Wil jy graag ’n kobra ontmoet?
Deur Ontwaak!-medewerker in Indië
WEL, wil jy? Die meeste volwassenes sal nee sê. Maar nie ’n kind nie. ’n Vrees vir slange, en dit sluit die kobra in, is nie ’n instinktiewe eienskap van kinders of selfs van diere nie. ’n Afkeer van slange kan deur onbetroubare inligting, oordrewe stories, mites en misvattings veroorsaak word.
Wanneer ons jou nooi om ’n kobra te ontmoet, bedoel ons natuurlik op ’n veilige afstand! Kobras is baie giftig, en ons sal nie na een toe gaan en ons hand uitsteek om hom te streel nie. Die kobra sal waarskynlik ook nie wag om ons te groet nie; wanneer hy ons hoor aankom, sal hy vinnig na ’n veilige wegkruipplek soek. Laat ons dus tevrede wees om die kobra te ontmoet deur bloot ’n paar fassinerende feite oor hierdie interessante dier te leer.
Kobras is reptiele van die suborde Serpentes en die familie Elapidae, ’n naam wat aan giftige slange met gegroefde giftande gegee word. Daar is ongeveer 12 kobraspesies wat op verskillende plekke vanaf Australië deur die tropiese dele van Asië en Afrika tot in Arabië en die gematigde klimaatstreke voorkom. Die koningskobra, of hamadriade, is verreweg die skrikwekkendste van al die kobras. Met ’n lengte van drie tot vyf meter is dit die grootste gifslang ter wêreld. Aangesien hulle die digte ruigtes van oerwoude of moerasse verkies, waar dit baie reën, kan hulle in Suid-China, die Filippyne, Indonesië, Maleisië, Myanma en dele van Indië gevind word. ’n Gitswart stert, gekleurde bande op ’n groen-geel liggaam, wat met die ouderdom tot ’n donker olyfkleur verander, en groepe klein kolletjies agter sy kop laat hom besonder mooi lyk.
Ander kobraspesies is tussen een en twee meter lank. Die brilkobra, met unieke merke op sy agterkop wat soos ’n bril lyk, is inheems aan Indië en kom oor ’n wye gebied daar voor. Hy kan swart, donkerbruin of geelwit wees met ’n wye, donker nekband en gespikkelde wit en geel bande oor sy hele liggaam. Die monokelkobra, wat in Sri Lanka sowel as in Oos- en Noordoos-Indië gevind word, is ligter en het ’n kleiner, ronder kop met ’n enkele wit sirkel agterop, vanwaar hy sy naam kry. In Noordwes-Indië en in Pakistan vind ons ’n gitswart kobra. Afrika het, onder meer, die rinkhals, of die spoegkobra, en die Egiptiese kobra. Laasgenoemde, ’n donker slang met ’n smal bakkop, is moontlik die adder wat die dood van koningin Kleopatra veroorsaak het.
Slange paar slegs met hulle eie spesie en word deur ’n unieke muskusgeur aangetrek. Die kobra toon ’n groter belangstelling in die gesin as ander slange en die mannetjie en die wyfie bly dikwels bymekaar. Die wyfiekoningskobra is een van die min slange wat ’n nes maak. Sy skraap blare bymekaar in ’n hoop van ongeveer 30 sentimeter hoog en lê 20 tot 50 eiers daarin. Dan draai sy haar liggaam om die hoop en bly die amper twee maande van die broeityd sonder kos daar terwyl die mannetjie dikwels ook daar naby bly. Ander kobras bly naby hulle eiers om dit te beskerm, al bou hulle nie ’n nes nie.
Die babaslangetjies gebruik ’n eiertand, wat later uitval, om deur die dop te breek en hulleself te bevry. Wanneer hulle uitbroei, is hulle heeltemal onafhanklik met volledig ontwikkelde gifkliere en -tande. Hulle skiet hulle tong gedurig uit, proe die omgewing en dra chemiese inligting oor na die so genoemde orgaan van Jacobson in die verhemelte. Dit is aan die reuksin gekoppel; die kombinasie van smaak en reuk help die slang om sy prooi op te spoor, ’n maat te vind of van roofdiere weg te vlug.
Die jong slangetjie groei vinnig en werp binne ’n kort tydjie die buitenste laag van sy vel, wat te klein geword het, af. Hierdie ongewone verskynsel word gereeld herhaal, aangesien die kobra sy hele lewe lank groei, en dit kan meer as 20 jaar wees. ’n Week of twee voordat hy vervel, begin die slang traag word, sy vel word dof en sy oë kry ’n blouerige skynsel. Dan word sy oë skielik helder, en hy breek die ou vel by sy mond deur sy kop teen klippe te skuur. Nou kruip hy letterlik uit sy vel uit, en die hele vel, van die deurskynende doppie oor sy oë tot by sy stert, word omgedop. Nou is ’n lewendige, blink slang wat nuut lyk reg om sy normale aktiwiteite voort te sit.
Die lugtemperatuur het ’n groot uitwerking op kobras. Namate die weer koeler word, word hulle stadiger en kan hulle selfs heeltemal onaktief raak en eers weer begin roer wanneer die temperatuur styg. Te veel hitte kan hulle doodmaak. Met uitsondering van die koningskobra, wat ander slange eet, bestaan hulle dieet uit rotte, muise, paddas, akkedisse, voëls en ander diertjies. Nadat die prooi gevang is, verlam ’n dosis gif hom. Hy word heel ingesluk, aangesien die kobra nie toegerus is om voedsel te kou nie. Die elastisiteit van die kobra se vel en die beweeglikheid van sy kakebeen maak dit vir hom moontlik om ’n dier in te sluk wat twee of drie keer groter as sy eie kop is. Terwyl die slang se mond heeltemal met die slagoffer toegestop is, haal hy asem deur die opening van die lugpyp vorentoe te stoot, verby die obstruksie, net soos ’n swemmer ’n snorkel gebruik. Die prooi word nou verder in die slang se liggaam ingetrek deur rye tande wat na agter gebuig is. Hy soek ’n stil plek op om die voedsel stadig te verteer en eet miskien ’n paar dae lank nie weer nie. Die kobra kan maande lank lewe sonder om te eet deur opgegaarde vet in sy liggaam te gebruik.
Slange is versigtig. (Sien Matteus 10:16.) Om hom te verdedig, sal die kobra óf vlug deur miskien onder ’n klip of in sy gat in te kruip, óf bewegingloos bly en sodoende voorkom dat hy gesien word. As hy gekonfronteer word, sal hy hom oprig en sy kop bak maak terwyl hy sis om sy vyand af te skrik. As laaste uitweg sal hy byt.
Slangbyt
In landelike Afrika en Asië word slangbyte dikwels nie aangemeld nie, maar dit blyk dat daar elke jaar wêreldwyd ongeveer eenmiljoen mense is wat deur giftige slange gebyt word. Indië hou die rekord vir sterfgevalle—om en by 10 000 per jaar—waarvan die meerderheid moontlik van die brilkobra is. Ongeveer 10 persent van alle kobrabyte is noodlottig.
Die kobra is stadiger as baie slange; die ratse slangmuishond, een van sy grootste vyande, kan hom uitoorlê. Deur die slang herhaaldelik te bespring en dan te koets wanneer die slang na hom pik, maak die muishond die kobra senuweeagtig en huiwerig. Hy val hom dan agter die bakkop aan en breek sy nek. Baie slange val vanuit ’n opgekrulde posisie aan, wat dit moeilik maak om te weet hoe ver hulle trefafstand is, maar die kobra rig hom op en pik reguit na onder. Die afstand kan geskat word, en ’n persoon kan buite bereik van die betreklik stadige beweging kom.
Party kobras, soos die rinkhals, die swartnekkobra van Suid-Afrika en die kobras in Noordoos-Indië, verdedig hulleself deur te spoeg. As die slang hom oprig en sy giftande na die slagoffer mik, kan hy twee fyn straaltjies gif met uitgeperste lug meer as twee meter ver skiet. Op die vel rig dit geen skade aan nie, maar as dit in die oë kom, kan dit tydelike blindheid en, as dit nie vinnig uitgewas word nie, permanente blindheid veroorsaak. Vreemd genoeg, die slang kan blykbaar na die oë mik.
Gestel ’n kobra pik jou, wat moet jy doen? Gif word uit die gifsakke in die slang se wange gepers en beweeg deur twee kort, hol, vaste tande aan die voorkant van die slang se kake. Hierdie giftande steek deur die vel en spuit die gif in, net soos ’n inspuiting. Die enigste versekerde geneesmiddel vir slangbyt is antivenien wat van die gif van vier gifslange voorberei word. Vroeg in die 20ste eeu was Indië die eerste land wat antivenien op groot skaal gebruik het. Antivenienpoeier bly vyf jaar lank doeltreffend sonder dat dit verkoel word; die opgeloste vorm word ingespuit.
Simptome van ’n kobrabyt is pyn en swelling van die bytplek, belemmerde sig, wankelrigheid, verlamming van die larinks en vertraagde asemhaling. Die dood tree binne ongeveer twee uur in as ’n groot dosis gif ingespuit is en geen behandeling toegedien word nie.
Die slangbesweerder
Slangbeswering is ’n baie ou vorm van vermaak. Hoewel dit meestal in die Ooste beoefen word, het sommige Westerse sirkusse dit op hulle program ingesluit. As gevolg van sy ongewone bakkop en senuweeagtige geaardheid is die brilkobra die gewildste slang wat gebruik word, maar ander indrukwekkende slange, soos die koningslang en die rooi sandboa, word ook gebruik. Terwyl die besweerder, ’n vaardige vertoner, op sy fluit speel, kom die kobra uit sy mandjie en sprei sy bakkop oop in die gewone verdedigingsposisie. Bewegings deur die slangbesweerder veroorsaak ’n reaksie by die slang terwyl hy ’n ogie op hom hou, altyd gereed om aan te val. Die meeste kobras wat deur slangbesweerders gebruik word se giftande is verwyder, maar party manne waag dit om met giftige slange te werk.
In antieke Indië het die rondreisende slangbesweerder ook godsdiensidees versprei sowel as godsdiensmites vertel, wat hom gewild gemaak het. Vandag is dit meer winsgewend om ’n vertoning buite hotelle te hou wat deur kameramal toeriste besoek word. Party slangbesweerders besoek huise en sê vir die huisbewoner dat daar heel moontlik slange in sy groot tuin is. Hy bied aan om hulle vir ’n vasgestelde bedrag te vang. Hy verdwyn in die bosse in en ná ’n ruk, waartydens die geluid van sy fluit gehoor kan word, keer hy terug met ’n sak vol slange. Dit sou natuurlik wys gewees het van die huisbewoner om toesig oor hom te hou of om ten minste seker te maak dat hy nie ’n sak vol slange met hom saamgebring het nie!
Slangparke verskaf inligting
Slangparke moedig belangstelling in reptiele aan. Hulle borg navorsing, gee opleiding in die voorkoming en behandeling van slangbyte en beywer hulle vir die beskerming van slange teen die mens se hebsug en onkunde. Kobras is al doodgemaak vir hulle pragtige vel, waarvan gordels, beursies, skoene en ander weeldeartikels gemaak word. Daar is in een jaar meer as tienmiljoen slange in Indië doodgemaak vir die slangvelbedryf. Slange word doodgemaak en dan onmiddellik afgeslag. In Indië word plantkleurstowwe gebruik om die velle te kleur, en dit word blink gepoleer en soms met vernis gespuit om dit blink en waterwerend te maak.
Die kobra se waarde kan nooit oorskat word nie. Hy red tonne graan deur rotte en ander knaagdiere dood te maak. Sy gif voorsien antivenien, pynstillers en ander geneesmiddels. Die Tata-gedenkinstituut vir Kanker in Bombaai bestudeer tans die uitwerking van kobragif op kankerselle.
Het jy dit geniet om die kobra te ontmoet? Pragtig, nuttig, versigtig, goed toegerus om homself te verdedig. As ons hom beter leer ken, sal dit ons help om hierdie lid van die diereryk waarvan daar al so sleg gepraat is te waardeer.
[Venster op bladsy 19]
Kobra-aanbidding en -bygelowe
KOBRA-AANBIDDING bestaan reeds van die vroegste tye af. Die kobramotief is gevind op seëls by Mohenjo-Daro, een van die oudste beskawings wat nog deur argeoloë opgegrawe is. Vanaf die derde millennium v.G.J. tot vandag toe het miljoene in Indië kobras met bygelowige ontsag beskou. Dit is interessant dat baie van die kobrastories herken kan word as verwronge mites wat om ware geskiedkundige gebeure gebou is.
’n “Skeppingsverhaal” vertel van ’n tyd toe daar geen lig in die heelal was nie. Uit donker kosmiese waters is die skitterende god Wisjnoe heel eerste geskep, toe die hemel, die aarde en die onderwêreld. Van die res is ’n reusagtige kobra genaamd Sjesja (wat oorblywende deel beteken) geskep. Volgens mite het Sjesja van 5 tot 1000 koppe, en beelde wys Wisjnoe waar hy op die opgekrulde Sjesja lê, beskut deur Sjesja se talle gespreide bakkoppe. Aardbewings vind glo plaas wanneer Sjesja gaap, en vuur uit sy mond of sy gif vernietig die wêreld aan die einde van ’n era.
Hindoemitologie beeld ’n kobraras uit wat Nagas genoem word en die onderwêreld, Nagalok of Patala, bewoon. Die aapgod Hanuman beweer dat alle mense in die “Volmaakte Era” heilig was, dat daar net een godsdiens was en dat daar geen demone of Nagas was nie. Die slange het die bewaarders van die aarde se rykdom geword en het baie kennis en towerkragte besit. Sjesja, wat soms ook Wasoeki genoem word, is deur die gode gebruik om ’n see van melk te laat bruis om amrit, ’n godedrank wat onsterflikheid sal bring, te maak. Die onderwêreld, wat deur die Nagas regeer word, word as ’n baie begeerlike plek uitgebeeld; soldate wat in die geveg sterf, word ondenkbare plesier daar belowe.
Maar nie alle mitiese kobras word as vriendelik beskou nie. Een “verhaal” vertel van ’n ontmoeting tussen Krisjna, ’n inkarnasie van Wisjnoe, en Kalija, ’n groot, kwaadaardige demoon-kobra. Beelde wys die seëvierende Krisjna met sy voet op die kop van die groot slang.
Manasa, of Doergamma, koningin van die Nagas, word deur vroue aanbid om hulle kinders teen slangbyt te beskerm. Met die fees van Nagapantsjami gooi slangaanbidders melk en selfs bloed oor beelde van kobras en in slanggate. Klip- en silwerbeelde van kobras word aanbid en by tempels geoffer deur vroue wat hoop om ’n babaseuntjie te kry.
Die kobra in rolprente
Die mitologiese kobra is ’n baie gewilde tema vir rolprente wat in Indië gemaak word—meer as 40 is al sedert 1928 gemaak. Die kobra word gewoonlik uitgebeeld as ’n bewaker van goedheid, ’n helper van sy aanbidders en ’n vernietiger van die bose. ’n Gewilde mite is dié van die Itsjadari-kobras, wat glo die mag het om ’n menslike vorm aan te neem. Hulle het glo een toegewyde maat. As die maat doodgemaak word, kan die kobra die beeld van die persoon wat hom doodgemaak het in die dooie slang se oë sien, en hy gaan dan op ’n vergeldingstog. Dít word ’n gewilde grondslag vir baie rolprente. Slangdanse oorheers die verhaal; met musiek soos dié van die slangbesweerder maak die dansers die beweging van die slang na, en hulle seil selfs op die grond.
’n Dokumentêre rolprent, Sjakti, is by ’n fees in Rajastan, Indië, verfilm, waar honderdduisende slangaanbidders elke Augustus in die woestyn bymekaarkom. Onder ’n bloedige warm son en in temperature van tot meer as 50 grade Celsius gesel hulle hulleself met ysterstawe en kruip hulle meer as twee kilometer ver op hulle mae op die skroeiende sand na die tempel van die slanggod, Gogha. Gogha, ’n geskiedkundige koning uit die tiende eeu G.J., het glo sy mense van Mosleminvallers gered deur die vyand in ’n gebied vol slange in te lei, waar ’n groot deel van die leër weens slangbyte gesterf het.
[Venster op bladsy 20]
Gered deur die kobra
Twee gesinne in die dorpie Sastur in Indië het rede om dankbaar te wees teenoor ’n kobra. Hulle is op 30 September 1993 ongeveer 3:50 vm. wakker gemaak deur die harde gesis van ’n kobra wat by hulle huis uitseil. Hulle het hom in die veld uitgejaag om hom dood te maak. Om 4:00 vm. het ’n verskriklike aardbewing in Sentraal-Indië hulle dorpie verwoes en feitlik al die inwoners is dood. Die twee gesinne het dit oorleef—danksy die kobra se waarskuwingstelsel!
[Prente op bladsy 16, 17]
Agter- en vooraansig van die Asiatiese kobra
Inlas: ’n Swartkobra sprei sy bak terwyl hy op ’n warm rots in die son lê en bak
[Erkenning]
Foto’s op bladsye 16 tot 20: A. N. Jagannatha Rao, Trustee, Madras Snake Park Trust
[Prente op bladsy 18]
Voor- en agteraansig van ’n swartkobra