Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 9/8 bl. 4-7
  • Waar het hulle vandaan gekom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waar het hulle vandaan gekom?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Indiane —hulle oorsprong en opvattings
  • ’n Begrip van Indiaanse filosofie
  • Hoe hulle hulle wêreld verloor het
    Ontwaak!—1996
  • Indiane en die Bybel
    Ontwaak!—1999
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Wat hou die toekoms vir hulle in?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 9/8 bl. 4-7

Waar het hulle vandaan gekom?

“WAT het ons onsself genoem voor Columbus gekom het? . . . As jy, selfs vandag nog, die woord vertaal wat ons in elke stam, sonder kennis van mekaar, vir onsself gehad het, was dit altyd iets wat basies dieselfde betekenis gehad het. In ons taal [Narragansett] is dit Ninuog, of die mense [in Navaho, Diné], die menslike wesens. Dit is wat ons onsself genoem het. Toe die [Europese] nedersetters dus hier geland het, het ons geweet wie ons is, maar ons het nie geweet wie hulle is nie. Daarom het ons hulle Awaunageesuck genoem, of die vreemdelinge, want húlle was vreemd, ons het húlle nie geken nie, maar ons het mekaar geken. En ons was die menslike wesens.”—Tall Oak, Narragansett-stam.

Daar is baie teorieë oor die oorsprong van die Indiane, of inboorlinge van Amerika.a Joseph Smith, die stigter van die Mormone, was een van verskeie mense, met inbegrip van die Kwaker William Penn, wat geglo het dat die Indiane Hebreërs was, afstammelinge van die sogenaamde verlore tien stamme van Israel. Die verduideliking wat die meeste antropoloë vandag aanvaar, is dat Asiatiese stamme, hetsy per landbrug of per boot, hulle intrek geneem het in wat nou Alaska, Kanada en die Verenigde State genoem word. Dit lyk of selfs DNS-toetse hierdie gedagte steun.

Die Indiane —hulle oorsprong en opvattings

Die Indiaanse redakteurs Tom Hill (Seneca) en Richard Hill sr. (Tuscarora) skryf in hulle boek Creation’s Journey—Native American Identity and Belief: “Die meeste inboorlingvolke glo tradisioneel dat hulle uit die aarde self, uit die water of uit die sterre geskep is. Daarteenoor het argeoloë ’n teorie dat daar ’n groot landbrug oor die Beringstraat was, waaroor Asiate na die Amerikas geïmmigreer het; volgens die teorie was hierdie Asiate die voorvaders van die inboorlinge van die Westelike Halfrond.” Sommige Indiane is geneig om skepties te wees oor die wit man se Beringstraat-teorie. Hulle verkies om hulle legendes en verhale te glo. Hulle beskou hulleself as die oorspronklike inwoners en nie as immigrante van Asië wat die land kom verken het nie.

Russell Freedman verduidelik in sy boek An Indian Winter: “Volgens die Mandan [’n stam wat naby die boloop van die Missouririvier gebly het] se geloofsoortuiging was die Eerste Man ’n kragtige gees, ’n goddelike wese. Hy is in die verre verlede geskep deur die Heer van Lewe, die skepper van alle dinge, om as middelaar op te tree tussen gewone mense en die tallose gode, of geeste, wat in die heelal gewoon het.” Die Mandan se oortuiging het selfs ’n vloedlegende ingesluit. “Eenkeer, toe ’n groot vloed die wêreld oorstroom het, het die Eerste Man die mense gered deur hulle te leer om ’n beskermende toring, of ‘ark’, te bou wat hoog bokant die vloedwaters sou verrys. Tot sy eer was daar in elke Mandan-dorpie ’n miniatuurreplika van daardie legendariese toring—’n sederpaal wat omtrent vyf voet [1,5 m] hoog was en met ’n plankheining omring is.”

Die Mandane het ook as ’n godsdienssimbool “’n hoë paal [gehad] wat met vere en pels bedek is en ’n afgryslike, swartgeverfde houtkop bo-aan” gehad het. Wie is daardeur voorgestel? “Hierdie beeld het Ochkih-Haddä voorgestel, ’n bose gees wat ’n groot invloed op mense gehad het, maar wat nie so magtig soos die Heer van Lewe of die Eerste Man was nie.” Vir die Prêrie-Indiane “was geloof in die geesteryk ’n onbetwiste deel van die alledaagse lewe. . . . Geen groot besluit kon geneem word, en geen projek kon onderneem word sonder om eers die hulp en goedkeuring te verkry van die heilige wesens wat menseaangeleenthede beheer het nie.”

John Bierhorst verduidelik in sy boek The Mythology of North America: “Voordat daar stamgroepe was, het die Osage glo van plek tot plek geswerf in ’n toestand bekend as ganítha (sonder wet of orde). Volgens ’n tradisionele opvatting het sekere denkers, wat Klein Ou Mannetjies genoem is, in daardie vroeë dae . . . die teorie saamgestel dat ’n stille, skeppende mag die lug en die aarde vul en die sterre, die maan en die son in volmaakte orde laat beweeg. Hulle het dit Wakónda (geheimsinnige mag) of Eáwawonaka (veroorsaker van ons bestaan) genoem.” Die Zuni, die Sioux en die Lakota in die Weste het ’n soortgelyke opvatting. Die Winnebago het ook ’n skeppingsmite aangaande die “Aardemaker”. Die verslag sê: “Hy wou lig hê en dit het lig geword. . . . Toe dink hy weer en wou hy die aarde hê, en hierdie aarde het tot stand gekom.”

Dit is vir die Bybelstudent uiters interessant om van die ooreenkomste te sien tussen die oortuigings van die Indiane en die leringe wat in die Bybel uiteengesit word, veral met betrekking tot die Groot Gees, die “veroorsaker van ons bestaan”, wat ’n mens herinner aan die betekenis van die Goddelike naam, Jehovah, “Hy laat word”. Van die ander ooreenkomste is die Vloed en die bose gees bekend as Satan in die Bybel.—Genesis 1:1-5; 6:17; Openbaring 12:9.

’n Begrip van Indiaanse filosofie

Die Indiaanse skrywers Tom Hill en Richard Hill sit vyf gawes uiteen wat hulle sê die Indiane van hulle voorouers ontvang het. “Die eerste gawe . . . is ons groot gehegtheid aan die grond.” En wie kan dit ontken met die oog op hulle geskiedenis voor en sedert die aankoms van die Blankes? Hulle grond, wat die Indiane dikwels as heilig beskou het, is stelselmatig deur geweld, deur kullery of deur verbroke verdrae van hulle af weggeneem.

“Die tweede gawe is die krag en gees wat diere met ons mense gemeen het.” Indiane se respek vir diere is al op baie maniere bewys. Hulle het net vir voedsel, klere en skuiling gejag. Dit was nie die inboorlinge wat die buffels (bisons) feitlik uitgewis het nie, maar die wit man, met sy bloeddorstigheid en kortsigtige hebsug.

“Die derde is die geesmagte, wat ons lewende familielede is en met ons kommunikeer deur die beelde wat ons van hulle maak.” Dit is die algemene tema van soveel godsdienste regoor die wêreld—die voortlewing van die een of ander gees of siel ná die dood.b

“Die vierde is die bewustheid van wie ons is, wat deur ons stamtradisies weerspieël en gehandhaaf word.” Vandag kan dit ongetwyfeld by stamseremonies gesien word, waar die mense byeenkom om stamsake te bespreek, of by feestelikhede, waar daar stamdanse en -musiek is. Die Indiaanse kleredrag, die ritmiese tromslae, die danse, die familie- en stamreünies—dit alles getuig van stamtradisie.

“Die laaste gawe is die skeppingsproses—ons oortuiging wat tasbaar gemaak word deur natuurlike stowwe in voorwerpe van geloof en trots te omskep.” Hetsy hulle mandjies maak, weef, erdewerk vorm of verf, juwele en versiersels maak of aan enige ander skeppende bedrywigheid deelneem, dit hou verband met hulle eeue oue tradisie en kultuur.

Daar bestaan soveel stamme dat baie boeke nodig sal wees om al die tradisionele opvattings en gebruike te verduidelik. Wat nou vir ons van belang is, is: Watter uitwerking het die instroming van miljoene Blankes, waarvan talle verklaarde Christene was, op die Indiane gehad?

[Voetnote]

a Die term “inboorlinge van Amerika” sluit klaarblyklik dié stamme in wat in Kanada woon. Baie meen dat die vroeë immigrante uit Asië deur die noordweste van Kanada gereis het onderweg na warmer streke in die suide.

b Die Bybel steun glad nie geloof in ’n onsterflike siel of gees wat ná die dood voortleef nie. (Sien Genesis 2:7; Esegiël 18:4, 20.) Sien die boek Die mensdom se soeke na God, bladsye 52-7, 75, en die indeks daarvan onder “Onsterflike siel, geloof in” vir breedvoeriger inligting oor hierdie onderwerp. Hierdie boek word uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel