Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 5/22 bl. 8-13
  • Tabak se verdedigers stuur hulle warmlugballonne op

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Tabak se verdedigers stuur hulle warmlugballonne op
  • Ontwaak!—1995
  • Soortgelyke materiaal
  • Tabakmaatskappye in ’n vuurstorm vasgevang
    Ontwaak!—1996
  • Waarom moet ek ophou rook?
    Ontwaak!—2000
  • Wees voorbereid op die struikelblokke
    Ontwaak!—2010
  • Miljoene lewens gaan in rook op
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 5/22 bl. 8-13

Tabak se verdedigers stuur hulle warmlugballonne op

LONDEN was in die veertigerjare ’n beleërde stad. Duitse vegvliegtuie en vlieënde bomme het vrees en verwoesting gesaai. Maar as die situasie nie so aaklig was nie, sou die inwoners dalk deur ’n vreemde gesig geamuseer gewees het.

Duisende groot ballonne, vasgemaak aan lang kabels, het bo in die lug gedryf. Hulle doel was om laevlaklugaanvalle te verhinder en om hopelik ’n paar vlieënde bomme hoog in die lug te onderskep. Die ballonversperring, hoe vindingryk dit ook al was, het minimale sukses behaal.

Sigaretmaatskappye word eweneens beleër. Die enorme tabakryke, wat voorheen ondeurdringbare vestings van politieke en ekonomiese mag was, word om elke hoek en draai aangeval.

Die mediese gemeenskap lewer bladsye vol inkriminerende studies. Ondernemende gesondheidsbeamptes probeer voordeel daaruit trek. Woedende ouers kla dat hulle kinders slagoffers gemaak word. Vasbeslote wetgewers het sigaretrook in kantoorgeboue, restaurante, militêre instellings en vliegtuie verbied. In baie lande word tabakadvertensies op televisie en radio verbied. In die Verenigde State eis hele state miljoene dollars vir die koste van gesondheidsorg. Selfs regsgeleerdes sluit hulle by die stryd aan.

Die tabakmaatskappye het dus, in ’n poging om hulle aanvallers af te weer, ’n paar van hulle eie verdedigingsballonne opgestuur. Dit lyk egter of hulle net vol warm lug is.

Die Amerikaanse publiek kon in hierdie afgelope jaar duidelik sien hoe verontwaardigde wetgewers en regeringsgesondheidsbeamptes ’n kragtige aanval teen die tabakbedryf loods. In verhore voor ’n Amerikaanse wetgewende paneel in April 1994 is die uitvoerende bestuurders van sewe groot Amerikaanse tabakmaatskappye met die inkriminerende statistiek gekonfronteer: meer as 400 000 Amerikaners sterf elke jaar en nog miljoene is siek, sterwend en verslaaf.

Wat het hulle vir hulleself te sê gehad? Die uitvoerende bestuurders wat slaggereed was, het ’n paar interessante stellings as verweer gebied: “Daar moet nog bewys word dat rook . . . ’n oorsaaklike rol in die opdoening van siektes speel”, het ’n woordvoerder van die Tabakinstituut beweer. Die rookgewoonte is boonop uitgebeeld as iets wat net so onskadelik is as enige ander aangename bedrywigheid, soos om lekkers te eet of koffie te drink. “Die teenwoordigheid van nikotien maak nie van sigarette ’n dwelm of van rokery ’n verslawing nie”, het ’n bestuurshoof van ’n tabakmaatskappy gesê. “Die veronderstelling dat nikotien in sigarette op enige vlak verslawend is, is verkeerd”, het ’n wetenskaplike van ’n tabakmaatskappy beweer.

As sigarette nie verslawend is nie, het die komitee geantwoord, waarom het tabakmaatskappye die nikotienvlakke in hulle produkte probeer manipuleer? “Smaak”, het ’n ander bestuurder van ’n tabakmaatskappy verduidelik. Is daar niks erger as ’n smaaklose sigaret nie? Toe hope navorsing in sy eie maatskappy se lêers aan hom gewys is wat te kenne gee dat nikotien verslawend is, het hy aan sy storie vasgeklou.

Klaarblyklik sal hy en ander daardie mening bly huldig ongeag hoe vol die begraafplase van tabakslagoffers word. Vroeg in 1993 het dr. Lonnie Bristow, voorsitter van die Amerikaanse Mediese Vereniging van Kuratore, ’n interessante uitdaging gerig. The Journal of the American Medical Association berig: “Hy het die bestuurders van die groot Amerikaanse tabakmaatskappye genooi om saam met hom deur hospitaalsale te loop om een van die resultate van die rookgewoonte te sien—longkankerpasiënte en ander pulmonêre kreupeles. Nie een het gekom nie.”

Die tabakbedryf spog dat dit goeie werk voorsien in ’n wêreldekonomie met toenemende werkloosheid. In Argentinië word daar byvoorbeeld eenmiljoen werksgeleenthede deur die bedryf geskep, met nog viermiljoen werksgeleenthede wat indirek daarmee verband hou. Enorme inkomste uit belastings het gemaak dat tabakmaatskappye by talle regerings in die guns staan.

Een tabakonderneming het spesifiek minderheidsgroepe met milddadige skenkings begunstig—’n skynbare bewys van hulle burgersin. Interne maatskappydokumente het egter die ware beweegrede vir hierdie “kiesersontwikkelingsbegroting” bekend gemaak—om welwillendheid onder potensiële kiesers te skep.

Dieselfde tabakmaatskappy het ook onder die kunste vriende gemaak met groot bydraes aan museums, skole, dansakademies en musiekinstellings. Amptenare van kunsorganisasies staal hulle om die broodnodige tabakgeld te aanvaar. Onlangs het lede van die kunsgemeenskap van die stad New York hulle in ’n onaangename dilemma bevind toe dieselfde tabakmaatskappy ’n beroep op hulle gedoen het om hulle stem te voeg by die pogings om stemme teen antirookwetgewing te werf.

En die welgestelde tabakreuse skroom natuurlik nie om geld aan politici uit te deel nie, wat hulle invloed kan gebruik teen enige voorstelle wat tabakbelange kan benadeel. Hooggeplaaste regeringsamptenare het die saak van tabakmaatskappye verdedig. Party het finansiële verbintenisse met die bedryf of is onder druk om hulle te vergoed vir die milddadige steun wat hulle deur middel van tabakgeld gedurende verkiesingsveldtogte ontvang.

Een lid van die Amerikaanse kongres het na bewering meer as $21 000 (R76 000) in skenkings van sigaretmaatskappye ontvang en het daarna sy stem teen ’n aantal antitabakgeskille uitgebring.

’n Voormalige goed betaalde lid van ’n tabakdrukgroep, wat voorheen ’n staatsenator en ’n strawwe roker was, het onlangs ontdek dat hy keel-, long- en lewerkanker het. Hy is nou geweldig spyt daaroor en kla dat dit ’n mens soos ’n dwaas laat voel “om daar te lê met iets wat jy self veroorsaak het”.

Met al die mag wat advertensiegeld kan koop, val die tabakreuse hulle teenstanders op kragdadige wyse aan. Een advertensie waai die vryheidsvlag en waarsku ernstig: “Vandag is dit sigarette. Môre?” Dit impliseer dat kafeïen, alkohol en hamburgers die volgende slagoffers van kwansuis fanatiese prohibisioniste sal wees.

Koerantadvertensies het ’n studie van die Amerikaanse Omgewingsbewaringsagentskap wat deur baie aangehaal is en wat passiewe rook as karsinogenies geklassifiseer het in twyfel probeer trek. Die tabakbedryf het aangekondig dat dit ’n regstryd beplan. ’n Televisieprogram het een maatskappy daarvan beskuldig dat dit nikotienvlakke manipuleer om verslawing aan te moedig. Daar is onmiddellik ’n regsgeding van $10 miljard (R36 miljard) aanhangig gemaak teen die netwerk wat die program uitgesaai het.

Die tabakmaatskappye voer ’n harde stryd, maar die beskuldigings word al hoe meer. Ongeveer 50 000 studies is gedurende die afgelope vier dekades gedoen en lei tot ’n immertoenemende berg van bewyse oor die gevare van tabakgebruik.

Hoe het die sigaretmaatskappye die aanklagte teen hulle probeer ontwyk? Hulle het koppig by een veronderstelde feit gebly: Rokers hou op rook. Hulle sê dat nikotien dus nie verslawend is nie. Statistiek toon egter iets anders. Veertigmiljoen Amerikaners het wel opgehou rook. Maar nog 50 miljoen rook steeds en 70 persent van hulle sê dat hulle wil ophou. Van die 17 miljoen wat elke jaar probeer ophou, misluk 90 persent binne ’n jaar.

Ná ’n longkankeroperasie hervat byna 50 persent van Amerikaanse rokers die gewoonte. Van die rokers wat hartaanvalle gehad het, steek 38 persent weer ’n sigaret aan nog voordat hulle die hospitaal verlaat. Veertig persent van rokers wat ’n kankeragtige larinks laat verwyder het, sal weer probeer rook.

Van die miljoene tienerrokers in die Verenigde State sê driekwart dat hulle ten minste een ernstige poging aangewend het om op te hou rook, maar misluk het. Statistiek toon ook dat tabakrokery vir baie jeugdiges ’n trapklip na sterker dwelms is. Adolessente rokers se kanse dat hulle kokaïen sal gebruik, is 50 keer groter as nie-rokers. ’n Dertienjarige roker stem saam. “Daar bestaan by my geen twyfel nie dat sigarette ’n dwelm is wat na sterker dwelms lei”, het sy geskryf. “Byna almal wat ek ken, behalwe drie mense, het begin rook voordat hulle dwelms begin gebruik het.”

Wat van sigarette met ’n lae teergehalte? Studies toon dat dit in werklikheid gevaarliker kan wees—om twee redes: Een, die roker asem dikwels dieper in om die nikotien waarna sy gestel smag uit te kry en stel meer longweefsel aan die giftige uitwerking van die rook bloot; twee, die misvatting dat hy ’n “gesonder” sigaret rook, kan verhinder dat hy die poging aanwend om heeltemal op te hou.

Meer as 2 000 studies is van nikotien alleen gemaak. Hulle toon dat nikotien een van die verslawendste middels is wat aan die mens bekend is asook een van die nadeligstes. Nikotien laat die hart vinniger klop en laat die bloedvate vernou. Dit word binne sewe sekondes in die bloedstroom opgeneem—selfs vinniger as ’n inspuiting direk in ’n aar in. Dit kondisioneer die brein om meer te wil hê, ’n drang wat volgens party twee keer so verslawend as heroïen is.

Is die tabakmaatskappye, ondanks hulle ontkennings, daarvan bewus dat nikotien verslawend is? Volgens aanduidings weet hulle al lank daarvan. ’n Verslag van 1983 toon byvoorbeeld dat ’n navorser van ’n tabakmaatskappy opgemerk het dat laboratoriumrotte kenmerkende verslawingsimptome getoon het en gereeld dosisse nikotien self toegedien het deur ’n hefboom te druk. Na bewering is die studie vinnig deur die bedryf verberg en het dit eers onlangs aan die lig gekom.

Die tabakreuse sit nie net daar terwyl hulle uit alle rigtings aangeval word nie. Die Raad vir Tabaknavorsing in die stad New York is besig met wat The Wall Street Journal bestempel as “die langdurigste veldtog vir die verspreiding van verkeerde inligting in die geskiedenis van die Amerikaanse sakewêreld”.

Onder die vaandel dat hulle onafhanklike navorsing doen, het die raad miljoene dollars daarin belê om hulle aanvallers te beveg. Dit het alles in 1953 begin toe dr. Ernst Wynder van die Sloan-Kettering-Gedenk-Kankersentrum bevind het dat tabakteer wat op die rûe van muise geverf is gewasse veroorsaak het. Die bedryf het die raad gestig om die duidelike bewyse wat teen hulle produk ingesamel word te neutraliseer deur hulle eie wetenskaplike bewyse in te bring.

Hoe kon die raad se wetenskaplikes egter resultate lewer wat so ’n teenstelling vorm met die bevindings van die res van die navorsingsgemeenskap? Dokumente wat onlangs vrygestel is, toon ’n omslagtige web van intrige. Baie van die raad se navorsers wat deur geskrewe kontrakte beperk word en deur spanne noulettende regsgeleerdes beheer word, het agtergekom dat die toenemende gesondheidsvrese gegrond is. Maar wanneer die raad die werklikheid onder die oë moes sien, het hulle, volgens The Wall Street Journal, “partykeer hulle eie studies verontagsaam of selfs beëindig wanneer dit getoon het dat rokery ’n gesondheidsgevaar inhou”.

Die soeke na ’n veiliger sigaret het jare lank in die geheim voortgeduur. Om dit in die openbaar te doen, sou ’n onuitgesproke erkenning wees dat rook inderdaad ’n gevaar vir die gesondheid inhou. Teen die einde van die sewentigerjare het ’n senior regsgeleerde by ’n tabakmaatskappy aanbeveel dat pogings om ’n “veilige” sigaret te vervaardig, laat vaar moet word omdat dit nutteloos is en dat alle dokumente wat daarmee verband hou, weggesit moet word.

Twee dinge het uit die jare van proefneming duidelik geword: Nikotien is inderdaad verslawend, en sigaretrook veroorsaak beslis mense se dood. Hoewel tabakmaatskappye hierdie feite in die openbaar heftig ontken, toon hulle deur hulle dade dat hulle die feite alte goed ken.

David Kessler, die kommissaris van die Amerikaanse Voedsel- en Medisyneraad (FDA), het hulle van doelbewuste manipulasie beskuldig en gesê: “Party hedendaagse sigarette kan in werklikheid kwalifiseer as hipertegnologiese nikotienleweringstelsels wat nikotien in presies berekende hoeveelhede lewer . . . genoeg om verslawing te veroorsaak en dit te laat voortduur.”

David Kessler het onthul dat tabakmaatskappye ’n aantal patente besit wat toon wat hulle doel is. Een is vir ’n geneties veranderde soort tabak met die hoogste nikotieninhoud wat bekend is. ’n Ander proses behandel filters en papiere met nikotien om die sigaret selfs sterker te maak. Nog een dien met die roker se eerste trekke meer nikotien toe as met die laastes. Daarbenewens toon dokumente van die tabakbedryf dat ammoniakverbindings by sigarette gevoeg word om meer nikotien uit die tabak vry te stel. “Byna twee keer die gewone hoeveelheid wat ingeasem word, het in ’n roker se bloedstroom beland”, sê ’n verslag van die New York Times. Die FDA het verklaar dat nikotien ’n verslawende dwelm is en beoog om sigarette strenger te reguleer.

Regerings is ook op hulle manier van sigarette afhanklik. Die Amerikaanse regering vorder byvoorbeeld $12 miljard (R43,5 miljard) per jaar deur middel van staats- en federale belasting op tabakprodukte in. Die federale Buro vir Tegnologiese Beoordeling bereken egter dat die rookgewoonte $68 miljard (R246,8 miljard) per jaar kos weens gesondheidsorgkoste en verlore produktiwiteit.

Bewerings van ekonomiese verdienstelikheid en volop werksgeleenthede, weldadige ondersteuning van die kunste, hewige ontkennings van gesondheidsgevare—die tabakbedryf het inderdaad ’n paar eienaardige ballonne uit selfverdediging opgestuur. Of dit meer doeltreffend as die ballonversperring oor Londen gaan wees of nie, moet ons nog sien.

Maar dit is duidelik dat die reusemaatskappye nie meer hulle ware aard kan wegsteek nie. Hulle het miljoene gemaak, en hulle het miljoene doodgemaak, maar dit raak hulle blykbaar nie dat die eindresultaat ’n verskriklike verlies van menselewens is nie.

[Lokteks op bladsy 8]

Dit lyk of hulle net vol warm lug is

[Lokteks op bladsy 9]

’n Regeringstudie toon dat passiewe rook karsinogenies is

[Lokteks op bladsy 10]

Nikotien is een van die verslawendste middels wat bekend is

[Lokteks op bladsy 11]

Hulle het miljoene gemaak; hulle het miljoene doodgemaak

[Venster op bladsy 10]

50 000 studies—Wat het hulle bevind?

Hier is ’n paar voorbeelde van die nadelige gesondheidsgevolge in verband met tabakgebruik waaroor navorsers kommer uitgespreek het:

LONGKANKER: Rokers maak 87 persent van longkankersterftes uit.

HARTSIEKTES: Rokers loop ’n 70 persent groter gevaar om hart- en vaatsiektes op te doen.

BORSKANKER: Vroue wat daagliks 40 of meer sigarette rook, het ’n 74 persent groter kans om aan borskanker te sterf.

GEHOORBESKADIGING: Babas van rokende moeders vind dit moeiliker om klank te verwerk.

DIABETIESE GEVARE: Diegene met suikersiekte wat rook of tabak kou, loop ’n groter gevaar om die niere te beskadig en het vinniger vorderende retinopatie (’n siekte van die retina).

DIKDERMKANKER: Twee studies wat meer as 150 000 mense ingesluit het, toon ’n duidelike skakel tussen rokery en dikdermkanker.

ASMA: Tweedehandse rook kan asma in kinders vererger.

GENEIGDHEID OM TE ROOK: Die dogters van vrouens wat gedurende swangerskap gerook het se kanse om te rook, is vier keer groter.

LEUKEMIE: Rook veroorsaak blykbaar miëloïed-leukemie.

BESERINGS GEDURENDE OEFENING: Volgens ’n Amerikaanse weermagstudie het rokers ’n groter kans om beserings op te doen terwyl hulle oefeninge doen.

GEHEUE: Hoë dosisse nikotien kan verstandelike vaardigheid verminder terwyl ’n mens ingewikkelde take verrig.

DEPRESSIE: Psigiaters ondersoek bewyse wat dui op ’n skakel tussen rokery en ernstige depressie sowel as skisofrenie.

SELFMOORD: ’n Studie van verpleegsters het getoon dat die moontlikheid van selfmoord twee keer so groot was onder verpleegsters wat gerook het.

Ander gevare om by die lys te voeg: Mond-, larinks-, keel-, slukderm-, pankreas-, maag-, dunderm-, blaas-, nier- en servikale kanker; beroerte, hartaanvalle, chroniese longkwale, bloedsomloopkwale, maagsere, suikersiekte, onvrugbaarheid, lae geboortegewig, osteoporose en oorinfeksies. Brandgevare kan ook bygevoeg word, aangesien rokery die hoofoorsaak van brande in huise, hotelle en hospitale is.

[Venster op bladsy 12]

Rooklose tabak–’n gevaarlike plaasvervanger

Die leier in die snuifbedryf, met ’n omset van $1,1 miljard (R4 miljard), lok beginners op slinkse wyse met gegeurde aas. Hulle het gegeurde soorte wat gewild is. Die “ligte tabakeuforie” wat dit gee, bied bevrediging, maar nie vir lank nie. ’n Voormalige ondervoorsitter van hierdie tabakmaatskappy het gesê: “Baie mense begin dalk met die meer gegeurde produkte, maar uiteindelik sal hulle na [die sterkste soort] oorslaan.” Dit word geadverteer as: “’n Sterk pruimtabak vir sterk mans”, en: “Dit bevredig.”

The Wall Street Journal, wat oor hierdie strategie van die maatskappy berig het, het hulle ontkenning dat “hulle nikotienvlakke wysig”, aangehaal. Die Journal het ook gesê dat twee voormalige tabakskeikundiges van die maatskappy, wat vir die eerste keer oor die onderwerp gepraat het, gesê het dat “hoewel die maatskappy nie nikotienvlakke manipuleer nie hulle wel die hoeveelheid nikotien manipuleer wat gebruikers opneem”. Hulle sê ook dat die maatskappy chemikalieë byvoeg om die alkaligehalte van hulle snuif op te stoot. Hoe meer alkalies die snuif is, “hoe meer nikotien word vrygestel”. Die Journal voeg hierdie verduideliking aangaande snuif en pruimtabak by: “Snuif, wat partykeer met pruimtabak verwar word, is gekerfde tabak waaraan gebruikers suig, maar nie kou nie. Gebruikers neem ’n knypie, of ‘skeppie’, en sit dit tussen die wang en tandvleis en beweeg dit met hulle tong rond terwyl hulle nou en dan spoeg.”

Gegeurde soorte wat vir beginners gemaak word, stel net van 7 tot 22 persent van hulle nikotien vry om in die bloedstroom opgeneem te word. Die sterkste soort kan nuwe gebruikers laat verstik. Dit is in ’n fyn gekerfde vorm vir “ware” manne. Nege-en-sewentig persent van die nikotien daarin is “vry”, beskikbaar om onmiddellik in die bloedstroom opgeneem te word. In die Verenigde State begin snuifgebruikers gemiddeld op negejarige ouderdom met die gewoonte. En watter negejarige sal dit lank kan weerstaan om na sterker soorte oor te gaan en by die “ware” manne aan te sluit?

Die gevolglike dosis nikotien is eintlik sterker as dié van ’n sigaret. Gebruikers se kanse is volgens berig 4 keer groter om mondkanker op te doen, en die gevaar dat hulle keelkanker gaan opdoen, is 50 keer groter as vir dié wat nie snuif gebruik nie.

In die Verenigde State het protes van die publiek tydelik opgevlam toe ’n hofsaak teen ’n tabakmaatskappy aanhangig gemaak is deur die moeder van ’n voormalige hoërskool-atletiekster wat aan mondkanker gesterf het. Hy het ’n gratis blikkie snuif by ’n rodeo gekry toe hy 12 was en het ’n “vier blikkies per week”-gebruiker geword. Nadat hy ’n aantal pynlike operasies ondergaan het wat sy tong, kaak en nek opgekerf het, het sy dokters moed opgegee. Die jong man het op 19-jarige ouderdom gesterf.

[Venster op bladsy 13]

Hoe om op te hou rook

Miljoene mense het hulle nikotienverslawing met sukses te bowe gekom. As jy ’n roker is, selfs een wat al lank rook, kan jy ook hierdie nadelige gewoonte afleer. Hier is ’n paar wenke wat dalk sal help:

• Weet voor die tyd wat om te verwag. Die onttrekkingsimptome kan angs, geïrriteerdheid, duiseligheid, hoofpyne, slaaploosheid, maagsteurings, honger, ’n onbeheerbare begeerte na iets, swak konsentrasie en bewerigheid insluit. Beslis nie ’n baie aangename vooruitsig nie, maar die hewigste simptome duur net ’n paar dae en verdof geleidelik namate die nikotienvlak in die liggaam afneem.

• Nou begin die verstandelike stryd in alle erns. Nie net jou liggaam het na nikotien gesmag nie, maar ook jou verstand was gekondisioneer deur gedrag wat met rook verband hou. Ontleed jou roetine om te sien wanneer jy onwillekeurig na ’n sigaret gereik het, en verander daardie patroon. As jy byvoorbeeld altyd direk na ’n maaltyd gerook het, moet jy besluit om onmiddellik op te staan en te gaan stap of die skottelgoed te was.

• Wanneer ’n intense begeerte jou oorval, dalk weens ’n spanningsvolle oomblik, moet jy onthou dat die drang gewoonlik binne vyf minute sal verbygaan. Wees daarop voorbereid om jou verstand besig te hou deur ’n brief te skryf, oefeninge te doen of ’n gesonde peuselhappie te eet. Gebed is ’n kragtige hulpmiddel om selfbeheersing aan die dag te lê.

• As jy ontmoedig word deur mislukte pogings om op te hou, kan jy moed skep. Wat belangrik is, is om aan te hou probeer.

• As die moontlikheid dat jy gewig gaan optel jou hinder, moet jy onthou dat die voordele daarvan om op te hou rook die gevare van ’n paar ekstra kilogram ver oortref. Dit kan help om vrugte of groente byderhand te hê. En drink baie water.

• Om op te hou rook, is een ding. Om van tabak weg te bly, is iets heeltemal anders. Stel tyddoelwitte om rookvry te wees—’n dag, ’n week, drie maande, vir ewig.

Jesus het gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Markus 12:31). Om jou naaste lief te hê, moet jy ophou rook. Om jouself lief te hê, moet jy ophou rook.—Sien ook “Rook—die Christelike beskouing” in die Ontwaak! van 8 Julie 1989, bladsye 13-15.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel