Is godsdiens se dae getel?
“Die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”
JESAJA, ISRAELITIESE PROFEET VAN DIE 8STE EEU V.G.J.
DIE Hebreeuse profeet Jesaja het met hierdie woorde voorspel dat almal op aarde eendag in die aanbidding van die almagtige God verenig sal wees. Maar vandag lyk so ’n vooruitsig miskien verder weg as ooit tevore.
Vroeër in hierdie eeu het Kommunistiese revolusioniste in Rusland byvoorbeeld geglo dat die vernietiging van godsdiens ’n noodsaaklike stap was om die arm klasse te bevry. Ateïsme, het hulle beweer, sou ‘die werkende massas van die las van die vooroordele en misleiding van die verlede losmaak’. Teen 1939 het Stalin die aantal Ortodokse kerke wat in die Sowjetunie oop was tot 100 verminder, vergeleke met die meer as 40 000 voor 1917.
Ook Hitler het godsdiens as ’n struikelblok in sy pad na absolute mag beskou. “’n Mens is óf ’n Christen óf ’n Duitser. Jy kan nie albei wees nie”, het hy eenkeer gesê. Hy wou alle vorme van godsdiens wat hy nie kon beheer nie geleidelik uit die weg ruim. Met dié doel het die Nazi’s hulle eie skyngodsdienstige gebede, feeste, doopplegtighede en selfs begrafnisdienste ontwikkel. Hitler was hulle messias, en die vaderland hulle god. Enige wreedheid kon gepleeg word as Hitler dit wou hê.
Godsdiens se laaste dae?
Nie Stalin óf Hitler was suksesvol in hulle pogings om godsdiens te onderdruk nie. Maar nou lyk dit asof onverskilligheid die rol van tirannie oorgeneem het. Vir Bybelstudente is hierdie verwikkelinge glad nie ’n verrassing nie. Die apostel Paulus het vir Timoteus gesê dat mense in die “laaste dae . . . liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” sal wees.—2 Timoteus 3:1-4.
Leer die Bybel dat hierdie “laaste dae”, wat deur onverskilligheid teenoor godsdiens gekenmerk word, die voorspel van die einde van alle godsdiens sal wees? Nee. Die Bybel voorspel nie die einde van alle godsdiens nie, maar verduidelik eerder dat valse godsdiens—met die simboliese naam Babilon die Grote—tot ’n einde gaan kom.a Die boek Openbaring sê: “’n Sterk engel het ’n klip soos ’n groot meulsteen opgetel en dit in die see geslinger en gesê: ‘So sal Babilon, die groot stad, met ’n vaart neergeslinger word, en sy sal nooit weer gevind word nie.’”—Openbaring 18:21.
Maar die verdwyning van valse godsdiens sal nie ’n goddelose wêreld tot gevolg hê nie. Inteendeel, Psalm 22:28 voorspel: “Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid.” Stel jou ’n tyd voor wanneer “al die geslagte van die nasies” hulle sal verenig in die aanbidding van die een ware God! Onder die heerskappy van God se Koninkryk sal daardie merkwaardige belofte op glorieryke wyse vervul word (Matteus 6:10). Wanneer daardie tyd aanbreek, sal godsdiens—ware godsdiens—van groot belang wees. Maar wat van nou?
Die geestelike leemte word gevul
Die geestelike leemte wat vandag in Europa heers, kom ooreen met die situasie in die Romeinse Ryk van die eerste eeu. Geskiedskrywer Will Durant beskryf hoe die Christelike godsdiens van die eerste eeu wel die geestelike behoefte van daardie tyd vervul het: “In die sedelike leemte wat deur ’n sterwende heidendom gelaat is, in die kilheid van die Stoïsisme en die verdorwenheid van die Epikurisme, in ’n wêreld wat siek was van brutaliteit, wreedheid, onderdrukking en seksuele chaos, in ’n ryk wat tot ruste gekom het en blykbaar nie meer die manlike deugde of die oorlogsgode nodig gehad het nie, het dit ’n nuwe moraliteit van broederskap, goedhartigheid, ordentlikheid en vrede gebring.”
Die sedelike en geestelike leemte in die lewe van mense van ons tyd kan deur dieselfde kragtige boodskap gevul word as wat die vroeë Christene deur die hele Romeinse Ryk verkondig het. En daar is horende ore. Baie Europeërs, hoewel hulle nie uiterlik godsdienstig is nie, voel nog dat God ’n belangrike rol in hulle lewe speel. Hulle woon miskien nie meer tradisionele kerkdienste by nie, maar party het hulle geestelike leemte êrens anders gevul.
Juan José, ’n jong man van Palma de Mallorca, Spanje, het in ’n Katolieke skool skoolgegaan en as ’n altaarknaap gedien totdat hy 13 jaar oud was. Hy het elke Sondag die Mis saam met sy gesin bygewoon, maar hy het opgehou om kerk toe te gaan toe hy ’n tiener geword het. Waarom? “Dit het my verveel om die Mis by te woon, om maar net een ding te noem”, verduidelik Juan José. “Ek het die liturgie uit my kop geken. Dit het gevoel of alles net ’n herhaling is van wat ek reeds gehoor het. Verder het ons priester ons as altaarknape dikwels sleg behandel. En ek het gevoel dat dit verkeerd is dat arm mense die priester moes betaal om ’n begrafnisdiens te hou.
“Ek het nog in God geglo, maar ek het gedink dat ek hom op my eie manier kon dien, buite die kerk. Ek het saam met ’n groep vriende probeer om die lewe soveel as moontlik te geniet. ’n Mens kan seker sê dat vermaak die belangrikste ding in my lewe geword het.
“Maar toe ek 18 was, het ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Wat kon hulle my bied wat ek nie in die kerk kon vind nie? ’n Duidelik omskrewe geloof wat gebaseer is op die Bybel eerder as op tradisie en ‘verborgenhede’ wat ek nooit kon verstaan nie. Maar my nuwe oortuiging het groot veranderinge vir my beteken. In plaas van elke naweek partytjies by diskoteke te reël, het ek van huis tot huis begin gaan om my nuutgevonde geloof met my bure te deel. Ek was aktief daarby betrokke om ander te help, en dit het betekenis aan my lewe gegee. Die afgelope sewe jaar is ek ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies.”
Dit is nie net jongmense wat hulle geestelike leemte probeer vul nie. Antonia, ’n bejaarde vrou van Estremadura, Spanje, het, soos sy dit stel, die grootste deel van haar lewe “na God gesoek”. Gedurende haar tienerjare het sy elke dag die Mis bygewoon en uiteindelik tot ’n Katolieke klooster toegetree, aangesien sy geglo het “dat God nêrens gevind kan word as hy nie in ’n klooster gevind kan word nie”. Maar drie jaar later het sy die klooster verlaat en selfs meer ontnugter en leeg gevoel as voorheen.
Uiteindelik, toe sy in haar vyftigerjare was, het sy een van Jehovah se Getuies geword. “Ek was so gelukkig toe die Getuies my besoek het en my vrae uit my eie Bybel beantwoord het”, verduidelik sy. “Sedert ek een van Jehovah se Getuies geword het, het my lewe ’n doel. Ek het my probleme, maar ek kan hulle oorkom omdat ek nou die ware God gevind het.”
Hierdie twee voorbeelde is nie uitsonderings nie. Al hoe meer mense weerstaan die godsdiensneiging en assosieer met Jehovah se Getuies en vind dat dit betekenis en ’n doel aan hulle lewe gee om in ooreenstemming met hulle geloof te lewe en ander daarvan te vertel.
Ware godsdiens van groter belang as ooit tevore
Hoewel ons in ’n tyd lewe waar godsdiens deur baie verwerp word, sou dit dwaas wees om alle godsdiens as onbelangrik te beoordeel. In die 20ste eeu verwerp mense weliswaar betekenislose rituele en verouderde en onskriftuurlike dogmas, en hulle verag kerkbywoning wat net vir die skyn daarvan is. Die Bybel beveel trouens aan dat ons skynheilige godsdiens vermy. Die apostel Paulus het voorspel dat sommige mense gedurende die ‘laaste dae ’n vorm van godvrugtige toegewydheid sal hê maar die krag daarvan sal verloën’. Sulke mense hou ’n godsdienstige front voor, maar hulle gedrag loën die egtheid daarvan. Hoe moet ons op sulke godsdienstige skynheiligheid reageer? “Keer jou van hierdie mense af”, het Paulus aangeraai.—2 Timoteus 3:1, 5.
Maar Paulus het ook gesê dat “godsdiens wel hoë dividende lewer” (1 Timoteus 6:6, New English Bible). Paulus het nie net van enige soort godsdiens gepraat nie. Die Griekse woord wat hier as “godsdiens” vertaal word, was eu·seʹbei·a, wat “toegewydheid teenoor of verering van God” beteken. Ware godsdiens, ware godvrugtige toegewydheid, ‘hou belofte in vir die teenswoordige en die toekomstige lewe’.—1 Timoteus 4:8.
Soos die bogenoemde voorbeelde toon, kan ware godsdiens betekenis aan ons lewe gee en ons help om probleme moedig die hoof te bied. Wat meer is, ware godsdiens waarborg ’n ewige toekoms. Daardie soort godsdiens is die moeite werd om na te streef, aangesien ons verseker is dat dit uiteindelik ‘die aarde sal vul’ b (Jesaja 11:9; 1 Timoteus 6:11). Dit ly geen twyfel nie, dit is nou die tyd dat ware godsdiens van groter belang is as ooit tevore.
[Voetnote]
a Die Bybel gebruik die eertydse stad Babilon as ’n simbool van die wêreldryk van valse godsdiens, want dit was in hierdie stad dat talle onskriftuurlike godsdiensidees ontstaan het. Deur die eeue heen het hierdie Babiloniese idees in die vernaamste godsdienste van die wêreld ingesypel.
b Sien hoofstuk 5, “Wie se aanbidding is vir God aanneemlik?” van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, in 1995 uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir ’n bespreking van hoe om die ware godsdiens te identifiseer.
[Venster/Prente op bladsy 10]
Die verhaal van twee geboue
Daar is volop godsdienstige geboue in Spanje, maar dit lyk asof die ywer wat eens die bou van duur katedrale onderhou het, verdamp het. In Mejorada del Campo, in die buitewyke van Madrid, is daar byvoorbeeld ’n indrukwekkende Katolieke kerk in aanbou. Justo Gallego Martínez, ’n gewese Benediktynemonnik, het die projek ongeveer 20 jaar gelede begin. Maar die gebou is steeds ’n leë dop. Martínez, die enigste bouer, is nou in sy sestigerjare, wat dit onwaarskynlik maak dat die kerk ooit voltooi sal word. Maar 300 kilometer suid het ’n heel ander verhaal hom ontvou.
“Geloof versit berge”, dít is hoe die plaaslike koerant die tweedaagse bouprogram van ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Martos, Jaén, Spanje, beskryf het. “Hoe is dit moontlik”, het die plaaslike koerant gevra, “dat vrywilligers van verskillende dele [van Spanje], in hierdie huidige wêreld wat op selfsug gebaseer is, sonder selfsugtige beweegredes na Martos reis om ’n gebou op te rig wat alle rekords vir spoed, voortreflikheid en organisasie verbreek het?” In antwoord op hierdie vraag het die artikel die woorde van een van die vrywilligers aangehaal: “Die antwoord lê eenvoudig in die feit dat ons ’n volk is wat deur Jehovah geleer word.”
[Prente op bladsy 10]
Mejorada del Campo
Koninkryksaal in Martos