per uur bereik. Hulle kan ook sweefhang of in ’n oogwink agteruit, vorentoe of na die kante toe vlieg. Daarbenewens bereken wetenskaplikes dat ’n naaldekoker krag van tot 2,5 G’s moet weerstaan wanneer hy ’n skerp draai in die lug maak.
Naaldekokers het twee pare buigbare, kantagtige vlerke. Hoewel hierdie vlerke delikaat lyk, kan hulle tot 40 keer per sekonde klap, en hulle kan stampe verduur met min skade. Bioloog Robin J. Wootton beskryf hulle as “klein meesterstukke van vindingryke ontwerp”.
“Hoe beter ons verstaan hoe insekte se vlerke werk”, voeg hy by, “hoe vindingryker en mooier lyk hulle ontwerpe. . . . Daar is min, indien enige, wat op tegnologiese gebied daarby kan kers vashou.” Dit is nie verbasend dat die naaldekoker se vliegtegnieke tans deur lugvaartingenieurs bestudeer word nie.
’n Kop vol oë
As die vlug van die naaldekoker uitsonderlik is, kan niks minder oor sy gesigsvermoë gesê word nie. Twee groot saamgestelde oë bedek amper die naaldekoker se hele kop. Elkeen van hierdie oë het tot 30 000 seshoekige eenhede wat soos klein ogies binne-in ’n oog is, aangesien elkeen ’n aparte beeld na die brein stuur. Dit beteken egter nie dat die naaldekoker duisende verskillende beelde tegelykertyd sien nie. In plaas van soos ons ’n geheelbeeld te sien, neem hy bewegings, patrone, kontraste en vorms waar.
Al hierdie beelde moet ontleed word. Tagtig persent van die naaldekoker se brein word dus gebruik om visuele inligting te verwerk. Daar is min optiese stelsels wat so sensitief is—’n naaldekoker kan ’n muskiet op ’n afstand van ongeveer 20 meter raaksien. Selfs in die skemer, wanneer die lig so flou is dat ’n mens klein vliegies skaars kan raaksien, vang tropiese naaldekokers hulle maklik.
Die naaldekoker se vinnige, flitsende vlug deur die plante op ’n rivieroewer vereis dat hy blitsvinnig honderde besluite moet neem. Hy kan hierdie moeilike taak verrig omdat hy tot honderd afsonderlike beelde per sekonde kan sien, meer as vyf keer soveel as wat ons kan sien. ’n Rolprent, wat 24 beelde per sekonde projekteer, sal dus vir ’n naaldekoker soos ’n reeks foto’s lyk.
’n Verandering in lewenswyse
Wanneer ’n naaldekoker sy lewe begin, is daar geen aanduiding dat hy uiteindelik ’n pragtige insek met uitsonderlike vliegvernuf gaan word nie. Nadat hy uitgebroei het, bly die waterlarwe min of meer bewegingloos in ’n poel of ’n stroom terwyl hy wag om enige kos wat naby genoeg kom te gryp. Ná hy ’n hele paar keer vervel het—etlike maande of selfs jare in die geval van sommige soorte—klim die larwe uit op ’n riet. En dáár vind ’n buitengewone gedaanteverwisseling plaas.
Die vel bars al langs die borsstuk oop, en ’n volledig ontwikkelde naaldekoker kruip uit. Soos ’n skoenlapper, moet die nuwe volwassene eers ’n paar uur wag voor sy vlerke styf word en ’n nuwe lewe begin. Binne ’n paar dae stel sy instinktiewe wysheid hom in staat om suksesvol te jag en die fynere puntjies van die vliegkuns te bemeester.
Kort voor lank is die jong naaldekoker baie vernuftig in die kuns om vlieë en muskiete te vang terwyl hy vlieg. Hy verorber elke dag sy eie gewig in insekte en verrig dus ’n diens van onskatbare waarde. Om ’n vaste voedselvoorraad te verseker, baken baie naaldekokermannetjies vir hulle ’n stukkie gebied af, wat hulle ywerig bewaak.
Sommige soorte naaldekokers jag plantluise of kewers, ander vang klein paddatjies, en een tropiese waterjuffer eet selfs spinnekoppe. Hy sweefhang rond naby die web van ’n groot wielwebspinnekop en gryp die kleiner spinnekoppe wat na die web toe kom om stukkies kos te aas wat die web se eienaar agterlaat.
Bewyse teen evolusie
Talle evolusionistiese wetenskaplikes beskou naaldekokers as die eerste vlieënde insekte. Een fossiel wat in Frankryk ontdek is, is die indruk van vlerke van ’n naaldekoker wat ’n vlerkspan van 75 sentimeter gehad het! Dit is die grootste bekende insek, aangesien dit meer as drie keer groter is as enige lewende naaldekoker.
‘Hoe is dit moontlik’, het ek my afgevra, ‘vir een van die ingewikkeldste vliegmeganismes waarvan die mens weet om eenvoudig te verskyn, volmaak ontwikkeld?’ “Daar is geen fossiele van insekte wat ’n oorgang vorm tussen die vlerklose en gevlerkte stadium nie”, erken die boek Alien Empire—An Exploration of the Lives of Insects. Dit is duidelik dat naaldekokers die handewerk van ’n intelligente Meesterontwerper is.
Naaldekokers het feitlik elke deel van die aardbol suksesvol gekoloniseer. Hulle sal hulle tuismaak langs ’n meer in die berge, ’n ekwatoriale moeras of selfs ’n voorstedelike swembad.
Ek het al gekyk na swerms naaldekokers op ’n tropiese strand in Afrika sowel as ’n enkele keisernaaldekoker in Europa wat sy gunstelingpoel onverpoos patrolleer. En toe ek in die Filippyne in ’n kano deur ’n canyon met welige plantegroei gegaan het, het glansende waterjuffers my vergesel en selfs op my kaal arms kom sit.
Hoewel naaldekokers dalk van die mees gesofistikeerde vliegmasjiene op aarde is, het hulle grasie en prag my nog altyd meer beïndruk as hulle vliegvernuf. Hulle teenwoordigheid verleen ’n spesiale betowering aan ons poele en rivieroewers. Hulle is die ideale juwele—altyd daar om geniet te word.
[Voetnoot]
a Soms hou ’n naaldekoker sy vlerke ondertoe en sy lyf boontoe in die rigting van die son. Hulle neem hierdie liggaamshouding in om af te koel, aangesien dit minder van hulle liggaamsoppervlak aan die son blootstel.
[Prente op bladsy 16, 17]
Naaldekokers, wat hulle vlerke horisontaal laat rus, is gewoonlik groter as waterjuffers, wat hulle vlerke bo hulle liggaam toevou