Wie het die das uitgevind?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DUITSLAND
REGOOR die wêreld dra ongeveer 600 miljoen mans dit gereeld. In Duitsland besit die gemiddelde man ongeveer 20 dasse. Baie mans het al, terwyl hulle ’n das omsit, ietwat geïrriteerd gewonder: ‘Wie se idee was dit in elk geval?’ Waar het die das ontstaan?
Steenkerke, ’n dorp in België, maak aanspraak op die eer vir die “uitvinding” van die das. In 1692 het Engelse troepe ’n verrassingsaanval op Franse troepe gedoen wat daar gestasioneer was. Volgens die Duitse koerant Frankfurter Allgemeine Sonntagszeitung “het die [Franse] offisiere nie tyd gehad om reg aan te trek nie. Maar hulle het sonder meer hulle uniformserpe met ’n los knoop om hulle nek vasgemaak en die punte daarvan deur die knoopsgate van hulle baadjie gestoot. En siedaar, die geboorte van die das in sy oorspronklike vorm.”
Maar die soldate se nuwe modeartikel was nie heeltemal iets nuuts nie. Kenners op die gebied van die geskiedenis van dasse wys daarop dat soldate van die Chinese keiser Tsjeng (Sjih Hoeang Ti) eeue tevore ’n serpagtige doek gedra het wat om hulle nek gevou was om hulle rang aan te dui.
Maar die beroemdste serpe is seker dié wat deur Kroate gedra is wat vir koning Lodewyk XIV van Frankryk geveg het. Gedurende ’n oorwinningsoptog in Parys was die Franse so beïndruk deur die Kroate se serpe dat hulle dit cravates, van Cravate, ’n Kroaat, genoem het en ook die serpe begin dra het. “Van toe af”, skryf die bogenoemde koerant, “was daar geen keer aan dasmodes nie, hoewel die soldate in Steenkerke die eerstes was om die serp in ’n geknoopte das te maak.”
Gedurende die Franse Revolusie (1789-99) het ’n man sy politieke gesindheid aangedui deur die kleur van die “kroaat”, of serp, om sy nek. In die 19de eeu het die elegante Europese gemeenskap hierdie soort kledingstuk “ontdek”. Dit was toe dat die krawat uit die militêre en politieke arena verhef is en in die klerekas van die manlike bevolking oor die algemeen gekom het. Vandag word die das nie net in baie gemeenskappe regoor die wêreld aanvaar nie; in sekere omstandighede is dit selfs verpligtend.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
Historic Costume in Pictures/Dover Publications, Inc., New York