Is die dode lewend? Wat mense sê
DIE ou, swart vrou het baie sieklik gelyk. Haar voete was so seer dat sy skaars kon loop. Haar voorkoms was vreemd—haar hare was met rooi klei besmeer, sy het verskeie serpe aangehad en haar hande en voete was met amulette versier. Waarom? Omdat sy meer as 50 jaar lank geglo het dat sy deur haar voorouergeeste besete was. Toordokters het die klei, serpe en amulette voorgeskryf om haar te “genees”.
’n Seldsame opvatting? Nie regtig nie. In Afrika alleen draai die lewens van tallose mense om die geloof dat dooie voorouers die mag het “om hulle nakomelinge te beskerm of om hulle met ligte siekte of teenspoed te straf”, soos die boek African Heritage dit stel. Soortgelyke vooroueraanbidding word in talle ander wêrelddele beoefen. Hoe verbasend dit ook al mag klink, sodanige aanbidding het waarskynlik iets gemeen met godsdiensopvattinge waar jy woon. Hoe so?
Hindoes en ander glo in reïnkarnasie. Spiritiste glo dat jy deur mediums met die dode in aanraking kan kom. Katolieke word geleer dat die meeste mense na die dood in die vaevuur van hulle sondes gereinig moet word voordat hulle uiteindelik die hemel bereik, maar dat die verstokte goddeloses na ’n helse vuur gaan. Die meeste Protestante glo dat die goeies hemel toe gaan en die slegtes in die hel gefolter word, en talle is daarvan oortuig dat dit is wat die Bybel leer. Party mense wat skyndoodondervindinge gehad het, is daarvan oortuig dat iets die liggaam by die dood oorleef.
Hoewel godsdienste verskil wat hulle spesifieke gedagtes omtrent die lewe hiernamaals betref, het die meeste van hulle hierdie een ding gemeen—die opvatting dat die dode lewend is.
Die dood is beslis ’n verskriklike vyand wat mense van alle rasse—ryk en arm, jonk en oud—tref. Die Bybel sê: “Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn” (Jakobus 4:14, NAV). Talle mense staan elke dag dierbares aan die dood af.
Baie mense wonder gevolglik: ‘Waarheen het hulle gegaan? Is hulle werklik dood of lewe hulle nog êrens? Sal ons hulle ooit weer sien? Waar kan ons betroubare antwoorde vind?’