Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 9/8 bl. 3-4
  • Indiane—Die einde van ’n era

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Indiane—Die einde van ’n era
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Custer se laaste stryd en die bloedbad by Wounded Knee
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Hoe hulle hulle wêreld verloor het
    Ontwaak!—1996
  • Brasilië se Indiane—Word hulle deur uitsterwing bedreig?
    Ontwaak!—2007
  • Crazy Horse—’n berg word in ’n monument omskep
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 9/8 bl. 3-4

Indiane—Die einde van ’n era

WIE het nog nie ’n tipiese cowboys-en-Indiane-fliek gesien nie? Regoor die wêreld het mense al gehoor van Wyatt Earp, Buffalo Bill en die Lone Ranger, asook van die Indiane Geronimo, Sitting Bull, Crazy Horse en hoofman Joseph sowel as baie ander. Maar hoe getrou was Hollywood se weergawes werklik? En hoe onpartydig was hulle uitbeelding van die Indiane?

Die verhaal van die onderwerping van die Indiane van Noord-Amerika deur Blankes laat vrae by mense ontstaan.a Was die geskiedenisboeke regverdig teenoor die Indiane? Is daar enige lesse wat geleer kan word oor hebsug, onderdrukking, rassisme en wandade? Wat is die ware verhaal van die so genoemde cowboys en Indiane?

Custer se laaste stryd en die bloedbad by Wounded Knee

In die jaar 1876 was die toordokter Sitting Bull van die Lakota (een van die drie hoofafdelings van die Sioux) ’n leier by die bekende veldslag van die Little Bighornrivier, in Montana. Luitenant-kolonel “Langhaar” Custer het gedink dat hy 1000 Sioux- en Cheyenne-krygers maklik sou kon verslaan met 650 soldate. Dit was ’n baie groot vergissing. Hy het te staan gekom voor seker die grootste groep Indianekrygers wat al ooit byeen was—ongeveer 3000.

Custer het sy 7de Kavallerieafdeling in drie groepe verdeel. Sonder om op die ander twee se hulp te wag, het sy groep ’n deel van die Indiane se kamp aangeval wat hy gemeen het die kwesbaarste was. Onder aanvoering van hoofmanne Crazy Horse, Gall en Sitting Bull het die Indiane Custer en sy eenheid van sowat 225 soldate uitgewis. Dit was ’n tydelike oorwinning vir die Indiane, maar ’n swaar nederlaag vir die Amerikaanse leër. ’n Verskriklike wraakneming sou egter 14 jaar later plaasvind.

Sitting Bull het uiteindelik oorgegee toe hy amnestie beloof is. In plaas daarvan is hy ’n tyd lank by Fort Randall, in die Dakota-gebied, opgesluit. In sy latere jare het hy in die openbaar verskyn in Buffalo Bill se reisende Wilde Weste-vertoning. Die eens roemryke leier het ’n blote skaduwee geword van die invloedryke toordokter wat hy eers was.

In 1890 is Sitting Bull (Lakota-naam, Tatanka Iyotaka) doodgeskiet deur Indiaanse polisiebeamptes wat gestuur is om hom te arresteer. Sy moordenaars was Sioux “Plaatjiedraers” (draers van die polisiewapen), luitenant Bull Head en sersant Red Tomahawk.

In daardie selfde jaar is die Indiane se verset teen die wit man se oorheersing uiteindelik gebreek met die bloedbad by Wounded Knee op die Noord-Amerikaanse Laagvlakte. Ongeveer 320 Sioux-mans, -vrouens en -kinders wat op die vlug geslaan het, is daar deur federale troepe en hulle Hotchkiss-snelvuurkanonne doodgemaak. Die soldate het daarop geroem dat dit hulle wraakneming was vir die slagting van hulle makkers, Custer en sy manskappe, op die riwwe wat uitkyk op die Little Bighornrivier. So het meer as 200 jaar van sporadiese oorloë en skermutselings tussen die invallende Amerikaanse nedersetters en die beleërde plaaslike stamme geëindig.

Maar hoe het die Indiane in die eerste plek in Noord-Amerika gevestig geraak? Watter soort lewenswyse het hulle gehad voor die wit man vir die eerste keer in Noord-Amerika voet aan wal gesit het?b Wat het tot hulle uiteindelike nederlaag en onderwerping aanleiding gegee? En wat is tans die situasie van die Indiane in ’n land wat nou deur die nakomelinge van die vroeë Europese immigrante oorheers word? Hierdie en ander vrae sal in die volgende artikels bespreek word.

[Voetnote]

a Hoewel die term “inboorlinge van Amerika” nou deur sommige verkies word, word “Indiaan” ook nog in baie bronne algemeen gebruik. “Indiaan” is die verkeerde benaming wat Columbus vir die inboorlinge gegee het omdat hy gedink het dat hy Indië bereik het toe hy geland het by wat nou as die Wes-Indiese Eilande bekend staan.

b In hierdie artikels word net die Noord-Amerikaanse Indiane bespreek. Die Amerinde van Mexiko, Sentraal-Amerika en Suid-Amerika—Asteke, Majas, Inkas, Olmec en ander—sal in toekomstige nommers van hierdie tydskrif ondersoek word.

[Prent op bladsy 3]

Die dooies word by Wounded Knee begrawe

[Erkenning]

Montana Historical Society

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel