Ons beskou die wêreld
“Wêreldwye dringendheid”
By die Spitsberaad oor vigs wat op die sewende jaarlikse Wêreldvigsdag in Parys gehou is, het die sekretaris-generaal van die VN, Boutros Boutros-Ghali, die staatshoofde en die ministers van gesondheid uit 42 lande en 5 vastelande gevra “om ’n staat van wêreldwye dringendheid af te kondig” in die lig van die onrusbarende verspreiding van die vigs-pandemie. Ten spyte van wêreldwye pogings om te keer dat vigs versprei, het die totale aantal vigs-gevalle in die wêreld tussen Julie 1993 en Julie 1994 met 60 persent toegeneem en ongeveer viermiljoen bereik. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het in ’n sombere verslag gewaarsku dat die vigs-pandemie, teen die huidige groeisyfer, inderdaad “die toekoms van hele gemeenskappe bedreig” en het voorspel dat daar reeds teen die jaar 2000 tussen 30 miljoen en 40 miljoen mense sal wees wat met die dodelike HI-virus, wat vigs veroorsaak, besmet sal wees.
“Die ergste dwelm”
’n Onlangse opskrif in die Brasiliaanse koerant Jornal do Brasil het sigarette as “die ergste dwelm” bestempel. Volgens die direkteur van Brasilië se Nasionale Kankerinstituut, dr. Marcos Moraes, is jongmense die tabakbedryf se teiken. Hy het verduidelik dat “hoe vroeër ’n jongmens begin rook, hoe langer sal hy aanhou rook. En hoe langer hy aan rokery blootgestel word, hoe groter is die gesondheidsgevare.” Dr. Moraes sê dat daar onder die 30 miljoen rokers in Brasilië “2,4 miljoen kinders en adolessente is”. Hy voeg by dat “sigarette meer [mense] doodmaak as vigs, kokaïen, heroïen, alkohol, brande, motorongelukke en selfmoorde gekombineerd”.
Meer geweld teen vroue
“Vroue wat deur hulle man of mansvriend aangerand word, is die wêreld se algemeenste vorm van geweld”, sê die koerant The Australian in ’n artikel oor ’n VN-verslag. Die artikel verduidelik dat “tot ’n kwart van die vroue in die wêreld gewelddadig mishandel word”. In party lande, soos Chili, die Republiek Korea, Pakistan, Papoea-Nieu-Guinee en Thailand, is hierdie syfer selfs hoër. In een land word ongeveer 80 persent van die vroulike bevolking mishandel, aldus ’n ander koerant, The Sydney Morning Herald, waarin dieselfde VN-verslag bespreek word. Baie van die slagoffers verduur ook voortgesette emosionele mishandeling. Huislike geweld word baie moeilik opgelos omdat dit byna altyd in die privaatheid van die huis plaasvind. Dikwels is vriende, bure en familielede teësinnig om dit aan te meld.
Giftige dampe
Gesondheidsbeamptes in die Verenigde State is besorg oor die aantal vergiftigings wat deur koolstofmonoksied (CO) veroorsaak word. Die MMWR (Morbidity and Mortality Weekly Report) sê dat daar “jaarliks oor die hele land ongeveer 590 sterfgevalle weens onopsetlike CO-vergiftiging voorkom”. Dit sluit nie al die gevalle van nienoodlottige CO-vergiftiging in nie. Omdat die dodelike gas kleurloos, reukloos en smaakloos is, word dit moeilik opgespoor. Die gas belemmer die bloed se vermoë om suurstof na die selle te vervoer en veroorsaak hoofpyne, naarheid, afwykings in die senuweestelsel, koma en dood. Volgens die MMWR “hou CO-ophoping moontlik verband met enige binnenshuise verbrandingsproses (bv. huisverwarming, kokery of ’n lopende voertuig of ’n brandstofaangedrewe masjien)—veral wanneer daar nie genoeg ventilasie is nie”.
Is vierwielaangedrewe voertuie veiliger?
Baie meen dat dit altyd veiliger is om ’n vierwielaangedrewe voertuig te bestuur, veral in sneeu en ys. Maar “wat stilhou betref, het vierwielaangedrewe voertuie geen voordeel bo tweewielaangedrewe voertuie nie”, berig The Wall Street Journal. Volgens versekeringsbeamptes is “die versekeringseise vir beserings en botsings” by van die gewildste modelle eintlik “hoër as die gemiddelde”. Blykbaar raak baie bestuurders oorgerus en waag hulle onnodige kanse wanneer hulle voertuie met vierwielaandrywing bestuur. Marc Schoen, ’n navorser by die Mediese Sentrum van die UCLA in Los Angeles, het gesê dat “mense as gevolg van rolprente en TV vierwielaangedrewe voertuie met ’n gevoel van onafhanklikheid en vryheid assosieer”. Hierdie gevoel van krag en onoorwinlikheid kan met gesonde oordeel inmeng, wat op die lange duur die beste beleid vir veilige bestuur is.
Speelgoed wat geweld aanmoedig
’n TV-program oor tieners wat, asof deur towerkrag, in Oosterse gevegskrygers verander, het mode onder kinders in die Verenigde State geword. Die TV-karakters staan bekend as die Mighty Morphin Power Rangers. Skoolowerhede is besorg oor die skynbaar obsessionele gedrag van klein kindertjies wat die gewelddade van die Power Rangers naboots. The Wall Street Journal berig oor ’n onlangse studie waarin 96 persent “van onderwysers wat ondervra is, sê dat hulle aggressiewe Morphin-agtige optrede gesien het”. In party gevalle is die kinders net drie jaar oud. “Klein kindertjies verander dalk skielik in waansinnige, bakleierige boksers”, sê die Journal. Die gewildheid van die program kan gesien word in die verwagte $300 miljoen (R1000 miljoen) wat in een jaar deur die verkope van Power Ranger-speelgoed gemaak gaan word.
Nuwe toestel waarsku teen hartaanvalrisiko
Wetenskaplikes in Victoria, Australië, het ’n nuwe toestel ontwikkel wat die risiko van hartsiektes voorspel wanneer dit teen die vel oor ’n groot slagaar in die nek geplaas word. Sonder ’n operasie meet dit die bloedsomloopsnelheid en wisseling in bloeddruk ná elke hartklop. ’n Rekenaar kan dan gebruik word om “die elastisiteit van die pasiënt se hele hartvaatstelsel” te bereken, sê die berig in die koerant The Sydney Morning Herald. Die instrument beloof om akkurater te wees as konvensionele metodes om ’n persoon se risiko van hartvaatsiektes te bepaal. Hoewel hoë cholesterolvlakke en hoë bloeddruk goeie aanduidings van ’n risiko is, “kry baie mense in hierdie kategorieë nooit ’n hartaanval nie”, sê die berig, en dit voeg by dat hulle “met die gebruik van hierdie toets nie duur medisyne hoef te gebruik om hulle cholesterol te verlaag of streng diëte hoef te volg wat hulle nie nodig het nie”.
“Eet jou vrugte en groente”
Wetenskaplikes het dekades lank die inname van karotenoïdes as voedselaanvullings aanbeveel. Betakaroteen is ’n welbekende karotenoïde, en dit is met die voorkoming van hartaanvalle, beroertes en sekere kankers in verband gebring. Maar nuwe studies bevraagteken die voordele van betakaroteenaanvullings. Volgens The New York Times het die voedselwetenskaplike dr. Paul LaChance mense “gewaarsku om nie aanvullings van afsonderlike karotenoïdes in te neem nie”. Hy het verduidelik dat “ons in die natuur ’n mengsel van karotenoïdes kry, en ons weet nog nie hoe belangrik dit is om hierdie mengsel te kry nie”. ’n Ander navorser, dr. Regina Ziegler, beveel aan dat “ons die beskermende elemente in vrugte en groente nie in ’n kapsule kan sit voordat ons hulle geïdentifiseer het nie”. Die Times sê dat “die meeste deskundiges teruggekeer het tot die raad wat gewoonlik deur moeders gegee word: ‘Eet jou vrugte en groente.’”
Bedankings uit die kerk
Volgens die Katolieke koerant Christ in der Gegenwart is 28 miljoen mense in Duitsland, oftewel ’n derde van die bevolking, Katoliek. In 1992 en 1993 het altesaam byna 350 000 mense uit die Katolieke Kerk bedank. Biskop Karl Lehmann, voorsitter van die Duitse Biskopperaad, vrees dat ’n nuwe federale belasting, wat in 1995 ingestel gaan word, tot ’n vinniger toename in bedankings sal lei, berig die Süddeutsche Zeitung. Gemeentelede in Duitsland word verplig om ’n kerkbelasting te betaal. Daar word dus gemeen dat party Katolieke die nuwe federale belasting sal probeer vermy deur eenvoudig uit die kerk te bedank.
Die lewe in die groot stad
Hoewel Londen, Engeland, die grootste stad in Europa is, volgens die koerant The Independent, is sy sewemiljoen inwoners nie heeltemal gelukkig om daar te woon nie. Van die Londenare wat ondervra is, meen 6 uit 7 dat lewe in die hoofstad oor die afgelope vyf jaar vererger het, en besoedeling en verkeersopeenhoping is van hulle grootste bekommernisse. Toe hulle gevra is watter mense hulle vertrou, het 64 persent dokters gemeld, met die polisie en onderwysers wat minder vertroue inboesem. ’n Skrale 2 persent het gemeen dat hulle sakemanne kan vertrou wat in Londen se finansiële gebied werk. Ongeveer 60 persent het gemeen dat hierdie gebied “vol mense is wat hulle ten koste van ander mense verryk sonder om werklike rykdom te skep”.