Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 6/22 bl. 14-15
  • “’n Ligstraal in ’n donker eeu”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “’n Ligstraal in ’n donker eeu”
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die nuusmedia neem kennis
  • Die première
  • “Getrou onder beproewinge”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Die booshede van Nazisme aan die kaak gestel
    Ontwaak!—1995
  • Wat het met Jehovah se Getuies gedurende die Nazi-slagting gebeur?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
  • ’n Bewys van hulle geloof
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 6/22 bl. 14-15

“’n Ligstraal in ’n donker eeu”

Deur Ontwaak!-medewerker in Duitsland

DIT is hoe een geskiedkundige die geskiedenis van Jehovah se Getuies in die Nazi-era beskryf het. Die geleentheid was die wêreldpremière van die dokumentêre video Jehovah’s Witnesses Stand Firm Against Nazi Assault, wat in die Ravensbrück-gedenkmuseum, in Duitsland, gehou is. Hierdie video is ’n roerende verhaal van moed en geloof soos vertel deur 24 oorlewendes van die Nazi-era, tesame met 10 deskundiges op die gebied van geskiedenis en godsdiens.

Daar was op ’n tyd honderde Getuies van Jehovah in die Ravensbrück-konsentrasiekamp. Van die Getuies wat dit oorleef het, wat meer as 50 jaar gelede deur die Nazi’s in die gevangenis gegooi is, was teenwoordig vir die première. Hulle, sowel as geskiedkundiges en regeringsamptenare, het vertel van die donker dae toe die Nazi-regime ’n skrikbewind oor Europa gevoer het. Die gehoor van ongeveer 350 het geluister na inspirerende verslae van die Christelike onkreukbaarheid van honderde Getuies wat eerder hulle dood moedig tegemoet gegaan het as om hulle geloof te verloën.

Die nuusmedia neem kennis

’n Perskonferensie is die oggend van die première, 6 November 1996, in ’n hotel in Berlyn gehou. Joernaliste het na uittreksels uit die video gekyk en toe geluister na toesprake deur geleerdes wat kommentaar gelewer het op die belangrikheid van die nuwe dokumentêr wat vertel van ’n taamlik onbekende maar belangrike aspek van die geskiedenis. Dr. Detlef Garbe, direkteur van die Neuengamme-gedenkmuseum, het verduidelik: “Ons—Jehovah se Getuies sowel as mense wat nie Getuies is nie—moenie toegelaat word om die geskiedenis van die gevangenes met die pers driehoekie [die teken wat deur Getuiegevangenes gedra is] te vergeet nie. Dit was ’n ligstraal in ’n donker eeu.”

Verskeie van die Getuie-oorlewendes wat in die Stand Firm-video verskyn, was teenwoordig om hulle ondervindinge te vertel. Was hulle verbitterd oor hulle lyding? Hulle kalm en stralende gesigte het getoon dat hulle nie is nie.

Ná ’n vraag-en-antwoord-sessie is die joernaliste uitgenooi na die première van die Stand Firm-dokumentêr by die Ravensbrück-gedenkmuseum, ongeveer 65 kilometer daarvandaan. Feitlik almal het die uitnodiging aanvaar.

Die première

Die grys lug en fyn motreën van hierdie kouerige herfsdag het plek gemaak vir die opgewonde atmosfeer binne die pas opgeknapte saal langs die Ravensbrück-gedenkmuseum. Professor Jürgen Dittberner, wat toe die direkteur van die Stigting vir die Ravensbrück-, Sachsenhausen- en Brandenburg-gedenkmuseum was, het gesê: “Die moed wat Jehovah se Getuies onder nasionale sosialisme aan die dag gelê het, moet gerespekteer word. . . . Ons hou in ere die nagedagtenis van hierdie mense wat nie hulle geloof verloën het nie en wat as gevolg daarvan moes ly of selfs sterf.”

Angelika Peter, die Minister van Onderwys, Jeug en Sport vir Brandenburg, Duitsland, het ’n boodskap gestuur, wat gelees is. Dit het gesê: “Dit is belangrik dat ons vandag die voorbeeldige standvastigheid van Jehovah se Getuies onthou.” Dr. Sigrid Jacobeit, direkteur van die Ravensbrück-gedenkmuseum, het gesê: “Ek sien met afwagting en vreugde uit na hierdie première. Ek glo dat dit vir ons almal ’n spesiale dag is.”

Toe is die ligte gedemp sodat die video kon begin. Agt-en-sewentig minute lank het nie net die oorlewendes wat uit agt lande teenwoordig was nie, maar ook almal in die gehoor die tragedie en triomf van hierdie pynlike hoofstuk in Duitsland se geskiedenis herleef. Baie het dit moeilik gevind om hulle trane te bedwing terwyl hierdie gewone mense vertel het van uitsonderlike dade van liefde en geloof onder die verskriklikste toestande.

Nadat die dawerende applous bedaar het, het die geskiedkundige Joachim Görlitz die laaste woorde gelees van ’n Getuie wat by Brandenburg tereggestel is. Görlitz het die nota slegs twee weke vroeër gevind terwyl hy navorsing gedoen het by die Brandenburg-gedenkmuseum en -argief, waarvan hy die direkteur is. Met ’n knop in sy keel het hy die woorde gelees van hierdie getroue Christenman wat sy medegelowiges aanmoedig om getrou te bly aan hulle Heer. Toe het Görlitz afgesluit: “Dames en here, ek is vol vertroue dat die film oor Jehovah se Getuies ’n belangrike bydrae tot ons opvoedkundige werk sal lewer.”

Geskiedkundige Wulff Brebeck het verklaar dat “’n belangrike nuwe skat deur middel van hierdie film bygevoeg is—die stem van oorlewendes wat nog heeltemal te min gehoor is, en . . . die stem van nieoorlewendes”. Dr. Garbe het bygevoeg: “Hierdie is belangrike ondervindinge van mense wie se geloof in God en vertroue in die beloftes van die Bybel hulle die krag gegee het om gedurende daardie verskriklike tyd staande te bly.”

As ’n gepaste slot tot die program het verskeie Getuie-oorlewendes weer die gehoor toegespreek. Dit was duidelik vir almal dat hierdie dapper Christene nog steeds dieselfde sterk geloof het wat hulle gedurende hulle talle beproewinge onderskraag het.

Sedert die première het meer as 340 artikels oor Jehovah se Getuies en die Stand Firm-dokumentêr al in koerante regoor Duitsland verskyn. Verskeie radioprogramme, een op ’n nasionale radiostasie, het ook gunstige berigte uitgesaai.

Die Stand Firm-dokumentêr sal uiteindelik in ten minste 24 tale beskikbaar gestel word. ’n Geredigeerde uitgawe vir die klaskamer sal ook mettertyd uitgegee word. Sedert die vrystelling van die video het ’n toenemende aantal onderrigters die Stand Firm-dokumentêr begin gebruik as deel van hulle leerplan om jongmense te help om belangrike kwessies te ondersoek, soos vooroordeel, portuurdwang en die stem van die gewete.

Hoe tydig is dit tog dat hierdie verhaal van onkreukbaarheid aan die publiek bekend gemaak moet word in hierdie wêreld wat so verdeeld is deur haat en verraad! Die lyding van hierdie getroue Christene was beslis nie tevergeefs nie.—Hebreërs 6:10.

[Prente op bladsy 15]

Die perskonferensie in Berlyn. Van links: Dr. Detlef Garbe; Simone Liebster en Franz Wohlfahrt, oorlewendes van die Slagting, asook geskiedkundige Wulff Brebeck

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel