1945-1995—50 jaar van vooruitgang?
HET jy ’n paar verbeteringe in jou lewensgehalte oor die afgelope 50 jaar gesien?a Dink aan die geneeskunde. In party lande, soos Brittanje, Kanada, Kuba en Swede, het die inwerkingstelling van die welsynstaat, met sy stelsel van gesondheidsdienste, gewaarborg dat dokters en hospitale vir almal beskikbaar sou wees, ongeag wat die pasiënte se ekonomiese posisie is.
Selfs party van die ontwikkelende lande het gesondheidstandaarde vir hulle burgers verbeter. JAMA (The Journal of the American Medical Association) het erken dat “party derdewêreldse gesondheidsdepartemente daarin geslaag het om primêre gesondheidsorg aan almal te voorsien teen ’n koste wat hulle lande kan dra. . . . Merkwaardige vordering is gemaak om sterftes onder babas en kinders in China, Costa Rica, Sri Lanka en die Indiese staat van Kerala te verminder.”
Materiële verbeteringe
In vergelyking met die ekonomiese situasie in 1945 is baie mense in 1995 materieel baie beter daaraan toe. Baie wat 50 jaar gelede nie luukshede sou kon bekostig nie, besit nou motors, TV’s, videokassetopnemers, CD-spelers, yskaste, sellulêre telefone en ander produkte van die moderne lewe. Jy is dalk een van daardie miljoene.
Dit is soos die skrywers van die boekreeks A History of Private Life verduidelik: “Ná die Tweede Wêreldoorlog het Frankryk [asook ander Wes-Europese lande] dertig jaar lank bestendige ekonomiese groei ondervind wat, hoewel dit nie klasseverskille uit die weg geruim het nie, nuwe voorspoed vir alle klasse van die samelewing meegebring het. Met ’n ‘redelike’ huis, ’n ‘beskeie’ motor en ’n televisiestel, asook die bykomende voordele van die welsynstaat en moderne geneeskunde kon almal nou wel nie paradys op aarde geniet nie, maar hulle kon ten minste ’n draaglike bestaan voer.”
Die vraag is egter: Beteken meer materiële dinge dat mense in elke opsig beter daaraan toe is? Beteken die toenemende materiële voordele vanself dat die lewe beter of veiliger is? Meer besittings vir party laat talle arm mense nog steeds daarsonder. Dit laat die versoekings toeneem om te steel, om straatroof, bedrog en ander gewelddadiger misdade te pleeg. Party van die besitloses is vasbeslote om—op die een of ander manier—die besitters te word. In die stad New York word daar byvoorbeeld elke jaar meer as 100 000 motors gesteel. Materiële voordele waarborg nie ’n veiliger lewe nie.
Daar was verbeteringe op ander gebiede, hoewel dit nie soveel was as wat party sou wou gehad het nie.
Vroue—toe en nou
Die Tweede Wêreldoorlog het aan ’n nuwe rol vir party vroue stukrag verleen. Baie was daaraan gewoond om moeders en huisvrouens te wees, terwyl die man die broodwinner was. Die tweede wêreldoorlog het dit alles verander. Die mans is opgeroep oorlog toe, en hulle vrouens moes skielik in wapenfabrieke gaan werk of ander werk doen wat die mans voorheen gedoen het. In onlangser tye het party weermag toe gegaan en geleer om ander dood te maak. Miljoene vroue het loontrekkers geword en ’n kykie na ’n ander lewenstyl met finansiële onafhanklikheid gekry. Dit was die eerste stappie wat die weg vir die hedendaagse “bevryde vrou” gebaan het. Party vroue sê dat daar in hulle stryd om gelykheid in baie lande nog ’n ver pad is om te gaan. Hulle sê dat daar in baie betrekkings ’n “glasplafon” is wat hulle verhinder om ’n hoër pos te verkry.
Massaverhuisings skep probleme
Nog ’n baie groot verandering wat gedurende die afgelope 50 jaar plaasgevind het, is dat mense die dorps- en plaaslewe verlaat het in ’n poging om ’n beter lewe in die stad te vind. Hierdie droom is vir party bewaarheid. Maar wat was die gevolge vir baie ander?
Elke jaar verhuis miljoene mense na die reeds oorbevolkte stede, waar behuising onvoldoende en duur is. Een gevolg? Plakkersdorpe wat ’n teelaarde vir siektes, misdaad en politieke destabilisering word. Hierdie tuisgemaakte wonings, wat van stukke afvalkarton, -hout of -sink aanmekaargesit is, is die krotte, barracas of chabolas (Spaans), waarin die wêreld se sukkelende en behoeftige laeklasmense woon. Hierdie plakkersdorpe—favela in Portugees en gecekondu in Turks (wat “in ’n nag gebou” beteken)—is ’n werklikheid wat nie geïgnoreer kan word nie, hetsy dit nou in Afrika, Indië, Suid-Amerika of enige ander plek is.
Die hede en toekoms vir party Afrikalande
Wat kan van Afrika gesê word? Twee dokters wat in JAMA geskryf het, het hulle artikel dié opskrif gegee: “Afrika op die randjie van die afgrond—’n onheilspellende maar tog nie hopelose toekoms nie.” Hulle het besef dat die politieke en maatskaplike toestande in die grootste deel van Afrika ’n kruitvat is. Hulle het geskryf: “Vir Afrika suid van die Sahara [’n gebied van 45 lande] was die afgelope 20 jaar rampspoedig. Die streek het hongersnode, droogtes, burgeroorloë, politieke korrupsie, vigs, ’n vinnig groeiende bevolking, verminderde voedselproduksie en vernietiging van die omgewing ondervind . . . Deskundiges is eenstemmig oor hulle voorspelling dat verdere ekonomiese agteruitgang, armoede en lyding onvermydelik is, ten minste ’n tyd lank.” Dieselfde artikel berig dat 32 van die wêreld se 40 armste lande in Afrika suid van die Sahara lê.
Maar wat van die huidige sedelike klimaat in die wêreld? Die volgende artikel sal die wêreld se “vooruitgang” op hierdie gebied kortliks bespreek.
[Voetnoot]
a Weens beperkte ruimte sluit ons dekking nie alle aspekte van vooruitgang of verandering gedurende die afgelope halfeeu in nie.
[Foto-erkenning op bladsy 6]
USAF photo
[Foto-erkenning op bladsy 7]
NASA photo